Eugenio Montale – vertaling in Afrikaans

Eugenio Montale – vertaal deur Rosa Nepgen

 

 

Die suurlemoene


Luister na my, julle bekroonde poëte,
julle wat alleen beweeg tussen plante
met minder gewone name: ligusterbosse of akante;
ek, ék verkies om te dwaal in die lang gras op paaie
diep tussen halfdroë spruite,
in modderpoele opgedam langs die paaie,
waar seuns soms ‘n skraal paling vang;
paadjies wat sak van bo by die randsome
tot onder waar die rietbos se pluimsaad staan,
en in die groentetuin uitloop by die suurlemoenbome.

Dis beter dat die voëls se astrante lawaai
in die asuur verswelg word en daar uitwaai;
dan hoor ‘n mens weer die sagte gesug
van vriendelike takke in ‘n luggie wat hulle skaars laat swaai,
en die sinne word van ‘n geur bewus
wat nie van die aarde kan loskom nie.
Dis ‘n wonder wat die hartstog keer,
die woede van oorloë kan afweer,
en ook ons wat behoeftig is, laat deel aan die rykdom
van die geur van suurlemoenbome.

Want in stiltes soos dié word alles verklaar,
begin dit beweeg na ‘n oorgawe toe
waarin dinge hul diepste geheime gaan openbaar,
en ‘n mens verwag jy gaan ontdek
hoe die natuur fouteer, waar die dooiepunt
van die wêreld lê, die skakel sit wat nie hou nie,
en hoe om die knoop te ontwar en eind’lik die draad te vind
wat na die hart van die waarheid lei.
Die oog ondersoek en beskou,
die gees wat vors, verbind en skei
in ‘n geur wat ver versprei
wanneer die lig van die dag verflou.
dis in hierdie stiltes dat aan ons,
met elke menslike skim wat afskeid neem,
die een of ander verstoorde godheid verskyn.

Maar illusies verdwyn en die tyd voer ons terug
na die stadsrumoer; dáár wys die blou van die hemel
soos klein lappies kleur tussen skoorsteen en gewel.
Die aarde word tam van die reën; die koue verveling
van die winter drup die huise vol; waar die lig –
nou ook ‘n bitter gees – ál suiniger binnedring.
Dan, op ‘n dag, hang daar ‘n vergete tuindeur oop,
en op die bome in die binneplaas
sien ‘n mens die geel van suurlemoene skyn;
oorrompel, ontdooi die hart
en die gemoed loop vol
van dié helder getuit
en die son se goue trompetgeskal.

1921

 

*

Langs die meer


Die visvalkie
pyl reguit af op ‘n terracotta-vaas –
een van die baie op ‘n muurtjie langs die meer.
Tussen angeliere byna weggesteek,was hy
net ‘n oomblik sigbaar genoeg
vir ‘n kort gesprek.
Jy is, sê ek, die laaste voorbeeld van ‘n soort
wat volgens my al moes uitgesterf het.
Maar die oorgrote meerderheid van julle, sê hy,
sal ééndag getref word deur presies dieselfde lot.
Nou weet ek, het ek teengekap, mens is òf te veel òf niks nie.
Met die één voorreg, sê die valkie toe, wat julle sal hê,
om getuies te wees van die finale ballet aan die slot.
Maar ten minste, vat ek hom toe vas, is ruimte en tyd,
die begin en die end, geen menslike vinding nie;
en met jou bek het jy gehelp om die Al op te vreet.
Dag, man; dag, valk, vergeet maar van jou vis.
En jy het vergeet dat jy sonder vlerke en ‘n bek
‘n dwergie en ‘n klerehanger is.
                                       Toe verdwyn die niksnuts
in ‘n stralekrans van roeskleur en pers.

 

17 Januarie 1977

 

(Uit: Die geel van suurlemoene skyn, deur Eugenio Montale: Tafelberg, 1979)

Bookmark and Share

Comments are closed.