Floris Brown. Vanwaar my passie vir gedigte?

Blogfokus

 

My passie vir poësie het ontstaan toe ons op Laerskool kleuterversies aangeleer het asook op Hoërskool toe ons so oor ons vingers en bene geslaan was met ‘n pekelsoutrottang of platkant van die liniaal, omdat ons nou kwansuis iewers vasgehaak het; gestotter het of die gedig nie goedgenoeg voorgedra het nie soos die: “die osse stap aan deur die stowwe” ; “die visser het belowe” ;  ”die dans van ons suster” ;  ”wat is die slaap”  om net ‘n paar te noem.

 

Hierdie passie is verder aangeblaas deur ons Engelse dosent Meneer Rassool op Hewat Onderwyskollege wat halwe versreëls op die swartbord geskryf het en dan moes ons dit met ons eie woorde afrond. Hier het ek ‘n liefde begin ontwikkel in die skryf van my eie gedigte. Publikasie geleenthede is al wat ‘n aspirant digter nodig het om die passie, die vlam aan te steek. Gedurende die jare 1968 - 1979 was ek veral aangemoedig toe van my Engelse gedigte in Engeland en Amerika in “Editors Choice” en “Poetry Universal” gepubliseer is. Hierna het ‘n publikasie in Nederland verskyn.

 

‘n Baie positiewe koerant artikel in Rapport deur oorlede Ronnie Belcher het my verder aangespoor om aan te hou dig. My Afrikaanse mentor Professor Jakes Gerwel destyds Afrikaanse dosent aan Hewat Onderwyskollege het my ingeskryf vir ‘n Eistedford Poësie Kompetisie waar ek ‘n Brons Medalje ontvang het. Kyk nou was die kole behoorlik aan die brand!

 

Ek het nie ‘n gunsteling onderwerp waaroor ek dig nie. My gedigte beweeg met die tyd en ek dig soos gebeure voor my afspeel; tema’s wat God in my drome plaas; tema’s wat mense my vra om oor te dig asook tema’s oor humanitêre ongeregtighede en veral ook as diere seerkry. My gedigte hardloop op alle spektra van die heelal en die lewe. Baie van my digbundels hou die Suid-Afrikaanse geskiedenis vas vir nageslagte wat eendag navorsingswerk gaan doen oor hoe dit was.

 

Dit is moeilik om te sê of saam te stem dat alle digters / skrywers ‘n hou weg het. Indien 50% dit het en die ander 50% dit nie het nie, voel ek vere.  Ons moet maar met dit saamleef en almal met hul nukke en grille aanvaar soos hulle is, solank ons nie toelaat dat permanente nadelige skade ons aangedoen word nie. In die meeste gevalle weerspieël dit, adverteer die persoon maar eintlik hoe hy of sy grootgemaak is. Bederf of sinvol of mal gebore - met die maan gepla - die koppe - uithak -mense. Diesulkes moet daar wees want hoe anders sal ons kan lag en oor hulle dig of skryf.

 

Elke gedig van my is vir my ‘n gunsteling omrede ek baie tyd aan my gedigte spandeer. Ek skryf vyf tot sewe keer of meer, oor en oor totdat ek tevrede is. Ek weet nie van ‘n gedig van my wat al weggeloop het nie. Elkeen word soos ‘n stukkie goud behandel en afgehandel. Dit is soos Jesus sê: ” Watter skaapwagter sal nie, as hy honderd skape het en een daarvan afdwaal, die 99 net so los om die afgedwaalde te gaan soek nie?

 

Om ‘n gunsteling digter uit te sonder is besonders moeilik. Wanneer ek tyd inruim vir lees is dit my Bybel of ‘n digbundel waarvan ek baie hou. Omdat poësie ook in die Bybel voorkom en poësie die hoogste vlak van die woordkuns is, verkies ek digbundels bo enige ander leesstof.

 

Ek wil veral selfpubliserende digters aanmoedig om aan te hou publiseer. Dit hou AFRIKAANS lewendig. Na my besoek aan Nederland 2007 waar ‘n gedig van my “My hart verloor in Harderwijk” onthul was teen die voorstoepmuur van die Stadsdichter Joz Brummans, bel my seun my uit Centurion: “Pa. Ek het iets om na uit te sien. Eendag wanneer ek kinders het, neem ek hulle na Nederland om Pa se gedig te gaan lees.” Wat ‘n toekoms vooruitsig vir my kinders en dit alles deur die toedoen van Afrikaanse poësie!

 

Kyk maar wat in die musiekwêreld gebeur. Selfpubliserende sangers wat op eie houtjie bo uitgekom het. Hierdie sangers het AFRIKAANS sy regmatige plek gegee in baie huise waar die radio onmiddellik afgeskakel of oorgeskakel is na ‘n ander radio stasie as ‘n Afrikaanse liedjie gespeel word.

 

‘n Goeie wenk wat ek altyd vir selfpubliserende digters gee is die Arabiese gesegde:

“Jou karavaan moet nie gaan stilstaan as ‘n hond blaf nie.” Bly gefokus en moet nooit ophou AFRIKAANS dig nie!

 

Floris Brown

Bookmark and Share

Los kommentaar