Wat ‘n fees …

Versindaba 2009 in die Oude Libertas Amfiteater, Stelllenbosch

Versindaba 2009 in die Oude Libertas Amfiteater, Stelllenbosch

Moeg, uitgefees en dankbaar – vanjaar se Versindaba gepak, toegedraai en gepos … En hemel, wat ‘n voorreg was dit nie om ons digkuns in die wondermooie fasiliteit van Oude Libertas so tussen wingerde, bome en berge te kon vier nie.

Nietemin, graag wil ek my persoonlike indrukke van bepaalde hoogtepunte vanoggend by monde van hierdie Nuuswekker met jou deel:

Die kunsuitstalling se opening Vrydagmiddag. Die afwagting, die onsekerheid. Soos om weer in die kleedkamer te wag voor ‘n belangrike wedstryd. En dan Johan Myburg se treffende openingsrede: spitsvondig, ingelig. Binne bestek van ‘n paar woorde gee hy ‘n besonderse oorsig van die digterskilders se werke wat te sien is. En hulle werke is almal daar, skouer aan skouer. Sewe en dertig skilderye in totaal.

Vrydagaand. Na al die naels kou oor die weer begin die verrigtinge in die mees ideale omstandighede. Die breë, rooi tapyt wat die mense verby die kleurvolle boekstalletjie en wyntafels lei na die imposante binneruimte van die Amfiteater. Mozart se vioolsonates wat agterlangs voor die omringende bome en berge verby dryf terwyl die gehoor hul sitplekke inneem. Die staande ovasie na David Kramer se optrede. Onvergeetlik. Die tarentale se uitbundige gekrys terwyl Carina Stander haar Afrika-gedig voorlees. Die verhooglig wat Renette Bouwer se ring vang wat vir ‘n oomblik soos ‘n druppel bloed aan haar vinger hang. Danie Marais se optrede saam met die animasieflm wat Diek Grobler van sy gedigte gemaak het, ‘n absolute hoogtepunt. Hemel, dat die digkuns ook op dié manier oorgedra kan word. Die ambulanssirene wat heel gepas die byklank verskaf tydens Danie se voorlesing … Antjie Krog se voordrag wat die gehoor deur soveel nuanses en stemminge van haar poësie begelei; die Belgiese televisiespan wat krom agter hul kamera’s staan terwyl hulle haar optrede verfilm vir die dokumentêre oor haar lewe en werk. En natuurlik, die pasgestigde Schola Cantorum Kamerkoor met hul eerste openbare optrede. Watter kragtoer was húl uitvoering van die Antjie Krog gedigte wat deur Niel van der Watt getoonset is, nie.

Saterdagoggend. Nuwe lokaal, nuwe gehoor. Nuwe probleme. Binnenshuis in die Ouditorium, dié keer. Die lugversorger wat nie werk nie; natgeswete, onvergenoegde gesigte. Die beligting wat nie reg is nie. Buite die gedroesemoes van die Saterdag-mark. Musikante onder die bome. Onder andere ‘n kitaarspeler met ‘n kersvader-mus. In die Ouditorium die gesigte wat gaandeweg begin versag namate die gehoor onder die indruk begin kom van die uitstaande gehalte van die deelnemers en dit wat hulle het om te bied. Die pragtige optrede van die Graad 7 en 8 leerders van Somerset College. Willem Fransman se treffende huldeblyk aan Peter Snyders. Joan Hambidge in die volle krag van haar vakgebied terwyl sy haar bestekopname oor die Tagtigers lewer: deeglik nagevors en aangebied met die weergalose Hambidge-humor. Die voortstuwende kwinkslae tussen haar en die seremoniemeester, Margot Luyt.

Saterdagmiddag. Die gemaklike, insiggewende gesprek tussen Daniel Hugo en Joan Hambidge. Antjie Krog se kragtoer: die pleidooi wat sy vir die poësie lewer met ‘n besonder unieke siening ten opsigte van die teenstrydighede daarvan. Haar voorlesing van Paul Celan se gedigte wat sy vertaal het, myns insiens die absolute hoogtepunt van die fees. Die applous ná haar optrede wat net nie wou eindig nie. Want almal sit daar, tot in hul voetsole geruk deur die besef van die enormiteit en omvangrykheid van hierdie ding wat ons poësie noem.

Saterdagaand. Ietwat koeler as die vorige aand. ‘n Effense bewolktheid in die lug, maar moenie bekommerd wees nie, verseker die mense my: Dit sal nie reën nie. En dit het nie. En die verrrigtinge begin. Met skitterende voorlesings deur ons digters en Luna Paige se lieflike toonsettings van Sappho-gedigte as hoogtepunte. Petrus du Preez se voorlesing van Gilbert Gibson se gedigte en Joan Hambidge se voorlesing later. Laurinda Hofmeyr en Stian Bam wat die fees afsluit met hul manjifieke program van musiek en voordrag rondom die meesleurende poësie van Breyten Breytenbach.

En jy sit eenkant in jou skuilstoel agter die verhoog en telkens kom jy onder die indruk van die veelkantigheid van ons digkuns: soveel stemme, soveel style. Soveel vreugdes.

Wat ‘n voorreg was dit nie! Baie, baie dankie aan al die deelnemers. Dankie veral vir die deeglikheid van jul voorbereiding en die professionaliteit waarmee julle dit wat spesiaal is vir ons almal, met die gehoor gedeel het. Na dese kan daar min twyfel bestaan dat dit besonder goed gaan met ons digkuns.

Ten slotte, ‘n besonderse dank aan almal wat agter die skerms op soveel uiteenlopende maniere dié geleentheid moontlik gemaak het: ons borge vir hul finansiële steun, die personeel van Distell Oude Libertas en les bes, die personeel van Protea Boekwinkel op Stellenbosch – dankie vir júl harde en toegewyde werk. Min mense besef wat dit van júlle verg om hierdie fees moontlik te maak.

Daarom: dankie, dankie, dankie.

Lank leef die poësie. En die Versindaba.

Mooi bly.

LE

Bookmark and Share

Comments are closed.