Raymond Carver – vertaling in Afrikaans

Raymond Carver – vertaal deur Charl-Pierre Naudé

 

  

Uniestraat, Goodwood, somer 1975

  

Daai was volstoom-vorentoe-dae. Maar dié Sondag-

middag was ons bedaard. Net gesit om ’n tafel

en drink en stories uitruil. ’n Paartie wat met rukke,

en stote, aan die gang was sedert Vrydag ’n jaar tevore.

Toe word Gawie se vrou voor die woonstel

afgelaai deur haar kêrel en sy kom die trappies op.

Mos Gawie se verjaardag gewees, plus-minus

’n dag of so. Mekaar ’n week lank nie gesien nie,

min of meer. En sy’s skoon uitgevat. Hy omhels haar

soort van, meng vir haar ’n drankie. Kry ’n plek

vir haar om die tafel. Almal wil nou weet hoe dit

gaan, en so. Maar sy ignoreer hulle almal.

Die spul alkoholiste. Duidelik is sy afgepis

en soos gewoonlik in verkeerde geselskap.

Met wat de hel hou Gawie homself besig,

wil sy weet. Sy suig aan haar strooitjie

en gluur hom aan of hy breinskade het.

Bemerk ’n puisie op sy ken, ’n ingedraaide haar maar

die ding is vol etter, verskriklik, lyk soos die Verderf.

En voor almal, sê sy: “Wie’t jý onlangs uitgeëet?”

En sy hou nie op staar na die puisie nie.

Self gekoring, ontgaan sy antwoord my nou.

Iets soos: “Kan nie onthou, nie haar naam gekry nie.”

Slimjan, natuurlik. Elk geval, sy vrou

met ’n uitslag en plek-plek sulke blase

miskien koorsblare om haar mondhoeke,

was nie een om te praat nie. Maar flussies

is dinge soos gewoonlik, hou die twee handjies vas

en lag uit die maag soos die res van ons, vir iets

onbenulligs of sommer vir niks.

 

                         Later, in die woonkamer, onder die indruk

dat die res van ons uit is vir hamburgers,

het sy hom voor die TV afgesuig. Luiters gesê:

“Lekker verjaar, jou moerskont!” En sy brille

van sy gesig afgeklap. Selle brille wat hy so-ewe op had

toe sy hom bygekom het. Net daar kom ek toe

ingeloop en sê: “Vriende, doen dit nie aan mekaar nie.”

Sy’t nie geblik of gebloos nie, of hardop gewonder

onder watse klip ék nou uitkruip nie. Net gesê:

“Wie’t jou iets gevra, pis van ’n leegloper?” Gawie het sy bril

weer opgesit. Sy broek opgetrek. Ons het almal

kombuis toe gesuiker vir ’n drankie. En nog een. En net só

het die wêreld verander, van middag na middernag.  

 

 

Uit:  All of Us: The Collected Poems (Harvil).

 

Bookmark and Share

Comments are closed.