One flew over the cuckoo’s nest
Saterdagoggend twee uur het ek “One flew over the cuckoo’s nest” klaar gelees. Ken Kesey het dit in 1962 opgedra aan Vik Lovell “who told me dragons did not exist, then led me to their lairs.” Die verhaal van die skynbare stom Indiaan, Chief Bromden en sy gesante in die inrigting vir geestelik versteurdes, is tragies, fantasmagories, humoristies, insigryk, liries. Elke manlike karakter, veral held McMurphy, is veelgeskakeerd. ‘n “Muscular narrative”, noem die kritici dit. En dis juis hier waar die sterk verhaal myns insiens ietwat struikel, want waarom wipplank die weinige vroulike karakters almal tussen ‘n sonofabitch Big Nurse wat daarop uit is om die manne te kastreer en ‘n blonde dofkop prostituut, Candy? Okeedokee, die ekverteller se eie ma is ook ‘n gifappel en dis dalk rede genoeg vir sy eendimensionele siening van vroulike karakters, maar dis steeds jammer dat so ‘n briljante boek deur chauvinisme bedreig word.
Daar gelaat.
Een van die redes waarom verhale oor mense wat in ‘n ander realiteit leef my interesseer, is ouma Anna. Sy is met Alzheimer gediagnoseer toe ek twaalf jaar oud was. Sy het in die kamer langs my ingetrek en ek het haar versorg - haar gebad, aangetrek, haar naels geverf, ring blink gevryf, haar laat briewe skryf, aandstories voorgelees voordat ek haar saans in die bed sit. Hiermee het ek vir ses jaar volgehou. Omdat ek wou. Ontdat ek iets wou doen om vir haar dankie te sê, want toe ouma Anna se verstand nog helder was, het sy my leer rym. Sy sou ‘n woord sê en ek moes vinnig met ‘n rymwoord antwoord, totdat ons later spontaan in rymsinne begin praat het – soms ‘n hele gesprek wat rym! Ek was toe ses jaar oud. Die middag van haar dood - ek was agtien en dit was ‘n week voordat ek universiteit toe is - was ek en Ouma alleen in die huis. Sy was reeds dood maar nog warm toe ek langs haar inkruip met ‘n potlood en papier en haar begin teken. Ek het ‘n gedig daaroor geskryf wat opgeneem is in “die vloedbos sal weer vlieg.”
In 2000-2002 het ek een dag per week met Alzheimer pasiënte gewerk – eers in Cambridge, later in die Skotse Hoogland. Ek het spesifiek gevra om die vergeetsiekes te versorg as ‘n soort herbesoek aan my ouma. Die ouetehuis in Skotland was ‘n ou herehuis op ‘n landgoed van 8 akker. Die oumense het Skotse whisky gedrink in plaas van vieruurtee - al 43 oues, meeste met hul eie, luukse kamers. Omdat ek net een keer ‘n week hier gekom het, het ek soms hulle name vergeet. Eenkeer het ek in die geroesemoes Lamla se valstande vir Stella gegee en Stella s’n vir Lamla. Sit en kreun die armsalige anties om die tande te maak pas!
Alzheimer pasiënte is soms befoeterd en agressief, ook dierbaar, dikwels skreeusnaaks. Bob the Butcher wou bv weet of die mense van Zimbabwe soggens onder die Vic Falls stort. Hy het doodernstig gevra: “Do you believe in sex?” En saans het hy sy “naughty parts” met babaroom behandel. Dalk het dit hom ‘n kick gegee, wie weet, maar daar was g’n teken van nie.
Beaten was maar 22 jaar oud toe hy in Edinburgh deur ‘n kar omgery is en erge breinskade opgedoen het. Hy was destyds in die vloot en kon net elke ses maand Isle of Skye toe gaan met tabak vir die mans by die huis en lekkers vir die meisies. Na die ongeluk het sy ma hom versorg, maar toe word sy ‘n alkoholis. Dis hoe hy in die ouetehuis beland het - wild en verwilderd soos ‘n dier. Hy het gevloek en geskree, die verpleegsters met sy poef gegooi en geweier om enige iets behalwe Gallies te praat. Teen die tyd dat ek hom ontmoet het, was Beaten ‘n lammetjie. Hy sou met sy duim in sy neus grou en oor en oor sê: “You’re a lady. I like you. The Lord is my Shepherd. I shall not want.”
Molly was ook ‘n interessante een. Haar slaapkamer het oor die slaapveld uitgekyk. Toe sy met die skape begin gesels, is sy na die Alzheimer afdeling verskuif. Sy is toegesluit, want sênou sy verdwaal doer tussen die skape, het die Staff Nurse gesê. Molly het gehuil.
“What is wrong?” het ek gevra.
“What is right?” het sy geantwoord. “They dont’ understand I am a farmer’s daughter…”
Dan was daar Fran met die teddiebeer – die pels kliphard waar sy hom probeer voer het. Fran het graag aan etenstafel ertjies in haar lepel gesit en die ander daarmee geskiet. Veral vir Ant Beatrice wat nooit haar eie kinders gehad het nie en wat vir Ant Lizzie – haar ouderdom en ewe stapelgek – gemother het. Beatrice het vir Lizzie aangetrek, haar doeke probeer ruil (groot fout…), haar gevoer en wiegeliedjie gesing.
Wanneer die Staff Nurse wegkyk, het ek soms dié weird and wonderful dinge neergepen, sodat een van die pasiënte my eendag gedreig het met: “One of these days I’m gonna borrow that pen from you!” Nietemin het ek al hoe meer geskryf. Net skelmer. Hiermee sommige van die sêgoeters wat ek afgeluister het:
-
You’ve got beautiful teeth, my duck!
-
Sy haal haar valstande uit en hou dit in piering: “Would you like some?”
-
He’s a master, ain’t he! Disgusting. He is like that because his mother isn’t here.
-
My mom’s name is Mom. My dad is always at work. Tired. Don’t’ know how. Six, perhaps. This is a women, don’t be a bull.
-
Patience is a virgin.
-
The more you eat, the less you will see.
-
Still, she is a lovely boy.
-
Why does the steam come out of this chair?
-
What is your story? Someone knows. Last time I found it in the house.
-
Come quick! Where is the key? I will lock you up in your room if you don’t tell me where the key is!
-
She is like old Ivy. She grows on you.
Hartroerendste was die dag toe ‘n nuwe pasiënt, May, op en af in die gang loop met haar naamkaartjie in haar hand. Ek het gevra waarna sy soek. May het haar naamkaartjie in my hand gesit - verwonderd, verdwaas. Haar antwoord was so ‘n klokhelder definisie vir vergeetsiek, dat dit my lank sonder woorde gelaat het:
“May Donker is me name, but I can’t find me anywhere.”
vergeetsiek
ek was ses jaar oud
in die tuin op die plaas
was die dae ryk aan gesprek
as ons pampoenskilmanne kerf
of krimpvarkies uit mangopit
ouma het gesê
dat woorde nimmer sterf
terwyl ons rym-rym sinne praat
het swaels neste gebou,
sweefvlieë het asem opgehou,
ons het vanself gefluister
as verse soos kombuisvure
teen ons voete brand
eendag het ouma
haar voorskoot geknoop
en binne was ‘n anderland:
ons almal is daar ingedra
ook oorle oupa, aan die hand
ouma, kon jy hoor
hoe die lemoene huil
toe jy my troetelnaam
vir ‘n vraagteken verruil?
na járe van gekheid
en vergaarde kwale
was ouma se mond
‘n klein spoeggat;
soms as ek haar bad
en papaja aan die bedseer smeer,
het ek vinger op die wond gelê
en saggies vir myself gesê:
‘n vrugteboom word ook gesnoei -
dis gewoon vir ‘n kind om te bloei
dalk is grysaards nes blaarreste
of breekdun kerkhofblomme
maar saans as ouma te kooi gaan
het ek stilweg gesmeek
dat sy slaap soos ‘n roos
in die melkwit hande van die maan
ek was agtien
in die somer was daar
doodgereënde vlinders
op die grasperk om die kerk
het ek een-een
opgetel soos letters
en weggebere
in ‘n Woord
ineens was alles wit
soos bladsye of beendere
soos daardie middag
twee dae terug
en ons alleen was in die huis
en sy haar ligte asem
in my hand uitblaas
ek het ingekruip onder haar arm
om my kop op haar bors te lê
sodat sy verlaas kon sê:
watter woord rym met warm?





Wat ‘n verpletterende mooi inskrywing, Carina! Soms het ‘n mens nodig om tot stilstand geruk te word deur ‘n vertelling en gedig soos hierdie, want dan help dit om jou eie omstandighede meer te waardeer. Dankie daarvoor.
Janee, ‘n roerende stuk. Alzheimers lyk vir soms na net ‘n akuut geworde vorm van die vergeetsiekte waaraan ons in elk geval almal ly. En gedigte, soos die een hierbo, werk die vernietigende uitwerking daarvan darem so ‘n bietjie teen.
Duisend dankies, Pieter Wolmarans, vir jou woorde van waardering.
Bernard, baie dankie. Jou gedig, “Kraal” wat vertel van die veegoperasie in Ovamboland, 1979, is vir my ‘n gedig wat bewys dat verse vernietiging kan teewerk, soos jy dit stel. Kreatiwiteit/ skeppingsdrif wat meer primordiaal is as die slagting.