Philip de Vos. Om te begin by die beginne

OM TE BEGIN BY DIE BEGINNE

Die eerste boek wat ek ooit in my lewe gekoop het, toe ek seker skaars 10 jaar oud was, was ’n verseboek: Die Purper Iris van A.G. Visser. Op laerskool was hy eintlik die enigste digter waarvan ek bewus was – en watter groot vreugde was dit nie. Dit was almal verse op rym en met ’n heerlike ritme, sodat ek tot vandag toe nog daardie eerste reëls kan onthou:

 

Pas op, pasop vir die duisendpoot:

As hy jou byt, lag jy gou dood.

Hy byt klein Jantjie op ’n dag;

daar kry die kind die lekkerlag …

 

en

 

As ou tant Siena straat op loop

om antipon of spek te koop,

sê dié wat pad maak: Dank die Heer!

en sit hul sware stampers neer.

 

en die grillerige

 

Op die pad wat verdwyn in die Skimmelperdpan,

by ‘n draai in die mond van ’n kloof,

het ’n bom in die oorlog, ’n vlugtende man

op ‘n perd, soos ’n swaardslag onthoof.

 

En dan was daar natuurlik Amakeia wat ek met groot liefde tot vandag kan opsê met daai deesdae gewraakte k-woord wat intussen in nuwe uitgawes na Xhosaland verander is:

 

In die skadu van die berge,

bos-beskut aan alle kant,

staan alleen die hartbeeshuisie

op die grens van K—-r land.

 

Vanoggend lees ek dat A.G. Visser reeds 81 jaar gelede oorlede is en dus moet daar iets in sy ritme en rym wees wat sy kinderversies so onthoubaar maak.

En tot vandag is dit rympies en versies wat vir my steeds die grootste plesier gee. Ek was nog nooit intellektueel van aard nie (en dit is g’n valse beskeidenheid nie). Ek het maar weinig vriende onder ander skrywers en digters, want ek is altyd bang hulle gaan my dinge vra waarvan ek niks weet nie, en groot woorde gebruik wat blykbaar net hulle en ’n paar ander akademici kan verstaan.

Ligte versies het my nog altyd gekielie, daarom lees ek liewer Lewis Carroll en Edward Lear, Ogden Nash, Annie M.G. Schmidt en Amerikaanse kinderversiemakers soos Shel Silverstein en Jack Prelutsky as al die ander groot name.

Wat op die Vrystaat Unversiteit in die laat 1950’s kamstig geleer het, het ek al lankal vergeet, want om oor Nederlandse letterkunde te leer deur bladsye en bladsye uit handboeke neer te skryf (dit was prof. Badenhorst se idee) en nie my idee van poësiewaardering nie.

Die woord alliterasie is al wat ek van my 3 jaar B.A. oorgehou het – en ek spot nie, want dis die reine waarheid. Die lekkerste deel was in elk geval jooltyd wanneer ek my neus kon rooi verf en maak of ek ’n clown was. En dit, helaas, was net een keer per jaar.

Daarom het my laer- en hoërskooljare vir meer plesier gesorg. Veral Engelse klasse toe ek ’n gedig soos Alfred Noyes se The Highwayman met sy wonderlike ritme vir die eerste keer kon ontdek:

 

 

The wind was a torrent of darkness among the gusty trees,

The moon was a ghostly galleon tossed upon cloudy seas,

The road was a ribbon of moonlight over the purple moor,

And the highwayman came riding –

Riding – riding –

The highwayman came riding up to the old inn-door.

 

 

Mnr. Higgo se Afrikaans-klas met Totius en doringboompies langs die pad en kinders wat voor oop vensters deur weerlig getref word, was nie eintlik my idee van plesier nie. So-ook het ’n voorgeskrewe boek soos D.F. Malherbe se En die wawiele rol nie eintik by my ’n vroeë liefde vir die Afrikaanse letterkunde aangewakker nie.

En toe na my universiteitsjare ontmoet ek vir Wilhelm Knobel. So dom het ek in sy geselskap gevoel, dat ek hom nooit uitgevra het oor die gedigte wat hy vir my gewys het nie. ’n Soort vriendskap was daar tog, soos naweke saam met hom in Basoetoeland en toe ek sy ouers en sy suster Thereschen in Bethlehem kon ontmoet. en later sy broer, Deon, ’n vriendskap wat nou al 43 jaar duur, en waarin soos Deon sê ek sy oudste pêl geword het.

Ek het Wilhelm nooit oor sy gedigte uitgevra nie, juis omdat ek ietwat skaam gevoel het omdat ek nie kon saampraat nie. En hierdie gevoel duur tot vandag toe voort net omdat ek nie werklik reken ek sal ooit ’n intellektuele gesprek kan voer nie. Oor Eartha Kitt en Elvis en Mozart en Engelse limericke kan ek wel gesels maar verder het ek ’n taamlike oppervlakkige kennis, maar daarvoor blameer ek my geboorteteken Gemini.

Tog het ek my half en half daarmee berus, soos ek self in een van my versies sê:

 

Elke outjie

het sy lied:

krokodil

en zoeiii-muskiet,

elke kokkerot

of sysie

met sy

eie sysiewysie.

Elke gogga, elke mensie

elke omie met sy pensie

moet kan skinner, krys of kweel

kwinkeleer of koer of neul.

Of dit fraai, of goor of gek is,

jy moet sing soos jy gebek is.

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Philip de Vos. Om te begin by die beginne”

  1. Joke Klut :

    Ek soek na die betekenis van die woord “antipon” uit A.G.Visser se gedig, “VET”

  2. Daniel Hugo :

    Volgens die WAT is “antipon” ‘n handelsnaam vir ‘n verslankingsmiddel. Die sitaat wat daarby gegee word, is inderdaad dié reëls van A.G. Visser: “As ou tant Siena straatop loop / om antipon of spek te koop”. Die “antipon” en die “spek” weerspreek mekaar dus op ‘n humoristiese wyse.

  3. Philip de Vos :

    Joke – dankie vir die vraag – en Daniel – dankie vir die antwoord. Nou weet ek ook.

  4. Johann :

    Dis amper asof Visser skryf dat ou tant Siena op pad is ‘om anti-spek of spek te koop’ 😉