oogensiklopedie

oogensiklopedie. Deur Gilbert Gibson. Tafelberg. ISBN 978-0-624-04831-2.

 

oogensiklopedie. gilbert gibson

oogensiklopedie. gilbert gibson

Gilbert Gibson het met boomplaats (2005), waarvoor hy die Protea-poësieprys ontvang het, en Kaplyn (2007) ‘n reputasie as digter van die minder toeganklike, van die begripsuitdagende, sogenaamd “hermetiese” of “geslote” soort vers opgebou.

Met oogensiklopedie, wat laat verlede jaar verskyn het, versterk hy dié reputasie op oortuigende en kragtige wyse.

Laat my dadelik sê: Nie naastenby al die gedigte in oogensiklopedie is van die geslote soort nie. Verse soos “aisling”, “another roadside attraction”, “daguerreotipe”, “hoe ‘n motorfiets snags verby”, “huis 16”, “interim:”, “locus iste”, “nietig”, “rehabilitasie”, “ruach jahwe”, “sand”, “selakant (ii)”, “swerf”, ensovoorts spreek treffend genoeg as ‘t ware vir hulleself. Vergelyk die volgende gedig, met sy skreiende ironieë:

 

 

        lamentasie (ii)   

 

welgeluksalig is die wat van die veronderstelling uitgaan

dat alles, ja alles, beter sal word;

diegene van wie die hart van skone skok

in winterswem wil-gaan-staan.

welgeluksalig die wat die reuk van rooigras

as simbool van beterwete onthou,

wat dié gras tussen ander halms kan herken.

welgeluksalig die wie se asem van trappe klim opraak,

naelbyters, angstiges, die wat vroeg soggens wakker word

en nie verder kan slaap nie. welgeluksalig

die wat met die hand skrywe, sampioenplukkers,

horlosieversamelaars, die wat onnodig bang of verlang:

twee vir ‘n stuiwer; die binneste donkerte.

welgeluksalig die wat in vliegtuie vaak raak,

die wat ly aan roomyshoofpyn, oë

soos bloedgestude plasse in die gesig

 

welgeluksalig die wat bemin

met ‘n mond vol gif. in drome vry

is die geluk so gelede

soos ‘n kwashaal op ‘n skildery[.]

 

Maar dan staan daar ook ‘n hele aantal gedigte in oogensiklopedie waarvan ek, selfs na herhaalde lees, moet getuig dat hulle my lesersdrang na die lê van samehangende verband, na koherente betekenistoekenning, bly fnuik. ‘n Voorbeeld:

                       

gras

 

ek vermoed aan die temper van stap

dat vorentoe vaar soos ‘n skip op donker water

 

en daaronder die rivier retireer soos ‘n oog voor skrik,

‘n oomblik beduidend tussen lig en donder.

 

ek vermoed dat elke intrek van asem

‘n aalmoes uit die weerkaatsing van terugkyk stroop:

 

‘n geheim; slitted eyes

die mond ‘n tergende wond

 

wat wind oper forseer

(deur en vir die wolwe).

 

bloed is vir my

soos gras vir waltwhitman,

 

‘n minuskule motief. daaragter,

a long history of madness[.]

 

Maar: júís, besef ‘n mens skielik. Staan die woorde “geheim” en “a long history of madness” nie daar in die gedig vir almal om te sien nie?

Tot tweemaal toe in die bundel (bladsye 16 en 95) word die haglike verband tussen taal en werklikheid uitgespel. Vergelyk uit die gedig “ataraksie” (‘n titel wat waarskynlik ‘n funksionele kontaminasie tussen “attraksie” en “ataksie” behels, waar laasgenoemde term wanorde of ‘n onvermoë aandui om bewegings te beheer as gevolg van senusiekte):

hy verduidelik geduldig hoe taal

die wêreld verwring, hoe die wêreld taal verwring.

Die neerslag van hierdie dilemma in die bundel is ‘n voortdurende spanning tussen helderheid en duisterheid van betekening. En dit gaan nie net om die afwisseling van “begryplike” en “onbegryplike” gedigte nie. Byna elkeen van die meer toeganklike verse bevat ook iets “geheimsinnigs”; let maar op wat in die slotstrofe gebeur van die hierbo aangehaalde “lamentasie (ii)”.

En in elke “duister” gedig is daar minstens moménte van “helder”, onmiddellik treffende formulering, hoewel die implikasie van die gediggeheel mag stribbel teen die leser se begrip. Ek haal maar nog ‘n voorbeeld aan:

           

triste   

 

die aand daal oor die huis nes lig

wat om vuur sirkel, en primitief in vroegdonker die vlam be-

 

sweer. dieper gekring het jou jesus

hierdie aand berei soos ‘n teug uit die hiernamaals, ‘n

vlugtige nabootsing van die intieme verhouding tussen lewe

en dood. hy het in die voornag

sinne enduit van asem laat opraak

agter die wrang trek aan die binnekant van die wang

die keel laat snoer tot stil.

hy het julle almal versorg, en toe uitgestap

in die donker en ver

‘n hond hoor blaf, geweerklank,

asof uit ‘n kerk. die donker was wispelturig

nes vuur om nat hout. in die huis

was die afwesige lig soos ‘n lam geslag,

verlos van pyn en poging tot.

 

en het bo ‘n paar sterre gefladder soos hande as hy

toe-oog sing, hande soos twee parkiete daardie oomblik

voordat die kou finaal oopgaan:

 

die aand daal oor die huis nes lig

wat om vuur sirkel

tot donker[.]

 

Motiewe soos slaap (en die afmattende teenstelling daarvan: slapeloosheid), drome, geslote oë, skemertes, donkerte, onthou en vermoed hou opvallend met sodanige spanning, asook met die epistemologiese twyfel wat dit onderlê, verband.

Trekke van wat al tot afslyting toe as postmodernistiese literatuurkenmerke bestempel is (en ek leen so stuk-stuk uit Hein Viljoen en Chris van der Merwe se Alkant Olifant. ‘n Inleiding tot die literatuurwetenskap), deurspek dus (die lees van) oogensiklopedie:  onbepaaldheid (betekenisfragmentering en -onsekerheid); die gevolglike aktiewe rol van die leser in die konstruksie van die teks; beklemtoning van die ironiese en absurde; die problematisering en radikale relativering van werklikheidsbelewing en van die grense tussen literêre genres; vooropstelling van intertekstualiteit (besonder opvallend gemaak in die reeks “sewe dubbelsinnighede”) en van vasgevangenheid in taal (en literêre vorme, byvoorbeeld vooropgestel in die herhaaldelike benutting van die Shakespeariaanse sonnetvorm in die bundel).

Nie verniet nie lui die slotstrofe van die openingsgedig:

            […] ‘n woordige lei: interspasie     taal

            die oopveld atonaal[.]

Die bundeltitel suggereer ook ‘n spanning tussen die subjektiewe (oog, manier van kyk) en die objektiewe (ensiklopediese kennis, wetenskap) – ‘n teenstrydigheid wat ewe kenmerkend is van die postmodernisme, waar narcisme (ekkerigheid, selffokus deur die skrywer) en selfverlies (leegheid, platheid en fragmentasie van die ek) as ‘t ware meeding as gereflekteerde lewenshoudings.

Die “metafoor van die oog” waarvan daar in die genoemde “ataraksie” gewag gemaak word, slaan op die manier van kyk, op visie, dit wil sê op die beperkte, nie-omvattende, nie-allespeilende kyk (waarneming en gewaarwording) waartoe die menslike subjek gedoem is – die oomblik voor die visioenêre, soos in die woordelys agterin die bundel verduidelik word. Die herhaalde voorkoms van woorde soos kyk, sien, loer, oog, lig, donker, skemer, oftalmologiese, visie en foto’s stippel die deurlopendheid van dié motief in die bundel uit.

Dis eintlik ironies dat die openingsgedig “visioenêr” van inslag is – “uit fragment / tot resonansie geswiep”, hoewel daar ook maar net gevorder word van “onskuld” tot “onkunde”.

 

28°47’S; 27°19’O

 

daar is ‘n plek iktaal

‘n plek waarvan jy weet

waar jy jou geografiese einde

met die ope arms van epilepsie

omhels. die plek het gras uit fragment      neuropoëse

tot resonansie geswiep, die spriet anoniem

 

en weerskante marginale sipresse

wat in die aand konfrontasies vermy

 

onder voed ‘n gefermenteerde reuk soos

aan die binnewand van ‘n populierbos

na reën: eers onskuld, toe onkunde,

die smalle en die breede weg

en all that shit. daar is ‘n plek in temporale

afstand in geheime relaas tot gras,

die lug gegrys die lig laag op laag

 

soos ‘n woordige lei: interspasie        taal

die oopveld atonaal[.]

 

Twee gedigte verder word die waan van die interpretatiewe, begrypende blik (ook – ironieserwys – gesuggeer deur “interspasie” aan die einde van bostaande gedig?) egter skouspelagtig ondermyn as onder meer geykte religieuse sienings en retoriese stelwyses ortografies ontwrig word:

           

ama tis

 

diehe reis ‘n lig en ‘n heil

virwie souek vrees?

diehe reis dietoe vlugvanmyl ewe

virwie vervaar dwees?

‘n droo mgaanver bys oos

wat er wat vallens

kuurt een my

hoë rop hoë rop

jaso os ‘n doods kaduwee

so os ‘n groe ndal:[.]

 

Ook die digter bly beperk tot “die kyk se singende lens”, soos dit in deel (ii) van die reeks “://_mezangelle” gestel word. Dié gedigreeks, asook die gedig “ex libris”, kan uitgesonder word as gedigte waarin die problematiek van die digterlike vertolking op die spits gedryf word, juis ook deur die verregaande aandagvestiging (deur middel van kantaantekeninge en die benutting van allerlei tekens uit die rekenaar- en internettaal) op die tekenmatige, manipulatiewe aard van taal en poësie.

Dat die wyse “whereby visible Objects are represented to the Mind” (uit die aanhaling wat in die bundelmottoposisie staan) ingrypend deur die talige en poëtiese vergestalting daarvan geraak word, word op ‘n hele paar maniere in die bundel beklemtoon.

Eerstens kom ‘n rykdom aan intertekstuele verwysings, toespelings en aanhalings voor, met die Bybel en die tradisionele Afrikaanse geestelike liedereskat wat uitstaan as bronne in hierdie verband. (Onder meer word ook die volgende outeursname genoem of iets van hul werk geëggo: e.e. cummings, James Joyce, Michael Ondaatje, Van Wyk Louw, Borges, Margaret Atwood, Ingrid Jonker, Gert Vlok Nel, W.H. Auden, Wallace Stevens, D.J. Opperman, Breytenbach, Eugène Marais en Jan Celliers.)

Tweedens is kantaantekeninge en/of voetnotas by party gedigte aangebring, onder meer in die vorm van verklarings, uitbreidings en geassosieerde interteksvermeldings. Soms is die gesuggereerde verbande hier (doelbewus) yl, indien nie misleidend nie (soos by die gedig “hipostase”, wat hierna aangehaal word).

‘n Lys van woorde met verklarings is, in die derde plek, aan die einde van die bundel opgeneem, terwyl dié lys ook afgedruk staan op die voor- én agterplat van die bundelomslag. Ook hier is elemente van “onbetroubaarheid” te bespeur: Sommige inskrywings is nie werklik verklarend van aard nie, terwyl enkele verklarings slegs gedeeltelike toeligting bevat.

Die verduidelik van die betekenis van die gedigtitel “hipostase” as “onderliggend tot” is van laasgenoemde ‘n voorbeeld. Eers as ‘n mens in woordeboeke naslaan dat dié term slaan op ‘n “fundamentele beginsel, basis, grondslag”, maar ook op ‘n “enkelvoudige substansie” en op ‘n “substansiëring van ‘n goddelike eienskap”, word iets meer aangaande die gedig duidelik.

 

hipostase

 

nes asof in ‘n ongedroomde lê voor dorpe

die wind onder my vingerafdruk vas:

afdraaipaaie dreigend,1 verweerde mure nog warm

van gister se son.2 na die droom

is die kneusing op my kussing soos die kleur van ploegskaar, alles

in the name of the lord

 

  • 1. die arbeid van wind oor dorpe is goedkoop, is seisoenaal: ‘n fisant se opvlieg na onverwagte reën; murasies; die besleg van verskille
  • 2. in die skemer is trekvoëls oor die donkerwordende die dorp se dialoog. en bleek die witskrif tot wolk soos ‘n vingernael reg van voor; ‘n maan oor die dorp

 

Vierdens is daar die reeds genoemde benutting van rekenaar- en internettaal en -tekens in bepaalde gedigte.

In die vyfde plek moet in hierdie verband die ontwrigting van die normatiewe en geykte woordgebruik- (byvoorbeeld deur woordsoortfunksiewisselings, of deur ortografiese verskrywings, soos in “ama tis” hierbo) en sinsboupatrone (veral ellipse) genoem word, asook ongewone beeldingswyses wat oral in die bundel voorkom. Die reeds vermelde “ataraksie” haal ek hier ter illustrasie in sy geheel aan:

 

hy verduidelik geduldig hoe taal

die wêreld verwring, hoe die wêreld taal verwring.

skets iets uit ‘n coen-film, vinnige nadertrek-

skote, in die voorgrond die gehuil

van ‘n deur wat oop- of

toegaan. hy wag op onsekerheid, of meer

gru nog, gewisse dood,

die element van verrassing. die woord

is ‘n hond van god. liefde is ‘n doek. hy

glo in die heilige maagd

soos aan die metafoor van die oog

 

die film is ‘n straal, ‘n pad na boek. verban; berou

die verinnerde vanwyklouw[.]

 

‘n Sesde opvallendmaking van die talige en poëtiese ingreep op die werklikheid(-swaarneming) is die benutting van (min of meer) vaster digvorme, soos die reeds vermelde Engelse sonnetvorm, en selfs enkele voorbeelde van Opperman-agtige verse opgebou uit rymende distigons. Meermale eindig andersins eindrymlose gedigte op ‘n nadruklike paarrym – iets wat ook in Gibson se vorige bundels voorgekom het, soos ook enkele voorbeelde van sonnetagtige gedigte en ‘n paarrymende vers in boomplaats.

‘n Besonder sprekende uiting van die taalmatige en derhalwe werklikheidsverwringende afdwinging van orde is die wyse waarop die gedigte in oogensiklopedie alfabeties volgens die beginletters van die bundeltitels gerangskik is. So ‘n alfabetiese rangskikking, byvoorbeeld van bestaande kenniseenhede en velde in ‘n ensiklopedie, is in wese ‘n buite-epistemologiese beginsel, iets heel arbitrêrs dus. Die (manipulerende, maar eintlik magtelose) arbitrariteit van só ‘n ordening word bykomend kenbaar gemaak in die gedig “ideografie” (waar dié titel blykens die woordelys agterin onder meer ironies slaan op “grafiese tekens wat idee […] uitbeeld”). Dis opgebou uit ‘n lysting van die gedigtitels tot (nogal genommerde!) “versreëls” wat telkens een van die benutte alfabetletters dek.

Van die bekende wyses van bundelrangskikking (byvoorbeeld op sikliese en/of reeksmatige grondslag) het ‘n parodie oorgebly – selfs al kom ‘n aantal gedigreekse in die bundel voor, en al lyk dit of daar breedweg van ‘n meer spesifiek gelokaliseerde konteks aan die begin (vergelyk die kartografiese posisieaanduiding as titel van die openingsgedig soos hierbo aangehaal) na ‘n groter, selfs kosmiese verband aan die einde van die bundel gevorder word (waar die mens-God-verhouding in die slotgedig “wat die mens” ter sprake kom).

Hierdie “arbitrêre” bundelrangskikking stel egter juis ‘n funksionele gestalte daar met betrekking tot die strekking van die bundel.

Soos aangedui, sinjaleer die ensiklopedie-deel van die bundeltitelwoord ‘n meer objektiewe kennispool, as teenhanger van die uitgelewerdheid aan die subjektiewe persepsie van die indiwidu. Die uitdrukking “kenosis van die oogensiklopedie” in die reeds vermelde sentrale gedig “://mezangelle” (‘n titel wat luidens die woordverklaringslys agterin op “poëtiese kodering” dui) vertolk die strewe in hierdie verband. “Kenosis” word soos volg in dieselfde woordverklaringslys verduidelik: “die gedeeltelike verlies van die goddelike natuur by die christus as mens. leegmaak; lediging (gr.), soos die afstanddoening van die eie ek in die skryf van ‘n gedig”.

Vandaar die (pretensie van) ‘n ensiklopediese aanslag, van die aanwending van wat gewoonlik as “tipies wetenskaplike” stylkenmerke geag word: begrippeverklaring, bronverwysings, voetnotas, nommering van sommige gedigtitels, strofes en verwysings.

Die woord “iktaal” word in beide die openingsgedig en die tweede laaste gedig in die bundel (“wantroue in die lettertipe”) gebruik om hierdie dubbelslagtigheid of polariteit tussen subjektiwiteit en objektiwiteit verder te beklemtoon. “Iktaal” is luidens die verklarende woordelys agterin ‘n woord afgelei uit die Latyns iktus, wat na sowel “aanval, soos in epilepsie” (= verlies van die “eie ek”) as na “klemtoon, soos in aksent” (= die persoonlike nuanse) verwys.

Via die Nederlands “ik” koppel Gibson die woord ook aan “‘n plek iktaal”:

[…]

‘n plek waarvan jy weet

waar jy die spasie wat in windgreep vou

met die warrelende arms van onheil omhels

die plek altoosdurend en by verstek

eie; ek[.]

(“wantroue in die lettertipe i”)

 

Die subjektiewe beperktheid blý geld. Geen wonder dat die antiek-Griekse siklope-mite oor die eenoogreuse in die bundel betrek word nie (in die sewedelige reeks “sikloop”). 

‘n Besonder boeiende element in oogensiklopedie, gesien die postmodernistiese gees en die radikale epistemologiese twyfel wat so sterk daarin figureer, is die waarneembare religieuse inslag van dele daarvan, byvoorbeeld in gedigte waarin daar van gebed sprake is. Myns insiens kan die religieuse belewing, veral die menslike siening van en kennis oor die Godheid of ‘n godheid, analoog gesien word aan die algemene waarnemings- en kennisproblematiek wat so sterk in die bundel figureer. Die spanning tussen (die hoop op of vertroue in) ‘n samehangende, betekenisvolle beskouingsraamwerk, al is dit dan metafisies gefundeer, en die subjektiwiteit, ontoereikendheid en gefragmenteerdheid van die belewing van die goddelike teenwoordigheid en bestiering in die hiermaalse, bestaan ook hier. Vandaar frases soos die volgende:

  • ‘n snellende gebed agter

toe ruite. maar ons here

was besig met die ewige

[“die kind (ii)”]

  • u vind vreugde in klip

u gee guns aan stof

u naam keer terug tot die gebede van verwerptes

u kom snel

u is selfde (ek veronderstel)

[“mariamagdala (iii)”]

  • daar is ‘n geluidlose verlange

uit die middelpunt

van ons, die bang gemoed,

en donkerte, ‘n herinnering

aan lig.

[“tjernobil (ii)”]

  • geloof, die sluipende suspisie

[…]

die stil gebed van prosac

(“wat die mens”)

 

In die lig hiervan is daar ‘n akute besef van die menslike nietigheid. Gras (en die verwante halms en kaf), ‘n ander opvallende motief van Bybelse oorsprong in die bundel, is simbolies hiervan.

Op die “skeel kyk” en “wegskramsê” van Gibson se debuutbundel, op die problematisering van die verwysende funksie in (digterlike) kommunikasie, word, soos gesê, kragtig en buitengewoon boeiend voortgebou in oogensiklopedie. Die leser word dikwels uitgedaag tot die invul van betekenisgapings, en selfs mislei in die proses, om die sentrale problematiek as ‘t ware aan eie lyf te voel.

Die bundel is ook ‘n uitstaande voorbeeld in Afrikaans (soos ook byvoorbeeld Antjie Krog se Lady Anne uit 1989) van poësie waarvan sommige gedigte buite die bundelverband heel moeilik leesbaar sou wees.

Nie ‘n bundel vir Jan en alleman nie. Maar ‘n unieke bydrae wat nie gemis kan word in Afrikaans nie.

‘n Mens is dus dankbaar dat ‘n “ruim subsidie” van die LW Hiemstra Trust (blykens die kolofon) die publikasie daarvan moontlik gemaak het. Dis ‘n subsidie wat nie aldag vir die uitgee van solodigbundels beskikbaar gestel word nie, en ook nie Gibson se vorige twee bundels beskore was nie.

Hierdie is ‘n relatief lang resensie. Maar veel val nog te sê oor die bundel, waarskynlik dikwels andersluidend as mý poging.

 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “oogensiklopedie”

  1. Johann :

    Bernard, ‘n baie deeglike resensie & ‘n goeie handleiding vir lesers om hierdie gedugte teks aan te vat. Gibson is een van die mees opwindende toevoegings tot die onlangse poësie. Dalk kan dit die moeite loon om hom te stel naas ander dokter-digters soos Leipoldt & Eugene Marais.