Andries Bezuidenhout. Nuwe uitstalling by Oliewenhuis

Vrystaters met ʼn neus vir die beeldende kunste moet toe môreaand (Donderdag, 28 Januarie) om 19:00 ʼn draai by die Oliewenhuis Kunsmuseum in Bloemfontein kom maak. ʼn Nuwe uitstalling deur Walter Meyer open dan, ʼn tien jaar retrospektief. Ek het in die situasie beland dat ek ʼn paar woorde moet sê by die geleentheid, so ek en Irma ry deur van Johannesburg af. Ek sien uit daarna om die werke in die oorspronklike formaat (nie as jpg’s nie) te sien – meestal landskappe, maar ook ʼn paar portretstudies en stillewes. Walter Meyer was jare gelede, in die tagtigs, verantwoordelik vir van die grafika en sketse in “Wurm”, ʼn ondergrondse literêre tydskrif. So hy’t sy deel vir die letterkunde ook gedoen.

Lees meer daaroor in Die Volksblad.

Die prent hier bo is ‘n foto van “Reitz, Free State”, 2003, deur Walter Meyer.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Nuwe uitstalling by Oliewenhuis”

  1. Marlise :

    Mooi rustige toneel…deurweek met skemerson. Dalk oggendson?
    Ken jy Pauline Gutter se werk? Ook ʼn meisie uit die Vrystaat, [Brandfort] wat my enorm beïndruk het met haar skilderwerk. Haar gebruik van tekstuur & kleur wat ʼn poëtiese aanslag verleen, het my verstom nadat ek onlangs ʼn uitstalling – Opslag – van haar gesien het. En ek lees op haar webwerf dat sy selfs ʼn besem sal inspan as ‘kwas’ om merke te maak op die heel groot doeke! Sy skilder hoofsaaklik plaastonele in die Vrystaat, en lewer ook ontstellende sosiale kommentaar met uitbeeldings van die platteland, boeremense, beeste, of plaasmoorde. Aangrypende uitbeelding van die geweldadige land waarin ons leef. Sy is jonk! Sowat 30 jaar oud. Ek wens ek kon iets van haar koop.
    Iets meer oor haar uitstalling Opslag wat ek raakgelees het: Pauline Gutter wil land, mens en bees peil deur hulle metafories te vervleg tot figure van mekaar, amper soos beelde wat onderling tussen drie spieëls gekaats word. Daar heers ’n oorlewingstryd in die gevaarlike wêreld wat die werke vir ons projekteer. Ons aanskou land, mens en dier in extremis, want hulle word voorgestel as sagte teikens en stemlose slagoffers.
    Die geweld word nie openlik uitbeeld nie, maar eerder in die skilderkunstige medium beliggaam. Van naderby beskou tree die verwikkelde en genuanseerde faktuur van die skilderye na vore as een van die besondere kenmerke van die visie wat die kunstenaar met ons deel. Die rou pigment is telkens verweef en verknoop tot grinterige teksture en gelaagde oppervlaktes.
    Ek kan helaas nie ‘n foto plaas van een van haar werke hier op die kommentaarblokkie nie, maar miskien kan jy?

  2. Andries Bezuidenhout :

    Marlise, ek het ‘n prent van een van Pauline Gutter se skilderye geplaas. Dit kom uit die Oliewenhuis se versameling. Daar hang ook van haar werke in Kimberley se kunsmuseum. As ek reg onthou, was van haar werk deel van Bernard Odendaal se onlangse projek oor beeldende kunste en die digkuns. Dit was by die Volksbladfees en ek kon dit ongelukkig nie besoek nie.
    A