Christine Barkhuizen le Roux. Poësie was altyd daar

 

 Blogfokus

Christine Barkhuizen le Roux

 

Tok.

Die swart hardedop gogga het sy agterlyf op die harde klipgrond gekap. Tok-tok. Tok-tok-tok. My pa het sy pyp uit sy mond gehaal en met die kop op die houtkapblok gekap. Tok. Tok-tok. Tok-tok-tok. En die glimmende toktokkie het teruggeantwoord in dieselfde taal.

“As ʼn mens mooi luister na die wêreld rondom jou, kan jy hoor hoe dit praat,” het my pa gesê.

Ek sien myself asof op ʼn foto nog: ʼn dogtertjie van so vier, vyf jaar; kruisbeen op die grond in die  agterplaas in Queenstown. Haar oë toe, luisterend na die ritmiese roep van die Jan Pierewiet, na die rommel van die aanrollende donderweer. En later, wanneer die vakansie kom, die ruising van die branders en die krys van die meeue oor die see. Asof die klanke en die patrone van die natuur deel was van haar, of sy op hierdie wysies gedink het.

Die ritme en rym in die versies wat ek kleintyd gehoor het, het my gefassineer - hoewel ek natuurlik geen begrip gehad het van wat “ritme” of “rym” was nie. Dit was klank en beweging. Herhaling. En dan die onverwagte afwyking wat die patroontjie ʼn skielike nuwe betekenis gegee het; wat my verwonderd laat opkyk het, laat dink het: O, só kan ʼn mens dit ook sien!

Want wat is dit anders wat “kliek” wanneer jy hoor:

Oom Olifant jou reusedier

Die mense lag vir hul plesier

Want waar het jy al ooit gehoor               

Van ʼn dier met ʼn stertjie van agter

En ʼn stertjie van voor!

En hoekom was die ritme van die figuurtjies in “Sewe poppe vir Wanda” ,van Grace Golden, wat op die klavier gedans het vir my so bekoorlik - dit tesame met die vreemde name en wonderwêreld van musiek? Maar ʼn klavier had ek nooit, en die taal en klanke het ʼn eie orkes in my kop gemaak.

W.O. Kühne se “Huppelkind”, die alleenseuntjie wat so graag ʼn maatjie wou hê, het oor my en ín my gedans met sy passies: Met ʼn wip en ʼn trap seil Huppel oor die polle - trippel-trippel deur die grassies, huppel-huppel oor die plassies. . . en tussen die wit huis en die wit huis, teen die wit wolk, teen die grys berg hoog bo die see. . . het die meeu in my binneste ook gestyg en gedaal, op die ritme van die standerd vier spreekkoor se klank en die hand van die onderwyseres wat wys: “nou harder, hier ʼn bietjie sagter, dan: aaneen, aanmekaar, hoor die meeu, sien hoe die vlerke van voël die wind vat. . .”

Om in standerd nege op ʼn plattelandse dorp self te sien: die laatmiddag het room geword. . .Te hoor hoe Tant’- Tolie teen die aand se kant die Here en die uile roep. Om iets te besef van die teenstellendheid van dié versugting, en ook: dat dit eintlik dieselfde ding is.

 

Op Stellenbosch maak ek as eerstejaar kennis met Dylan Thomas se “Fernhill” en die ongrypbare emosie wat my aanraak in die nostalgiese reëls: Now as I was young and easy under the apple boughs. . . Time held me green and dying/ Though I sang in my chains like the sea en John Kannemeyer wat Gorter se “Mei” voorlees en sy effense breistem: Een nieuwe lente en een nieuw geluid: Ik wil dat dit lied klinkt als het gefluit. . .

Iets het vergoed in my gevestig. Totdat die opgegaarde klanke en patrone, die ryme en ritme, nadat ek as boervrou op die plaas Kleindoornrivier beland het, begin om ʼn eie loop na buite te vind. Huiwerend, maar met die onteenseglike behoefte om te bly luister en om wat te hoor is ook aan ander hoorbaar te maak. Ek ervaar intenser as ooit tevore dít wat Nijhoff  in sy “Klein Prelude van Ravel” beskryf as: . . . muziek in elk ding Gods, en: Wie oor heeft om te hooren hoort/ Muziek in de natuur. . .

Na die publikasie van my eerste digbundel, dimensie, begin ek dieper delf - nog méér lees, meer te leer van die woordsmede van die wêreld - om in aanraking te kom met Guido Gezelle se “Als de ziele luistert”, H.C. Ten Berge se betekenisgelade gedigte, en om deur Nijhoff se oë ook te sien: Er staat niet wat er staat (!) Ek word begeester tot die aanpak van ʼn meestersgraad met ʼn skripsie oor die werk van Judith Herzberg waarop ek “toevallig” stuit toe ek die eerste keer in Nederland kom.

            In dié Joods-Nederlandse digteres en toneelskryfster vind ek die altyd-vernuwende fenomeen terug: die spanning tussen die onverwagte en die skynbaar vanselfsprekende. Dit wat die digter die “aha”-gevoel gee by die lees van ʼn goeie gedig en/of wanneer hy/sy self stuit op die verrassende kontras tussen dinge wat in werklikheid twee kante van dieselfde munt is. Herzberg praat dan self ook van En/En, nie En/Of nie - die insluiting van alle moontlikhede, die ryming van dit wat ongerymd is.

Ek kan nie anders nie as om ten minste twee voorbeelde van hierdie digteres se vermoë tot fyn waarneming en insig te noem nie.

In die gedig “Moed” sien sy die mens as onsekere wese wat, as iets hom/haar nie te ongelukkig maak nie, met ʼn “leuk” gevoel deur die lewe kom, en draai dan die mes in die buik met die woorde: maar eigentlijk/ zijn we zacht

Als Turkish Delight/ in een blik met spijkers. ‘n Vergelyking wat ‘n mens se kop laat duisel.

            In die gedig “De Visser” word haar immanente poëtika op verskillende maniere in ʼn enkele gedig geïllustreer: . . . het is alsof ik eindelijk/ vrij ben op één plek te blijven. . ./ ik lijm het ogenblijk. . ./ Wat kan ik beter doen dan niets,/

dan niet bewegen. . .

           Ook vind ek in haar poësie by uitstek wat ek ook by ander goeie Nederlandse digters reeds teëgekom het: daardie herkenbare en ooreenstemmende geluid, ‘n soort oer-subteks wat in die agtergrond speel wanneer jy Afrikaanse poësie beluister - hoe die klank oorgaan in betekenis. Want klank het woord geword, en die woord betekenis, en agter dié betekenis is daar die flits van die onuitgesproke, die intuïtiewe.

 

En terwyl ek in die verbye jare my hand ook aan prosa gewaag het, weet ek dat die poësie sal blý. Want ek is nog die kind wat luister na die versies wat die voëls fluit, wat sien hoe krap die kleurklippies van die Oos-Kaap patrone op ʼn sementstoep; wat ruik hoe ruik ʼn mens se vel wanneer die son jou warm bak. Die poësie was altyd daar - en dit sal altyd daar bly. As jy bereid is om stil te sit, om nie te beweeg nie, om dop te hou, om te luister en ruik, om aan te raak - en versigtig aan ʼn klank te proe voor jy hom in letters probeer vertaal.

 

                                                                                                      

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Christine Barkhuizen le Roux. Poësie was altyd daar”

  1. [...] die webblad is daar vanoggend ‘n hele paar lekkerlees items: briewe van Elna Pritchard en Christine Barkhuizen le Roux in die Brieweboks oor ons blogfokus vir Januarie, plus twee nuwe inskrywings deur Andries [...]

  2. Elna Crouse (Pritchard) :

    Hi Christine
    Wat ‘n plesier om weer herinner te word aan “Huppelkind” en te lees dat jy ook die kleurklippies van die Oos-Kaap se inspirasie op ‘n sementstoep ervaar het.Ek lees nou weer “De Kleine Johannes” - ervaar altyd ‘n gevoel van kinship wanneer ek Nederlands lees. Laat my identifiseer op ‘n dieper onbewuste vlak.

  3. Andries Bezuidenhout :

    In die middel van die we^reld in die middel van die vlei… Ditto oor Huppelkind! Lelietrapper, maraboe, roerdomp, lepelaar. Lieflike woorde. Blykbaar is lelietrappers ook bekend as langtone. Hoe gewoon! Ek sal altyd “lelietrapper” verkies.

  4. engemi :

    geef mij vreugde
    Het jy vir my ‘n eposadres?

Los kommentaar