Gedigte onder die as uit
Dis die eerste keer dat ek ’n gedig só skryf. Of die gedig enigsins suksesvol is, twyfel ek, maar dis in elk geval ’n interessante eksperiment.
Soos maar selde gebeur, gaan ek nou die oggend sit en binne ’n uur het ’n gedig ditself aangemeld en op die papier lê gemaak. Toe ek deur die ander papiere op my knipbord blaai, kry ek sowaar ’n stukkie verwante skryfgoed wat ek ’n week of wat vroeër uit frustrasie geskryf het en onmiddellik van vergeet het. ’n Proses dus: gedagtes in gewone taal neergesit, toegedeksel en laat prut, en ’n week later, sonder om die pot weer te roer, prut ’n gedig uit. Die onbewuste se donkerkamer.
Die los gedagtes het só gelyk:
Soos met die as oor Pompeii en Herkulaneum, is my emosies toegeval en begrawe, onkant gevang soos minnaars in ’n omhelsing, ’n bedelaar op straat, ’n kind buite die deur van ’n kamer waar sy ma of oppasser vir ’n oomblik wegkyk. En alles is deur die warm lae van verwoesting omgebring. Nou het die as daarom versteen en wat binne was – alles wat organies was (mense, diere, brode, borde) – het verval tot stof, het wegverweer en net die holtes het oorgebly. Die holtes behou die vorm daarvan – van mense, diere, brode – maar dit is net lug. Wanneer mens diep genoeg grawe om daarby uit te kom, help die holtes niks. Iets moet jy daar ingiet – hulpeloosheid of redelikheid, waagmoed of geloof – soos gips, wat die vorms van die holtes vul en weer substans daaraan gee. Sodat dit identifiseerbaar is en bestudeer kan word, noukeurig en wetenskaplik. Uitgestal in ’n museum soos artefakte van ’n ou beskawing.
Die gedig lyk toe só:
veronderstelling, argeologie
as mens die koue leemtes wat wesenlikheid laat
die ruim leegtes waar wese was
opruim en afstof
soos holtes in Pompeii se versteende as
dit versigtig met ’n kwas
uitvee, voorberei en dan vul
met iets so gietbaar soos gips
iets lig wat instulp in gleuwe
wat fyn oor growwighede vloei
dit inwig in onopmerklikheid
lê dit die leemtes vol
kan jy die klip maar breek daarom
want binne lê die gietsel
van lyf, brood, bedelbak, brak
nét so
nét so soos toe dit lewend was
soos voor die vaal gordyn van as




