Peter James Snyders: G’n Ordinary Mens

Willem Fransman Jr

Referaat gelewer op Saterdag 28 November 2009

Tydens Vyfde Versindaba: Oude Libertas Stellenbosch

 

Peter Snyders

Peter Snyders

 

Inleiding

“Op die Cape Flats is ons almal ordinary mense, en ons praat ’n ordinary taal. Ons speel met daardie taal. Dié van ons wat Kaaps praat, kan ook soms straight praat. Dié van ons wat straight praat, praat ook dikwels Kaaps. My poësie is straatpoësie, praatpoësie as jy wil, deel van die drama wat plaasvind op straat.” Die digter Peter James Snyders is aan die woord. Reguit, eerlik en sonder voorbehoud.    

Hy is beslis nie jou gemiddelde mens nie. Ook nie ‘n gewone skrywer nie. ‘n Waarskynlike mens dalk? Maar glo my, hy is g’n Ordinary mens. Dit kan ek jou verseker!

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

    

Vroeë Geskiedenis: Peter James Snyders is op 14 November 1939 in Wynberg in die Kaap gebore. Vroeg maak hy kennis met gedwonge verskuiwing. Alhoewel hul vir ‘n aantal jaar in Douglasweg gebly het, moes hulle daar uit na Hazendal, net langs Bokmakierie, ‘n geweldadige buurt. Hier, en later in Athlone maak sy ouers hom en die res van die gesin groot. Later jare nadat hy die verhoogdrama, “Min Genade” geskryf het, sê Peter Snyders: “Mens raak later tolbos en daar is min genade vir jou…nie van die inwoners nog die regering van die dag!”

 

 

 

 

 

 

Op hoërskool is die befaamde digter Sidney Vernon Petersen die briljante leerder se skoolhoof. Snyders matrikuleer in 1957 aan die Hoërskool Athlone. Hy ontvang ’n beurs om medies aan die Universiteit van Kaapstad te studeer. Maar dis die jong arbeiderskind nie beskore. Hy moet, soos so veel ander talentvolle kinders van die Vlakte, inspring om te help verdien!

Maar soos by Small, skryf die jong Snyders van kleins af. En as daar koek op die spel is, was aansporing onnodig.

Peter vertel: “Ons het by die skool gereeld konserte gehou en as jy iets kon voordra of opvoer, kon jy ’n stukkie koek kry. Ons was maar arm. Ons moes as kinders, na my ma se stories luister. Ek het dié stories altyd verdraai, ’n stertjie bygelas en dit dan by die skool opgevoer. En siedaar, ek is by die koekbord.”

Soos ook ‘n ander grote, C Louis Leipoldt, ook dikwels gedoen het, begin Snyders briewe skryf, op soek na ‘n sakgeld en ’n sekere koerant het briefskrywers betaal as hul briewe gepubliseer word.  

 

    

Snyders studeer aan Unisa en behaal ‘n graad in Chemie. Hy onderneem ook studies in Musiekgeskiedenis, Engels, Afrikaans-Nederlands aan Unisa. In 1989 verwerf hy ‘n BA-graad aan UWK. En in 2002 werk hy aan ’n MA in Skeppende Kunste aan die Universiteit van Kaapstad.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

  

 

 

 

 

 

Hy trou eers met Rose, ‘n jeugliefde. Hulle het vier kinders.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Na sy egskeiding, trou hy met Francis. Hulle het ‘n dogter, Nadine.

 

 

 

 

 

 

Op sestien skryf hy sy eerste kortverhaal en dit word gepubliseer. Aanvanklik skryf hy in Engels, totdat hy op ’n dag besluit om voortaan te skryf oor die mense wat hy ken en om te skryf soos hulle praat. Noodwendig sou hy dan in sy moedertaal, Kaaps skryf! ‘n Taal in eie reg, soos Adam Smal dikwels vanaf openbare verhoë sou bepleit! Maar met sy skryfstyl vestig hy eintlik ‘n eie variant van Afrikaans, naamlik Neo-Afrikaans. Small se Kaaps is eintlik net ‘n variant van die Bo-Kaap. Snyders, aan die anderkant skryf, op sy beurt ‘n Kaaps wat verder en wyer, as net die Bo-Kaap strek! Mense wat Small se werk dus met Snyders wil vergelyk, maak ‘n hengse fout!   

Snyders ken al die reëls van sy eie taal, en al is hy ’n kenner van Afrikaans en Linguistiek, is Afrikaans steeds vir hom ’n taal wat dikwels met sy eie taal bots. As hy in Kaaps skryf, is hy nie onseker van homself.

 

 

 

 

 

Peter is ‘n raar kreatiewe siel! Bedags is hy natuurwetenskaplike en saans skryf hy. Hy noem sy skryfwerk sy ‘ambag van die nag’! Maar hy skryf nie net gedigte, dramas en artikels nie. Daar het al meer as 1000 liedjies uit sy pen gekom!

DJ Opperman het soms na Leipoldt verwys as ‘n poliglot…’n veeltalige… en ook gesê dat poliglotte met ‘n soort taalslordigheid in hul werk mee omgaan! Maar by Snyders, ook ‘n veeltalige met kennis van van Afrikaans, Engels, Kaaps, Nederlands, Duits, Xhosa en Khoi, is daar geen taalslordigheid te bespeur…eerder ‘n taalgevattenheid.

 

 

Of Hoe?

Moetie rai gammattaal gebrykie; / Dit issie mooi nie: / Diet dieghreid die coloured mense-of hoe?

Wat traai djy om / om ‘n coloured culture te create? / of dink djys snaaks / om soe te skryf / of hoe/

Traai om ôs liewerste op te lig; / ôs praat mossie soe nie… / of hoe?

 

 

 “Kaaps is vir Peter ‘n besondere groepsidentiteitsmerker: “Onse Kaapse mense, ons lag mos vir alles, al sal party vir jou sê dit issie so nie. Ek roep dit ons lagmag- wanneer jy magteloos is, is al wat jy oor het, jou lag. Lag is ons kulturele wapen; jy kan iemand laat doodlag. Dis die wonderlikste manier om te sterf! En Kaaps is my lagtaal. Dis die gees waarin ek my stories voordra!”

 

 

 

 

Kaaps is vir hom ‘n belangrike satiriese instrument, waarmee hy voorheen kritiek teen die apartheidbestel uitgespreek het. Kyk byvoorbeeld:

 

Dankie tog Apartheid:

Apartheid het van ôs ‘n volk gemaak / ôsammaltesamegebring inne great grey ghetto; / en eendrag maak mos mag / nie waar nie? / Dankie tog apartheid!

Apartheid het ôs ‘n nuusblad gegie / wat niemand kon verban  nie / “Strike die sestiende en die siewentiende /  en pass the word around”, /  en wips gaan dit deur draad en muur, / en kort voor lank wiet amil dit, / dankie tog apartheid.

Apartheid /  het ons lat besef / dat ôs is ‘n koepkrag / ôs is mense met mag / ôs kan ôs ophef / ôs kan ôs handhaaf / ôs issie toekoms / al het ôs nie ‘n past nie / Dankie tog apartheid

 

 

Peter verskyn in die laat sewentigerjare skielik op die toneel van die Afrikaanse letterkunde. In 1976 skryf hy sy gedig “Strandfontein” in vir die My Poem-kompetisie, maar hy weet nie in watter taalkategorie nie. Hy skryf dit toe maar in vir die Kategorie: Vreemde Tale. Die aand met die toekenning ontvang hy nie net aanprysing nie, maar word daar vir hom gevra om die gedig ook voor te dra. Adam Small vra hom vir nog gedigte en by die beraad van die Afrikaanse Skrywersgilde in Gordonsbaai in 1977 lees Peter van sy gedigte voor.

Sy werke word in verskeie literêre en semi-literêre tydskrifte, “little magazines”, “house magazines”, soos Standpunte, Contrast, Spado, Graffiti, Ensovoort, en koerante soos Beeld en Die Burger gepubliseer.

In 1980 debuteer hy in Uitgewery Skoppensboer se versamelbundel Brekfis met vier saam met Daniel Hugo, Etienne van Heerden en André Le Roux du Toit wat in 2005 weer deur Human & Rousseau uitgegee word.

Is Peter Snyders ‘n Ordinary mens? Waarskynlik nie. Snyders sê self: Ek hou daarvan om heilige koeie tromp-op te loop. Ek is bevoorreg om nie altyd net te sien wat voor my is nie. Ek kan dikwels dieper kyk!”

Snyders skryf oor sy mense en hy skryf ook dwars-in. Teen die gerein, as dit moet! Maar hy bring duplicates van sy mense in sitkamers en klaskamers van nie-bruin, nie–swart liefhebbers van poësie! Hy skryf universeel oor die lotgevalle van die werkersklas, die man op straat, die straatveër, die bendelede ensovoorts.

“Ek probeer nie om ‘n Van Wyk Louw of ‘n Opperman te wees nie. Ek staan in diens van die gewone mens- nie die literêre establishment nie. As dit wat in die gewone mens se lewe aangaan ‘n banale vorm voorstel, dan skryf ek seker banaal. Maar soms groei blomme in die modder”

 

 

 

Hoe gaan Peter te werk as hy skryf: “Voor ek my stories maak, moet my kop skoon. Geen nonsiesgedagtes, diep genadink of analisering nie, dis so voorbarig en beterweterig. Nee, die muses kom sit hier rondom my, almal van hulle Kaaps. Dan vat hulle my gedagtes en ons skryf: oor die Flats en die floods, oor Djiesus, oor brein-drein en treinry.”

Snyders word ‘n bekende gesig by op kunstefeeste plaaslik en internasionaal Die Winternachten Kultuurfees in Den Haag. Ook besoeke aan Suriname word onderneem. Ook is hy ‘n gewilde spreker, veral oor sy siening omtrent neo-Afrikaans, waarvan hy definitief die vader genoem kan word.

Hy was vroeër lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Verder is hy ook lid van die Suid-Afrikaanse Draaiboekskrywers-vereniging en die ANV Vereniging voor Taal en Cultuur. In 1995 en ook in 2005, lewer hy lesings by die tweede en derde Swart Afrikaanse Skrywerssimposium te Paternoster en aan die Universiteit van die Wes-Kaap.

 

Kom ons staan stil by sy werke:

 

 

 

‘n Ordinary Mens (Tafelberg 1982)

‘n Ordinary mens was al vir Durban/Westville, Vista-Universiteit in Soweto voorgeskryf. Sommige gedigte uit dié bundel word sedert 1992 vir leerlinge in graad.10, 11 en 12 voorgeskryf.. `Peter sê: “My eerste bundel het my getipeer as ‘n digter wat straatgedigte skryf in die praattaal van gewone mense.”

 

‘n Waarskynlike mens (1992: Unison Uitgewers Peter se eie uitgewery)

‘n Waarskynlike mens is ‘n voortsetting van ‘n Ordinary mens. In hierdie bundel hou Snyders hom weereens nou aan die waarheid wat nie altyd slaag in mooi taal nie. Die gedigte is naak, want hy soek die oermens wat sonder pretensies en maskers voorkom. Hy soek die spontaniteit wat die profundity in simplicity versteek. Ek soek die digterlike lelie in die gemors,”. Ek poog om die taal lewendig en genotvol weer te gee.

 

    

Political Joke (1983 Uitgegee deur Perskor) Peter se veelsydigheid word verder bewys deur sy bydrae tot die toneelkuns. Sy eerste vollengte-drama, Elke ou storie, word in Februarie 1979 op die Kaapse Vlakte en in Junie 1979 in Die Volksruimte op die planke gebring. In Oktober/November 1979 word dit onder sy oorspronklike titel, Political joke, in Die Volksruimte opgevoer.

Political Joke 2 (2000-gesamentlik deur Unison en Bent Uitgewers)

Hierdie opvolg van Political Joke  is ook ‘n gespreksdrama in ‘n sjebeen.

 

Verzachtende Omstandigheden/ Versagtende Omstandighede( (1995) word in Vlaandere uitgegee en vertalings deur Jan Deloof. ‘n keur uit Peter Snyders se gedigte.

 

Brunch met twee (uitgegee ContentLot.com) 2001. Die bundel kortverhale word saam met Clinton V du Plessis uitgegee. In die bundel is veral Snyders se werk humoristies, en fokus meer op die wêreld van seks en verdowingsmiddels wat geensins positief deur die nuwe politieke bestel geraak is nie. 

 

Tekens van die tye: Protea Boekehuis 2002) Waar Snyders se vorige werk kritiek op die Apartheidsbestel uitgespreek het, word daar nou op die vergrype en misverstande van die nuwe bestel gefokus! Tekens van die Tye word agt jaar na die nuwe bestel geskryf!

In al Snyders se werk bly hy egte getrou aan homself en aan sy selfopgelegde missie om ‘n stem vir die stemloses te wees. En sodoende hul lotgevalle te verewig in sy werke! Tydloos te fikseer in digvorm! Maar op kritiek dat hy dalk van die mense, wat hy juis wil uitlig, stereotipeer met sy ‘gatmaak oor issues en nogal in Kaaps’ antwoord Peter onomwonde: “my wêk gat oo ‘n wêklikheid allie pad realiteitssepie”.

 

 

Ongepubliseerde dramas is:

Verskeie ongepubliseerde dramas volg uit sy pen.

Min genade: In 1983 word sy drama Waak oor ons huis bekroon met die prys vir die beste oorspronklike teks in die Departement van Binnelandse Sake se Toneelfees. Die oorspronklike titel was Min genade.

Min Genade speel af in 1977. Dit handel oor ‘n gesin wat reddeloos verstrengel is in ‘n sosiaal-politieke opset op die Kaapse Vlakte. Die stuk staan sterk in die brandpunt van die tyd, veral met die klem op die Groepsgebiedewet.

 

 

Violations: Violations, wat in 1986 in die Baxter-teater opgevoer is met Denise Newman en Vinette Ebrahim in die hoofrolle. Enkele ander werke wat opgevoer was Slegs leke; Lindy, Lindy; Voor dit gebeur!

 

 

 

 

 

 

Wat dink ander skrywers van hom: Peter Snyders is lid van die ASV sedert stigting. Tydens die viering van sy 70ste verjaarsdag, wat die ASV / Die Snyders familie en Afrikaans Nederlands van UWK vir hom gereël het, word Ere-lidmaatskap aan hom toegeken! Tydens die geleentheid kon mens uit die groete-boodskappe aflei hoe gewild Snyders  onder mede-skrywers is.

 

 

 

  

 

Braam de Vries: Welkom by die raad van wyse manne! Ek sien uit na jou volgende bundel, want 70 beteken nie dat die bron opgedroog het nie.

 

Ampie Coetzee: Peter, ons paaie het in die vroeë dae dikwels gekruis – en ek het altyd jou sin vir humor en vir die ironiese waardeer. Van een Sewentigjarige tot ‘n ander: mens se kop raak oper; en nog is dit het einde niet!

 

Diana Ferrus:. Dankie vir die pad wat jy vir ons geloop het in die literêre wêreld, inderdaad ‘n pionier. Dankie ook vir jou literêre nalatenskap wat van onskatbare waarde is vir almal in Suid-Afrika maar veral vir die histories gemarginaliseerdes. Dit is ‘n eer om jou te ken en weet dat jy inderdaad ‘n rol gespeel het in die ontwikkeling van my digterskap. Ek groet jou as ‘n grote!


Anthony ‘Speedo’ Wilson: Ek is skoon jaloers. Ek wens ek kon daar wees. Jy kan nou – sommer nou vir my vra om ‘n 30 minute program oor Peter se poësie te doen en ek doen dit op die daad. Ek trots my nogal daarop dat ek op ‘n stadium ELKE gedig in Ordinary Mense geken het – nou nog! 

 

Joan Hambidge: Geluk liewe Peter Snyders, jy is geen gewone mens nie. Ook nie ‘n ordinêre een nie, nee ‘n besondere mens. Mag jy steeds vir altyd die digkuns, maar veral die wingerd prys!  Van Joan Hambidge: Op ouderdom 70 minus 17 of soiets.

 

Hein Willemse: Enige mens wat Peter Snyders ontmoet, word getref deur sy entoesiasme en sy ywer, maar veral sy lewensvreugde. Vir my verteenwoordig Peter die ou Kaapse gesegde: “jy moet my vat soos jy my kry …” As hy  van ‘n ding of ‘n saak oortuig is, sal jy hom met moeite tot die teendeel kan oorhaal – hy sou waarskynlik sê: as ‘n wetenskaplike moet jy evidence hê. Ek het Peter leer ken as ‘n kampvegter vir dit wat hy as sy eie eien – en ek het dit nog altyd opreg waardeer.

 

Marius Titus:

 

Peter…….kap aan

Salute ’n groot skryfghoeroe

se siewentagste jaar,

jy’s blerrie skerp moet woorde

en ken die mens…soewaar!

Soek na jou hoogste doel

want dáárna moet jy streef,

kry dharma in die issues

noudat ons dodgy leef.

 

Ronel Foster (de Goede): Jou bydrae tot die Afrikaanse letterkunde en spesifiek die demokratisering daarvan kan moeilik oorskat word. Wat opval in jou werk, is enersyds die afrekening met voor­opgestelde idees en arrogante houdings; en andersyds jou deernis en empatie met jou land- en lotgenote. Deur die tematiek van die sogenaamde “gewone” mens se doen en late, sowel as die pretensieloosheid en humor van jou aanbieding, het jy ʼn stewige bydrae gelewer tot die praatvers in Afrikaans. Voeg daarby dat jy ʼn voortreflike voordrag­kunstenaar is, en dit is duidelik waarom jy die harte van soveel bewonderaars verower het. Mag die jare vorentoe propvol vreugde wees, met genoeg geleenthede om oor die “ordinary” mens te skryf.

 

 

 

En die Skrywer self?

`Die omgewing waarin ‘n mens grootword, kan jou óf volwasse maak óf jou heeltemal verwoes. Omdat ek ‘n skeppende mens is, was die Vlakte nog altyd vir my ‘n bron van inspirasie. Ek het gou agtergekom dat ‘n mens self moet besluit of jy gaan toelaat dat die omgewing jou nadelig beïnvloed.”

Dit maak nie saak of daar soveel geweld op die Vlakte is nie. Daar is nog omgee vir mekaar…deel in mekaar se life en leed. Die Vlakte, dink ek…is eintlik ek!

 

Ek skryf sonder intensie; ek preek nie’

Maar ek, ek skryf sonder intensie; ek preek nie. Ek is eerder betrokke by die sosiale uitwerking van die politiek. Ek gee net mense se stemme weer.” Maar hy voeg by: “maatskaplike dinge” kan hier (in Suid-Afrika) nie van politiek geskei word nie. Sy uitgangspunt bly nietemin “maatskaplik” . “Jy sal my nie glo nie, maar ek is apolities . . .”

 

Peter Snyders & Willem Fransman jr

 

    

 

En ek? Hoe sien ek Peter James Snyders: As ‘n ongevraagde mentor vir vele op die Vlaktes, ‘n Vriend sonder weerga en glad nie ‘n ordinary mens nie…nee, eerder ‘n ekstra ordinêre mens. ‘n Buitengewone digter. ‘n Ordinary ou wat dit gemaak het! Big time.

Mooi loop Peter, Vader van Neo-Afrikaans. Jy’s o’se Champion!

EK DANK U

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Peter James Snyders: G’n Ordinary Mens”

  1. Wilmie Vosloo :

    Dankie vir die deeglike info oor Peter Snyders. Doen met Grd11 sy gedig ‘n Ordinary mens. Hierdie info is handig.