Stukkies en Brokkies
Dinge moet uitgesorteer en georden word.
Ek begin een van die menige kartondose uitpak. Hier is ’n foto van ’n hond wat na drie maande weer onverwags by sy eienaar terugkeer. Daarna weer ’n vegetariese resep wat belowend op papier geklink het. Dan is daar die vergeelde foto’s van Annette van Coller wat in 1956 in die koerante verskyn het. Annette, die hoofmeisie van Hoërskool Sentraal in Bloemfontein. Annette met sewe onderskeidings in matriek. Annette, die groot liefde van my lewe, en die ergste is, sy het dit nooit geweet nie …
Dan kom ek op al daardie hardeband notaboeke af: Hier ’n lys name en vanne: Labuschagne, Bell, Baatjies, De Wet , Jansen, Muller, Swart, Van Eyssen.
Waarom? Was dit dalk die begin van idees vir versies? Vandag sal ek nie meer weet nie. Dan is daar die halwe versies wat nooit gepubliseer is nie. Of hulle was na my mening te flou óf dalk te stout (want ek is eintlik baie ordentlik grootgemaak en sou dit in druk verskyn, sou my ma sekerlik my mond met seepsoda wou uitwas).
Jakobregop
staan
so sleg op
sy blomtyd
is verby …
en ten spyte
van geprikkel
is dit deesdae
’n gesukkel
om hom eendag
dalk
weer penorent
te kry.
En ’n lys woorde wat met kat begin: Katalepsie, katalisator, katamaran, katapult, katarak, kateter, Katharina die Grote…
Ek is nie nou meer seker nie, maar dit was dalk die begin van die volgende versie:
Kietsiekat jou slim katater,
Katastrofes kom wel later:
Katalepsie, Katedraal.
Klop jy af is dit finaal.
O Katarsis Katakombe,
Netnou lê jy in jou tombe.
Hou dus aan met polkadraai,
Kattekwaad en Kattemaai.
En dan is daar een enkele reël wat seker vir ’n jaar by my gespook het: die fyn verdriet van die fluitjiesriet. Hoe hard ek ookal destyds aan rymwoorde gedink het, het dit nooit ’n versie geword nie. Miskien het dit tog êrens in my agterkop bly broei, want skielik twaalf maande later was die versie daar en het daardie brokkie ’n versie geword:
van my rietfluit,
my gonna-piet-
verdriet-fluit
het niks
het niks
van die ret-tet-tet
van die
luister-hoe-ek-
skree-trompet;
het niks
het niks
van die rom-tom-tom
van die
hier’s ek weer-
met-my-
trommel-trom;
hy’t net
hy’t net
die fyn verdriet
die fyn verdriet
van die fluitjiesriet.
Miskien ontdek ek dalk met my skoonmaak weer vergete flentertjies woorde wat dalkies, dalkies eendag versies sal word.







Of dalk daardie negatiewe waarna ek so smag… Mooi blog, Philip. En vanjaar gaan ek beslis kom kuier. Jx
sweerlik heerlik! (EN begeerlik!!)
rympies verdien ook pluimpies
iets van die ligtheid van rympies
vat iets vas van al ons baie pyntjies
ai-ai - sit jy my nou aan raai
oor rympies
^^