So is die lewe
Presies 30 jaar gelede het ek vir die eerste keer versies begin skryf. Voor dié tyd het ek nie eens geweet dat ek kan nie totdat Leon Rousseau my gevra het (nadat ek ’n manuskrip aan hom voorgelê het) of ek al ooit daaraan gedink het om kinderversies te skryf. Waarom hy my gevra het, weet ek tot vandag toe nie, maar daardie aand het ek my eerste versie: Wat is die verskil tussen katte en muise geskryf, en daarna kon ek nie ophou nie.
Ek was nog destyds onderwyser en Deon Knobel en sy lewensmaat Roy Allan was die eerstes om ooit my skryfsels te hoor. Goed soos:
Warrelwind,
kom warrel my
oor die veld
en oor die vlei.
as jy moeg word –
sit my neer,
maar
doen môremiddag weer.
Konsternasie,
hoenderpiep!
Die see lê blou
en vreeslik diep.
die diep blou see
moet ek môre oor,
maar die kaart daarvoor
het ek klaar verloor.
Dié versies het vergete in ’n laai gelê totdat my eerste boek uiteindelik in 1984 gepubliseer is.
Maar Deon en Roy was bewus van die groot plesier wat ligte versies vir my gegee het en op my verjaarsdag in 1979, kry ek Ronnie Belcher se kwatryne So is die die lewe vir een pond sewe present met die volgende inskrywing voorin:
Aan Philip,
Met beste wense vir ’n
vrolike veertig.
Liefde
Roy, Deon, Thereschen en Peter
En agter in die boek kry ek in potlood gemerk ’n paar van dié kwatryne wat my destyds plesier gegee het:
bl 5
Kaapstad se moffies
eet tjoklits en toffies
maar Woodstock se manne
drink swaarweer uit kanne
bl 19
My meisie stoot pampoen
ja my meisie stoot pampoen
dit kom van staan en afloer
wat getroude vrouens doen
bl 26
Die natkant van die see
ja die natkant van die see
my voete bly hier agter
maar my hart loop met jou mee
bl 32
Anderkant die berg
ja anderkant die berg
ons vorder deur genade
maar die klim raak nou te erg
bl 45
Die rooihaarflerrie
met ’n kop van kerrie
vir almal sê sy
I love you very
bl 57
Die donker hoek
die stywe broek
laatloop snags
is sonde soek
bl 62
Bietjies-bietjies druk
ja bietjies bietjies druk
oom Gattie het vanoggend
’n sikspens ingesluk
bl 63
Druppels op die dak
die son het gesak
onder die kombers
lê die spoor van ’n slak
Op 29/11/1997 het Ronnie Belcher my dus seker geïnspireer, want daar sien ek toe ’n paar van my eie ongepubliseerde pogings wat ek na die deurlees na ’n ander boks verskuif het om hopelik weer eendag te ontdek:
Die berg lê toe met mis
ja die berg lê toe met mis
netnou gaan die engeltjies
die wêreld papnat pis
Hier is my stoute Nefie
ja pas tog op vir Willempie
want hy’t sy kennis opgedoen
deur menige Blou fillempie
Die blou-verbleikte jeans
sit stewig ommie knop
maar dit word al hoe groter
en nou’s dit tyd vir stop
Tant Sannie is so lywig
haar bloemers wil nie pas
nou loop sy waggel-waggel
weens haar agterstewe-las
O grote Herodotus
dis naar as mens eers groot is
en op jou lááste dag moet hoor
dat onse Here dood is
Die kousie om die nek
sit oppie regte plek
en dis gemaak vir lepellê
want anders gaan jy vrek
Ek wis mos daar is fout
want dis digter as ’n woud
en skrik my byna disnis
vir die hare op haar boud






