ʼn Reis- en digterlike verslag

Joan Hambidge

 

In Egipte
In Egipte

Die stad wat nooit slaap nie is die naam wat aan New York toegedig word. Dit is egter nie waar nie. Dit kan eerder van Kaïro gesê word. Op my jongste reis besoek ek Egipte en bly in die Ramses Hilton.

Op die 20e vloer kyk ʼn mens af op die Nyl, die primordiale rivier. Vir vier dae staan ʼn mens oor om die piramides te bestyg, die museum te besoek en ander besienswaardighede te be-sien.

Maar kom ons begin by die begin. Die reis per Egypt Air is ʼn nagmerrie. ʼn Sogenaamde “dry flight” wat ʼn mens begrip laat kry vir die skrywer van die boek I drink, therefore I am. Op so ʼn vlug mag jy (glo) jou eie drinkgoed saamneem, behalwe dat ons nurkse koffiemoffie my verbied om die wyn oop te maak.

Ek vra egter ʼn ander kelner se toestemming, en begin dan liggies teug aan die wyn.

Land om ag in Kaïro na ʼn agtuurlange vlug. Min slaap op ʼn rukkerige vlug.

Vinnig deur doeane en hierdie is my tweede besoek aan Egipte. En dit is altyd ʼn lonende ervaring om ʼn land ʼn tweede keer te besoek: jy vergelyk hoe die land verander het. Alles het hier meer toeristies gedrewe en bedrewe geraak.

Met my eerste besoek aan Egipte in 1995 kon jy die piramides selfs uitklim en nader staan aan al die besienswaardighede. Nou is daar blaffende toeristiese polisiemanne met bytende honde. En op die eerste dag na Memphis en Giza trap ek skeef en met ʼn geswikte enkel is ek na piramides. Die meeste by my tweede besoek is ek hop-hop die heuwels op en neem hoofsaaklik foto’s met my digitale kamera.

Wonderbaarlik herstel die voet die tweede dag na Arnika-olie en skietgebedjies. ʼn Mens kan nie hinkepink reis nie.

“Onthou jy altyd die groot palms in ons Kinderbybel?”, vra ek vir ʼn medereisiger langs my.

“Ja.” Hy wys na ʼn groot plantasie. Ons gids verkoop dalk weer een of ander teorie oor Ramesses  (sug) en ek slaan my oë op na die berge. O waar sal my Fodor vandaan kom?

Gidse in Egipte is algar kenners. Hulle roep hulleself Egiptoloë en “for a good laugh” land Nefertiti langs Kleopatra en Ramesses die Tweede (Ook Ramses). Maar ek was verkeerd. Moestafa weet waarvan hy praat. Hy is half-Japannees, half-Egipties en besonder goed ingelig oor die piramides.

ʼn Stad kan volgens my gemeet word aan sy taxi-bestuurders. Die mate waarin hulle bereidwillig is om jou te hulp te snel of met die kortste roete na jou bestemming te neem, is die tongtippie-toets. Die Egiptenare kroek nie hier nie. Trouens, die Engels is minnetjies en dunnetjies, maar die hulp groot. Wenk: vra die hotel om die bedrag neer te skryf en die plek in Arabies en jy is veilig.

Hier kan jy net vra: neem my na die beste Egiptiese restaurant “down town” en jy land in die 26 Julystraat. En jy kniel voor ʼn falafel, ʼn suurderige Egiptiese wafel roep iemand uit.

Twee dinge val ʼn mens op in Egipte. Orals rook mense in restaurante en kinders is welkom. Juis vanweë die premie wat op die familie geplaas word gaan kinders saam. En hulle lawaai. Ons, dis nou ek en ʼn spannetjie Suid-Afrikaners, eet in die 360 grade draairestaurant in die hoogste gebou die Kaïro-Toring. Die kos is uit die boonste rakke en ons neem foto’s vanuit die toring op Kersaand. Ek onthou dat Edward Said in Orientalism beklemtoon hoe Westerse besoekers die (Midde)-Ooste romantiseer.

Die halfgeboude huis, ongeverf, is glo ʼn manier om die taksman te fnuik. Jy betaal net belasting op ʼn klaar-geboude huis en as dit nie geverf is nie, is jy nie volledig aanspreeklik nie. Ook kan mense langs jou aanbou. Hierom is daar net venster voor en agter en nie langs die kant nie. Amper soos Lego-blokkies.

Die duurder buurte is netjies versorg en keurig.

Maak altyd seker alkohol word bedien, want in sommige van die Nylboot-restaurante mag die Moslems dalk nie drank bedien nie. Dan moet jy weer opstaan en na ʼn ander Juweel op die Nyl gaan vir iets alkoholies te drinke. Hulle Stella-bier is fantasties.

Die insomniese stad, aldus ʼn hotelbestuurder, het te make met die drie skofte in die stad. So mense is altyd op pad werk toe of terug huis toe. Die bestuur hier is iets om te aanskou. Alle motors is beduik want motors vleg teen ʼn kranksinnige spoed deur die verkeer. Almal gee toe, almal toet. Niemand vloek nie. Dis net hoe dit is.

Saans skryf ek my indrukke neer in ʼn dagboek met miskruier-skets voorop.

 

Luxor

 

Ons vlug na Luxor (Thebes) duur presies een uur waar ons ʼn vyfster-passasiers-skip binnestap. Te lieflik. Dit heet die Admiral Nile. Die kabine is netjies, maar aan die kleinerige kant. So ʼn mens begryp dadelik waar die begrip “cabin fever” vandaan kom.

Die personeel, vertel die gids, bly vir 45 dae aan boord en dit verklaar hoekom hulle soms knorrig raak: hulle verlang huis toe.

Dit is middagete-tyd en ʼn buffet met vis en vleise word bedien. Die slaaie word aanskoulik uitgestal die wyn, per glas, is heerlik. Net 25 Egiptiese pond. Dan is dit ons middaguitstappie. Na Karnak en die Luxor-tempel.

Ofskoon dit indrukwekkend bly om hierdie fantastiese tempels mee te maak, jaag ons gids ons vir vier ure, sonder enige blaaskans, deur Karnak en Luxor. Ek neem foto’s, dwaal van die groep af en lees my Fodor. Verder laat ek die tempels met my gebeur. Hier het Mia Farrow in Death on the Nile as ʼn besete, obsessiewe vrou haar minnaar en sy nuwe geliefde amper vermoor met ʼn rots wat van ʼn suil afval, fantaseer ek. Of was dit nie hier nie? Die film gebruik Egipte as back-drop met ʼn Nylvaart en ʼn mens wonder presies waar is daardie spannende, asembenemende skoot geneem. Die film is in 1978 vervaardig en ʼn mens lees Aswan, Abu Simbel, Luxor en Kaïro is as werklike ruimtes gebruik in hierdie spannende film met David Niven, Bettie Davis en Angela Lansbury. So Karnak kon dit wees!

Die helder-verligte Luxor-tempel is aanskoulik mooi. Maar daar is te veel toeriste. Almal het ontsnap vir die middag uit hul bote wat die volgende dag sy vaart gaan begin. Ek herken mense van ons vlug. Kopknik. Stap aan. O wee, ek het my groep verloor. Om een of ander onverklaarbare rede kan my selfoon net boodskappe ontvang, maar nie versend nie. Dus help dit nie om ʼn reisgenoot te sms waar hulle nou ʼn stuk geskiedenis aanhoor oor Ramesses die IIe of  iets dergeliks nie. Ons is so afhanklik van selfone. Oral stap mense rond en sms of klets met iemand. So bly jy egter altyd verbonde aan jou plek van afkoms. Dalk ʼn seën dat ek afgesny is? So word jy gedwing om te fokus op die hier-en-nou.

Maar gelukkig sien iemand my raak waar ek wag soos ʼn uil op ‘n kluit en ons stap almal verder saam. Ek vra die gids of ons nie dalk kan stop by ʼn badkamer nie. Hy meen dis te vuil en ons moet eerder wag.  Ek het al vele van hierdie toere meegemaak, maar dis die eerste keer wat daar van ʼn mens verwag word om vir vier urelank sonder ʼn badkamer of versnapering aan te dreun. Goddank vir ‘n winkeltjie met water en Coke.

Die Ooste, waar die son opkom, word geassosieer met lewe en die Weste, waar die son ondergaan, met die dood. Op die Wesbank in Luxor besoek ons die Vallei van die Konings, beduie ons gids. Die aand sit ek op die bo-dek en begin aan ʼn gedig:

 

Vanmôre toe die dag breek

in woorde die helder klanke

van ʼn stad wat nooit rus

op drie skofte (dis Kaïro dié)

met toetelende motors ʼn roep na Allah

of nader-my-God-by-U, wreek

ek pervers (par avion) myself in ʼn gedig:

op die Wesbank van Egipte rus die toenmalige geliefdes,

saliger in dooierus (hulle het geen sê meer nie),

wie-was-jy-nou-weer? Hierdie gedig ʼn

(nie hierdie) oomblik in die vergetele wind:

ʼn bootvaart tussen Luxor en Aswan,

eenmalig, enkel met jou wat langs my sit,

onbewus van hierdie gedig en opgesluit

in jou private gedagtes.

Alles alles verbeel. Ook jou

aanwesigheid.

Binnekort lê jy nes ʼn mummie

op die Wesbank,

in hierdie gedig ge-Sadat:

o Isis, was ek maar Osiris?

 

Aswan

 

Dit is ʼn handelstad en ons begin ons eerste dag hier met ʼn vaart op ʼn falouka. Ons vaar verby die beroemde Katarak-hotel waar Agatha Christie op ʼn keer gebly het en in die verbeelding herroep ek die fantastiese film Evil under the sun (1982) met Hercule Poiret (vertolk deur Peter Ustinov) wat swem in die vlak waters in die Adriatiese see; dog egter verfilm te Majorca! Die hotel is onder restourasie en die vensters is uitgeslaan. ʼn Besoek was die vorige keer moontlik; nou bestaar ons net die hotel van ver.

Orals is daar toeristiese polisie; so al word jy geteister deur bedelaars en swendelaars, is ʼn jy veilig in Aswan met sy Nasser-dam. En dit moet vermeld word: hoe bedrewe die Egiptenare telkens die natuur uitoorlê. Die Suez-kanaal is ʼn voorbeeld, maar veral die kanaal wat langs die Nyl gebou is sodat die boot (wat glo opwaarts vaar van Luxor na Aswan) op ʼn gelyke vlak geplaas word met die hoogste waterval. Ons gids weet te vertelle die mense het met hul hande die grond uitgekrap by die Suez.

Gidse hier verskil in aanslag. Van intellektueel tot nonsens praat. Van nasionalisties-bewonderend praat oor Nasser en Sadat tot krities oor wat agter al die versluierings gebeur. So op pad lughawe toe na die Rooi See verduidelik die gids vir ons dat die praktyk van klitorodektomie steeds in Egipte bestaan. Jong meisies word op ouderdom drie geneuter dus. Hy probeer nie voorgee soos vele gidse in Egipte dat die gender-kwessies onproblematies is nie. Hy praat op die man af. Vertel hoe dit is.

 

Reisvers

 

Tussen aankoms en vertrek,

tussen beplanning en besoek,

hierdie Egiptiese reis

van hier tot ʼn verbeelde daar.

So besoek ons museums en tempels,

Beskou piramides (onder restourasie,

nes hierdie gedig)

beleef ʼn Nylvaart

van Thebes tot die markstad, Aswan.

Maar iets lê immer buite

woorde of besegging

soos ʼn foto wat ʼn toevallige objek optel

en verewig in kleur soos stene in ʼn moskee

waardeur ʼn bars loop

(vir die nakende oog afwesig)

of ʼn serp gekoop op ʼn moremark

wat later glansloos tuis

vertoon, dié moment verlore

of iemand wat oor ʼn brug stap

met hangskouers, vermoeid

(dalk vandag sy werk verloor

of deur die geliefde in die pad gesteek?)

Hiervan verneem ek niks in my Fodor

vol wenke en aanwysings,

moets en moenies.

Kyk mooi. Al die bestanddele

vir ʼn reisvers is rééds hier.

Dis net, dis net

dat jy dalk nooit

met dié gedig akkoord sal gaan:

jy mag meen daar was geen bars,

die serp bly helder voor jou dans

en die man?

Hy was sommer ʼn konterfeitsel,

ʼn opgeefsel uit ʼn ander tyd-en-ruimte,

gewoon ʼn eensame wandelaar

dalk uit Nijhoff of ʼn ou Egiptiese vers.

 

En ʼn Nylvaart? Dit skep nuwe energie. ʼn Mens kan dit voel wanneer jy snags in jou kabine lê en die waters onder jou voel beweeg.

Op die boot is daar ʼn sertifikaat vir die kos se gehalte en varsheid. ʼn Moet alhier. Met my eerste besoek aan Egipte het ʼn hele passasiersboot neffens ons voedselvergifting opgedoen nadat almal (behalwe een persoon op ʼn dieet) worsies verorber het. Almal was vir ʼn hele week in die kabine met dokters wat moes invlieg en die ontkennende kaptein dat die kos af was.

Sy gevoel was dat die Westerlinge eet te veel en is nie gewoond aan die wisselende temperature nie. Sowel die toerorganisasie as die kaptein het hulle beroep op die kleinskrif in die kontrak.

Nou ja, ʼn mens wil nie ʼn Skater’s waltz in die somer doen nie, nie waar nie?

 

Sharm El Sheikh

 

Langs die Rooi see lê hierdie stad, nee eintlik resort vir uitspan. Uiters noodsaaklik na ons vele besoeke aan tempels en piramides. En moskees.

Hier ontdek jy Russe in alle kleure en geure. So aanwesig is hulle dat jy orals bordjies en aanwysings in Russies vind! Ons verblyf in die Novotel is luuks en bene-in-die-lug span ons uit. Teenoor die gereserveerde kelners op die boot is die span hier oorlams. Waarskynlik omdat die Russiese vroue glo hier kom uitspan vir ʼn bietjie jy-weet-wat.

En die Russe lawaai. Hulle praat in luide tone met mekaar.

Asof die toehoorder doof is.

Op Oujaarsaand is daar ʼn party in ons Novotel.

Die gedoente is aangelê op ʼn tennisbaan en van heinde en verre (soos nagmaal op Makwassie) kom hulle aan vir die party. Dis ʼn buffet met seekosse en vleise. Daar is lang rye, maar gelukkig sien ek die Italiaanse tafel en bestel penne Arabiata.

Ek smul, terwyl van die gaste knor oor die lang rye.

Go with the flow, dink ek. Geniet die proses. Carpe diem.

Die Egiptiese cuisine is fantasties. Min mense kan hoender braai soos hierdie mense. Lekker gerooster (gegrill!) aan die buitekant en murgsag binne. En lam met tsatsiki is altyd ʼn wenner.

Toe begin daar ʼn konsert. Nee eerder: ʼn konsert word vir ons uitgepak wat die hele reis net hiervoor die moeite werd sou maak.

In Turkye het ek Derwiese dansers gesien op spirituele klokke, tollend in die rondte.

Hierdie dansers is kleurryker aangetrek en dans op vinnige, moderner musiek. ʼn Jong dame word aan die hand getrek en saamgeneem en voordat sy haar ogies kan uitvee, word sy in die rondte geswaai soos ʼn lappop.

Daarna word verskillende danse gedemonstreer – onder luide musiek. Elkeen kry ʼn masker en hoed met ʼn partyfluitjie. Toe’s dit middernag en die Nuwejaar is met ons.

Nog nooit was ek by so ʼn lekker party nie. Ons dans op retro-musiek soos Funky Town.   En I will survive. In die vroegoggend toe ons moeg by die hotel kom, is ek melancholies oor die jaar wat verby is en ʼn vriend wat ek aan die dood afgestaan het.

 

Oorgang

 

       Vir Gerrit

 

Was jy alleen toe jy wag

met ʼn paspoort gestempel

vol vele indrukke ervarings

in dáárdie duister doeanepos

vol vreemde reisigers, tale,

gelowe en redes vir dié reis?

(Die lewe het nasionaliteit

met ʼn datum van uitreiking

en verval. Geen foto’s nou behoef,

alles net astraal beskou.

Vingerafdrukke verloor

hul unieke kwaliteit en geslag

word glo ook geneutraliseer.)

Dalk was die wag lank

in die oorgang van ʼn bekende area

na ʼn plek buite tyd en ruimte,

daar waar ek voel, “ek is”

soos ʼn toeris sonder ʼn paspoort verdwyn,

ʼn ongewenste vreemdeling

of handelaar

in hegtenis geneem

word;

die dood slaan sy boeie helaas hardhandiger:

ʼn veranderde reisplan word hier

op mens afgedwing, geforseer –

sonder terugkeer, omdraai,

met óndeurdringbare vensters

na die plek van afkoms of oorsprong.

ʼn Testament soos ʼn visum: nutteloos hier.

Was daar iemand by dié doeanepos

of net ʼn helder lig?

Wagtend tussen aankoms en vertrek,

nou vir die allerlaaste stempel: oorlye.

 

Nuwejaarsoggend begin ek peuter aan ʼn nuwe vers:

 

Vallei van die Konings

 

Vanoggend in hierdie vallei

dink ek aan die grootste paradoks;

om te lewe én uiteindelik te sterf.

Egiptenare glo aan lewe ná die dood,

mummifiseer sodat die liggaam weer sal ópstaan.

Jy was eens liggaam, in jou mens-heid

eenmalig kortstondig met ons. ʼn Koning

in jou Vallei; jy haat bewieroking,

opdoeking, anders maak as wat dit is.

Tog met jou vertrek, kom alle sekerhede

tot stilstand. Jy was nie veronderstel

om nou reeds te gaan. Sand gly

deur my vingers in ʼn uurglas,

vanoggend in hierdie vallei.

 

Jerusalem

 

As ʼn meevaller onderneem ons ʼn trip na Jerusalem net na Nuwejaar. Teen 175 dollar.

Jy trek weg om tien ʼn Saterdagaand, wat eers twee ure later begin materialiseer. Om vier is jy by die doeane wat meer as twee ure neem omdat vele mense hierdie dagekskursies wil meemaak. Dan is dit nog twee ure na die Dooie See en dan Jerusalem. Ondertussen ry jy verby Masada, deur Sodom en Gomorra tot in Jerusalem.

Ons so stap ons die via dolorosa en selfs die grootste agnostikus of ateïs sal meegevoer word deur die lydensweg. Hier het Christus gewankel en hier het Veronika sy gesig afgevee. Golgotha is toegebou en ten spyte van miljuisende toeriste is ʼn mens diep onder die indruk van Christus se lyding in die kerk wat sowel die Christendom as die Joodse geloof verenig.

By die Treurmuur mag ons ʼn versugting in die muur plaas en bid.

ʼn Ortodokse Jood lees uit die Tora, sigaret in die een hand en selfoon in die ander.

Dis ʼn skande: terwyl jy die spirituele impak probeer naspeur, is daar handelaars wat jou lastig val met hul ware. Dit is ʼn mark tot bo in die kerk. Met T-shirts waarop geskryf staan dat die Jode agter Amerika staan en “I got stoned in Jerusalem”. Die woordspeling gaan my nie verby nie; die banaliteit ook nie.

In Bethlehem besoek ons die bekende Nativity kerk. Weer drommende toeriste, gillende mense.

Tog belangrik om die twee stede te sien wat bakens is in die Christendom.

Die terugrit is nie sonder sy ellendes nie. Dit het die middag al begin met twee mede-toeriste wat neul oor die kos koud is en dat hulle daarvoor moet betaal. Gedag dis ingereken. Die gids verduidelik dat hulle as Duitsers die ekstra moet betaal.

Nou’s dit terug huis toe. Aandoen by die beroemde Dooie see en ʼn paar dapperes verken die water, wat glo warm is. Inderdaad dryf jy net op hierdie water.

Nou vra die gids dertig dollar vir die doeane.

Die man ontplof.

Op die bus kom die gids terug en verduidelik weer: julle moet betaal. (Myne is ingesluit, dankie.) Hy en sy vrou hou voet by stuk: ons het jou betaal daar onder by die tafeltjie.

Die gids, ʼn Palestyn, sweer op sy kinders se lewe hy het nie die geld gekry nie.

Die gemoedere loop hoog. Ek bly eenkant en toekyk. Gedag die gids was ʼn kansvatter vanmiddag toe hy geld vir die ete wou hê. Maar ek het nie gesien dat hulle die geld gegee het nie.

Die man raak dreigend. Hy lig selfs sy vuis. Die vrou huil. Die gids verlaat die bus.

Toe ontdek hy die geld in sy sak en stap skoorvoetend uit. Vra verskoning.

En hulde aan die gids.

“Jy is my broer”, sê hy en omhels hom. Ons hoor later, uit ʼn gesprek dat hulle vir die Amerikaanse Weermag werk.

Verder is hulle tjoepstil op pad huis toe.

Tot ek my vererg vir die busbestuurder wat sms’e lees op die gevaarlike pad teen 120 km per uur. Ek betig hom. Hy is vieserig, maar genadiglik stop hy hierna elke keer as die selfoon lui.

Toe kom die mees pryslose ervaring van my lewe as reisiger. Op die deurgangpos is ons flink deur. Die Israeli-beampte, ʼn jong meisie, bely sy is moeg.

Ek ook, bely ek terug. “Miskien moet ons saam gaan rus,” sê sy.

Nou’s ons by die bus.

Wagtend egter op die Poolse groep wat die oggend in ons groot bus saam is voordat ons opgedeel is in kleiner bussies, volgens taal en behoeftes.

Nou lieg ek nie. Ons wag presies twee ure in die bus op Pole.

Ek is besyde myself. Dis twee ure wat ek nog kon rondwandel in ou gedeelte van Bethlehem.

Ons dreig, sms die gids aan die anderkant. Bly kalm, maan hy.

Ons eis ʼn taxi terug.

Siedend. 

Dis na die wag nog drie ure toe in Sharm el Sheik.

Ons kan nie ry sonder die Pole nie.

“Bel die gids en vra wanneer hulle kom.”

Die Pole het skynbaar tot nou-nou toe nog geswem het in die Dooie See, sonder verskoning of skuldgevoel, betree hulle die bus. (Hulle seun wat Engels magtig is, lap dit alles uit aan ons.)

Hulle maak of hulle nie Engels verstaan nie, maar een vrou wuif haar vinger onder die vrou se neus en wys twee ure.

“Ons het gewag vir julle. Twee ure lank.” Die hele bus se energie laat hulle verstaan waar hulle kan op of afklim. 

Nou is slaap onmoontlik. Ek probeer skryf op my sel se “notepad” in die bus. Ek begin met die buitelyne van ʼn gedig.

Drie ure later terug in Sharm. Ons gids wag in die bussie van Sylvia Tours met kospakkies en verskonings. Hy gee daardie gebruiklike pap handdrukkie waaraan ʼn mens hier gewoon moet raak, nes die oë wat jou seksueel afskil.

Vergewe en vergeet is my reismotto altoos. Probeer net die goeie onthou.

 

Via dolorosa

 

Die lydensweg

stap ek moeisaam

met my kamera op my rug;

verloor my groep

tussen stasie vyf en ses.

Ek dink my in

hoe U hierdie weg nou

sou sien:

“I got stoned in Jerusalem”

blaker ʼn T-hemp en verderaan

staan twee Jode en korswel

oor ʼn sokkertelling ʼn dag terug.

Veronika sou waarskynlik vandag

 ʼn wet-wipe aanbied en ek meen

iemand sou dink aan ʼn Red Bull

of dalk iets sterkers vir dié pad.

Iemand sou meen U doringkroon

is cool soos ʼn tatoe.

ʼn Nonnetjie stap uiloog verby,

terwyl ʼn Ortodokse Jood selfoon

in die linkerhand

en sigaret in sy skewebek,

bewend boekevat.

En ek?

Ek kyk uit oor Jerusalem

op ʼn Sondag vér van huis en haard,

sluit my oë, tel ʼn klip op

digby Golgotha

en wens 

ek kon hierdie steurnisse

uitwis soos ʼn raam

op my digitaal.

 

ʼn Besoek aan Egipte bring ʼn mens onder die indruk van die geweldige ryk geskiedenis: van Ramses II wat in die Vallei van die Konings begrawe is, maar jy word terselfdertyd gekonfronteer met die moderne geskiedenis, die Suez-kanaal, die moeilike verbintenisse met buurlande, o.a. 

Ook die moskee is bepaald altyd aangrypend mooi – veral die grootste een in Kaïro I die Citadel van Salah Al-Din. En hier kan jy die hele stad voor jou sien!

 

Bron:

 

Fodor se Egypt. 2009. Londen: Random House.

 

(Januarie 2010)

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “ʼn Reis- en digterlike verslag”

  1. Evette Weyers :

    Joan, Dit was heerlik om saam met jou te reis, ook deur die gedistilleerde godespys van jou gedigte
    groete
    evette weyers