Narratiewe elemente in Danie Marais se debuutbundel

(Erkenning: Hierdie artikel het in Stilet XXI:2 – September 2009 verskyn en word geplaas met die vriendelike vergunning van die Eindredaksie.)

 

Narratiewe elemente in Danie Marais se debuutbundel in die buitenste ruimte (2006)

Abstract: Narrative elements in Danie Marais’ debut poetry volume in die buitenste ruimte (2006)

Deur:  Bernard Odendaal

Danie Marais’ 2006 poetry debut in die buitenste ruimte (in outer space) won him three literary prizes, but also coincided with a debate in Afrikaans literary circles about the merits, if not, of what has more than once been termed “praatpoësie” (talk-poetry). ‘Talk-poetry’ is typically freer of structure and more spontaneous and accessible in style than traditional ‘lyric poetry’. It is characterised by everyday speech-rhythms and often features narrative elements in a prominent way. Poetry with narrative elements, often of an autobiographical nature, seem to be of growing importance in, amongst others, the Afrikaans and Dutch literary systems of the past thirty years (i.e. in the postmodern period).

            Marais’ debut volume is taken as a case in point. Hühn’s reflections (2004) on the dimensions of sequentiality and mediacy in narratives, his definitions of scripts and frames as cognitive schemes, as well as Strydom’s distinctions (1976) between the cyclic and serial ordering of poems are employed to analyse the syntagmatic and the paradigmatic coherence of in die buitenste ruimte. It is concluded that Marais’ use of narrative elements does not result in ‘unpoetic’ poetry at all. In fact, the thematizing of the narrative aspects in this volume, the way in which the borders between poetry and prose are blurred, the ‘spontaneous’ and ‘artless’ use of everyday speech (but which is then disrupted and rhytmitised in marked poetic ways) – all serve to give poetic shape to a contemporary feeling of disruptedness.                        

 

1.         Oor “praatpoësie” en ‘n oplewing in narratiewe verskuns

 

Tydens Versindaba 2006 op Stellenbosch is nogal skerp oor tendense in die Afrikaanse poësie verskil. Dié verskille is spesifiek op die spits gedryf tydens gespreksessie B1 op Saterdagoggend 9 September van daardie indaba, toe die gespreksinleiers gevra is om hul mening te lug oor “Tendense in kontemporêre Afrikaanse digkuns vandag” (sic).

Na my wete is die gespreksbydraes van daardie sessie nie gepubliseer nie, maar ek onthou dat breedweg twee strominge onderskei is: ‘n meer tradisioneel liriese verskuns, waarin ‘verdigtende’ elemente soos hegte klankstrukturering, ritmiese gestileerdheid, beeldsamehang, stilistiese kompaktheid, betekenisimplikasie-vermenigvuldiging asook die uitbuiting van vormgewingskodes oorheers; en ‘n vryer, spontaner en toegankliker poësie, dikwels gekenmerk deur die benutting van spreekritmes en ‘n meer verhalende inslag.

Laasgenoemde tendens is deur een gespreksinleier (Phillip John) as “anti-poësie” bestempel. Ander deelnemers, waaronder een van die digdebutante van daardie jaar, Danie Marais, het gemeen dit verteenwoordig dalk ‘n vernuwende koers in die Afrikaanse digkuns.

By Versindaba 2007 het Lina Spies, in haar (wél gepubliseerde) Dana Mouton-gedenklesing getiteld “Wat is poësie?”, haar in geen onsekere terme nie geskaar by die opponente van die “praatpoësie” – laasgenoemde ‘n bestempeling wat al meermale aangaande die tweede van die hierbo geïdentifiseerde soorte verskuns gebruik is (onder andere deur Hambidge, 2006:5, en Hugo, 2006). Spies (2007:108) meen onder meer dat hierdie soort Afrikaanse poësie van die jongste tyd, waar dit volgens haar “‘n ongekende bloeityd [beleef] gesien al die literêre geleenthede waartydens digters in die kollig staan, hulle verse voorlees en geapploudisseer word”, alte veel “bly steek in die anekdotiese; [dit] word verhalend en prosaïes; wek die indruk van poësie te wees deur kunsmatig gevormde versreëls sonder ritmiese noodsaak”.

‘n Mens moet in gedagte hou dat die opvatting dat poësie wesenlik liries van aard is, eers sedert die 18de eeu, toe die Romantiese lewens- en kunsbeskouing sy invloed laat geld het, oorheersend geword het. Dit beteken dat dít die genre geword het wat as die tuiste gesien is van primêr ekspressiewe skryfwerk, dit wil sê werk waarin die digter se lewensgevoel, sy selfbeskouing en verhouding met die omringende werklikheid, tot literêre uitdrukking kon kom. Die domein van die epiese genre is terselfdertyd toenemend as die van die romankuns gesien. (Stolk, 2007:1122; Altena, 2007:1128 & 1131)

Uit daardie Romantiese siening van die verskuns het, via die digpraktyke en onderliggende poësiebeskouings van byvoorbeeld Baudelaire en Mallarmé, in die twintigste eeu ‘n outonomistiese – en oorwegend taalpragmatiese of retoriese – fokus op die “wêreld in woorde” van veral die enkelwerk voortgevloei. Hierdie ontwikkeling het waarskynlik verder bygedra tot die onderbeligting van die narratiewe samehange in enkelgedigte, gedigreekse en bundelgehele in die grootste deel van die twintigste-eeuse literatuurstudie (Altena, 2007:1129). In sy inleidende opstel tot De tweede gisting. Over de compositie van dichtbundels noem Ad Zuiderent (2001:12) byvoorbeeld dat selfs in van die mees resente Nederlandstalige poësie-analisehandleidings – hy noem Brems se De dichter is een koe (1991), De Feijter se Literatuur en context (1991), Bronzwaer se Lessen in lyriek (1993), Van Alphen se Op poëtische wijze (1996) en Van Boven en Dorleijn se Literair mechaniek (1999) – daar geen eksplisiete verrekening van die plek van die gedig in ‘n digbundel, of van die betekenis van die komposisie van die bundelgeheel, voorkom nie.

Laasgenoemde is minder waar van veral die Noord-Amerikaanse literêre tradisie, met name van die Verenigde State van Amerika, al is dit die bakermat van die close reading. Amerika het naamlik ‘n sterk stroming van narratiewe poësie in die twintigste eeu geken. Digtername soos Ezra Pound, William Carlos Williams, Charles Olson en talle ander is in hierdie verband te noem. (Altena, 2007:1131-1132)

Met narratiewe poësie word nie net na epiese gedigte verwys nie (soos, sê maar, na Homeros en Dante se beroemde werke, of hier by ons na N.P. Van Wyk Louw se Raka of D.J. Opperman se Joernaal van Jorik). Ook wat in die Anglo-Amerikaanse letterkundewêreld die “long poem” genoem word (soos, byvoorbeeld, die Karibiese Nobelpryswenner-digter Derek Walcott se Omeros, of die Kanadees Ann Carsons se Autobiography of Red), word bedoel; daarby “serial poems”, die moderne “poetic sequence” en enkelgedigte met ‘n anekdotiese inslag. (Stolk, 2007:1122 & 1127)

Die oplewing in die verhalende soort poësie, soos byvoorbeeld in onlangse tye in die Nederlandse sisteem bespeur word, kan in samehang gesien word met die postmodernistiese radikale relativering van die sogenaamde “Grote Vertellingen” (of Lyotardiaanse meesternarratiewe, wat eenduidige, totaliserende waarhede sou projekteer). ‘n Aangewesenheid op sogenaamde klein vertellings wat hoogstens voorlopige en streng indiwiduele regverdiginge bied, is hierdeur in die hand gewerk  (Vaessens & Joosten, 2003:86-87). Sulke klein vertellings, waar hulle neerslag in die poësie vind, vertoon daarom dikwels duidelike trekke van die outobiografiese.  

Stolk (2007:1129-1130 & 1137) wonder selfs of daar ‘n verband kan bestaan tussen die oplewing in narratiewe digwerk en die oorgang na wat hy, vertaald,  “‘n deelnemende internetkultuur” noem. Hy huiwer egter om verder te gaan as om, met analogieskeppende verwysing na ontwikkelinge in die sewentiende en agtiende eeue, net nog die volgende bespiegelende vraag in hierdie verband te stel: “Als er ooit een ‘moment’ was waarop de opkomst van de burger, het individualisme, de vrije pers en het copyright in de poëzie leidden tot een voorkeur voor lyriek, zou je dan nu kunnen stellen dat de paticipatiecultuur – die samenvalt met een crisis van het onderscheid tussen publiek en privé, van het copyright, en met een herdefinitie en herwaardering van ‘the common’ boven het ‘publieke’ – [dat dát] een voorkeur voor epische poëzie verklaart?”

Opvallend in onlangse tye is ook die aanwesigheid van artikels oor die poësie in boeke, tydskrifte en studies wat op verhaalteorie fokus. (Vergelyk, onder meer, Phelan, 1996, 2004a & 2004b; Pier, 2004; Dubrow, 2006; en die hele De Gids-nommer van November 2007.)

Die verskyning van ‘n bundel soos Danie Marais se in die buitenste ruimte (Tafelberg, 2006), die erudiete wyse waarop hy die benutting van die meer narratiewe “praatvers” daarin kontekstualiseer en motiveer (dikwels met verwysing na die Noord-Amerikaanse poësietradisie), en die herhaaldelike bekroning van hierdie debuutwerk van hom sedertdien (die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Eugène Marais-prys, die Skrywersgilde se Ingrid Jonker-prys en die Universiteit van Johannesburg se prys vir debuutwerk) is straks aanduidings dat hierdie soort verskuns ‘n impak op ook die Afrikaanse poësie aan die maak is.

In die lig van bostaande is die outeur van hierdie artikel en dr. Odile Heynders van die Tilburgse Universiteit in Nederland deur prof Heilna du Plooy van die Noordwes Universiteit genooi om mee te werk aan ‘n navorsingsprojek met as titel: “Vers en verhaal. ‘n Ondersoek na die verskyningsvorme en funksies van narratiewe strukture en tegnieke in die poësie”. Die onderhawige artikel verteenwoordig ‘n bydrae in hierdie verband, naamlik as een verkennende gevallestudie tussen ander, wat hopelik uiteindelik tot ‘n oorsigtelike beskrywing en funksionele teoretisering van die verskynsel in Afrikaans en Nederlands sal bydra.

Eers sal die nuutheid, al dan nie, van die narratiewe soort vers in Afrikaans kortliks in die kollig geplaas word, voordat in meer besonderhede ingegaan word op die vorme van narratiwiteit wat in in die buitenste ruimte benut word, asook op die koherensieskeppende funksies wat dit in die betrokke bundel het.

 

2.         Enkele opmerkings oor die literêre konteks van Danie Marais se debuut

 

Word Afrikaanse digkuns uit die laaste drie dekades wat narratiewe elemente bevat, maar nie streng epies van aard is nie, onder die loep geneem, is dit duidelik dat Danie Marais se bundel nie in braakland opgeskiet het nie.

Van Vuuren (1999:249) se gewagmaking van “‘n opvallende outobiografiese inslag” in die Afrikaanse digkuns “vanaf eind sewentigerjare” (sic) – volgens haar naamlik “as teenreaksie op Van Wyk Louw se byna krampagtige wering uit die teks van die ‘mens agter die boek'” – kan myns insiens as (deels) tekenend van die sterk aanwesigheid van die narratiewe element in die liriek in die genoemde tydperk gesien word. Dis tekenend hiervan as die outobiografiese inslag gesien word in die lig van wat hiervoor gesê is oor die aard van die “klein vertellings” waarvoor ‘n voorkeur in ‘n postmodernistiese konteks bestaan.

In ‘n vorige studie (Odendaal, 2006:128-129) kon ek aandui dat byna elke Afrikaanse digbundel wat tussen 1998 en 2003 verskyn het, in ‘n mindere of meerdere mate outobiografiese gegewens bevat het, al word die outobiografiese dikwels aangebied in vervlegting met of verhul deur meer ‘objektief’-beskrywende, -beeldende of -portretterende verse. Daar is aangetoon dat – hoewel die poësie sedert die Romantiek as liriese genre uitstaan, en derhalwe gewoonlik sterker deur ‘n persoonlike belydeniselement gekenmerk word as die ander literêre genres – dié outobiografiese tendens tog ook in samehang gesien moet word met byvoorbeeld die opbloei in die publikasie van egodokumente en werke toegespits op die private ache op die Afrikaanse prosaterrein sedert 1990. Ook is genoem dat dit alles in die lig staan van ‘n identiteitsvraagstuk wat deur die Suid-Afrikaanse sosiopolitieke omwentelinge en deur die globaliseringstendens van die afgelope dekades in onder meer Afrikanergeledere geïntensiveer is.

Grové (2001:9), in ‘n resensie van Barend J. Toerien se bundel Die huisapteek, dui spesifiek aan dat ‘n verhalende element een van die belangrikste wyses is waarop die “persoonlike aanslag” van die outobiografiese geobjektiveer of bo-persoonlik gemaak word.

Van Vuuren (1999:282-286) sonder D.J. Opperman se Komas uit ‘n bamboesstok (1979) en Breyten Breytenbach se Soos die so (1990) in hierdie verband uit. ‘n Mens sou, as voorbeelde van liriese Afrikaanse digbundels van die afgelope dertig jaar met ‘n duidelike narratiewe of verhalende element, ook nog Antjie Krog se Jerusalemgangers (1985 – veral die “Die Jerusalemgangers”-reeks oor die Enslin-trek), Lady Anne (1989) en Kleur kom nooit alleen nie (2000) kon uitlig. Daarby P.J. Bosman se Ryp geel kring (1992); Gert Vlok Nel se Om te lewe is onnatuurlik. Eenvoudige spoorwegstories  (1993); Louis Esterhuizen se Die onderwaterweg. ‘n Versroman (1996), Opslagsomer (2001), Liefland (2004) en Sloper (2007); Anlen Marais se muur van berge (1999); H.J. Pieterse se Die burg van hertog Bloubaard (2000); Ronel Nel se [en die here het foto’s geneem oor vanderbijlpark] (2002); Marius Crous se Brief uit die kolonies (2003); Heilna du Plooy se in die landskap ingelyf (2003); Charl-Pierre Naudé se In die geheim van die dag (2004); Dolf van Niekerk se Nag op ‘n kaal plein (2006); Carina Stander se Die vloedbos sal weer vlieg (2006); en Bernard Odendaal se Onbedoelde land (2007a).

Behalwe uit bogenoemde tendens in die Afrikaanse poësie, kon Danie Marais, soos genoem, uit veral die Noord-Amerikaanse digtradisie put, waar narratiwiteit en outobiografie ‘n sterk stroming in die twintigste eeu gevorm het. Hy is ook geïnspireer deur die dikwels narratiewe werk in aldagtaaltrant van Duitse digters soos Rolf Dieter Brinkman en Bertolt Brecht. In onderhoude beklemtoon hy voorts hoe hy die gepaste toon en vorm vir sy verskuns ontdek het in die werk van Raymond Carver en Czeslaw Milozs, terwyl sy bewondering vir rock– en country blues-musikante soos Bob Dylan, Leonard Cohen, Tom Waits, Nick Cave, P.J. Harvey en Johnny Cash ook hierin meegespeel het. (Hugo, 2007.; Van der Merwe, 2007; Hambidge, 2006:5; Nel, 2006:8)

 

3.         Die dimensie van opeenvolgendheid (die storiedimensie) in in die buitenste ruimte

 

‘n Verhaal veronderstel basies ‘n minimum aan ‘n storie en ‘n verteller wat daardie storie of storiebrokke vertel. Hühn (2004:139), wanneer hy dit oor die verhalende element in liriek het, praat in hierdie verband van ‘n dimensie van die sekwensialiteit of opeenvolgendheid van gegewens en gebeure, en van ‘n dimensie van bemiddeldheid (“mediacy”) van daardie gegewens en gebeure. In hierdie afdeling neem ek eersgenoemde dimensie, soos gemanifesteer in Marais se bundel, onder die loep.

 

3.1       Die sintagmatiese samehang van ‘n liefdesgeskiedenis in in die buitenste ruimte

 

‘n Sintagmatiese samehang word deur die opeenvolgendheidsdimensie tot stand gebring. In in die buitenste ruimte word, in die eerste plek, die storie vertel van ‘n liefdes- en huweliksverhouding wat in Suid-Afrika begin het en na nege jaar se verblyf in Duitsland op die rotse geloop het, voordat die “ek”-spreker na Suid-Afrika terugkeer. Dis nie ‘n geheim dat hierdie gegewe ooreenstem met gebeure in die digter se eie lewe nie, met ander woorde dat die “storie” wat vertel word, naastenby outobiografies van aard is.

Die gebeure word glad nie streng chronologies aangebied nie. Die bundel begin waar die ontnugterde subjek reeds met ‘n “pap hart” sit en verlang na sy geboorteland (“‘n Pass op ‘n pap hart”), en waar die haperende verhouding tussen twee homoseksuele vriende duidelik ‘n spieëlbeeld vorm van die subjek se eie verbrokkelende huwelik (“Up so close”). Eers in die agtiende gedig in die bundel (“Onder ‘n somermaan”) word die eerste keer vertel van die aanvange van die verhouding tussen die “ek” en sy Duitse vrou, jare gelede toe hy nog ‘n skaars mondige student op Stellenbosch was. In die tweede laaste gedig van die bundel (“As ek deur geslote ooglede onthou”), as die egskeiding al plaasgevind het en die spreker terug in Suid-Afrika is, hoor ons via ‘n herinneringsterugblik weer van hierdie begindae in hulle verhouding.

Maar: voor die middel van die bundel, in die 25ste gedig (“In die donker kamer”), verneem die leser al van ‘n volgende geliefde van die spreker, van “die slapende lyf van die vrou / met wie ek nou my lewe deel”.

Allerlei ander herinneringsterugblikke – in verband met die spreker se jeugjare in Suid-Afrika, sy familielewe en vroeër ontluikende seksualiteit, asook in verband met reise na ander wêrelddele gedurende sy verblyf in Duitsland – word voorts verspreid in die bundel verwoord.

Hoewel dus kennelik in brokke en stukke, en met spronge heen-en-weer in die tyd, is die basiese sintagmaties koherensieskeppende faktor in die bundel tog die vertelling van die toenemende verwydering wat tussen die huwelikspaar intree, totdat hulle uiteindelik onhoudbaar “eensaam saam” is en van mekaar skei.

 

3.2       ‘n (Betreklik) sikliese opbouprinsipe; tog ook met serie-kenmerke

 

Strydom (1976:13-16), in sy gepubliseerde proefskrif Oor die eenheid in die digbundel, sou hierdie opbouprinsipe as betreklik siklies van aard bestempel, synde gerig op “die ontwikkeling van ‘n tema in [relatief] kontinue tyd en ruimte sodat die gedigte onderling in volgorde onverwisselbaar is”, al kom daar oop plekke tussen hulle voor. (Hy gebruik hiervoor die term “woordleegtes”.) Die sikliese prinsipe word juis deur Strydom as geskik vir die daarstel van ‘n verhaal beskou.

Talle temporele aanduidings in in die buitenste ruimte versterk die indruk van ‘n hoofsaaklik sikliese verloop. Dae van die week word genoem (met beklemtoning van die subjek se neerslagtigheid op Sondae); seisoenale verwysings kom voor (met beklemtoning van die deprimerende donker, nat winters in Noord-Duitsland). En talle ander tyd- of tydsverloopaanduidings duik op, meermale in gedigtitels – vergelyk: “Na die vakansie”, “Na byna vyf jaar in Duitsland”, “Lank na die begin”, “In die Oujaarsnag”, “Winter, weer” en “Barcelona – 2 en ‘n ½ jaar later”.

Ook op ander wyses word die sikliese gebeure-aanbod aangedui. Die “Ek en Jy” bereik byvoorbeeld uiteindelik “die gatkant van ons koppige liefde” (“Middagslapie”) wanneer die spreker sy lewe met ‘n volgende liefde begin deel. En die ongelukkige huwelikservaring in die vreemde – wat wesenlik metonimies funksioneer van ‘n ontheemdingsbelewenis, soos ek later sal aandui – word eers behoorlik verwerk wanneer die subjek teruggekeer het na sy geboorteland; met name wanneer hy, soos uitgebeeld in die slotgedig van die bundel, tydens die bywoning van ‘n kursus in Duitsland drie jaar later tot die besef kom dat Afrika, spesifiek Suid-Afrika, sy eintlike heimat is – dat dit dáárdie land is, en alles wat daarmee geassosieer word (byvoorbeeld “moeder, taal en verlies”), wat brandend in sy gemoed leef.

Die wesenlike rede vir die huweliksverbrokkeling is egter in die eerste plek die twee geliefdes se indiwiduele selfgerigtheid, hulle geslotenheid vir mekaar. Nie verniet nie word daar in ‘n hele paar gedigte na ‘n “ek en jy” eerder as na ‘n inklusiewe “ons” verwys – soms bykomend nadruklik gemaak deur die “Ek” en “Jy” met hoofletters te skryf (soos in “In die Oujaarsnag”, “Winter, weer”, “Aan ‘n seegroen kombuistafeltjie êrens”).

Ek verskaf slegs twee aanhalings uit die bundel ter stawing van die siening aangaande die paar se onversoenbaarheid met mekaar:

 

  • In die gedig “Middagslapie” verwyt die “jy” die “ek” dat sy, wat om “hulp en raad” by hom “bedel”, te staan kom voor al sy “negatiewe energie / [sy] permanente desperaatheid”. En dan, in ‘n dubbelsinnige beskrywing wat sowel uitmergelende gewoontebakleiery as radelose seksuele omgang suggereer, spring

[…] ek en jy

en jy en ek

oudergewoonte aan mekaar

soos taxi’s en trems

soos taxi’s en trems

hulle nat kom-en-gaan-klanke

heen en weer en op en af sleep

in ‘n reëndag

reëndag[.] 

 

  • In die terugskouende tweede laaste gedig van die bundel, “As ek deur geslote ooglede onthou”, vertel die subjek onder meer hoe hulle as egpaar by ‘n huweliksberader gaan hulp soek het:

maar ons was reeds ver anderkant woorde

vasgekeer in ‘n woonstel

saam.

            Ook gaan hy voort om “jy en jou intimiderende selfgenoegsaamheid” wat “soos die Starship Enterprise / outonoom / deur tyd en ruimte suis” uit te wys – iets wat hom, as haar eggenoot,  “altyd / sentimenteel, behoeftig en alleen” laat voel het.

 

In die loop van die bundel lees ‘n mens telkens raak hoe die egpaar eintlik in isolasie van mekaar verkeer, byvoorbeeld in verskillende vertrekke in dieselfde huis in Bremen; of sy bínne die huis en hy búite, op die balkon. Of hoe sy slaap terwyl hy alleen en bedremmeld wakker sit; hoe sy bel om hom te laat weet dat sy uitslaap en nie huis toe kom nie, omdat daar ‘n “deadline” by die werk is om te haal…

            Hierdie “saam eensaam” wees van hulle (‘n woordspel wat aan dié van J.C. Steyn in die titelgedig van sy 1975-bundel Die grammatika van liefhê herinner) skakel natuurlik met Marais se bundeltitel, in die buitenste ruimte. Op letterlike vlak word die “buitenste ruimte”-seem versterk met ‘n hele paar verwysings na die hemelruim en na hemelliggame soos die maan, asook na die wetenskapsfiksiefilmreekse Star Wars en Star Trek.

            Maar dan word die “buitenste ruimte”-gegewe ook op verdere semantiese vlakke uitgebou, naamlik deur middel van ‘n aantal verbandhoudende isotopieë.

  • Eerstens met ‘n isotopie wat verband hou met die selftwyfel en neerslagtigheid waaraan die subjek so dikwels onderworpe is, sodat hy soms net nog na die “buitelyne van ‘n leemte” voel (“Soms ontmoet jy iemand”), of voel dat hy “hang soos Luke Skywalker / aan die einde van The Empire Strikes Back oor die niks”. Sodanig is sy amperse chroniese neerslagtigheid dat sy vrou hom in ‘n stadium uitkryt dat hy “neuroties en ipekonders (sic) en patologies pateties is” (“Aan ‘n seegroen kombuistafeltjie êrens”).
  • ‘n Tweede isotopie in hierdie verband het te doen met die uitgewekenheid van talle Suid-Afrikaners in ons tyd (die sogenaamde expat-problematiek – vergelyk Hugo, 2006) en met, verwant hieraan, die algemene gevoel van vervreemding, ontheemding en vaderlandsnostalgie wat veral Afrikaners tans teister (soos, onder talle meer, uitgewys deur Jaap Steyn, 2009:10). In talle gedigte, waaronder “Skielik narerig”, “Die nag vol woorde”, “In my ma’le se tuin”, “Groot”, “Gebed in ‘n Boeing”, “Na die vakansie”, “‘n Hart breek soos die see”, “Aan ‘n seegroen kombuistafeltjie êrens” en “Bundesstraße 51” word uiting hieraan gegee.
  • ‘n Derde vlak waartoe die “buitenste ruimte”-motief uitgebou word, betref die (soms net geïmpliseerde) verwyderdheid én afhanklikheid wat die spreker (en ander expats met wie hy in aanraking bly) voel jeens die tale waarmee hy grootgeword het – veral jeens sy moedertaal, Afrikaans, wat as bedreigd gesien word deur hom en wat hy skrynend mis in die vreemde. Vergelyk gedigte soos “‘n Pass op ‘n pap hart”, “Van waar ek vannag balanseer”, “In Duitsland waar die wolke in gelid marsjeer”, “Hawad, der einzige dichtende Tuareg” en “Ouma is dood?”.
  • ‘n Vierde isotopiese uitbouing in hierdie verband betref die vervreemding en vasgekeerdheid wat die subjek ervaar in die Europese, eerstewêreldse omgewing waarin hy hom tydens sy huwelik bevind, met name in Duitsland. Laasgenoemde word, luidens die tekening daarvan in die bundel, kultureel gekenmerk deur strenge gereglementeerdheid en onontkombare kunsmatigheid, asook deur ‘n ironieserwys byna verpligte soort indiwidualismekultus. “Wes-Europa,” skryf Marais in die slotgedig van die bundel, is “helaas [..] die ryk van die enkeling, / die nadoodse ondersoek van die humanisme, / ‘n verloopte piromaan se droom.” ‘n Paar keer in die bundel word dié omgewing à la T.S. Eliot en D.J. Opperman geskilder as ‘n “grysland”, tipies met betrokke en winterse weersomstandighede. Dusdanige ‘onherbergsaamheid’ van Europa word gekontrasteer met wat, in gedigte soos “Aan ‘n seegroen kombuistafeltjie êrens” en “Die vlamdans van herinnering”, die “verterende skoonheid en hopeloosheid” van Afrika en Suid-Afrika genoem word – of, op dubbelsinnige wyse, “die onthoude uitspansel / van moeder, taal en verlies”.
  • Laastens word die “buitenste ruimte”-gegewe verbind met die subjek se vicarious ­(dit wil sê “plaasvervangend[e], middellik[e], tweedehands[e]”) lewe in en via tekste, daar waar hy hom as ontheemde in Europa bevind – ‘n leefwyse waarvan sy vrou hom in die gedig “In die donkerkamer” beskuldig. In ‘n ander gedig, “Aan ‘n seegroen kombuistafeltjie êrens”, dring sy wanhopig by hom aan dat hy

[…] moet ophou ophou ophou

met [sy] ewige

sweeping statements en grand gestures

dat [hy], o, “Herr Gott weiß” moet ophou

om vir [haar] goedjies te fokken quote.

            Uit die praktyk van sy bundel blyk egter dat Marais nie gehoor gee aan hierdie pleidooi van sy gewese vrou nie. [I]n die buitenste ruimte is naamlik deurspek van aanhalings en intertekstuele toespelings. Selfs wanneer hy in die slotgedig sy finale afskeid van die ‘Duitse episode’ in sy lewe (en derhalwe sy keuse vír Suid-Afrika en Afrikaans) verwoord, doen hy dit by wyse van beeldmatige, meestal gepersonifieerde voorstellings van woordwaardes. Hy skryf byvoorbeeld oor Duitsland:

                        Hier brand ‘n gedig soos ‘n olietenkskip

                        so groot soos ‘n nag

                        kontinent

                        vir my alleen.

 

                        Hier is die woord “ma”

                        ‘n wolkekrabber

                        in ligte laaie;

 

                        die woord “pa” ‘n brandstapel

                        vir name en plekke

                        wat dreig om my te vergeet.

 

                        Hier leer die woord “ek”

                        die vlamdans van herinnering,

                        van was,

                        tussen mense

 

                        van as.

                                    (“Die vlamdans van herinnering”)

 

Op hierdie wyse dra die isotopiese uitbouing van die tematiese lae in die bundel by om die “retarderende” of “opdammingseffek” via herhalings-met-variasies te bewerkstellig wat Strydom (1976:17) met die serie-aspek van bundelstrukturering verbind. Volgens hom dra sodanige serie-aspek by om die innerlike onnoodwendigheid van sikliese strukturering te oorstyg, en om die “immanente” koppeling van en die “onderling funksionele relasies en patrone” van heg gestruktureerde gediggroepe, soos in bundelverband, te bevorder. Of om terme te benut wat nog vroeër deur Raidt (1962:6-8) gebruik is: die hoofsaaklik “lineêre” samehangendheid in epiese verband word innerlik versterk deur “konsentriese” uitbouing, in hierdie geval deur die herhaling van verbandhoudende temata en motiewe.

 

3.3       ‘n Leitmotiv van ontheemding, met die huwelik, transformasie in Suid-Afrika, globalisering en ‘n persoonlike identiteitskrisis as interpretasierame

 

Uit die aangetoonde tematiese gelaagdheid word dit ook duidelik dat die verbrokkelende liefdes- en huweliksverhouding nie die leitmotiv of bindende tema van die bundel vorm nie, maar eerder iets soos vervreemding of, beter nog, ontheemding. Die bundeltitel, soos dit ‘n funksionele bundeltitel betaam, wys al opvallend hierop. En Marais het self in onderhoude hiervan gewag gemaak (Marais, 2007).

Die relaas oor die verbrokkelende en eensaamheidskeppende huweliksverhouding vorm dus net een van die sogenaamde rame waarbinne die gedigte gelees moet word. Hühn (2004:143) skryf die raam as kognitiewe skema “designate the thematic or situational contexts or frames of reference within which poems are to be read”. Naas die huweliksverhoudingsraam, moet die gedigte in in die buitenste ruimte dus ook verstaan word binne die raamwerke van die transformasie in Suid-Afrika sedert veral 1994 (waardeur byvoorbeeld Afrikaners gemarginaliseer voel, en talle Suid-Afrikaners as uitgewekenes elders gaan leef) en van die globaliseringsverskynsel. Laaste, maar nie die minste nie, moet die raamwerk van die subjek se identiteitskrisis en -vasstelling genoem word.   

 

3.4       Die vreemde in en terug – die soektog na die self as intrigeskema in in die buitenste ruimte

 

Hühn (2004:143) identifiseer ook ‘n tweede kognitiewe skema wat koherensie en betekenisvolheid van narratiewe opeenvolgendheid en intrigevorming kan onderlê, naamlik wat hy noem: “scripts”.

Miskien sou ‘n mens in Afrikaans van skripte kan praat – of liewer nog van basiese intrigeskemas, want in die woorde van Hühn verwys dit na “sequence patterns, i.e. natural processes or developments, conventional series of actions, or stereotyped procedures, usually in close connection with the relevant frame”. Hy onderskei intrigeskemas soos sterfte (naamlik as ‘n oorsteking van die grens tussen die hiermaalse wêreld en ‘n ander, onbekende wêreld), persoonlike groei (as die ontwikkeling van kindwees na volwassenheid – wat óf positief óf negatief gesien kan word, dit wil sê onderskeidelik as gepaardgaande met die verwerwing van gerypte kennis of met die verlies aan spontane vitaliteit) en die geformaliseerde ritueel van die hoofse liefde (wat die bevrediging van die minnaar se begeertes verhinder).

Waar die raam as kognitiewe skema betekenisvorming en -integrasie in statiese verband aandui, sinjaleer die intrigeskema ‘n dinamiese proses.

‘n Mens sou die reis die vreemde in omwille die eie identiteitsvasstelling of -bevestiging, en die terugkeer ná pynlike loutering na die heimat, as die onderliggende intrigeskema van in die buitenste ruimte kan sien. In ‘n onderhoud met Marius Crous (2007:14) het Marais self iets in dier voege verklaar: “Toe ek Duitsland toe is, was ek vasbeslote om ‘n nuwe identiteit vir myself te skep. Maar op ‘n emosionele vlak het Duitsland vir my meer na die buitenste ruimte gevoel. Vryheid en anonimiteit laat ‘n mens dikwels voel asof jy gewigloos is en vryval[.]” Dit gaan dus om ‘n intrige wat ietwat op die patroon van die Bybelse verhaal van die “verlore seun” verloop.

 

4.         Die dimensie van bemiddeldheid (die verteldimensie) in in die buitenste      ruimte

 

Sover dit die vertel-dimensie in Marais se bundel aangaan – die bemiddeldheidsaspek daarvan (soos Hühn dit bestempel – slegs enkele opmerkings.

Soos dikwels kenmerkend van poësie in die Romantiese en modernistiese tradisies (Hühn, 2004:149) is daar ‘n sterk kongruensie van spreker en protagonis (van die verteller- en karakterdiskoerse) in in die buitenste ruimte. Voorts aansluitend by hierdie tradisies is daar ‘n grootlikse saamval van stem en fokalisasie, naamlik deur die gebruik van die teenwoordige tyd en die eerstepersoonsvertelling. Die handeling van artikulasie word gedramatiseer om die indruk van onmiddellikheid, spontaneïteit en derhalwe outentiekheid te wek. So iets kontrasteer met die verwikkelde stem- en fokaliseringsaanbod wat in Krog-bundels soos Lady Anne en Kleur kom nooit alleen nie, of in byvoorbeeld Louis Esterhuizen se Die onderwaterweg aangetref word.

Die beskuldiging wat die Duitse eggenote aan die “ek” rig dat hy ‘n vicarious lewe lei, en dat hy voortdurend skuilgaan agter quotes, laat egter blyk dat die bemiddeldheidsdimensie in hierdie bundel nie onproblematiserend gehanteer word nie. Die bemiddeldheid word trouens getematiseer, soos ek voorheen aangetoon het. Die implikasie is ongeveer dat die subjek, daar waar hy weg van sy geboorteland en moedertaal ‘n liefdesverhouding heel probeer hou, waar hy ‘n nuwe lewe probeer lei, as ‘t ware op taal en literatuur en ander teksvorme (films, televisieprogramme, liedjies) aangewese is om sy ontheemdheid te probeer oorbrug – maar daardeur ironieserwys juis die bemiddeldheid of nie-onmiddellikheid van sy bestaan kontinueer. In die gedig “Saturday night alive” (waar die titel reeds weer slaan op ‘n ander teks as die subjek se eie lewe, naamlik op ‘n bekende Amerikaanse TV-vermaaklikheidsprogram) satiriseer die “ek” sy bemiddelde, “tweedehands[e]”, derhalwe eintlik clichématige lewenswyse. Dié clichématige kenmerk van sy lewe word verikoniseer deur, naas die benutting van aanhalings en ander intertekstuele toespelings, die opstapeling van opvallende, ellelange samestellings met koppeltekens. Vergelyk die volgende strofes uit dié gedig:

            Ek doen die inval-by-die-flat-

            storm-die-yskas-nommer.

            Ek doen die Judy-Garland-op-die-vensterbank-

            met-Amaretto-en-melk-

            “somewhere-over-the-rainbow”-

            wat-die-dokter-my-verbied-het-program.

 

            […]

 

            Maar ek doen veiligheidshalwe ook die selfkritiese-

            1-2-3-blok-myself-

            is-die-gedig-noodsaaklik?-

            prosedure.

            Ek doen die skud-en-skop-die-ou-moedertaal-

            soos-‘n-defekte-Coke-outomaat-in-‘n-uitgestorwe-Bahnhof-

            op-‘n-klein-Duitse-spookdorpie-lank-na-middernag-roetine.

 

Hühn (2004:153) toon aan dat die – wat hy noem – “materiality” en die formele struktuur van digtekste (klank, ritme, prosodie, sintaksis, tipografie, ensovoorts) benut kan word vir bykomende modellering van narratiewe sekwensies, waardeur die semantiese intrige-ontwikkeling onderskraag, gewysig of teengewerk kan word. In sulke gevalle, skryf hy, funksioneer die formele kenmerke spesifiek as paradigmatiese relasies of ekwivalensies (bykomend tot die seme en isotopieë).

Reeds op tipografiese vlak lyk dit of Marais die tradisionele sienings oor die onderskeide tussen prosa en poësie ‘n bietjie wil uitdaag. Daniel Hugo (2006) skryf in sy LitNet-resensie dat in die buitenste ruimte, op “buitegewone” wyse, “[i]n ‘n era van kort liriese uitbarstings […] grotendeels uit langerige tot heel lang praatverse” bestaan. ‘n Mens sou selfs kon sê dat die gedigte in ‘n sekere sin kortverhaalagtig aandoen.

Opvallend is voorts dat die gedigte nie in afdelings ingedeel is nie, wat ‘n aanduiding is dat die sekwensialiteit (om die woord van Hühn weer te gebruik) deurlopend is.

Die anekdotiese, verhalende element in die gedigte gaan gepaard met ‘n opvallende voorkeur vir aldagtaal in langer, dikwels voortstromende sinne, meestal met redelik konvensionele leestekengebruik. Stukke dialoog, ook in Duits, direk aangehaal of gerapporteer, asook sitate uit boeke, liedere, films en TV-vertonings, vind gemaklik hulle plek in die gedigtekste. Die digter is ook nie bang om Engelse woordeskat, anglisismes en bepaalde ongrammatikaliteite (matig) te benut om die indruk van speektaligheid te versterk nie.

Marais (kyk Nel, 2006:8) verklaar self dat hy “met die toon van die vertellerstem […] probeer om gestalte te gee aan ‘n gebroke, eietydse lewensgevoel en het sodoende outomaties nader aan die ritme van die spreektaal beweeg”. Hy was “op soek na ‘n soepel kruising tussen die ‘hoë’ kultuur van die literatuur en die ‘lae’ kultuur van pop, rock en comics” – ‘n toon wat “spontaan en ongekunsteld klink”.

Die omslagontwerp, deur Karlien de Villiers, die digter se tweede vrou, pas syns insiens by die inhoud en styl van die bundel. “Die Dr.-Seuss-met-die-winterblues-illustrasie skep die regte atmosfeer. Dis vir my belangrik dat die omslag ‘n naïewe, byna kinderlike komponent het. Die Skotse digter Ivor Cutler het die volgende aanbeveling aan voornemende digters gemaak: ‘Remove your intellectual encumbrances, turn on the tap and speak like a child.'” (Nel, 2006:8)

Tog word die normale sinsbou en spreektaligheid dikwels in die bundel ietwat ontwrig, of andersyds geritmiseer. Sintaktiese hervattingstrukture, opstapelende beeldspraak en versreël- en strofe-afkappings is wyses waarop dit geskied.

Één voorbeeld ter illustrasie van laasgenoemde. Let op hoe herhalings- (soos iterasies, parallelismes en anafore) en kwantiteitsfigure (enumerasies, beeldopstapelings) in die volgende gedeeltes van die gedig “In Duitsland waar die wolke in gelid marsjeer” stilisties bydra om die indruk van die meedoënlose gereglementeerdheid en geroetineerdheid wat die Duitse samelewing op die subjek maak, te vergestalt:

 

Duitsland is waar die wolke in gelid marsjeer,

waar die son ‘n permit het om te skyn,

waar die maan nie mag opbly so laat soos sy wil nie.

 

Duitsland lyk soos Duitsland op televisie.

Al verskil tussen Duitsland en televisie

is dat daar iets gebeur op televisie.

 

Die misdadigers in Duitsland droom

van groot gewere,

van Amerika.

Die booswigte het almal

warm water, elektrisiteit en ‘n mediese fonds.

Die kriminele lei lewens van stille vertwyfeling

nes die onderwysers, slagters en bankiers.

 

Duitsland is seker maar soos orals –

die soort van plek waar jy bang is

dat Die Mense gaan uitvind van jou,

gaan weet van jou;

dat Die Mense hulle televisies gaan afsit,

uit hulle talk shows ontsnap

om jou te kom haal,

te kom kreun en hamer aan jou ruit

op die vierde verdieping

soos die zombies in Night of the Living Dead.

 

[…]

 

In Duitsland saai jy mielies

in die blombakke op die balkon.

 

In Duitsland

lê ‘n see van hoekige huise nog so blou,

as jy ver stemme oor die telefoon hoor.

 

In Duitsland praat jy lekker Duits,

tot jy een oggend skielik weer

soos iemand wat by die tandarts was

sukkel om “selbstverständlich” te sê.

 

[…]

 

In Duitsland loop jy

perfectly digitally animated, vat jy

sonder om te raak, beweeg jy

sonder om te roer

deur mure en mense, glip jy

moeiteloos

soos ‘n stem deur ‘n telefoonlyn

deur die onverskillige dag.

 

[…]

 

In Duitsland moet jy doen

wat jy wil

of jy nou wil

of nie.

 

As resultaat kry ons ‘n digkuns wat helder, toeganklik maar tog ook ietwat afstandelik aandoen – myns insiens doelbewus so om ontroering teen te werk oor die droewige storie (oor die huweliksverbrokkeling en ontheemdheidservaring) wat vertel word.

Die indruk van direktheid is egter ‘n bietjie misleidend. Soos aangetoon, is die bundeltitel ‘n leidraad na die betekenisverwikkeldheid wat onder die stilistiese helderheid skuilgaan.

Marais self (kyk Nel, 2006:8) beweer dat die “Poëtiese” (sic) in die eerste plek geleë is in “die krag van beelde”. Die dikwels verrassende en treffende beelding in in die buitenste ruimte is oorwegend ontluisterend, om aan te sluit by die hoofsaaklik negatiewe belewenisse wat uitgebeeld word. Gelukkig word die neerdrukkende hiervan verlig deur, eerstens, die bewerkstelligde afstandelikheid, maar ook deur die soms humorvolle (self-) ironie. Laasgenoemde vind ook uiting in die opvallende benutting van opsetlike teenstellings (“afwesig saam”, “salige depressie”; “Duitsland is spekvet ongesond”, ensovoorts).

 

5.         Slot

 

Aan die gevare verbonde aan die soort poësie waaraan hy voorkeur gee, ontkom Marais nie altyd nie. Waar ‘n mens aanvanklik intens geboeid lees aan die bundel, werk die prosa-agtigheid van sommige verse in die tweede helfte van die bundel ‘n sekere eenselwigheid in die hand – iets waaroor meer as een resensent kritiek uitgespreek het (Hugo, 2006; Hambidge, 2006:5; Odendaal, 2007b:8; Olivier, 2007; Crous, 2007:14).

Ek is bowendien van mening dat sekere gedigte in die bundel alte enumeratief uitweidend raak; dat die (meestal kennelike) opsetlikheid van woordoortollighede op die duur retories afslyt (vergelyk frases soos “probeer simpatiek toemaar kyk”,  “iewers êrens orals” en “kwynende, sterwende aanwesigheid” uit verskillende gedigte in die bundel); dat die beeldopstapelings soms oordryf word (soos in die gedig “Tussen ver en nietig”); voorts dat die herhaalde gebruik van Engelse woordeskat lateraan ietwat studentikoos aandoen – veral as in ag geneem word dat soveel van die vertelde gebeure teen ‘n Duitse agtergrond plaasvind.

Kortom, die opvallende en herhaalde benutting van herhalings- en gelede of opstapelingsamplifikasiefigure soos bogenoemde (Plett, 1985:33-56, verskaf ‘n bondige oorsig van die aard van sodanige stylfigure) stuur onvermydelik op ‘n mate van oordrywing en derhalwe sentimentalisering af. Vergelyk ook die sentimentaliseringseffek van die volgende repetisies in die gedig “Barecelona – 2 en ‘n ½ jaar later”: “Die stoele en tafels is wit wit oblivion wit. / My hemp is blou, raserig Hawaii-blou”.

Tog bevat in die buitenste ruimte véél meer wat poëties treffend en ‘nuut’ is as aspekte wat prosaïes en retories is. Dit is as bundelgeheel allermins as ‘anti-poëties’ ervaar deur die kritiek.

Marais het in ‘n onderhoud met Nel (2006:4) sy digterlike strewe soos volg aangedui: “As die woorde in ‘n spesifieke volgorde by die leser bly spook, is dit poësie.”

Uit die hierbo bespreekte narratiewe dimensies blyk dat Marais op funksionele en grootliks treffende wyse die verteldimensie van sy debuutbundel met die storiedimensie daarvan (die hoe met die wat) versoen het. Die bemiddeldheidsaspek word integraal getematiseer; die tipografiese grense tussen vers- en verhaalkuns word vaer gemaak; ‘n ‘spontane’ en ‘ongekunstelde’ spreektaligheid staan op die voorgrond op die stilistiese vlak, maar word tog ook weer ontwrig en geritmiseer op kenmerkend poëtiese wyses – alles in diens daarvan “om gestalte te gee aan ‘n gebroke, eietydse lewensgevoel”, naamlik ontheemdheid, soos die digter self in hierdie verband aangehaal is.

Die resultaat is inderdaad verse wat “by die leser bly spook” – soos bevestig deur die getal en die aard van die pryse wat deur beoordelaars daarvoor toegeken is.

 

Universiteit van die Vrystaat

 

VERWYSINGS

 

ALTENA, ARIE.

            2007. Epische poëzie nu. De Gids, november:1128-1138.

 

BOSMAN, P.J.

            1992. Ryp geel kring. Pretoria: HAUM-literêr.

 

BREYTENBACH, BREYTEN.

            1990. Soos die so – toktokkie se nagregister. Amsterdam: Meulenhof / Van Gennep & Johannesburg: Taurus.

 

 CROUS, MARIUS.

            2003. Brief uit die kolonies. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

            2007. Marais keer terug uit buitenste ruimte. Die Burger, 4 Mei:14.

 

DUBROW, HEATHER.

            2006. The Interplay of Narrative and Lyric: Competition, Cooperation, and the Case of the Anticipatory Amalgam. Narrative 14(3), October:254-271.

 

DU PLOOY, HEILNA.

            2003. In die landskap ingelyf. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

ESTERHUIZEN, LOUIS.

            1996. Die onderwaterweg. ‘n Versroman. Kaapstad, Pretoria, Johannesburg: Human & Rousseau.

 

            2001. Opslagsomer. ‘n Versroman. Kaapstad, Pretoria, Johannesburg: Human & Rousseau.

 

            2004. Liefland. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

            2007. Sloper. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

GROVÉ, A.P.

            2001. Resensie oor Die huisapteek (Barend J. Toerien). Beeld, 28 Mei:9.

 

HAMBIDGE, JOAN.

            2006. Marais se aangrypende, genoeglike debuut (resensie oor Danie marais se in die buitenste ruimte). Rapport-Perspektief, 22 Oktober:5.

 

HUGO, DANIEL.

            2006. Buitengewone debuut verwoord buitestanderskap (resensie oor Danie Marais se in die buitenste ruimte). [Internet]. www.litnet.co.za. [Toegang op 15 Maart 2007].

 

            2007. ABSA ketting: Daniel Hugo gesels met Danie Marais. [Internet]. LitNet, 11 April. http://www.linet.co.za. [Toegang op 29 April 2008].

 

HÜHN, PETER.

            2004. Transgeneric Narratology: Application to Lyric Poetry. In: Pier, John. (ed.). 2004:139-158.

 

KROG, ANTJIE.

            1985. Jerusalemgangers. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

            1989. Lady Anne. Bramley: Taurus.

 

            2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwela Boeke.

 

MARAIS, ANLEN.

            1999. [M]uur van berge – elegieë. Kaapstad: Tafelberg.

 

MARAIS, DANIE.

            2006. [I]n die buitenste ruimte. Kaapstad: Tafelberg.

 

            2007. Danie Marais: die emosie van ontheemding (onderhoud: Versindaba). [Internet]. www.litnet.co.za. [Toegang op 29 April 2008].

 

NAUDÉ, CHARL-PIERRE.

            2004. In die geheim van die dag. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

NEL, GERT VLOK.

            1993. Om te lewe is onnatuurlik. Eenvoudige spoorwegstories. Kaapstad: Tafelberg.

 

NEL, RONEL.

            2002. [en die here het foto’s geneem oor vanderbijlpark]. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

            2006. Marais dig kinderlik eerlik (onderhoud met Danie Marais). Beeld-Plus, 29 November:8.

 

ODENDAAL, B.J.

            2006. Tendense in die Afrikaanse poësie in die tydperk 998 tot 2003. In: Van Coller, H.P. (red.). 2006:105-148.

 

            2007a. Onbedoelde land. Kaapstad: Tafelberg.

 

            2007b. Verskil tussen prosa en poësie uitgedaag (resensie oor in die buitenste ruimte). Volksblad, 22 Januarie:8.

 

OLIVIER, FANIE.

            2007. Taaldinge wat jou na asem laat snak (resensie oor in die buitenste ruimte). Beeld, 10 April.

 

OPPERMAN, D.J.

            1979. Komas uit ‘n bamboesstok. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

PHELAN, JAMES.

            1996. Narrative as Rhetoric: Technique, Audiences, Ethics, Ideology. Columbus: Ohio State University Press.

 

            2004a. Rhetorical Ethics and Lyric Narrative: Robert Frost’s “Home Buriel”. Poetics Today 25, Winter:627-652.

 

            2004b. Toward a Rhetoric and Ethics of Lyric Narrative: The Case of “A Clean, Well-Lighted Place. Frame 17:627-652.

 

PIER, JOHN (ed.).

            2004. The Dynamics of Narrative Form. Studies in Anglo-American Narratology. Berlin & New York: Walter de Gruyter.

 

PIETERSE, H.J.

            2000. Die burg van hertog Bloubaard. Kaapstad: Tafelberg.

 

PLETT, H.F.

            1985. Einführung in die rhetorische Textanalyse. Hamburg: Hekmut Buske Verlag.

 

RAIDT, EDITH H.

            1962. Die bundel as eenheid. ‘n Ondersoek na die funksie van die simbool in Opperman se Blom en baaierd. Ongepubliseerde M.A.-skripsie. Kaapstad: Universiteit van Kaapstad

 

SPIES, LINA.

            2007. Wat is poësie?: die misterie van ‘n ondefinieerbare genre (sic). Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 14(1):93-109.

 

STANDER, CARINA.

            2006. [D]ie vloedbos sal weer vlieg. Kaapstad: Tafelberg.

 

STEYN, J.C.

            1975. Die grammatika van liefhê. Kaapstad: Tafelberg.       

 

            2009. Min glo Zuma. Skandelike transformasie gaan lustig voort. Volksblad, 8 April:10.

 

STOLK, FABIAN R.W.

            2007. Bij een zondagnamiddagwandeling. De Gids, november:1121-1127

 

STRYDOM, LEON.

            1976. Oor die eenheid van die digbundel. ‘n Tipologie van gedigtegroepe. Pretoria & Kaapstad: H&R Academica.

 

VAESSENS, THOMAS & JOOSTEN, JOS.

            2003. Postmoderne poëzie in Nederland en Vlaanderen. Nederland: uitgeverij Vantilt.

 

VAN COLLER, H.P. (red.).

            1999. Perspektief en profiel. ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 2. Pretoria: J.L. van Schaik Akademies.

 

            2006. Perspektief en profiel. ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 3. Pretoria: Van Schaik Uitgewer.

 

VAN DER MERWE, KIRBY.

            2007. Wanneer woorde spook (onderhoud met Danie Marais). By (bylae by Beeld), 26 Oktober. [Via internet verkry – toegang op 29/04/2008.]

 

VAN NIEKERK, DOLF.

            2006. Nag op ‘n kaal plein. Kaapstad, Pretoria: Human & Rousseau.

 

VAN VUUREN, HELIZE.

            1999. Perspektief op die moderne Afrikaanse poësie (1960-1997). In: Van Coller, H.P. (red.). 1999:244-304.

 

ZUIDERENT, AD.

            2001. De tweede gisting van poëzie. Ter inleiding. In: Zuiderent, Ad & Van der Starre, Evert  (reds.). De tweede gisting. Over de compositie van dichtbundels. Amsterdam: Amsterdam University Press. Pp. 9-28.

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.