Dáárdie klip, herbesoek
Dit is nou al byna vier jaar sedert ek dit die eerste maal gesien en gefotografeer het. Daardie klip. Die befaamde omslag van Fluisterklip. Nie die fluisterklip nie, dit het ons in Desember 2004 al in die Woordhuis se fondasies ingebou. Maar sekerlik soort van familie daarvan. Of dalk is alle klippe in elk geval familie. ’n Mooi familie. My buurvrou Helen sê mos daar’s nie so ’n ding soos ’n lelike klip nie.
In ieder geval, ons kry toe uiteindelik ’n geoloog wat genoeg belangstel om te kom kyk. Na die klip. Om te kom sê wat dit nou eintlik is. Ons reël die uitstappie vir gister.
Sondagnamiddag trek die skitterblou lug toe skielik toe en met gister se wakkerword lê die wolke dik en swaar en koud. Dreigend, maar nie genoeg om ons te ontmoedig nie. Ons ry tot waar die veld begin en dan is dit voetslaan. Ook nie lank nie of dit begin drup. Druppels word katspoegies en katspoegies word krokodiltrane, maar ons stap. Dis toe die krokodiltrane mik na ’n geelperskereën, dat ons maar eers onder ’n boom gaan staan. Maar net vir ’n rukkie, toe lyk die druppels weer minder. Die twee Nederlandertjies het intussen besluit om eerder om te draai. Ek dog hulle wéét van water. Afrika is nie vir sissies nie.
So in die reën lei ons die klipman na die klip. Iemand wat opgewonde kan raak, iemand wat lief is vir klippe. En hy ráák opgewonde. Dis iets wat hy in sy hele lewe (hy is nou al afgetree) nog nie gesien het nie. As ek reg verstaan, is dít sy verduideliking:
Waarskynlik so 2300 miljoen jaar gelede is sand met ’n hoë kleigehalte as sedimentasie hier neergelê. Met die droogwordproses het dit gekrimp en gekraak en gedeeltelik versteen. Verwering het die krake vergroot en slik is hierin neergelê. Later het die hele spul versteen. Geweldige hitte tydens die vorming van ’n nabygeleë granietlaag het waarskynlik verdere rekristalisasie van die sandsteen (kwarts) veroorsaak.
Dit klink miskien soos Grieks, maar in die mond van ’n entoesiastiese geoloog is dit ’n hooglied.
Ek sal seker nooit die wonder van hierdie klip reg kan verwoord nie. Dis soos die skubbe op die rug van ’n dinosourus onder jou voete, onder jou hand. Dis mosaïek en skildery en beeldhouwerk en simfonie. Dis woordeloos en dawerend en fluisterend. Ek gee op. Miskien is die klip se eie mooite op die ou end poësie genoeg.




