Carina Stander. waterkind
Op Nuwejaarsdag vind ek uit dat daar ‘n druppeltjie mens in my is. Eergister die eerste sonar. 9 weke. 2,5cm lank. Armpies waai en beentjies skop. Kan die vingertjies tel. Ore, neus se punt, organe gevorm. Die stertjie weg. Reeds breingolwe, sê die dokter. Waterkind word in Augustus gebore - stiptelik 3 jaar na my eersteling.
Vandag presies 3 jaar gelede op 29 Januarie 2007 het ons Hawaii toe gevlieg. Ek, Gerrit, en die ongebore seuntjie in my buik. Gerrit moes vir 5 weke lank ‘n rekenaarprogram in Hawaii installeer en ek het reisartikels gaan skryf.
Hawaii is ander kant van die aarde, 28 uur se vlug vanaf Kaapstad. Ons het 3 van Hawaii se 6 eilande verken: O’hau, Kaua’i en Big Island. Hawaii is natuurlik die plek van Pearl Harbour, blomhemde, 5000 hibuskusspesies, branderplanke, huladanse, slapsnaarkitare. ‘n Wit papegaai swiep deur ‘n bamboesbos. Baniane kraak soos ou huise, die stamme toegerank (sien kiekie hier onder.) Die boomwortels is trappe. Naby ‘n waterval groei wilde rooi gemmer en pers orgideë. Op straat sien ek orgideë wat soos spinnekoppe en bye lyk.
O’hau se hoofstad, Honolulu, is ‘n warboel van Chinese tempels, Vietnamese bakkerye, Katolieke kerke, Victoriaanse herehuise, wolkekrabbers. Die tentdorpies is morsig - stukkende skopfietse en honde aan kettings. Kombi’s vol grafitti verkoop grillerige shrimp scampi.
Met die vlug na Big Island kan mens die vlambome vanuit die vliegtuig sien blom. Die plaasmark van hoofstad Hilo is ‘n vrugteslaai van migrante uit die Fillipyne, China, Japan en Viëtnam. Amandelbrood, sushi in seegras, stekelrige doerian, palmhart, kakaoboon, kokosneutroomys. Mens hoor skaars ‘n Engelse woord.
Op Big Island is die wêreld se aktiefste vulkane. 50 seismograwe meet die aktiwiteit. Ons slaan tent op in die vulkaanpark. Dit reën en bo die stomende kratervloer span ‘n reënboog. Surrealisties. Stap deur donker, druppende lavatonnels. In 1959 het krater Kilauea iki 36 dae lank ontplof. Dit het ‘n rivier van lava gevorm wat byna 40 jaar geneem het om te stol! Onder in dié krater styg stoom uit die krake van die aarde. Rooi vloei die lawe slegs 200m onder ons voete.
Vieruur die oggend durf ek en Gerrit ‘n lavavlakte met ons kopligte aan. In die donker kan ons die lawa van van ver sien vloei – af met die berg, in die see in. Dit stoom bo die branders. Die vulkaanklip waaroor ons loop lyk soos swart vlegsels - metaalgrys met koperkleurige spikkels. (Sien kiekie hier onder.) Die skeure is groot genoeg dat mens halflyf kan inval, maar ons foeter voort vir 14km. Later stormreën dit en ons kan die hittegolwe nie meer volg nie. Ek is so teleurgesteld, ek vreet sommer al die grondboontjies op. Wonder so ewe waarom die rots onder ons skoensole skielik warm word en verbrokkel, en wragtag: ons loop op lava wat besig is om te stol! Slegs ‘n armlengte onder ons vloei ‘n rivier van vuur deur ‘n skeur. Ons seuntjie se naam sal Aden wees, weet ons: Gallies vir “vuur”.
Kaua’i is die Tuineiland, die kaalvoetkind van Hawaii. Watervalle in berge en strande omring met kokospalms en woude. Vanuit ‘n lighuis van 1913 kyk ek deur ‘n teleskoop na boggelrugwalvisse, wildeganse, stormvoëls, albatrosse. Die branders hoog soos berge. Wie broei hier binne my?
Vir ‘n eiland van 53km X 40km, het hier al baie op Kaua’i gebeur. Elvis Presley se Blue Hawaii is hier verfilm, ook King Kong, Jurassic Park en Thorn Birds. In 1992 het ‘n sikloon die eiland met winde van 256km per uur verinneweer.
Ons stap verby fluitvormige kranse - die berge rug teen rug - en snorkel saam met die plaaslike langhaarkinders in ‘n rif. Die seesand lyk soos sout en peper: die wit van koraal, die swart van vulkaanklip. Selfs in die vlakwater wemel dit van seeskilpaaie. Gespikkelde boksvis. Bloupers papegaaivis knibbel aan die koraal. Uit die seegras loer visse met stekels aan die vinne of lang, bont slierte wat al agter hulle aan dryf. Oral, oral sien ek die kind wat onder my asemhaling swem.
in die bloeityd
in die bloeityd sien ek jou oral
onsigbare klein vrug
want dis die vlamboom se rooi blom
want dis jou ooplagmond
die orgideë in die hoogste mik
verander in oorskulpies
met nektartaai voete krioel jy
in die pers kies van ‘n lelie
selfs as fetus het jy reeds
die skugter vlegsels van baniaan -
‘n woudtempel met toegerankte skouers
maar meestal is al wat jy
in dié lewe gaan nodig kry
‘n hart
twee hande
en vuurvlieg-eiers vir ‘n brein
Uit: woud van nege en negentig vlerke, Tafelberg, 2009.
(Sommige feite en fotos in dié blog is gebruik in artikels vir De Kat en Lééf, 2007.)








