Yehuda Amichai – vertaling in Afrikaans

Yehuda Amichai – vertaal deur Marlise Joubert

 

 

In die appel

 

 

Jy besoek my in die appel.

Saam kan ons die mes hoor skil

om en om ons, versigtig,

sodat die vel nie skeur nie.

 

Jy praat met my. Ek vertrou jou stem

want daar is ook harde pyn

soos wat egte heuning

byewas vorm in die korf.

 

Met my vingers raak ek aan jou lippe:

ook dit is ‘n profetiese gebaar.

En jou lippe is rooi, net soos verskroeide veld

swart is.

Dis alles waar.

 

Jy besoek my in die appel

en jy sal by my in die appel bly

totdat  die mes klaar is met skil.

 

*

 

‘n Brief

 

 

Om in Jerusalem op die balkon van ‘n hotel te sit

en te skryf:   “Die dae verloop soet

van woestyn tot see.” En om te skryf: “Trane

droog vinnig hier. Die klad is ‘n traan wat

die ink laat loop.”  Dis hoe hulle gewoonlik geskryf het

in die vorige eeu. “Ek het ‘n sirkel daarom

getrek.”

 

Tyd vloei weg, soos wat iemand op ‘n telefoon

ver van my af, lag en huil:

wat ek ook al hoor, kan ek nie sien nie;

wat ek sien, kan ek nie hoor nie.

Ons was nie versigtig toe ons “Volgende jaar”

gesê het nie, of ook nie: “’n Maand gelede”. Die woorde

is soos skerwe van glas: jy kan jouself daarmee verwond,

selfs ‘n slagaar sny, as

jy dan so wil wees.

 

Maar jy was mooi soos die kommentaar

op ‘n argaïese teks.

Uit die oorskot van vroue van jou ver land

is jy na my toe gebring, maar

‘n ander wet van gemiddeldes

het jou weer weggeneem.

 

Om te lewe is om ‘n skip en ‘n hawe

op dieselfde tyd te bou. En om die hawe klaar te maak

lank nadat die skip gesink het. 

 

En om af te sluit: ek onthou slegs

dit was mistig. En as dit só is om te onthou –

wat onthou jy dan?

 

*

 

Uit: Somer of sy einde

 

 

Jy het die vrugte gewas.

Jy het die bakterie vermoor.

Op die stoel: ‘n horlosie en ‘n rok.

In die bed: ons,

sonder iets hiervan

maar elkeen vir die ander.

En as dit nie was vir ons name nie

sou ons geheel en al nakend gewees het.

 

Dit was goed, die droom op

die tafel.

Ons het die vrugte vir altyd gelos

tot die volgende dag.

En op een van hierdie aande

sal ek baie kan sê oor alles

wat agtergelaat en binne ons bewaar word.

 

Na middernag, toe ons woorde

die wêreld begin verander het,

sit ek my hand op jou voorkop:

jou gedagtes was kleiner as die palm van my hand,

maar ek het geweet dis ‘n fout,

soos die fout van die hand wat

die son toemaak.

 

*

 

Die reuk van malvas

maak herinnering oop.

In jou, het my vermoeienis

‘n herberg gevind.

 

Selfs oleander

sal nie duur nie.

Wat was, sal nooit

weer terugkeer nie.

 

Onbreekbaar soos ‘n eed:

jou belt, jou rok.

Dit wat in die kamer geruis het

sal nie terugkeer nie.

 

‘n Gefossileerde blaar,

‘n nabootsing van tyd,

op die vensterbank.

Kom ons val die tye in.

 

Alles het ons toegemaak.

In die lang nag

sal ons woede

ook lig wees.

 

Glans van sy en mes,

die afstandelike see.

‘n Stoel wat beweeg.

Bedek jou, bedek my!

 

*

 

Laastens die hare, om weer droog te word

toe ons reeds ver van die see af was,

toe woorde en sout, wat met ons versmelt,

sugtend skei  van mekaar,

en jou liggaam nie meer letsels wys

van ‘n verskriklike wond nie.

En tevergeefs het ons ‘n paar dinge op die strand vergeet,

soos ‘n verskoning om weer daarna terug te keer.

Ons het nie.

 

Ek onthou daardie dae

met jou naam daarop, soos die naam op ‘n skip,

en hoe ons deur twee oop deure

‘n peinsende man sien staan het, en hoe ons na die wolke gekyk het

met die oë wat ons van ons vaders geërf het,

wagtend op reën.

Snags as die aarde afkoel, 

het jou liggaam die hitte nog lank behou

soos die see.

 

*

 

Nee, nee, het jy gesê.

Deur die venster het die lig

mirakelagtig oor jou lyf gespeel,

groter as die mirakels

wat met my in die woestyn gebeur het.

 

Nee, nee, het jy gesê.

En jy was mooi soos verspeelde tyd.

En op die Negende van Av*, het Jerusalem

voor ons oë in vlamme opgegaan.

 

En ‘n jaar later,

was dit ons wat brand

voor die oë van die wit stad.

 

*

 

Soos die afdruk van ons lywe,

sal daar geen teken wees dat ons hier was nie.

Die wêreld sluit dig agter ons,

die sand is weer gladgestryk.

En reeds is daar datums op kalenders

waarin jy nie meer sal bestaan nie,

reeds ‘n wind wat die wolke bring

wat nie op ons sal reën nie.

 

En jou naam verskyn op die passasierslyste

van skepe en in die gasteboeke

van hotelle waarvan die einste name

die hart doodmaak.

 

Die drie tale wat ek ken,

alle kleure wat ek sien en oor droom,

help my nie.

 

*

 

Dit was ‘n somer, of sy einde. Ek het 

jou voetstappe gehoor van oos na wes

vir die laaste keer. Sakdoeke, boeke, mense

was vergete in die wêreld.

 

Dit was somer, of sy einde,

daar was middagure,

en jy.

Vir die eerste keer, het jy ‘n doodskleed gedra

en dit nie geweet nie.

Want dit was met blomme borduur.

 

*

 

As jy met ‘n bitter mond soet woorde sê

sal die wêreld nie soet word nie

en dit sal nie bitter word nie.

 

En dis geskryf in die boek dat ons nie sal vrees nie.

En dis geskryf dat ons ook sal verander,

soos die woorde,

in die toekoms en in die verlede,

in meervoud en in eensaamheid.

 

En binnekort, in die nagte wat kom,

sal ons verskyn, soos dwalende akteurs,

elkeen in die drome van die ander

en in die drome van vreemdelinge

wat ons nooit saam geken het nie.

 

  

* Av is die naam van ‘n maand in die Joodse kalender – +/- die ekwivalent van Julie, die 10de maand van die Joodse jaar. - MJ

 

*

 

‘n Hond agterna

 

 

Nadat jy my gelos het

laat ek ‘n bloedhond snuif

aan my bors en aan my maag.  Laat ek hom

met gesperde neusvleuels

jag om jou te vind.

 

O, ek hoop hy sal jou kry en jou minnaar

se balle aan flarde skeur en sy penis afruk

of dan ten minste

tussen sy tande een van jou sykouse vir my bring.

 

*

 

Weervoorspelling

 

 

Dit sal bewolk wees. Dit sal reën.

Ons sal lewe en sterwe. Wees bedag daarop.

Daar sal sluimerwinde waai. Ek sal jou

sien in die eerste swaar opwinding.

Jy sal my sien, soos ‘n reën wat stort

oor jou gesig na my opgehef. Dit sal koud wees.

Daar sal hoogtes wees, en laagtes. En met wie

sal ons praat as ons nie meer daar is nie? Daar sal

goeie weer wees vir minnaars op die argaïese heuwel.

Uit al vier rigtings van my lewe, sal die wind aankom.

Dit sal donker wees. Daar sal golwe wees. Dit sal nie matig wees nie.

Daar sal ‘n wolk wees. Daar sal ‘n reënboog in jou lyf hang.

Ons sal nie meer daar wees die dag daarna nie. Dit sal koud wees

in die valleie. Daar sal mis wees. Ons sal uiteenstuif.

 

*

 

Sandale

 

 

Sandale is die skelet van die skoen,

die skelet, en die enigste stem.

Sandale is die teuels van my voete op galop.

Sandale is die grastoue van ‘n moeë voet, biddend.

 

Sandale is my eie lappie grond waarop ek loop

oral waar ek gaan, ambassadeurs van my tuiste,

my troue land, die hemelruim

en die klein swerwende kreature van die aarde

en hulle dae van vernietiging wat nog kom.

 

Sandale is die jeug van die skoen

en ‘n herinnering van togte deur die wildernis.

 

Ek weet nie wanneer hulle my gaan verloor nie

of wanneer ek hulle sal verloor nie, maar hulle gaan

verlore wees, elkeen in ‘n ander plek:

een sandaal tussen rots en struike

nie ver van my huis af nie, die ander,

sinkende tussen duine naby die Groot See

soos ‘n son wat sak

gepunt in die rigting van ‘n sonsondergang.

 

*

 

Ek stap verby ‘n huis waar ek gewoon het

 

 

Ek stap verby ‘n huis

waar ek eenmaal gewoon het:

‘n man en ‘n vrou is nog daar

ingefluister bymekaar.

Baie jare het verloop

in ‘n sagte murmeling

van die traplig wat aangaan

en af

en weer aan.

 

Soos klein letsels is die sleutelholtes

waarvan al die bloed uitgesypel het. En binne,

die mense, bleek soos die dood.

 

Weer wil ek staan soos eenmaal lank gelede

met ’n geliefde in die arms

die ganse nag in die opening van die deur.

En toe ons met dagbreek vertrek

het die huis uitmekaar geval en sedertdien die stad

en sedertdien die hele wêreld.

 

Weer wil ek verlange ken

totdat my vel verwond is

met die brandmerke se swart skroei.

 

Weer wil ek geskryf staan

in die Boek van Lewe, elke liewe dag geskryf word

totdat die skrywende hand daarvan pyn.

 

*

 

Ek het baie harig geword

 

 

Ek het baie harig geword, oor my hele liggaam.

Ek is bang dat hulle my gaan jag vir my pels.

 

My veelkleurige hemp is nie ‘n teken van die liefde nie:

dis ‘n lugfoto van ‘n stasie vir treine.

 

Snags is my liggaam wyd oop en wakker onder die laken

soos oë geblinddoek van iemand wat geskiet gaan word.

 

Ek leef soos ‘n vlugteling en ‘n rondloper, ek sal doodgaan

vir nog  -

 

en ek wou stil wees, soos ‘n ou stadsmuur

waarvan die stede almal vernietig is,

 

en vreedsaam,

soos ‘n vol begraafplaas.

 

 

Bronne:
1. Yehuda Amichai: A Life of Poetry 1948-1994. Translated from the Hebrew by Benjamin and Barbare Harshav. HarperPerennial, New York,  1995
2. The selected poetry of Yehuda Amichai. Newly revised and expanded edition, translated by Chana Bloch and Stephen Mitchell.  University of California Press, London, 1992
[Vertaal deur Marlise Joubert uit bg. Engelse vertalings van Amichai se werk.]

 

*

 

Noord van San Francisco

 

 

Hier raak die sagte heuwel aan die oseaan

asof die een ewigheid aan ‘n ander een raak

en die koeie wat daarop wei ignoreer ons,

soos engele.

Selfs die reuk van ryp waatlemoen in die kelder

is ‘n voorspel tot vrede.

 

Die donker maak geen oorlog teen die lig nie,

dit dra ons vorentoe

na ‘n ander lig, en die enigste droefnis

is om nie te vertoef nie.

 

In my land, wat heilig genoem word,

laat hulle nie toe dat ewigheid bly nie:

hulle het dit in klein religieë verdeel,

afgebaken vir die sones van God,

versplinter tot fragmente van geskiedenis,

skerp en verwondbaar tot die dood toe.

En die rustige panorama is verander

in ‘n stuiptrekkende nabyheid, ‘n pynlike hede.

 

Op die strand by Bolinas, aan die voetenent  van houttrappies,

sien ek enkele meisies wat nakend in die sand bly lê,

hulle koppe gebuig, dronk

van die ewige koninkryk,

hulle siele soos deure

wat toemaak en oopmaak,

toemaak en oopmaak

op die ritme van die branding.

 

*

 

Herfs in Connecticut

 

 

Blare val van bome af

maar woorde vermenigvuldig op mense.

Klein rooi vrugte lê onder die sneeu en bly rooi.

Die baldadige speletjies van kinders

het huislik geword.

Teen die muur, prente van wenners en verloorders,

jy kan die verskil nie sien nie.

Die ritmiese slae van swemmers

het verdwyn in stophorlosies.

Op die verlate kus, opgevoude strandstoele

geketting aan mekaar, die slawe van somer.

Die songebruinde lewensredder sal bleek word in sy huis

soos ‘n woedende profeet in vredestyd.

Ek skuif deur stemmings

soos die motor se ratte,

van dier tot plant

en dan tot klip.

 

*

 

’n Tydlose Venster

 

 

Eenmaal in ’n tuin het ek ’n lied

gehoor of ’n ou vergete seëning

 

En bokant die donker bome

’n venster wat altyd verlig was, ter herinnering

 

aan die gesig wat daardeur gekyk het

en daardie gesig

 

was versonke in die herinnering aan ’n ander

verligte venster

 

*

 

Jasmyn

 

 

Die jasmyn geur oor ons, soos altyd, van veraf,

toe ons dronk en weerloos was.

Die hele aand praat ons oor die pantser van parfuum

wat met pyn deurboor sal word, die koestering

wat soetigheid bied, die afsondering

wat bruin sjokolade gee,

oor ou teleurstellings wat die drome

van jongmense word soos klere wat uit die mode gaan

en nou weer gedra word.

 

Snags droom ek oor jasmyn.

En die volgende dag dring die geur van jasmyn

selfs die verklarings van die droom binne.

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.