Carina Stander. my bekering tot die digkuns
Van my vroegste herinneringe as kind is waar my ma se matrikulante Duitse gedigte voordra en die praatkoor Raka van Van Wyk Louw opvoer. Ek was so vier jaar oud en kon nog nie lees nie, maar het probeer om die woorde van Marais se “Dans van die reën” en “Mabalêl” te onthou. Wanneer niemand kyk nie, het ek dié gedigte vol verdraaiings voor die badkamerspieël opgesê. Hierdie verse het my siening van die Afrikaanse digkuns en Afrika gevorm - ‘n eksotiese, geheimsinnige, gevaarlike plek.
Toe ek agt jaar oud was, het my enigste maatjie na ‘n ander dorp verhuis. Daardie aand, terwyl ek besig was om te bad, het die eerste versreël my bekruip. Ek het dit dadelik neergeskryf: “Die Leonie-week” was ‘n volle bladsy lank. As ek eendag groot is, het ek gesê, gaan ek gedigte skryf. My ma het gesê dit ís ‘n gedig en vir my ‘n boek gegee waarin ek alles wat by my opkom, kon neerskryf. Ek het daardie jaar besluit dat ek eendag my lewe aan die skeppende woord wil wy.
Die plaas waar ek grootgeword het is afgeleë en ek was tien jaar oud toe ons eers elektrisiteit gekry het – en ‘n televisie. My vroegste verbeelding is dus eerder wakker gemaak deur boeke en kontreistories. Visuele prikkels was in die bekende: in die leiklipvloer van die plaashuis het ek verbeelde diere gesien; daar was gesigte in die vlamme; ek het beeldjies uit miershoopklei gemaak; die skil van ‘n ryp mango was die kleur van sonopkoms. Vanuit die berg het die visarende gekom en die rooijakkalse, ystervarke, koedoes, klipspringers, luiperds. Wanneer die boorgat opdroog, het ons gesin in die Mokolorivier tussen die waterlelies, riete en krokodil se sleepsels gebad. Hierdie landskap het my van kleins af gefassineer, ontroer, woedend gemaak en lief. Ek wou daaroor skryf. Vandag nog dryf die natuur my om te skryf.
Op elf het ek begin om in die middae na skool met Opperman se Groot Verseboek en ‘n gehawende HAT te sit en lyste te maak van woorde wat vir my mooi is. Ek het my blou BMX al om die huis getrap terwyl ek bit-ter-bes-sie-dag-breek-bit-ter-bes-sie-son sing. ‘n Verlange sonder naam. Ek onthou nog hoe die slot van Leipoldt se “koperkapel” my geskok het (die reën was toe al die tyd mensebloed). En al het “Rietfontein” van Du Plessis my bang gemaak, het ek dit oor en oor gelees. Daardie jaar (ek was steeds elf) het ek ook vir myself die vreemde reël gemaak dat ek elke tweede Sondagmiddag ‘n vers móét skryf. Ek het dit jare lank volgehou en aan die einde van my skoolloopbaan had ek ongeveer 200 bogrympies & gedigte in twee swart boeke. Ek het steeds al dié handgeskrewe verse.
Op vyftien het ek begin om kuns te verkoop en tjieng te spaar sodat ek die weeklange ATKV-Skryfskool aan die Universiteit van Potchefstroom kon bywoon. Ek was drie jaar daar. Die eerste twee jaar was ek as enigste skoolkind totaal verskrik én verwonderd om regte skrywers soos Krog en Goosen in aksie te sien. Dit het my gou laat besef hoe ontsettend baie ek moes leer en ek is vinnig uit die fase van stroperige tienerpoësie geklap – iets wat my andersins dalk dekades sou neem.
As tiener het ek verse verslind. “Christ of the burnt men” van Cussons het my aan die hart gegryp en die pynlike slotreëls, die bene roserooi, van Van Heerden se “Droom.” De Lange se “Aardlief” en Fryer se “Oulaas”, het my laat tjank oor al die kere wat ek nog sou afskeid neem. Gedigte – meer as gesprekke of koerante – het my ook polities bewus gemaak tot op die punt dat selfs ‘n hoërskoolkind dit nie kan ignoreer nie. Veral Spies se “’n Paternoster vir Suid-Afrika” en “Herinneringe van die teruggekeerde soldaat” van Weideman, was suiwer revolusie. Dan is daar gedigte wat sag in my kom lê het soos Eybers se “Maria”.
Ná skool het ek Beeldende Kuns by Tuks gaan swot, maar steeds gereeld gedigte geskryf en gelees - altyd met ‘n pen in die hand, besig om the tricks of the trade te probeer ontsyfer. So het “God die digter” van Cloete, Stockenström se klipverse en Opperman se “Vincent van Gogh” uit die bladsye gespring. Ek het die skreeusnaakse vers van Letoit ontdek waar die vlieë hom nie meer groet nie en kennis gemaak met Bezuidenhout se dorpsmeisies van dertien wat vir die boere tee skink en Grobler se mooie grootjie wat soos ‘n god kon liefhê. Vir ‘n verrassende slot had ek ook groot bewondering gekry, soos die eenhoring wat uit die niet verskyn in “Oupa Marais” of die vrou wat straataf loop terwyl haar hare vlam in Joubert se gedig of Bouwer se “Koue oorlog” waar ‘n stalagtiet van ys van die son tot op die aarde hang. Hoe pragtig is die kind wat die son se kokosmelk drink in De Bruyn se gedig! Vir my was die mooiste Afrikaanse liefdesverse Olivier se “lieflingbruinoogvolborsmooilyfmens”, Myburg se “Lied van die bruidegom” en Pieterse se fantasiese Bloubaard-verse.
In 2004 het ek ingeskryf vir die meestersgraad in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Prof Joan Hambidge se opdrag was dat, voor mens die eerste keer jou voet in haar klas sit, jy ten minste die hele Groot Verseboek, Poskaarte en 1001 Gedigte moes kafdraf. Sy was ‘n uiters toegewyde dosent wat ons elke Vrydagmiddag vir ure lank gedril het met teorie, die tradisie waarbinne ons skryf en die geite en giere van die bedryf. Ek is gewys op hebbelikhede waarvoor ek in my pasoppens moet wees en natuurlike sterkpunte waarmee ek kon woeker. Ná ‘n uitstekende kursus in Teksanalise by prof Henning Snyman, het ek geweet waarom Breytenbach my beweeg soos geen ander nie. Om BB te lees was om ‘n gerug aan te hoor van lewe op ‘n ander planeet.
In 2006 het my digdebuut, die vloedbos sal weer vlieg verskyn. Van die 70 verse in die bundel, is 25 lank terug geskryf - sommiges in my hoërskooljare – en die res was ‘n uitvloeisel van die MA by UCT. Sedertdien het ek al hoe meer anderstalige digters begin lees: Yehuda Amichai, Rainer Maria Rilke, Sylvia Plath, Leonard Cohen, Lorca en natuurlik Pablo Neruda. Ek raai dis deels waarom ek met my tweede bundel, woud van nege en negentig vlerke, die venster oopmaak na ander kontinente. Dalk word my volgende gerfie gedigte geplant in Europese grond?
Die laaste halfjaar “vas” ek egter ‘n bietjie van die skryf van gedigte. Ek honger my uit, sodat ek weer die woorde kan proe.






Hi Carina -
Ek het jou “bekering tot digkuns” baie geniet. Hoe al die drade in jou lewe ingevleg het in ‘n ryk aar van betekenis en fantasie wat deur jou werk, visueel en digkuns, loop. Ook jou praatjie op RSG kuns en by die Versindaba was verfrissend en inpirerend. Die gedig oor die dogtertjie wie, om den brode, op die stippellyn in die pad wawiele draai is so treffend. Jy as skrywer en kunstenaar draai wawiele op die stippellyn van die besige hoofpad van die lewe waar handel gedryf word, oorlewing voor baklei word en geld voor gewoeker word. En jy vang die patos en skeppende pragtig vas.
HEERLIK!
evette weyers
Evette, baie dankie vir jou skryfsel! Die netwerk (drade wat vervleg, soos jy dit noem)fassineer my ook. Ek onthou nog spesifieke beeldhouwerke deur jou wat ek vier jaar gelede by KKNK op uitstalling gesien het (”Medusa” was een) en ook van jou kleiner beelde in die huis van ‘n vriend, Ian, wat kuns versamel. So kyk/ luister/ lees ons mekaar raak. So raak die vlegsel al hoe meer verwikkeld/ ingewikkeld. Die Avatar motief. Gesien?
Ek het my nog nooit tot die digkuns bekeer nie; is ook nie van plan om dit ooit te doen nie. Bekering klink soos die ongevraagde eise wat deur sommige godsdienstige mense aan veronderstelde “onbekeerdes” gestel word. Bekering tot gedigte sou ook nie nodig gewees het as gedigte deel van gewone mense se lewens gewees het nie. Gedigte word, net soos God, deur allerhande wanvoorstellings tot buite die bereik van gewonde skepsels verhef sodat bekering ‘n vereiste word om tot by Hom ‘in die hemel’ te kan kom.
Sy is sonder bekering reeds by ons:
ook in klanke wat nie rym
en in woorde wat nie netjies pas.
Susan, ek is bevrees dat ek moet pa staan vir die “bekeerde” woord aangesien die aanvanklike inligtingstuk wat ek aan die bloggers uitgestuur het, gepraat het van my “bekering” tot poësie in die sin van ‘n veranderde ingesteldheid of houding. So was dit ook op die tuisblad aangetoon. Spoedig het ek egter besef dat die godsdiens konnotasie misleidend (en beperkend) gaan wees en het daarom die betiteling verander na “My kennismaking met poësie.” Op daardie tydstip het Carina egter reeds haar blog geplaas gehad. En ander deelnemers het met “bekering” vs “bekoring” begin speel en dít was vir my besonder gepas; so, ons het dit laat staan … Helaas, tot jóú irritasie. Jammer daaroor.
Maar dink jy nie Carina se stuk is ‘n besonder treffende verslag van hoe dit gebeur dat iemand poëtiese wasdom bereik nie? Laat my nogal dink aan iets wat Robert Graves gesê het: “To be a poet is a condition rather than a profession”.
Beste Susan van Zyl
Louis slaan die tentpen so op sy kop: hierdie was ‘n opdragblog en ek het bloot die gegewe titel gebruik. As jy egter die blog lees, sal jy gou agterkom dat dit allermins na bekering in die religieuse sin verwys. Gedigte het op vierjarige ouderdom my pad gekruis en ja, ek is bekeer tot die kreatiewe woord; daar was en ‘n wording, ‘n hartsverandering, ‘n innerlike hergeboorte. Mens sou dit seker net sowel kon noem: “My ontmoeting met die digkuns” of wat die juiste woord ook al vir jou mag wees. Soos my goeie ou Skotse vriend, Allan MacDonald, sou sê: Whatever blows your hair back, baby.
Nie dat ekself hangups met die woord, “bekering” het nie, daarom dat ek Louis se voorstel gevolg het. Hoeveel armer sou die Afrikaanse digkuns nie wees sonder Sheila Cussons se omkeringsvers, “Christ of the burnt men” nie? Of TT Cloete se “God die digter” nie? Godsdiens kan (ook) kleurloos/ kreatief, vreesaanjaend/ vertroostend, inperkend/ bevrydend, vervelig/vervullend wees soos, sê nou maar, boeklees, kindgrootmaak, kosmaak, reis of seks.
Waarmee ek met jou saamstem, is dat gedigte (ook) in die hande van “gewone mense” hoort. Sonder om die fyn nuanses in te boet, kan ‘n vers ‘n appel wees - alledaags, verteerbaar, pittig, soms soet, soms frank - in elke betekenismoontlikheid van lg woord.
vir carina… ‘n propperse mooie appelversie
wat ek eens op ‘n tyd vertaal het…
In die appel
Jy besoek my in die appel.
Saam kan ons die mes hoor skil
om en om ons, versigtig,
sodat die vel nie skeur nie.
Jy praat met my. Ek vertrou jou stem
want daar is ook harde pyn
soos wat egte heuning
byewas vorm in die korf.
Met my vingers raak ek aan jou lippe:
ook dit is ‘n profetiese gebaar.
En jou lippe is rooi, net soos verskroeide veld
swart is.
Dis alles waar.
Jy besoek my in die appel
en jy sal by my in die appel bly
totdat die mes klaar is met skil.
=vert.van ‘n gedig deur Yehuda Amichai
Dankie vir die mooie Amichai, appelmeisie!
Hallo Carina, Dankie vir jou erkenning van my gedagtes. Ek lees ‘toevallig’ vandag in Karen Amstrong se boek: “The Case for God” waar sy die Italiaanse digter Francesco Petrarch (1304-1374) aanhaal: “Theology is actually poetry, poetry concerning God”, effective nog because it “proved” anything but because it reached the heart.
En dan is ek dankbaar vir kere sonder tal wat ek stukkies bekering ondergaan het. Teologies en poëties.
Bekeerde groete
Susan van Zyl.
Mooi aanhaling van Petrarch, dankie, Susan. Jy het my nou hier aan die dink gesit en dis waarop ek afkom: Volgens The International Bible Commentary is die woord “profeet” afkomstig van die Griekse prophetes wat verwys na ‘n persoon wat namens ‘n godheid spreek. Ter wille van die meer verklarende, rasionele aspekte van profesie, het die Griekse vertalers die woord prophetes gebruik, eerder as mantis wat verwys na ‘n ekstatiese of mantieke persoon. Die Hebreeuse term nabi’, word in die oorspronklike konteks as “die geroepene” vertaal en is een van ‘n reeks benaminge vir religieuse spesialiste wat buitengewoon begaafd is. Dit sluit die siener (ro’eh), visionêr (hõzeh) en die Godsman (’îs ‘ekigîm) in (Farmer, 1997:954).
‘n Ander bron, Theological wordbook of the Old Testament Volume 2, herlei die selfstandige naamwoord nabi’, na die werkwoord, naba’, wat beteken: “to bubble up, boil forth, hence, to pour forth words like those who speak with fervour of mind or under divine inspirations, as prophets and poets” (1980:544) Dit dui op ‘n aktiewe, demonstratiewe uitlewing van die profetiese boodskap in gesproke vorm.
In ‘n verdere ondersoek na die Griekse wortelwoord in Enhanced Strong’s Lexicon, word “profeet” as volg toegelig:
“[propheteia /prof·ay·ti·ah/] a discourse emanating from divine inspiration and declaring the purposes of God, whether by reproving and admonishing the wicked, or comforting the afflicted, or revealing things hidden; especially by foretelling future events” (1996:460).
Strong wys ook op die verwantskap tussen die digter en profeet:
“[prophetes /prof·ay·tace/] 1) in Greek writings, an interpreter of oracles or of other hidden things. 2) one who, moved by the Spirit of God and hence his organ or spokesman, solemnly declares to men what he has received by inspiration, especially concerning future events. They were… having power to instruct, comfort, encourage, rebuke, convict, and stimulate, their hearers. 3) a poet, because poets were believed to sing under divine inspiration”
(Strong, 1996: 460).
Eintlik is daardie Italiaanse digter Francesco Petrarca. Dit is tipies Engelse selfversekerdheid om dit na “Petrarch” te verander. So maak hulle ook van Homeros “Homer” en Juvenalis “Juvenal” en Plutargos “Plutarch” en talle meer. Selfs die gode spring nie dié respeklose hernoeming vry nie: Jupiter word byvoorbeeld “Jove”. In Afrikaans is ons nederig genoeg om so na as moontlik aan die oorspronklike vorm van die naam te bly.
Daniel, jy is reg. Dit is sekerlik ‘n stuk imperialistiese arrogansie wat agter die hernoemings sit. Ek dink nou hoe Duitsland deurgeloop het. “München” wat ge-Munich word en “Köln” wat “Cologne” heet. Die Fanse, raai ek, het minder geduld met die naamskommelings as die res van Europa.