Bernard Odendaal. Kultuur vermensvuldig

Die afgelope Donderdagaand open Andries Bezuidenhout ’n Walter Meyer-uitstalling in Oliewenhuis in Bloemfontein. Op so ’n voortreflike wyse dat ’n mens voel daar val skille van die oë af waarmee jy netnoumaar na die skilderye gekyk het. En dat jy nou ’n blik op aspekte van die land en die wêreld kry wat jy nie voorheen gehad het nie.

So is ek herinner aan ’n insig wat ek agt jaar gelede in ’n praatjie, gelewer op ’n “kultuuraand” by ’n Bloemfonteinse skool, onder woorde probeer bring het. Die skool is bekend om sy openlik verklaarde Christelike inslag in beleidstelling en opvoedingspraktyk.

Ek gee die praatjie onaangepas weer, soos uit die verwysings na nuuswaardighede uit dié tyd sal blyk. Die nawerking van die proefskrif wat ek oor die digkuns van T.T. Cloete geskryf het, is ook merkbaar.

*****

’n Paar Saterdae gelede lees ek in Volksblad:

Die majesteit van die heftige ffoet-ffoet-ffoet-vlerkflappery kruis en dwars bo-oor my kop waar ’n stuk of veertig boskraaie speels tussen die kruine van ’n Transkeise galery-woud agter mekaar aan rondjaag, het vir my die kroon gespan op ’n sielsopkikkerende uitstappie.

“Galerywoud”… Wat ’n boeiende woord. Ken u dit?

Wel, ek het nie.

Ek slaan toe in die WAT na, waar net die ekwivalent, “galerybos”, opgeneem is:

Bos wat in tropiese lugstreke, waar ’n droë en nat jaargety mekaar afwissel, net in twee smal strepe aan weerskante van ’n rivier voorkom.

Soos skilderye weerskante van ’n galerygang, kry jy dus bos langs ’n rivierloop …

Maar ek lees verder in Volksblad:

Hier waar ’n enkele vis se onderwaterse oogknip amper hoorbaar oor die spieëlgladde oppervlak van ’n getymond uitkring, was my hele wese oorspoel met genoegdoening. Niks meer kon ek begeer nie.

Of só het ek gedink – totdat ’n kroonarendwyfie haar skielik van ’n tak afwerp en snel op ’n niksvermoedende blou-aap afpyl. En toe sy die teiken met haar ontsaglik kragtige kloue tref, ontplof die bosse om my in ’n kakofonie van alarmroepe – ape, neushoringvoëls, boskraaie, kakelaars, loeries, kwêkwêvoëltjies en sneeubal-laksmanne. Selfs ’n bosbok blaf diep die bos in van pure ontsteltenis.

My sitplek op ’n lekker wye kano – ek neem nie sommer my verkyker-goed op ’n wankelrige bootjie op die soutwater nie – was perfek geposisioneer om die skouspel gade te slaan.

Die genoeglike speelsheid van die boskraaie met hul agtelosige eetgewoontes en die wildevye wat soos vet reëndruppels grondwaarts plas, moes daardie arme aap se aandag net vir ’n sekonde of twee te lank afgetrek het.

Toe die kroonarend ’n rukkie later haar dooie prooi na ’n gerieflike sitplek dra, hang die aap se kop slap sywaarts en swaai sy lang stert ver ondertoe. Nes die uurwyser van ’n horlosie wat op agtuur gaan staan het.

Ek kom eers ’n ruk later regtig tot my sinne deur twee kieste vol wind deur my lippe na buite te forseer. Teen dié tyd klop my hart nog onbeteueld iewers baie na aan die steel van my tong.

Dit is toe dat ’n Knysnaloerie sy dieprooi vlerke vermakerig voor my verbyflans, asof om die kleur van bloed te bevestig.

En hier moet ek dié onderhoudende skryfstuk laat. Dis nie die werk van ’n literêre skrywer nie; wel van prof. Morné du Plessis, direkteur van die Percy FitzPatrick-instituut vir Ornitologie in Afrika aan die Universiteit van Kaapstad. Hy is een van die voëlkenners wat gereeld Saterdae in Bonus-Volksblad skryf in die rubriek “Voëlmaniere”.

Dié stuk het my met hunkering laat terugdink aan toe ek en ’n paar voetslaanvriende in Julie 1985 die Wildekus-roete van Port Alfred tot Port St Johns oor vyf dae aangepak het. Ons moes ’n paar keer oor riviere swem, of roeibootjies huur – selfs skaai! – om mondings oor te steek. Ek het toe pas ’n paar maande tevore ’n verkyker en voëlboek aangeskaf en tydens hierdie staptog ’n paar vir my nog onbekende spesies kon uitken: die kalkoentjie, byvoorbeeld; die Natal-lawaaimaker; die bergklipwagter; en die moeilik tussen die ander spesieverwante uitkenbare donker koester. Opvallend is dat ek in die meeste gevalle nogal baie goed die omgewing, die weersgesteldheid en tyd van die dag kan onthou as ek deur die voëlboek blaai en die aantekening sien oor waar en wanneer ek ’n bepaalde voëlsoort die eerste keer gesien het. Dis of die ontdekking van daardie nuwigheid àl mens se sintuie toespits, jou waarneming intensiveer, sodat dit in die geheue ingebrand word.

Ek het nie van daardie voetslaantog met die Wildekus langs dagboek gehou nie, en het dus nooit iets van daardie wêreld so treffend aangeteken soos prof. Du Plessis nie. Bowendien het ek nie oor die kennis beskik, en beskik steeds nie naastenby genoegsaam daaroor nie, om die volle verskeidenheid van wat waar te neem was raak te sien, raak te hoor, raak te ruik nie. En omdat ek dit nie kon raak waarneem nie, kon dit ook nie my gemoed so nuanse- en omvangryk beweeg nie.

Mense wat baie weet, en dus ’n begrip het van die geweldige verskeidenheid dinge wat ons omring – ook van die menslike onvermoë om selfs ’n naastenby afdoende hoeveelheid daarvan te peil – daarvan is ek oortuig, leef en beleef voller én fyner as hulle wat min weet, en dus minder om hulle kan eien, ervaar en verstaan. As jy deur meerdere kennis gewek is daartoe om onder die indruk te kom van hoeveel jy eintlik nié weet nie – dan is jy soos ’n mens wat een of ander sintuiglike gebrek het, pynlik bewus daarvan dat jy altyd iets moet mis, en dan alles waaroor jy wél beskik inspan om soveel as moontlik te registreer.

Soos die man wat blind word waaroor Peter Blum gedig het:

Daardie kontoer moet ek my diep inprent –

daardie beweging honderd keer repeteer –

daardie skakering volmaak memoriseer –

daardie gesig wat vaag is of onbekend

 

nou in my insuig, my hele los talent

op dié geheuetoertjie streng konsentreer

tot ek àls wat ek gesien het en geleer,

sonder sig vir my kan opsê – konsekwent

 

alles verinnerlik.

(Uit: Enklaves van die lig, 1958)

Om dan nou maar oor myself te praat, sodat ek kan kritiseer sonder om op tone te trap!

Ek is byvoorbeeld dankbaar dat ek vier tale goed kan lees en begryp. Dat ek Duits ken, maak dit vir my moontlik om ’n lied te volg soos die volgende, waarin ’n taamlike gedig van Ludwig Rellstab (die eerste twee strofes verskyn hier; letterlike vertaling deur my) deur Franz Schubert se toonsetting tot iets wonderskoons omskep word:

Ständchen

Leise flehen meine Lieder        

Durch die Nacht zu dir;

In den stillen Hain hernieder,

Liebchen, komm zu mir!

 

Flüsternd schlanke Wipfel rauschen

In des Mondes Licht,

Des Verräters feindlich Lauschen

Fürchte, Holde, nicht.

Serenade

Saggies smeek my liedere

deur die nag tot jou;

na die stille woud toe af,

liefling, kom na my!

 

Fluisterend ruis die slank boomtoppe

in die lig van die maan,

die verraaier se vyandige geluister

moet jy, lieflike, nie vrees nie.

Maar terselfdertyd besef ek pynlik: ek ken g’n Frans nie, of Spaans, of Russies, of Latyn, of Italiaans – noem maar op. As een van die Drie Groot Tenore ’n lied soos die volgende sing, kan ek maar net die skoonheid van die melodie volg, en vermoed ek net iets van die passie wat daarin verklank word – tensy ek ’n vertaling daarvan raakloop, wat dit minstens gedeeltelik toeganklik maak:

Lamento di Federico

E’ la solita storia del pastore …

Il povero ragazzo

voleva raccontarla, e s’addormi.        

C’è nel sonno l’oblio.

Come l’invidio!

Anch’io vorrei dormir così,

nel sonno almeno l’oblio trovar!

 La pace sol cercando io vò:

vorrei poter tutto scordar.

[…]

(Woorde: Marento; musiek: Francesco Cilea)

Federico se klag

Dis die gewone verhaal van die herder …

Die arme jongman wou dit sê,

maar het aan die slaap geval.

In slaap is daar vergetelheid.

Hoe beny ek hom!

As ek net slaap soos hierdie kon vind –

om minstens vergetelheid in my slaap te vind!

Ek wil slegs vrede vind:

as ek maar net alles kon vergeet.

[…]

(my Afrikaanse omsetting van ’n Engelse vertaling vanaf die CD Carreras Domingo Pavarotti in Concert, 7 July 1990, Rome)

Hoe het Karel die Vyfde (1519-1558) gesê?

Zoveel malen is men man

als men talen spreken kan.

Soortgelyke dinge sou ook gesê kon word van wetenskaplike dissiplines, van kunsuitinge. Hoe meer ’n mens te wete kom en begryp, hoe meer mens(e) word jy. Om ’n kontaminasie in te span: Jy vermensvuldig – tot daardie spesie wat die kroon van die skepping genoem word, “geskape na die beeld van God”.

Was dit dan nie wat een van die belangrikste opdragte  behels het aan die eerste mens, toe hy nog in die paradys in die teenwoordigheid van God kon verkeer nie?

Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip. (Genesis 1:28b)

En ook:

Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas […] Die Here God het toe uit grond al die wilde diere en al die voëls gevorm en na die mens toe gebring om vas te stel hoe hy elkeen sou noem; en wat die mens elke lewende wese sou noem, dit sou die naam wees. (Genesis 2:15a & 19)

Dit is die sogenaamde kultuuropdrag aan die mens: om te heers, te bewerk en op te pas (te bestendig). En ’n belangrike manier van heers en oppas is benoeming: kennis(-name; beheername deur kennis), uitgedruk in naamgewing – hoe tydelik en voorlopig (onbestendig!) dan ook in groter verband.

Daar is al heelwat geredekawel oor die begrip kultuur. Dit kom mý voor of dit wesenlik die volgende momente bevat, wat almal min of meer spesifiek onderskeidend is van die menslike spesie as “kroon van die skepping”:

·         Kennis – om name en uitdrukking aan die dinge en gebeure en hulle verskyningsvorme te gee (d.m.v. taal, skilderkuns, musiek, wiskundige en ander kodes).

·         Gevorderde, kreatiewe denke gebaseer op kennisakkumulasie.

·         Genieting, wat meer is as net liggaamlike genot – dit óók! – maar wat spruit uit verwonderde insae in die grootse samehang van die oorstelpende verskeidenheid van die verskynsels.

Twee voorbeelde ter illustrasie van laasgenoemde soort ervaring, in die vorm van twee korterige gedigte uit T.T. Cloete se reeks “Fyn vrugbare essensie”:

IV

 

ek lê op my rug

in die nag en kyk stadig

téén die rasende stralende reis van die lig

ín miljoene jare in die oerverlede terug

 

na waar die spiraal van die nautilus

en van die alikruikel, die pou

se stert en die rolvarkie toegevou

in sy eie sirkel galakties nagedoen is

 

V

 

snags as van die aarde af uit my oog rondom

in die hemel in stengels lig waaierend uitstrek

tot die sterre aan hulle punte toe sit ek

in die saadkern van ‘n onmeetlike disselblom[.]

(Uit: Jukstaposisie, 1982)

Die een lewe wat elkeen van ons het, en waarvan die meeste van ons boonop meer as ’n derde omslaap, is heeltemal te min, hééltemal te min, om so ’n omvattende kultuurtaak eerstehands uit te voer. Daarom dat die opteken- en vasleggingswerk van wetenskaplikes, filosowe, fotograwe, skrywers, kunsskilders, komponiste en derglike so waardevol is. Ook nie eens ’n behoorlike fraksie hiervan is ons in staat om binne die bestek van een lewe te (ont-)dek nie.

Behalwe die voordeel dat ek die navorsing en deurgrondende denke en verfynde aanvoelings van ander my eie kan maak deur te studeer, te lees, te kyk en te luister, kan ek ook my eie ervarings verryk en nuanseer deur te verneem van ander se belewenisse van soortgelyke dinge.

Tyd laat my toe om net ’n wyle stil te staan by laasgenoemde, noem dit maar “aanvullende”, waarde van kulturele verdieping.

Soos ek gesê het, is ek lief om voëls te kyk. Ons is gelukkig dat ons in Afrikaans waarlik ’n skat aan literatuur het oor ons land se fauna en flora. Ek vermoed min, indien enige, ander tale op die Afrika-kontinent het vergelykbare hoeveelhede gedigte oor diere en voëls.

Die uitheemse Indiese spreeu is ruimer bekend as die Indian mynah. Ek het al daar aan die Natalse kus verbaas gestaan en kyk hoe twee van dié vreeslose gediertetjies ’n veel groter inheemse geelbekwou in vlug só teister dat die wou die hasepad kies (as ek die beeldspraak so transspesiegewys mag toepas).

En oorstelp deur gevoelens van herkenning en ontdekking kry ek nou die dag weer die volgende gedig van Ina Rousseau oor dié oorlamse voëlspesie te lees:

Die plaag

 

Móét ek hulle nou duld,

die Indiese spreeus

          met hulle neste

van vuilis,

luisig op die dakrand?

          Hulle skreeu

soos skollies op mekaar,

          of twis

sissend;

          of anders,

klikkend soos masjinerie,

          kap en sny

hulle met hulle skerp

bekke die omringende

stilte

stukkend.

En verder gebruik hulle

 

lelike woorde

 

soos smyt en skrou

 

en oefen op die vroom

waaierstertduiwe

          ‘n duiwelse

invloed uit –

          Nou stryk

‘n paar van die nok af neer

en begin weer rond

te slenter oor die werf:

ongepoets,

          voorbarig,

                   bekkig,

hulle pote en hulle bakkies

gillend geel

soos die son,

          hulle rompe

soos ligniet vuilbruin:

die gomtorre van die tuin.

(Uit: Kwiksilwersirkel, 1978)

My ma was nie ’n voorslag van ’n naaldwerkster nie. Maar sy het vyf seuns grootgemaak en moes noodgedwonge dié presiese en geduld-eisende takie volvoer. My eie vrou is ewemin aangelê of lief vir naaldwerk. Maar ook sy maak seuns groot, en moet maar op ’n redelik gemiddelde inkomste sien dat ons almal net en heel gekleed gaan.

Eenkeer het ek in ’n gedig geskryf oor hoe dié nougesette naaldwerkery my aan die pas- en bindwerk van poësie herinner. Ek haal net ’n klein gedeelte uit die gedig aan:

langs jou singer-naaimasjien leer ek

stroke land en lug en lappies mens

puntenerig tot gedigte

stik –

hoor die dor wind buite huil

en jóú dan droogweg mate suig[.]

Ken ’n mens egter die kantwerk van die Vlaminge en Hollanders, leer jy ontsag en bewondering vir fyn naaldwerk aan. Die Hollandse skilder Jan Vermeer het talle onvergelykbare skilderye oor vroue gemaak wat alleen en rustig besig is met huiswerk, onder meer een van ’n kantwerkster.

T.T. Cloete het in sy 1989-bundel Driepas weer ’n onvergeetlike gedig oor die vroue van Vermeer geskryf, in wie se intieme huislike taak ’n bewussyn inskyn van die groter wêreld wat die Hollanders in die sestiende en sewentiende eeue op grond van hul toonaangewende skeepvaartkennis aan ’t verken en kolonialiseer was – uiteindelik ook ’n bewussyn van ’n klein lewe binne die genade van ’n Skepper van die ganse kosmos:

Vroue van Vermeer

 

Dit is meestal ’n mooi jong vrou.

Meestal is sy alleen binnenshuis,

dalk met ’n wit veraf brief wat sy vashou,

naby, in ’n gloeiende klein hand

voor ’n kleiner of groter oop

venster. Daar kom ’n ligte geruis

van ’n wêreld aan uit ’n land-

of groter wêreldkaart

wat teen die muurvlak oorkant

hang, daar waar seestrome en wind loop

met haar land se ganse skeepvaart.

Sy staan, sy sit, sy buk oor kant,

sy droom of sluimer

in lig wat in vlokkies of korrels brand

of dof kaats in die ruimer

ruimte van ’n skildery of spieël of in ’n wynhouer

ivoor maak, of sy speel klavesimbaal

of sy loer oor haar skouer

en dra ’n sonnende pêrel teen haar nek

se skadu. En altyd is daar lig wat áfstraal

ín in die liefs klein afgemete vertrek,

oorvloedig, uit die oop grote

universum en wat die klein aardse geslote

stilte in die onmeetlike laat asemhaal.

My klein gedig word in die lig van hierdie skilderye van Vermeer en van hierdie gedig deur Cloete nog onbenulliger, ek weet – maar tog ook vir my kosbaarder. Want ek het iets beleef wat veel groter kunstenaars as ek beleef het, en deurdat ek hulle werk ken, het daardie ervaring van my baie ryker geword.

Kultuur, in sy volle, wye betekenis, laai ons belewenisse en ons lewens met intensiteit en sin.

Natuurlik, ons lewe nie meer in die paradys met ons heerlike kultuurtaak nie. Ons moet met moeite en verdriet ons daaglikse brood verdien, kinders in die wêreld bring en versorg, en vir die armes, oues, siekes, verdruktes, agtergesteldes, ensovoorts, ensovoorts sorg. Want ook deur híérdie dinge is ons volledig mens.

Maar nou raak ons meestal so bedrywig in ons strewe om te dien en te verdien, in wat die antieke Romeine die vita activa genoem het, dat daar weinig tyd oorbly vir die vita meditativa, die betragtende, nadenkende lewe. Trouens, mense dink al te dikwels dat dit eintlik bietjie ’n mors van goeie tyd en ’n ontwyking van ons maatskaplik-ekonomiese verantwoordelikhede is om so te wil lees en studeer en jou te verwonder.

Byna iets soos Antjie Krog in ’n gedig (as ek korrek onthou, uit Kleur kom nooit alleen nie, 2000) geskryf het dat dit ietwat onbehoorlik is om soos sy, uit verlange na die Vrystaat, rose in die winderige Kaap te probeer kweek in haar agterplaas en na die einste mooie Il lamento di Federico te luister wat ek vroeër gespeel het – dít terwyl ons op ’n kontinent van nood en geweld leef.

Ék dink ons het veels te min van die vita meditativa in ons lewens. Te min verwondering.

Te veel besittings en sosiale ambisies wat ons lewens met die meegaande verantwoordelikhede oorspoel.

Te veel sport ook. Is dit die Engelse invloed wat ons so blindelings laat glo dat ’n gebalanseerde lewe uit ’n mengsel van werksverpligtinge en sport bestaan, miskien met so ’n dosis diensbaarheid in kerkverband? Onderwysers moet hulle in hulle vakke kan verdiep, klubs rondom hulle vakke op skool kan bemark en bedryf: ’n natuurleweklub deur die biologieonderwysers, ’n drama- en letterkundeklub deur die taalonderwysers, ’n kuns- en musiekklub deur die mense wat hierdie vakke gee, ensovoorts. In plaas daarvan om middae, naweke en selfs vakansies op of langs die sportveld of op die bus op pad na nog ’n toernooi te wees.

Hoeveel energie en middele stort ons nie in hierdie gejaag na wind nie! Kyk maar hoe die minister van sport nou weer om meer borgskappe vir sport wil beding – omdat dit glo soveel potensiaal het om nasionale eenheid te bevorder.

Ons moet eerder soos ’n Mark Shuttleworth ons vryetyd en beskikbare inkomstes spandeer daarop om hierdie aarde en alles wat daarin is en hierdie hemele en alles wat daarin is van naderby te betrag. Om te reis, te lees, die veld met verkykers en gidsboeke in te stap, ons tuisteleskopies op die trans te rig, stokperdjies te bedryf, teater toe te gaan. Verder te studeer. Die kuns van die oop en borende gesprek te beoefen.

Om ons te verwonder aan die verbluffende grootsheid van die skeppingsverskeidenheid, aan hoe dit is om mens te wees, en uiteindelik aan die Skepper van alles.

Dan, as ons naas ons liefdesdiens en sosiale mededoë ook ons kultuuropdrag vollediger uitvoer, sal ons myns insiens getrouer aan ons geskapenheid na God se beeld kan leef.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.