Versindaba 2009

Versindaba 2009. Bloemlesing saamgestel deur Marlise Joubert. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-291-4.

Versindaba 2009 bloemlesing

Versindaba 2009 bloemlesing

Soos die Versindaba self, is die gelyknamige bloemlesing vanjaar 5 jaar oud. En soos in die verlede is die bloemlesing saamgestel deur een van die feesorganiseerders (Louis Esterhuizen in 2005, Marlise Joubert sedertdien), en bevat dit telkens kort biografiese en bibliografiese aantekeninge asook twee gedigte van die digters wat tydens die fees opgetree het. 

 

Die bloemlesing is derhalwe nie los te dink van die feesgeleentheid asook die doelstellings dáármee nie. Dit bied, soos uitgewer Nicol Stassen in sy “Voorwoord” verduidelik, “’n momentopname” van die digkuns in ’n bepaalde jaar. Van die meeste van die deelnemende digters het ’n solodigbundel verskyn in 2009 – die uitsonderings synde Pirow Bekker met Van roes en amarant, Loftus Marais met Staan in die algemeen nader aan vensters en Piet van Rooyen met Kwansuis, wat aldrie uit 2008 dateer.

Vanweë die keuringsprosedures wat geld by uitgewers, is dit dus seker dat gehalte ’n deurslaggewende rol speel by die samestelling van die bloemlesing, soos Stassen verder verklaar. Terselfdertyd bied die boek ook ’n blik op die verskeidenheid van Afrikaanse digwerk; in vorige jare is by die afdeling “Nuwe/Opkomende digters” ook werk ingesluit van versmakers wat nog nie met eie solobundels kon of kan spog nie.

 

Sodoende verskaf die 5 gepubliseerde Versindaba-bloemlesings ’n saamgetrekte beeld van ontwikkelinge op die Afrikaanse poësieterrein in die afgelope halwe dekade. Aangesien literêr-histories oorsigtelike bloemlesings soos Groot verseboek slegs met aansienlike tussenposes verskyn, word by wyse van hierdie bloemlesingreeks ’n unieke, deurlopende beeld gegee van sulke ontwikkelinge.

Joubert noem in haar “Inleiding” tot Versindaba 2009 dat 95 digters die afgelope 5 jaar aan Versindaba deelgeneem het. Ongeveer almal wat tans as digters aktief is in die Afrikaanse literêre veld, is dus betrek.

Wat meer is: Die fees, en die daarmee gepaardgaande bloemlesing, speel kennelik ’n stimulerende rol in die bedrywighede binne die Afrikaanse poësiesisteem. Stassen skryf in sy “Voorwoord” dat dit vir hom voorkom of die verskeidenheid van die Afrikaanse digkuns toegeneem het (beide in temas en tegnieke) oor die afgelope 5 jaar; dat dit ook al hoe meer gebeur dat “poësie in ander tale neerslag in Afrikaans vind” (waaronder ’n klein maar merkbare toename in gepubliseerde bundels vertaalde digkuns in Afrikaans gereken moet word). Ook die gebruik om “belowende digters te nooi” en van hul werk in die bloemlesingsreeks op te neem, het vrugte afgewerp: “’n Beduidende aantal het sedertdien hulle debuutbundels gepubliseer.”

Inderdaad. Ek het deur die vorige nommers in die reeks geblaai, en kon die volgende name in hierdie verband raaksien: Danie Marais, Carina Stander, Jasper van Zyl, Ronelda S. Kamfer en Loftus Marais. ’n Bundel deur Melt Myburgh is geskeduleer om vroeg volgende jaar te verskyn.

Erkenning in hierdie verband moet egter ook gegee word aan inisiatiewe soos die Nuwe stemme-reeks by Tafelberg-uitgewers, asook Charl-Pierre Naudé se samestelling My ousie is ’n blom (Snailpress, 2006).

Jannie Mouton, wie se stigting vanaf die begin die hoofborg van Versindaba was, het in sy verwelkomingstoespraak tydens vanjaar se fees uitgewys dat daar rondom 2005 sowat 10-12 Afrikaanse digbundels per jaar verskyn het; tans tel hy rondom die 20.

Versindaba 2009 verskaf ’n kompakte indruk van wat op 27 en 28 November 2009 in die Oude Libertas-teaterkompleks te hore was aan vars Afrikaanse poësie, uit penne van veterane soos Pirow Bekker, Breyten Breytenbach, Antjie Krog en Daniel Hugo, sowel as van ‘nuwelinge’ soos Lucie Möller, Johannes Prins en Jelleke Wierenga. Wat nie in die bloemlesing weerspieël word nie, is die kruisbestuiwng tussen vers- en ander kunsvorme wat al kenmerkend deel van die fees geword het. ’n Boeiende skildery-uitstalling deur digters soos Heilna du Plooy, Andries Bezuidenhout, Sheila Cussons, Breyten Breytenbach, Trienke Laurie, Carina Stander en Rosa Smit was te sien. Liedmakers en toonsetters soos David Kramer en Laurinda Hofmeyr, asook die ‘rympiesmaker’ Philip de Vos saam met pianis Tertia Visser-Downie  (met gepaste ryme by stukke uit Mussorgsky se “Prente by ’n uitstalling”), het vir treffende en onthoubare musiekvermaak gesorg.

Lesings en paneelbesprekings dra ook tot die aanbodverskeidenheid van die fees by.

Stassen, baas van Protea Boekhuis wat die reeks vanaf die begin uitgee, erken dat die Versindaba-bloemlesings nie finansiële winste oplewer nie. Sy kommentaar is dat dit maar ’n deel is van wat hy jaarliks “vir die Here gee”!

Eintlik, so blyk dit, is die fees sowel as die bloemlesingreeks ’n ruimhartige bydrae deur die organiseerders en die borge daarvan (in haar “Inleiding” deur Marlise Joubert by name genoem) tot die Afrikaanse digkuns en tot Afrikaans self.

Iets wat waardering verdien. Waardevoller, op die keper beskou, is egter die besondere argivale en literêr-historiese waarde wat die bloemlesingreeks algaande aan die opbou is. Iets om wel ook te besít, dus, of om aan belangstellendes as geskenk te gee.

Esterhuizen en Joubert het aan die einde van die feesverrigtinge aangekondig dat hulle die organisering daarvan vanaf volgende jaar aan ’n ander instansie afstaan. Sodoende wil hul tyd en energie vry maak om die Versindaba-webblad waarmee hul vroeër vanjaar begin het, verder uit te bou. ’n Mens kan nie anders as om hul dieselfde mate van sukses en ondersteuning toe te wens as met die fees en die bloemlesing nie.

 

 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.