Om te muis
Daar was ’n storie, toe ek heuphoog was, van Frederik Muis. Ek onthou selfs nog die prentjies. Dit was soortgelyk aan die fabel van die sprinkaan en die miere, maar met ’n ander les. Terwyl die miere heel somer kos versamel het (“gaan na die mier, luiaard”), het die sprinkaan net gesing en is in die winter droëbek weggewys van die miere se oorvol spens.
Met Frederik Muis was dit anders.
Terwyl die ander muise die hele lente en somer en herfs kos versamel het, het Frederik Muis in die son gesit. Op ’n klip, as ek reg onthou. Hy het na die velde gekyk en na die voëls geluister en die blomme geruik en die aanmanings van die ander flukse muise met ’n glimlag geïgnoreer. En toe die winter kom en almal bedruusd en bedruk in hul grotjie sit en wag dat die tyd verby gaan, toe het Frederik Muis sy versamelde skatte uitgehaal – stories, wat die koue verdryf het en die tyd laat vlieg het.
Werk en werskaf is goed, maar soms is dit nodig om te muis. Om figuurlik gesproke in die son te sit en stories te versamel, indrukke wat deur osmose jou siel insyfer vir latere gebruik. Nie vir ’n uur of twee nie, vir lánk. Dae, weke. En dis nie noodwendig maklik nie. Meeste van ons het die kuns verloor van stilsit en stilbly en kyk hoe die sonlig op die aarde val. Sodra daar ’n paar druppels ink in die leë pot versamel het, wil jy jou pen gryp en begin skryf. Jy wil uitjaag na die naaste winkel en die ink gaan kóóp. Ongeduldig. Daardie soort ink kry jy nie in winkels nie. Dis die druppels gesuiwerde sonlig wat een vir een uit ’n druif drup tot wyn. Dis ambrosia, maar dis ook ou, ou koolstof uit miljoene jare terug se woude. Se sonlig.
Gaan na die mier, ja, kyk na sy weë. Hou hom dop vir ure en ure met net die son in jou kop. En word hierdie jaar só wys.




