Johann Lodewyk Marais. Marthinus Versfeld (2)

Marthinus Versfeld is op 11 Augustus 1909 gebore. Hy het aan die South African College Schools (SACS) skoolgegaan, aan die Universiteit van Kaapstad studeer en in 1934 ‘n doktorsgraad aan die Universiteit van Glasgow behaal. Vanaf 1937 was hy verbonde aan die Departement Filosofie van die Universiteit van Kaapstad, waar hy in 1970 ‘n professor geword het. Hy het hom glo min aan administratiewe sake gesteur en nooit ‘n senaatsvergadering bygewoon nie. In 1974 het hy afgetree. Hy het eredoktorsgrade van die Universiteit van Kaapstad en die Randse Afrikaanse Universiteit (tans die Universiteit van Johannesburg) ontvang. Versfeld was getroud met Barbara (hy verwys meermale na haar as sy “Penelopeia”) en het nege kinders gehad. Op 18 April 1995 sterf hy in sy huis.

Oor die jare heen het Versfeld as deel van sy sowat dertig boeke en ander publikasies ‘n klompie essaybundels in Afrikaans en Engels die lig laat sien. As kenner van die Middeleeuse filosofie en die werk van Augustinus het hy internasionaal lof ingeoes. Met Food for thought: A philosopher’s cook-book (1983) het hy in die trant van Capon se The supper of the lamb ‘n klassieke werk vol verwondering oor kosmaak gelewer.

By Versfeld kry ‘n mens selde “droë filosofie” en boekhandelaars het nie altyd geweet op watter rak sy boeke hoort nie. Die essays in bundels soos Klip en klei (1968), Tyd en dae (1982) en Die neukery met die appelboom (1985) handel immers oor dinge soos huise, klippe, koskook, bergklim, hengel en jag. Hy het ook baie waarde aan vakmanskap geheg. Hy vertel byvoorbeeld trots hoe hy gehelp het om die berghut by Waaihoek in die Worcesterse berge te bou en self sy huisie in die Kouga aangepak het. Hierdie gerigtheid op die konkrete besorg aan sy werk ‘n minder verliteratuurde karakter as dié van sy tydgenote. Die meeste van sy boeke was nooit bedoel as handboeke vir studente nie; bergklimmers en natuurliefhebbers kan wel heelwat leer uit Berge van die Boland (1947 en 1965), wat hy saam met W.A. de Klerk geskryf het, en Die buitelewe (1970).

Die kwessie van mag en staatsfilosofie het Versfeld redelik koud gelaat. Hy bemoei hom ook nie direk met die eietydse filosofie nie, maar wel met eietydse vraagstukke wat hy dikwels toelig met verwysings na filosowe soos Sokrates, Augustinus en Thomas Aquinas. Opvallend is ook hoe die vraagstelling in sy werk voorop staan en hoedat die een onderwerp gemaklik uit die ander voortvloei. Dit maak sy essays minder gestruktureerd en oënskynlik nie tot in die vesels afgerond nie.

Hy vertaal ook Plato en die Chinese digter Lao-Tse in Afrikaans en verryk sy geskrifte met perspektiewe uit die werk van Oosterse denkers.

“Jan van Riebeeck het in die Kaap ‘n tuin kom aanlê vir die reisigers na die Ooste, maar ons het nog nie in die Ooste uitgekom nie,” het Versfeld by geleentheid vir my gesê.

Waarvoor Versfeld vandag baie erkenning moet kry, is die vroeë insig dat daar ‘n wanverhouding tussen die mens en die omgewing bestaan. Hy het venynige kritiek op die sewentiende-eeuse Franse filosoof van die Verligting, René Descartes, gelewer, omdat Descartes beweer het dat die mens met analitiese denke besit en beheer van die natuur kon kry. Versfeld het, soos Martin Heidegger, sy rug op die tegniek gekeer. Hy het nooit ‘n motor, ‘n tikmasjien of ‘n rekenaar besit nie.

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Johann Lodewyk Marais. Marthinus Versfeld (2)”

  1. Charl-Pierre :

    Wat ‘n mooi stuk oor hierdie koningslelie in die Suid-Afrikaanse literêre tuin. Mag sy naam vir ewig voortleef, ter wille van ons almal.

  2. Rene Bohnen :

    Hierdie aflewerings van jou het my oor die feesdae gedwing na die boksie boeke wat ek na my skoonma se afsterwe gekry het. Daarin is die muwwerige (in Stilbaai gewees vir jare) verbleikte kopie van Die Berge van die Boland. Voorin haar nooiensnaam -Pauline Kies- en die datum 5 Januarie 1948 (haar verjaarsdag)Dankie Johann, ek herlees en die reis is nostalgies en helend op baie vlakke.

  3. Christo Bence :

    As kind was Prof Versfeld maar net die oom met die laphoed wat anderkant die berg bly. Sy huise is nog steeds in die Bo Kouga. Het vele maal saam met my ouers en oom en tannie daar gaan kuier. Die bakoond, oorhang stoof en druiwe prieel op die stoep onthou ek goed. Vir ons broers het die huisie ‘n oneindige bekoring ingehou. Nou nog, selfs jare later het ons nog al 3 ‘n droom van so huisie in die berge.