Bestek van Afrikaanse digkuns
Onderstaande berig het in Die Burger van 30 November 2009 verskyn.
Die korrespondent is Willem de Vries.
Die vyfde Afrikaanse Versindaba wat Vrydag en Saterdag in die Oude Libertas-amfiteater en -ouditorium gehou is, het opnuut gewys hoe volhoubaar die ontginning van hiedie “mineraletaal” (Daniel Hugo) se digkuns elke jaar is.
Die poësiefees wat vanjaar die laaste keer onder die kundige bestuur van Louis Esterhuizen en Marlise Joubert aangebied is, het al meermale bewys watter ryk oes Afrikaanse poësie jaarliks oplewer. Die publikasie van die jaarlikse Versindaba-bundel, ‘n belangrike tydsdokument wat saamgestel is uit werk van deelnemers, sal hopelik voortgesit word in watter gedaante die fees voortaan bedryf gaan word. Die reusetaak van die fees en die aanvang van die Versindaba-webwerf wat hulle graag wil uitbou, het die inisieerders voor hierdie moeilike keuse gestel.
Loftus Marais het vanjaar die Protea-prys vir poësie ontvang vir sy debuutbundel Staan In Die Algemeen Nader Aan Vensters; hy het ook die Ingrid Jonker-prys in ontvangs geneem. Nicol Stassen, hoof van Protea-uitgewers, het daarop gewys dat Marais die eerste Afrikaanse digter sedert Sheila Cussons is wat vier literêre pryse vir ‘n debuut ontvang.
‘n Indrukwekkende groep digters en musikante is vanjaar onder die tema van die visuele kuns en poësie verenig. Kunswerke deur digters is aangebied onder kuratorskap van die digter en kunstejoernalis Johan Myburg. Dit het werk van Cussons, Joubert, Trienke Laurie, Christine Barkhuizen-Le Roux, Charl Pierre Naude, Carina Stander en Rosa Smit ingesluit. In ‘n paneelbespreking oor kunstenaar-digters onder leiding van Ampie Coetzee, het Stander, Naude en Myburg gesels oor fasette van en impulse in ‘n digter wat ook visuele kunstenaar is.
In “Die bruin stem in ons digkuns”, onder leiding van Steward van Wyk is die kwessie van gehalte teenoor bekendstelling van stemme in die digkuns opnuut uit verskillende hoeke bekyk. Die deelnemers daaraan was Nicol Stassen (wat Ronelda Kamfer vervang het), die selfpubliserende digter Floris A Brown en Willem Fransman, voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging.
Nic de Jager en Antoinnette Kellermann het gedigte oor skilderye en kunstenaars boeiend voorgelees. Philip de Vos se vermaaklike omrymings vir Moessorgski se Prente By ‘n Uitstalling en Tertia Visser-Downie se klavierspel was ook nommerpas. Hy het deelgeneem aan ‘n bespreking tesame met die kenner Marina le Roux en Riana Scheepers van Nuwe Kinderverseboek-faam waarin gesels is oor belangrike aspekte van dié telkens ondergewaardeerde en veelkantige digvorm en die rol van humor.
‘n Voortreflike uitvoering is deur Laurinda Hofmeyr en Kie. gelewer wat met voorlesings van Breyten Breytenbach-gedigte deur Stian Bam afgewissel is. Gilbert Gibson kon ook nie die geleentheid bywoon nie en van sy werk is deur Petrus du Preez voorgelees.
Niel van der Watt het met teks van Krog uitdagende kunsmusiek geskep, met Renette Bouwer as solis saam met die pianis Elna van der Merwe. Dit was Lady Anne Liedboek se première. Krog het nuwe verse voorgelees en die Schola Cantorum-kamerkoor onder leiding van Rudolf de Beer het haar werk as koormusiek laat opklink. Krog het die Saterdag oor “ontnugtering tot poësie” gepraat.
Die program was propvol maar dit was nietemin jammer dat die ontslape digters Barend Toerien of I.L de Villiers se name nêrens verskyn het nie.
Hugo en Joan Hambidge het ‘n interessante gesprek oor hul digkuns met mekaar gevoer. In ‘n lesing het sy ‘n voorlopige bestekopname van die tagtigerdekade se Afrikaanse digters gegee.
Dertig jaar gelede het David Kramer, tóé ook met net ‘n kitaar, sy loopbaan op die Oude Libertas-verhoog begin. Sy bydrae tydens hierdie indaba het ‘n mens behoorlik hoendervel gegee.
Esterhuizen het die versekering gegee dat die fees, wat ‘n baie belangrike bestekopname van die digkuns in Afrikaans bied en waarin meer as 80 digters al deelgeneem het, voortgaan. Die Versindaba waaraan 17 digters vanjaar deelgeneem het, móét ‘n belangrike inskrywing op die Afrikaanse kunstekalender bly. Redes hoekom, kry jy in Breyten Breytenbach se Intimate Stranger: die digter laat die toorkrag waarbinne ons steeds leef woord word, selfs in ‘n geglobaliseerde, postmoderne wêreld. Die vryheid bly ‘n soektog.





