Elna Pritchard. My “bekering” tot die poësie
Blogfokus
Elna Pritchard
Hierdie selfondersoek waarop Louis ons die maand stuur, was vir my ʼn lekker reis. En nee, ek sal dit ook nie ʼn “bekering” noem nie - eerder ʼn inisiasieproses, ʼn ontdekkingstog.
Dit het begin met my ouer suster (3 jaar my senior) se promovering tot skoolgaan. Ek was gefassineerd met haar skoolboeke en haar vermoë om te lees. Die heel eerste boek wat ek kan onthou, is dan ook ʼn kinderrympieboek. Dit was ousus Marianne s’n en ek moes mooi vra om daardeur te blaai. Dit was Engels met al die ou geliefde rympies soos Humpty Dumpty en Jack and Jill, helder geïllustreer. (Dekades later het ek ʼn baie eenderse weergawe in Afrikaans vir my eie kleuter gekoop.) My ma het die rympies vir ons gelees en ek het dit daarna opgesê terwyl ek na die prentjies kyk en gemaak of ek lees.
Om self te kon lees was vir my ʼn brandende begeerte. In sub A het die onderwyseres flitskaarte met onderskrifte op die swartbord aangebring. Dit was maklik om die kort sinnetjies te “lees” saam met die prente, maar toe die juffrou die eerste keer die prentjies wegneem en ons die geskrewe woord alleen moes erken, onthou ek die spanning en die absolute ekstase toe ek die woorde “Leen pak die kis in” kon lees. Daardie sinnetjie was die begin van my liefdesverhouding met die gedrukte woord.
Die waardering vir woordkuns en beeldende kuns is myns insiens interafhanklik en simbioties. Dit is eers die vermoë om ʼn voorstelling van die werklikheid in twee of drie dimensie te kan interpreteer wat ontwikkel, voordat die skryfsimbool herken kan word. En sonder laasgenoemde sal die leer-lees proses baie moeiliker wees. Ons almal se liefde vir woordkuns is inisieer deur die enhancement wat die illustrasies aan die boek verleen. Dit het ʼn blywende bekoring. Vergelyk maar hoeveel digters is ook beeldende kunstenaars. Ek dink nou dadelik aan Marlise Joubert, Breyten Breytenbach, Sheila Cussons, Carina Stander, William Blake en die lys gaan aan en aan. My beeldhouerman se kunsloopbaan het begin by sy geliefde comics wat hy nageteken het. Later het hy sy eie strokiesprente geteken en eie dialoog geskryf.
Ek is die tweede oudste van vier kinders. My pa was ʼn staatsdiensamptenaar werksaam in Port Elizabeth en my ma ʼn voltydse huisvrou. Naweke het ons gaan kuier op my oupa se plaas in die Sondagsriviervallei. Vandag besef ek watter vormende invloed daardie besoeke op ons geestesontwikkeling gehad het. Ons het die koppe uitgeklim op soek na noem-noem en koedoespore en ure in die rivierbed gespeel. Toe ek bietjie ouer was, het dikwels alleen in die koppe gaan sit om in my dagboek te skryf. Daar was sagte leiklip van allerhande kleure rondom die huis waarmee ons my arme ouma se sementstoep volgeteken en geskryf het. Wanneer ons moeg was, het ons die opwengrammofoon in die koel voorhuis se naalde stomp gespeel om oor en oor te luister na die Briels se “Een aand op die trein na Pretoria.”
Ek onthou baie helder die heel eerste boek wat ek by die skoolbiblioteek uitgeneem het en self kon lees. Die titel was “Die kattepartytjie” en ek kan die storie en die illustrasies daarin onthou in die fynste besonderheid. Gedurende my Standerd 1 jaar het ons verhuis vanaf Port Elizabeth na Vryburg, waar die dorpsbiblioteek binne stapafstand van ons huis af was. Dit was die wonderbaarlikste plek op aarde - die kenmerkende muwwerige reuk van ou papier, die gewyde stilte en die skatkamers met duisende boeke waaruit ek kon kies. Die biblioteektannies wou my nie toelaat om meer as een keer per dag boeke om te ruil nie en ek moes ongeduldig wag vir my 12de verjaardag om toegang tot die grootmensafdeling te kry.
Tuis was daar Oom Attie se slaaptydstories en Die Skatkisboeke waarin ek kon delf. Uit laasgenoemde onthou ek Die steweltjies fan Sannie en Klaas geswind en syn perd van Reitz. Weereens het die komieklike illustrasies die indruk wat die gedigte gemaak het, versterk. Saans was dit my werk om die kleintjies (Reinet Nagtegaal en Henk Crouse) te bad en in die bed te sit. Dan maak ek my eie stories op en laat die storie sy loop neem volgens hulle reaksie. Gewoonlik was dit ʼn storie met ʼn “opvoedkundige” doel, bv. wat gebeur het met ʼn dogtertjie en seuntjie wat weerstand gebied het as hul ouer suster hulle gesigte en neusies wou afvee. Dit was groot pret - ons roep dit dikwels in herinnering.
Poësie op laerskool was sinoniem met voordrag. Ek dink die meeste mense van my generasie ken steeds I.D. du Plessis se Kaalvoetklonkie, Eugene Marais se Winternag, Toon van den Heever se In die Hoëveld, D.F. Malherbe se Slaap en Jan F. Celliers se Die Vlakte van buite. Ek wou so graag gekies word vir voordrag op prysuitdelingsaande of dergelike geleenthede, maar die verdict was altyd dieselfde - Elna se stemmetjie is te laag en dra nie. My kunssinnige ma sing met haar mooi altstem vir ons liedjies soos Amakeia en Ek het ʼn perd ʼn blink vosperd. Ook Stephen Foster liedjies soos Jeannie with the light brown hair en Beautiful Dreamer. Ek kom van jongs af sterk onder die bekoring van poëtiese woorde.
My pa, ʼn verbete voorstander van Afrikaanse letterkunde en Afrikanertrots, het vir ons vaderlandsgedigte op ʼn teatrale en militaristiese wyse voorgedra. Ek hou van ʼn man wat sy man kan staan en Totius se Vergewe en Vergeet was gunstelinge, maar hy het my per geleentheid ook verras met versreëls soos I wandered lonely as a cloud that floats on high over vales and hills… Hy het intens belang gestel in ons skoolopstelle en ek glo nie ek het ooit een ingehandig voordat ek dit aan hom voorgelees het nie. Hy het die persepsie dat kreatiewe skryf ʼn baie verhewe bedryf is, sterk by ons kinders gevestig.
Op hoërskool ontdek ek dat mens met woorde begrippe en gevoelens kan weergee wat anderkant die tasbaar waarneembare wêreld lê. Een naweeksaand tydens ʼn kuier by my vriendin op hulle plaas in die Molopo, kom roep haar pa ons om na die “nagmusiek” te kom luister. Skielik was die naguiltjies, die krieke en die jakkalse se geluide ʼn splinternuwe, amper mistieke ervaring. My eerste opstelonderwerp in Engels in standerd 6 is The wrath of the sea. Die uitdaging en stimulasie wat daardie opstel gebied het, sal ek altyd onthou. Daar is skielik ʼn nuwe deurtjie oopgesluit in my denke. Ek ontdek Elisabeth Eybers, Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan en Shakespeare. Ek skaf vir my ʼn Book of Beauty aan waarin ek aanhalings versamel. Afrikaanse poësie is egter baie laag op die prioriteitslys van die leerplan tydens my senior skooljare. Ek kan inderdaad geen Afrikaanse gedig onthou uit my matriekjaar aan die Hoërskool Voortrekker in Boksburg (1969) nie - ons is net gebombardeer met taalwetenskap t.w. fonetiek, morfologie en semantiek.
As daar sprake was van ʼn bekering tot die poësie, het dit beslis met my gebeur op universiteit. Ek skryf in vir BA Perswetenskap aan die PUK vir CHO en het die voorreg om deur Prof T.T. Cloete onderrig te word. In my tweede jaar verskuif ek na Tukkies en grootgeeste soos Prof. A.P Grove en Prof. Elise Botha sluit wêrelde vir my oop. Ek ontdek N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman, Olga Kirsch, Uys Krige, Ingrid Jonker en Breyten Breyenbach. Rudi Neitz laat my op wolke loop oor Goethe en Schiller. Tydens my eerstejaar publiseer Antjie Krog haar Dogter van Jefta. Sy slaan my dronk met die vars andersheid van haar werk. Ek is sprakeloos van verbasing dat iemand van my ouderdom gedigte kan publiseer wat so vernuwend is - het altyd gedink dit is net moontlik vir akademici.
Ek voltooi my BA Tale met Sielkunde as ekstra hoofvak, doen daarna HNOD in buitengewone onderwys en voltooi Sielkunde Honneurs buitemuurs terwyl ek skoolhou by ʼn skool vir dowes. Dit is eers tydens my werk as skoolsielkundige by Nasionale Opvoeding, dat ek dit waag om self te dig. Die moed om te publiseer kry ek baie later in 1997 met my kortverhaal bundel en daarna in 2007 met my digbundel Gestaltes van ʼn dogter. Ek moet egter bieg dat ek, soos Maritha van der Vyfer in ʼn tydskrifonderhoud gesê het na die publikasie van Griet skryf ʼn sprokie, aan my neus wil vat as ek myself ʼn digter noem. Veel eerder is ek ʼn liefhebber van poësie omdat dit so gekonsentreerd vervullend en insiggewend is. ʼn Enkele gedig kan mos meer sê as die mees omvattende roman.
Afgesien van die Groot Verseboeke en ander versamelbundels, staan daar ook op my boekrak bundels van o.a. Petra Müller, T.T. Cloete, George Weideman, Jeanne Goosen, Danie Marais, Fransi Phillips, Marius Crous, Barend Toerien, Riana Scheepers, Marlise Joubert, Louis Esterhuizen, Antjie Krog, Sylvia Plath, Ted Hughes, Deborah Steinmair, Ingrid Jonker, Elizabeth Eybers, N.P. van Wyk Louw, Breyten Breytenbach, Rika Cilliers, Joan Hambidge, Sheila Cussons, Roux van Zyl, Theunis Lombard, Hans Du Plessis. Daar is soveel bekende digters wie se werk ek nog nie behoorlik ontgin het nie en soveel nuwes wat ek nog nie ontdek het nie, hoofsaaklik omdat die blootstelling van digters so onvoldoende is en digbundels skaars is in die boekhandel.
Nou dat ons almal so ons paaie na die waardering van poësie karteer het, kan ons dalk ander makliker op dieselfde paaie stuur - soos Carina se ouma met haar rymspeletjie. As ek tog net kon promoveer tot oumaskap!





[...] die webblad is daar vanoggend ‘n hele paar lekkerlees items: briewe van Elna Pritchard en Christine Barkhuizen le Roux in die Brieweboks oor ons blogfokus vir Januarie, plus twee nuwe [...]