Bernard Odendaal. Verleë geraak om die verskuns

Ek is die tweede jongste van vyf broers.

My pa het besluit om uit die stad te trek die dag toe ’n buurman kom kla oor die kleilatmerke teen sy afgewitte huis waar dit na my pa se erf toe front.

Op ’n hoewe van sowat twee dosyn morg, 10 myl buite Bloemfontein, is met ’n hoenderboerdery begin.

Onder andere.

Want daar was ook ’n klompie beeste, ’n paar skape, varke, later selfs enkele volstruise. Lanings, lanings vrugteboom; lap op lap groentebedding.

Daar het ek die lewenslig die eerste keer aanskou.

Boeke was daar wel in die huis, waaronder drie romans wat my pa as jongman geskryf het. En die koerant is elke middag by Oom Piet Kotze se Kontantwinkel gaan haal. Maar ek kan nie onthou dat daar veel gelees is of veel kunsgenietery plaasgevind het nie.

Wat my helder voor die gees staan, is eerder goed soos Vrydae se hoenderslagtery – lawaaierig, bloedig en smerig van die geplukte vere – en die eierpakkery vir die volgende dag se mark.

Of soos die keer toe ’n koei sukkel om te kalf. Later gaan sy lê, moeg gespook met die verkeerd gedraaide fetus. Die veearts moet kom. Hy steek sy gewaste en met salf besmeerde arms tot by die elmboë agter in, en ’n halfuur later steier daai kalf op sy stywe, lomp pote orent, stamp-stamp aan sy uitgeputte ma se uier dat die bies spuit.

Ook iets soos die (streng verbode!) duikery in die kristallyne swart af van die diep watertenk bokant die leidam, onthou ek goed – ’n skrik- en wildheidwekkende ervaring vir ’n piekanien soos ek daardie tyd was.

Of die rottejagpartye met windbukse en flitse naweekaande, omdat die ongedierte nie net die hoedervoer in die hokke vreet nie, maar ook die eiers en selfs die lewendige kuikens.

Eers hier van my puberjare af het ’n paar dinge gebeur wat meer herkenbaar as “literêre” prikkels geld.

Meneer Alberts was in standerd 5 ons register- en Afrikaansonderwyser. Hy kon nogal lomp wees. En gou bloos. Eenkeer op ’n skooltoer Drakensberge toe gryp hy een van die onderwyseresse onverhoeds om haar deur ’n stroompie te dra, maar sy protesteer só dat hy haar van verbouereerdheid net daar in die middel van die driffie op haar watsenaam neerplak. Sý druipnat; hý tamatierooi.

Op ’n ander dag daardie selfde jaar lees hy egter C.M. van den Heever se “Waar ruwe rotse” in die klas voor dat die gekwelde droefheid van die pa wat sy eie kind, onredbaar vasgeknel in ’n rotsskeur, die genadeskoot moet toedien, voor ons lewe kry:

Vas lê die kolf teen vaderskouer aan,

en langs die sneller glans ‘n aflooptraan.

 

“Vergeef my, God!” […]

Toe mnr. Alberts, blosend van die aangedaanheid, ná die weggalmende skot aan die einde opkyk – “’n vader staar” – kon jy ’n speld in die klas hoor val.

Op hoërskool het ek Duits as keusevak geneem. En in standerd sewe of agt reeds met Romantiese ballades en liedere soos Goethe se “Heidenröslein” en “Erlkönig”, en Joseph von Eichendorff se “Mondnacht” kennis gemaak. Toe my pa dit hoor, vra hy of ek weet hoe pragtig daardie gedigte deur komponiste soos Schubert en Schumann getoonset is. En daar grawe hy ’n pak 78-spoed-vinielplate onder uit die buffet in die eetkamer, ook ’n grammofoonkas, kompleet met opwen-slingertjie en klankversterkende horing.

Hy’t Duits gehad as hoofvak op universiteit. Goethe se “Ein Gleiches” kon hy nog uit die kop opsê.

Über allen Gipfeln

Ist Ruh,

In allen Wipfeln

Spürest du

Kaum einen Hauch;

Die Vöglein schweigen im Walde.

Warte nur, balde

Ruhest du auch.

En dan lag hy ná die voordrag so verleërig oor die blyke van romantiese sentiment…

Dit was omtrent ook die tyd dat ek die eerste keer verlief geraak het. En dat  Pieta, die middelste van ons broers, vakansies met bundels vertaalde poësie van Pablo Neruda en Eugenio Montale van die universiteit af huis toe gekom het. Een skemeraand op die stoep het hy ’n nuut aangeskafde langspeelplaat van Simon & Garfunkel (Sounds of Silence) voorgespeel.

April come she will

When streams are ripe and swelled with rain

May she wil stay

Resting in my arms again

June she’ll change her tune

In restless walk she’ll prowl the night

July she will fly

And give no warning to her flight

[…]

Pieta was eintlik die kunssinnigste van ons broers. Selfs op skool ’n paar jaar lank klavier geneem. Maar ons ander het hom so ge-“sissie” dat hy dit naderhand laat staan het.

In standerd nege en in matriek het ek Engels gehad by wyle mev. Hélen Cilliers, skryfster van ’n hele paar gewilde kort- en vervolgverhale in tydskrifte van die jare sestig en sewentig. Sy was ‘n groot vrou en dikwels nie alte gesond nie (diabetes). Sy moes soms sít en klas gee. Haar spitsvondighede en taalratsheid het egter ons aandag so vasgegryp dat ons skaars die sittery agtergekom het. Sy het ook goed geweet van die muisneste wat ons gehad het. Daarom was Shakespeare se Romeo and Juliet die kelk waarmee sy ons aan die verwikkelde smake van die Engelse taal gewen het.

This bud of love, by summer’s ripening breath,

May prove a beauteous flower when next we meet.

Kort voor my pa se laaste siekbed – ek het toe al skoolgehou, hoofsaaklik Duits gegee – stop hy ’n veertig, vyftig jaar oue bundelmanuskrip in my hande. ’n “Studentesonde” uit sy pen, met potloodaantekeninge deur D.F. Malherbe daarop.

Weer die verleë laggie.

Ek hoef niks te sê of daarmee te maak nie. Hy gee dit maar net vir my, eerder as om dit in die vullisdrom te smyt.

Sowat twee jaar later, terwyl ek in die skool waaraan ek toe verbonde was se saal op en af loop om eksamentoesig te hou, lees ek steels uit ’n digbundel waaroor kort tevore lowende resensies in koerante en tydskrifte verskyn het. Die lesery tydens toesig is ons streng deur die skoolhoof verbied.

Naderhand kry ek nie meer my aandag by die skrywende kinders bepaal nie. En toe ek my weer kom kry, staan die skoolhoof oor my skouer en loer wat ek lees.

“Dit beter ’n boek goed genoeg wees om die verontagsaming van uitdruklike bevele te regverdig,” sê hy sag. “Kom lees vir my buite die saal, dat ek kan besluit.”

Die gedigte was toe goed genoeg om my skotvry daarvan af te laat kom – behalwe dat ek onder die voorlesery gloeiend moes gebloos het. Die bundel was van T.T. Cloete: Jukstaposisie.

Kort daarna het ek gaan inskryf vir verdere nagraadse studie in die Afrikaanse letterkunde.

Ek het intussen heelwat méér gedigte te lese gekry waarvan ek wens dat ek dit aan mnr. Alberts en Pa en mev. Cilliers kon voordra, al sou dit my verleë maak. Trouens, die verleë word – daardie weerloosstelling van die ontvanklike leser wat bewerkstellig word – het vir my ’n soort waarmerk geword wat sê: poësie.

Ook vir Pieta, wat toe nooit leer klavier speel het nie, sou ek gedigte en bundels wou aandra. Ek voel nog altyd dat ek hom (en Pa) ’n oortuigende digkuns skuld.

Nooit weer sal ek in die tenk by die leidam afduik nie. Maar elke keer as ek as leser my in die klare donkerte van ’n nuwe digbundel begewe, kry ek die ou sensasie.

En ek het ook al kon voel hoe ’n gedig verkeerd in ’n mens lê, soms ’n lang tyd, voordat dit die lig kan sien.

Ek het al opgemerk dat dinge wat aan mense vreet, ’n bietjie met poësie besweer kan word.

En slagting en vere wat waai – die kry ’n mens sommer op die koop toe in die literêre kritiek.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.