Wislawa Szymborska – vertaling in Afrikaans

Wislawa Szymborska 

 

Foto van 11 September

 

Hulle het van die vlammende verdiepings gespring -

een, twee, en toe nog ‘n paar,

hoër, laer.

 

Die foto het hulle lewend verstil

en hou hulle nou vas

bokant die aarde, op weg na die aarde.

 

Elkeen is nog volledig,

met `n eie gesig

en die bloed goed verberg.

 

Daar is genoeg tyd

vir hare om los te raak,

vir sleutels en munte

om uit sakke te val.

 

Hulle is nog binne die lug se bereik

binne die omvang van plekke

wat pas oopgegaan het.

 

Ek kan vir hulle net twee dinge doen -

hierdie vlug beskryf

en die laaste reël ongeskrewe laat.

 

[Uit die Pools in Engels vertaal deur Clare Cavanagh and Stanislaw Baranczak.

In Afrikaans hervertaal deur Zandra Bezuidenhout.  16 Sept. 2010.]

Wislawa Szymborska, “Photograph from September 11″. Monologue of a Dog. (Houghton Mifflin Harcourt, 2005)

 

 

 

Geen titel benodig nie

 

Dit het gebeur: ek sit onder ’n boom

langs ’n rivier

op ’n sonnige oggend.

Dis ’n onbenullige gebeurtenis

wat nie opgeteken sal word in die geskiedenis nie.

Dis nie soos oorloë of verdrae

waarvan oorsake noukeurig ondersoek word,

of merkwaardige tirannemoorde nie.

 

En tog sit ek langs hierdie rivier, dis ’n feit.

En omdat ek hier is,

moet ek van êrens af gekom het,

en voor dit

moet ek in vele plekke verskyn het,

net soos die oorwinnaars van koninkryke

voordat hulle uitgevaar het.

 

Selfs ’n vlietende oomblik het sy vrugbare verlede,

sy Vrydag voor Saterdag,

sy Mei voor Junie.

Sy horisonne is net so werklik

as dié wat ’n maarskalk se verkyker mag bespied.

 

Hierdie boom is ’n populier met oeroue wortels.

Die rivier is die Raba; dit het nie gister ontspring nie.

Die pad deur die ruigte

is nie verlede week gebaan nie.

Die wind moes die wolke eers hierheen waai

voordat hy hulle kon wegwaai.

 

En alhoewel niks gewigtig hier naby gebeur nie,

is die wêreld daardeur nie behoeftiger aan besonderhede nie.

Dit is net so begrond, net so noukeurig

as toe nomade dit oorwin het.

 

Sameswerings is nie al wat in stilte gehul word nie.

Optogte van redes sleep nie slegs agter kronings aan nie.

Herdenkings van revolusies mag aanrol,

maar so ook spoelklippies wat die baai omsirkel.

 

Die tapisserie van omstandigheid is verwikkeld en dig.

Die mier se soom in die gras.

Die gras gestik in die grond.

Die patroon van ’n golf geborduur deur ’n tak.

 

So gebeur dit net dat ek is en ek kyk.

Bokant my fladder ’n wit skoenlapper deur die lug

met vlerke wat heeltemal syne is,

en die skaduwee wat deur my hande skeer

is slegs dit, niemand anders s’n nie, net syne.

 

Wanneer ek sulke dinge sien, is ek nie meer so seker

dat wat belangrik is meer belangrik is as die onbelangrike nie.

 

[Vertaal deur Henning Pieterse]

 

Bookmark and Share

Comments are closed.