Toespraak: Ian Raper. Gelewer by die bekendstelling van “Watermerke”.

Watermerke, Lucie Möller

Rede gelewer op 17 Oktober 2009 tydens die bekendstelling van Watermerke by die HAP, Pretoria.

 

Ian Raper

 

Die titel, veral as meervoud, verlei dalk die ongesoute kritikus om alle verse in die bundel in die lig en teken van die watermerk, ook van die omslag, te ontvang. Merke aan ’n blaar, in die natuur. En ten minste een van die poliseme van die woord “watermerk”, die enigste wat die HAT erken, gaan aard onlosmaaklik in die nywerheid van mense. Sy ander gegewe vorm is “fabrieksmerk”. Dis ’n egtheidsteken, middel teenvervalsing, of eie handtekening in die weefsel van papier, veral in banknote. Natuurlik is dit dadelik voorhande as simbool, waar talle “blyke” in die natuur ten minste visueel met papierwaarmerke gepaard gaan.

Jy kan verder wys op die feit dat daar vyf verskillende afdelings is, nie almal (ewe sterk) in die teken van die “watermerk” nie. In ander kunste is dit ook nie ongewoon dat ’n titel (bv. van ’n skildery) ontleen word aan ’n klein detail daarvan nie, en in die poësie kan ’n gedig of gedeelte soms aan ’n bundel sy naam gee. So is NP van Wyk Louw se bundeltitel Tristia bv. volgens die inhoudsopgawe ook die titel van die middelste afdeling, tussen “Verse” en  “Odes”. In Möller se geval is dit eerder uitstalling as enkelwerk, te meer nie reduseerbaar tot die een “motief” nie, hoe opwindend dit al is.

Ons kan eerder met ’n groter mate van reg die omslag en titel as suggestiewe loopplank benut: daar is goed wat “merke” is van iets. In “Woestyn-olifant”, p 64, is dit die spoor van die trop, die beddings van droë riviere (letterlik water-merke), die tekens van kos, sout en kalk, minerale (ook voeding) en die jaarringe en versteende hout. Ons luister na die gedig:

 

 

Die matriarg verskuif

sorgsaam ‘n grootvoet

tree vir tree

teen die helling af,

die spoor waar die trop sou volg.

 

 

 

In die beddings van droë riviere in

waar rotse verweer

in verwaaide woestyne, en sand

dié ontvolkte land oorspoel

tot ‘n kaal Kaokoland.

 

Haar slurp tas elke groeisel af.

Sy lei die nageslag

deur struikgewas,

wys botsels, bas en vrugte uit.

 

Terug tot die aarde: opnuut

sout van klip en lae kalk te lek:

minerale wat verkwik

om nuwe lewe te verwek.

 

Sy hou by jongriet in die kuile,

struikel uiteindelik in die moeras

om ongestoord en ingebed te bly

tussen jaarringe van versteende hout.

 

As die doel met die bespreking van die bundel regverdiging van die sentrale “tematiek” was, sou jy letterkundig so kon voortdoen. Maar jy bereik slegs al groter bevestiging van jou eie teorie, gebaseer op die idee dat “eenheid” iets met kwaliteit te make het. Of dat “orde” of “struktuur”, “herhaling” of “sirkulering” telkens gehalte bring. Maar dis dalk die “ryme van logici” alleen, eindelose (boring) maling en desimaling. Die verse van Watermerke is nié eenselwig nie. Party van die tekens is “positief” in terme van lewe (soos die kos, jongriet en minerale), ander “negatief” soos die verwaaide woestyn, en versteende hout. Anorganies, uitgedor, klipgeword. Dan is jou bespreking steeds gerig op beoordeling in menslike verwysingsterme. Asof jy nog reik na die filosofiese insig. Alle verse hoef dit sekerlik nie te hê nie.

Dis al te wyte aan die wonderlike verse en baie uitsprake van Opperman, voortgesit deur talle digters in Afrikaans soos Ernst van Heerden (“Dood van die akkedis”), wat aanklank gevind het by Randall Jarrell en Richard Wilbur, onder wie Wilma Stockenström sonder die “smelly little orthodoxies” ressorteer dat die verlede en oerverlede in tekens in die hede gevind word. Die “uilbal”-vers, wat soms ook die “ui-vers” is met sy lae van betekenisverdraagsaamheid, suggestie en resonansie. Soms heerlike gedigte, soms geforseerde, egotrippelende ennui. Alles gelyk gemaak deur soort- en stofoordeel wat baie middelpuntsoekende kritiek se modeltekste kenmerk.

In “Rigtingwysers”, p 9, is die Suiderkruis, bekendste leidsterreteken in hierdie halfrond, die vertrekpunt.

 

 

waar die Suiderkruis kruis

is daar geen lig nie

net ‘n duisternis tussen sterre

waarvan ligjare kruis

 

en vir ons die roete wys

na die verste punt van ’n vasteland

waar ons ankers in seeslik sink

 

met dié rigsterre mik ons

na die diepste pool

van ’n donker hemel

se donker nis

 

die Suiderkruis hang

tussen twee pare sterre

waarvan ligjare kruis

 

Dis ligloos waar hy kruis, eintlik net “’n duisternis tussen sterre/waarvan ligjare kruis”. Nie waarvandaan nie; waarvan. Dit laat ligjare kruis. Dan is daar kromming. “Ons” volg dié aangeduide roete tot ver (uit Europa, die noorde?) waar die ankers in seeslik sink, met al groter donkerte van hemel “tussen twee pare sterre”. Die proses van die gedig, die tekstuur, nié alleen die slotsom nie, is opwindend. Dit sluit enigsins aan by die verbystering van Van Wyk Louw se “Inferno”.  Dis asof ’n donkerte alkant dreig, maar die lig is daar, al is dit ligjare, pare sterre, kruisende sterre en ligjare. Die “diepste pool/ van ’n donker hemel/ se donker nis” kan op verskillende maniere gekonstrueer word. Dat die hart van die donkerte (Afrika in die terme van Joseph Conrad) bv. ons almal se mikpunt is, die “rage for chaos” van Morse Peckham.

By “Prieelkaart” (p 10) onmiddellik ná “Rigtingwysers” het ons weer die reis, droë riviere en ou, handgetekende landkaarte.

 

 

Druiweblare voor my venster

begin stilweg die kleure kry

van ou, handgetekende landkaarte:

 

as ek uitkyk, is elke ligging,

hoogte en laagte belyn

met bruin en rooi, en plekke gekol

tussen mosgroen kontoere.

 

Ingesonke are

soos die droë riviere van Afrika

vloei nog onderhuids terug

 

na hoofaar en stingel, maar

ook alkant na sy vreemd vernoemde baaie,

hawens, inhamme en grenslose oseane

waar ons nou weer anker probeer gooi.

 

Dié jaar moet ek die wingerd

nie ontydig snoei nie,

anders hou hy net weer aan

met bloei en bloei.

 

Alles vloei “onderhuids” terug, in die proses (weer eens) om die verlede uit die hede op te diep. Hier gebeur dit na aanleiding van die “druiweblare voor my venster” wat die geruislose aantog van die herfs toon (merk). Anker gooi, tot stilstand kom, beperk en stagneer (“gebrandmerk met bestaan”) word gestel teenoor die vaar na grenslose oseane.  Die slot laat dink aan “water, water om te drywe” ook uit  Van Wyk Louw in “Groot ode”.

In “Woudvaring” (p 44) word die onverbiddelike groei van spoor tot oerbos, van fyn blaarveertjie tot breë boogsambrele ontdek.

 

 

Spore val uit kolbruin sorus-sade

onder spitsgetande lobbe

tot in die wollerige wortelskag.

 

’n Sagte blaarveer buig

uit die klam en immergroen

van oewerbos op,

 

sambreel hoog in boë

en sprei ’n oerbos oop.

 

Die soeker na gemene delers sou kon uitroep: dis natuurgedigte! Nie die Romantiese Wordsworth- en Keats-agtiges nie, bv. van Leipoldt en Visser by ons (Somer en Son en Rosa Rosarum!), maar iets skeppend-ontdekkends, wyd soos die sterre en oud soos die oertyd, ook bv. die tyd van Gondwanaland, in blyke, uitvloeisels, geur en tekstuur.

Die gedig “Verskuiwings” (p 62) begin by die bobbejaan wat die botterklapper om rol op soek na bytplek, en die klapper word kontinentaal, tektonies: soos in “Die beiteltjie” raak die vrug as aarde oop, maar hier herstel dit tot een gesamentlike suidelike vasteland.

 

 

Die bobbejaan rol die botterklapper

vryf-vryf in sy voorpote om

en soek ’n bytplek deur die harde dop.

 

Op die groot, geelryp vrug

vlek bruin patrone, klein kontinente

na die groot skuif uitmekaar.

 

Hy kap dit teen ’n klip tot die kors oopbars:

ons sien verstom hoe pitte in bitter sap en taai skille

soos Gondwanaland weer by mekaar inpas.

 

Hier is die magiese in volle werking; hoekom kan dit nie? Soveel uitsterwings het al plaasgevind, soveel mutasies dryf evolusie, soveel onverkende donkertes hang en spring in die heelal. Die grond “onthou” (p 63). Grimering (in “Roosblare”, p 77) sien ’n ooglid as blomblaar, delikaat, onder streling, nog merker van /vir die liefde, groei, verloop van die lewe. Dit gaan nie “lokaal” net oor mense of primate, selfs soogdiere nie. Sprekers in party gedigte is bedroef oor ’n sterwende (“Hardekool”, p 76) met “hoekpilare gekantel op elke grenslyn”.

Daar is ’n gedig oor die dood van die digter se ouers, maar dit eindig met ’n bede om weg te kom van die verbintenis met die grond. Een van die skoonste verse in hierdie klankmakende bundel is “Doodsvoël” (p 79). Dis nuutsoortige, belangrike gedigte in Afrikaans: enige vergelyking is vermetel.

 

 

Sy kyk my aan met haar hartgesig,

kaneel stuif op die roomwit bors.

Haar omswerwinge is geheim:

Sy skuil bedags op balke in skure,

skryf kalkwit woorde

kripties op ou mure.

 

Oor die vlei hang newels.

Sy verdwyn in wye sirkels

met flou vlerkslag wat wegval

    in ’n veresoom van vreeslose drome.

Bookmark and Share

Comments are closed.