Van Wyk Louw en die Nederlande

(Erkenning: Hierdie artikel het in Stilet XXI:2 – September 2009 verskyn en word geplaas met die vriendelike vergunning van die Eindredaksie.)

 

 

Van Wyk Louw en die Nederlande

Deur: FIJ van Rensburg

Abstract: Van Wyk Louw and the Netherlands

 

The article sketches the reciprocal relations between Van Wyk Louw and the Netherlands (Holland and Flanders) over a long period of time.

         The relations were not confined to literature alone. It spanned the entire cultural spectrum  of  the three countries.

         While respecting what the two Dutch countries had established in the course of centuries, Louw felt free to take part in literary debates, amongst others, concerning unsolved  problems, the outcome of which was of interest to all three parties. Only one example of many is discussed: the status of Vondel in relationship to a number of English poets of his era. For a long time the Dutch and Flemish literary experts could not reach consensus concerning the problem with who in the English literature Vondel, the foremost poet and dramatist of the Netherlands, could be compared: with Shakespeare or Milton? Armed with an expert knowledge of the English literature Louw came up with a more meritorious candidate: John Dryden.

            The relations included a far-sighted scheme. During and after World War II Louw and Jan Greshoff were at the helm of an effort to enable a number of the foremost Dutch writers to come to South Africa for a period of recuperation. A large number of Afrikaans authors contributed works by them for a book (Tussen die engtes), the sales of which were destined for footing the bill of the cost of the scheme.

            An unforeseen bonus of the enterprise was that it afforded the Dutch authors the opportunity of experiencing at close range the renaissance of Afrikaans poetry since the era of the Thirties. Well-informed critics rated Louw as one of the best poets of the entire Dutch (“Dietse”) literary fraternity.

 

1.         Aanloop

 

Die titel van die artikel hou iets van ‘n tweekantigheid in: enersyds Van Wyk Louw en die Nederlande, dit wil sê Nederland en Vlaandere; andersyds  (as ‘t ware as ‘n voltooiende “halwe kring”): die Nederlande en Van Wyk Louw. In albei gevalle sonder om hulle hermeties te skei.

            Daar was ‘n sterk, wedersydse band tussen die twee partye. Die bewys daarvan was die meermaalse erkenning deur Van Wyk Louw van sy besondere skatpligtigheid ten opsigte van die Nederlande.

            Hierdie bron van skatpligtigheid het vir hom veel meer ingehou as net die letterkunde. Dit het ook fundamentele aspekte van die twee lande se totale geesteslewe deur die eeue betref. Hiervan het hy ruimskoots blyke gegee, van redelik vroeg in sy skrywersloopbaan tot heel laat. 

            Wat die ander party, die Nederlande, betref: Ook hier was daar ruimskootse erkenning, by name van sy literêre werk en die status daarvan in vergelyking met die tydgenootlike Nederlandse letterkunde. Dit was die geval van die oomblik af dat dit deur hul eie literêre deskundiges onder hul aandag gebring is, veral deur verhuisers na Suid-Afrika, soos Jan Greshoff, H.A. Mulder en Rob Antonissen. 

            Ek verwys na net een voorbeeld van Louw se vertroudheid met die Nederlandse letterkunde asook sy vrymoedigheid om deel te neem aan ‘n debat oor ‘n onopgeloste probleem van baie jare. Dit het gegaan oor die plek (“die hoof aan die tafel”) van hul grootste skrywer, Vondel, in die literêre hiërargie, nie net in dié van sy eie letterkunde nie, maar ook in internasionale verband. Die probleem was met wie Vondel vergelyk sou kon word. Met Shakespeare? Of  beskeidener, met Milton? Die vergelyking met juis die twee Engelse grotes het ‘n sekere voor-die-hand-liggendheid gehad. Wat omvang betref: dink maar aan Vondel se enorme dramaproduksie van twee en dertig dramas (Shakespeare se sewe en dertig); en, wat Vondel en Milton betref: hul gemeenskaplike Christelike klassisisme. 

            Dit was in ‘n situasie soos dié dat Louw met ‘n onvoorsiene voorstel gekom het: ‘n paslike vergelyking is nie een met Shakespeare nie, ook nie met Milton nie, maar: met John Dryden. Oor die vergelyking met eersgenoemde het hy aangevoer: “Die verskille tussen die hoofse oernatuurlikheid van Shakespeare en die streng formele en geleerde kuns van Vondel is so in die oog lopend dat die vergelyking skaars literêr verhelderend is.” (N.P. van Wyk Louw, 1986a:200) En wat Milton betref: “Die poëtiese verskil tussen Vondel en Milton is so groot dat ‘n vergelyking minder insig in hulle werk verskaf as wat ‘n mens sou verwag. Hierdie verskil is waarskynlik in hoofsaak toe te skryf aan Milton se veel fyner sin vir die musiek van die woord en die paragraaf; bowenal aan sy insig dat die rymlose vers in ‘n lang werk groter klankmoontlikhede inhou as die koeplette van die Franse en Nederlandse klassieke tragedie.” (N.P. van Wyk Louw, 1986a:201) Om hierdie rede, het hy gesê, is Milton se werk ‘n totaal ander literêre gestalte as Vondel s’n. Met Dryden het Vondel, sowel formeel as inhoudelik, verwantskap, onder meer in hul verhouding tot die Franse klassisisme, hul gedeeltelik volkse en gedeeltelik geleerde kuns, asook hul didaktiese en satiriese inslag.

            Die faktor wat Louw in hierdie plasingsprobleem gehelp het, was dat hy oor ‘n voordeel beskik het in vergelyking met heelwat Nederlanders wat hulle met dié probleem besig gehou het: Hy kon praat vanuit ‘n land waarin kennis van die twee letterkundes, die Nederlandse en die Engelse, tot die redelik natuurlike toerusting van ‘n opgevoede Afrikaanssprekende met letterkundige skoling of belangstelling behoort het. ‘n Mens sou dit kon vergelyk met die voordeel wat ‘n Vlaming bo ‘n Hollander het wanneer dit om ‘n probleem rondom ‘n Franse werk gaan.

            ‘n Belangrike prikkel in Louw se kennismaking met die Nederlande op Suid-Afrikaanse bodem was die Nederlandse boekhandelaar Gerrit Bakker. Die jong Bakker het gesorg dat die boekhandel in die Kaap waaraan hy verbonde was, die heel jongste Nederlandse boeke invoer. Wat dit vir boekliefhebbers soos die twee broers Louw en Boerneef beteken het, vind ‘n mens terug in W.E.G. Louw (1972:7) se gedig “Naggesprek”, ‘n gefingeerde nadoodse gesprek met sy broer. Die volgende aanhaling gee iets weer van die gees waarin daar uitgesien is na die aankoms in die land van die jongste digbundels, soos dié van Adriaan Roland Holst, Jacques Bloem en Geerten Gossaert wat op dieselfde dag in Suid-Afrika ontskeep is. Reeds die omslae was vir hulle ‘n fees:

                                                            Holst in goiingsak,

                        Bloem in rooi, Gossaert in swart; maar binne …

                        skutblaaie soos papawers in die son.

                        Ons drie is huis toe; maar nie te lank nie lui

                        die telefoon.  “Luister”,  het jy gesê,

                        “het jy al ooit ‘n mooier vers gehoor:

                        ‘De stilte spoelt en ebt door de portalen …’?”

                        Dit was ‘n nuwe wêreld dié, so vreemd          

                        en tóg bekend asof dit ons eie was.                                                                          

                                                             

‘n Nuwe, maar vertroude wêreld was dit vir Louw inderdaad. Die getuienis daarvan is onder meer die duidelik-herkenbare Holst-geluid in verskillende van sy vroegste verse, veral die helder-uitruisende, ongebroke vloei van die melodiese lyn. 

 

 2.        Die Nederlande en Van Wyk Louw

 

Die Kaapse jare was ook die tyd toe die verhouding tussen die Nederlande en Van Wyk Louw begin het. Dit het gebeur danksy ‘n jong Nederlandse digter en literator wat in ‘n kort tyd die belangrikste beoordelaar van die werk van die Afrikaanse “Digters van Dertig” geword het. Henk Mulder, wat onder die digternaam W. Hessels reeds drie digbundels op sy naam gehad het – poësie van ‘n dikwels Leopoldiaanse fynheid – het terwille van sy gesondheid na Suid-Afrika verhuis juis in die tyd toe die Dertigers begin debuteer het. Met sy eersterangse kennis van die Nederlandse literêre landskap het hy dadelik besef wat daar literêr in Suid-Afrika aan die gebeur is. Hy het twee dinge vir die jong Dertigers gedoen: enersyds die jongste Nederlandse werke kundig bespreek en bekendgestel in die Suid-Afrikaanse boekerubrieke, en andersyds die nuwe geslag aan Nederland voorgestel. Oor Louw het hy onder meer  gesê: “In Van Wyk Louw se spanningryke poësie neem ‘n groot Europese tradisie Afrikaanse gestalte aan” (Mulder, 1942:23), en later: “Ook al sou Afrikaans uitsterf, sou sy gedigte nog daar bly soos brokke graniet wat die tyd nie kon verweer nie.” (Mulder, 1961:32)

            ‘n Paar jaar later het ‘n tweede literêr-deskundige Nederlander na Suid-Afrika verhuis: die Vlaming Rob Antonissen, wat as dosent aan die Rhodes-Universiteit aangestel is. Ook hy het spoedig onder die indruk gekom van wat in Suid-Afrika veral sedert die dertigerjare tot stand gekom het. Louw se bundel Die halwe kring (1937)  het hy beskou as “tot nog toe Van Wyk Louw’s volmaaktste schepping”. Daaropvolgens plaas hy dit in dié wyer konteks: “Bij hem [Van Wyk Louw] is de primitieve Boerentaal van weleer voor de eerste maal geworden: een koninkliijk instrument, geschikt tot het vertolken van subtielste zegging en hymnische vervoering, van kracht en teederheid, van drift en bezinning, gesmeed tot verwoording van direktste soberste plastiek en geweldigste, fantastische visioenen, en tot het verkondigen van een boodschap die draagt over de grenzen van ruimte en tijd.” (Antonissen, 1946:301) Sy latere Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede (s.j.) was vir baie jare die leidende literêre oorsigshandboek naas dié van G. Dekker.

            ‘n Derde Nederlandse bekendsteller van Louw en die jonger Afrikaanse poësie aan die Nederlandse literêre gemeenskap was die digter, kritikus en essayis Jan Greshoff, wat kort voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog uit Nederland uitgewyk en hom in Suid-Afrika gevestig het. Hy het dit gedoen na sorgvuldige oorweging van verskillende lande, sodat hy die grootste moontlike sekerheid kon hê dat hy nie ‘n vreemdeling in ‘n vreemde wêreld sou wees nie. Sy keuse het geval op die land waar sy taal en letterkunde die beste bekend was en waarin hy dus geestelik sou kon asemhaal. Dit het tot ‘n vrugbare kruisbestuiwing tussen veral Louw en Greshoff gelei. Greshoff was veral ‘n prikkelende dialoogmakker vir Louw. Hy was ‘n gedugte opponent in sake waaroor hulle fundamenteel verskil het. Sy voorkeur was vir subjektiwiteit in literêre sake, veral in die kritiek; Louw vir objektiwiteit. Hulle het mekaar in die proses geslyp. Dit blyk onder meer uit die gefingeerde dialoog van Louw met Greshoff  onder die titel “Waarhede soos koeie: ‘n Dialoog oor die eerste grondbegrip van die kritiek en sy praktiese konsekwensies” (N.P. van Wyk Louw, 1986a:381-392).

            Vir Greshoff se sestigste verjaarsdag het Louw “Ballade vir Jan se fees” (N.P. van Wyk Louw, 1954:27-28) geskryf, in die styl van die historiese Franse ballade: drie strofes van agt reëls en ‘n vierreëlige slotstrofe, waarvan die eerste en laaste strofes so lees:

 

                        Daar was wel duisende van daardie naam

                        sedert die eerste Jan  –  ‘n Doper  –  aan die vloed

                        van die ou Jordaan sy lyf met wilde braam

                        en heuning en met sprinkane wou voed:

                        eers Jokhanaan, ekstaties en verwoed;

                        Johannes toé, Grieks en bespiegelend; dan,

                         in die Lae Lande: geestig, kort en goed:

                        ‘n Dietse silwersmid, ‘n Jan  –  óns Jan.

                   

                        […]

 

My Prins, wie U mag wees, wat ons vir goed

sal hou  –  in styl getroon, of in die pan  –

bespreek ons plekke naas één in U gloed:

die Dietse silwersmid, ‘n Jan  –  óns Jan.

 

Greshoff se openbare hoogskatting van Louw het baie sterk tot uiting gekom in die tyd voor Louw se vertrek na Nederland om die Afrikaanse leerstoel in Amsterdam te vul. Hy het hom wyd in Nederlandse kringe bekendgestel. Hy het dit selfs ook in Suid-Afrikaanse verband gedoen. Met die oog op oningeligte en skepties-ingestelde Afrikaanssprekendes (en daar was baie) het hy in ‘n artikel in Die Huisgenoot, ” Prof. dr. N.P. van Wyk Louw se vertrek na Nederland” (17 Februarie 1950) aan die vooraand van Louw se vertrek gesê: “Die kenners van die poësie [en sy bedoeling was: in sowel Suid-Afrika as die Nederlande – FIJvR] erken in Van Wyk Louw ‘n meester wie se betekenis die grense van die Unie ver oorskry – een van die allergrootste, indien nie dié grootste lewende digter van die Nederlandse taalgebied nie.” (Greshoff, 1966:50)

            Die kulturele waardering wat tussen Louw en Greshoff bestaan het, was wedersyds. Afgesien van die genoemde dialoog, het Louw by geleentheid van Greshoff se sestigste verjaarsdag ‘n besonder verhelderende studie oor hom in Standpunte (Jaargang 4:1) gepubliseer, met as titel “Greshoff se intellektuele houding”. Hierin het hy hom getipeer as “die suiwer en ewige ‘agtiende-eeuer’ – 18de-eeuer buite eeu en tyd om” (Louw, 1949:29), waarmee hy terselfdertyd sy waardering vir die agtiende eeu laat blyk het, dié eeu met sy soepel omgang met rasionele denke. 

 

3.         ‘n Dramatiese  tydperk

 

Die Tweede Wêreldoorlog het ‘n kragtige nuwe impuls in die verhouding Van Wyk Louw-die Nederlande met hom meegebring. Toe die Duitsers die Nederlande ingeval het, was daar ‘n spontane reaksie by ‘n aantal skrywers en literêr-geïnteresseerdes in Suid-Afrika dat planne beraam moes word om die skade aan die Nederlandse geesteslewe, en daarmee, by uitbreiding, ook aan die Afrikaanse, tot ‘n minimum te beperk. Nederlandse skrywers en ander kunstenaars sou byvoorbeeld geldelik gehelp kon word om na Suid-Afrika te kom om gedurende die oorlog hier ‘n gasvrye verblyf te hê. Op dié manier, was die gedagte, sou Suid-Afrika terloops ‘n ereskuld aan Nederland kon vereffen oor dié land se meelewing met die Afrikanervolk tydens die Anglo-Boereoorlog. Omdat die plannemakers nie vermoënde mense was nie (Greshoff, Mulder, die Louws en ander skrywers), het hulle op ‘n plan besluit wat die beste by hul vermoëns gepas het: om ‘n boek saam te stel met werk deur hulleself, uit die opbrengs waarvan oortogte en verblyf van Nederlandse kunstenaars na Suid-Afrika gefinansier sou kon word. Die resultaat was die bundel Tussen die engtes, met as subtitel: ‘n Afrikaanse versameling ten behoewe van Nederlandse skrywers. Werk van ‘n groot verskeidenheid Afrikaanse skrywers is daarin opgeneem. Louw se bydrae  was die eerste sang van sy nog ongepubliseerde epos Raka.

            Die fundamentele rede vir die kampanje – gelei deur Louw, Greshoff en dr. D.B. Bosman, dosent aan die Kaapstadse Universiteit – het Van Wyk Louw  in ‘n aangrypende brief in Die Huisgenoot van 5 Julie 1940 (Steyn, 1998:296) soos volg geformuleer:

            In Nederland het in die afgelope sestig jaar iets gebeur wat hom bokant alle persoonlike voorkeur,    bokant alle bloed- of taalverwantskap van belang gemaak het in die wêreld en vir alle mense wat             aan die geestelike lewe deelneem. In die stilte, sodat die buitewêreld daar min van te wete gekom   het […] het daar ‘n nuwe Nederlandse literatuur gegroei en veral ‘n poësie wat gelyk staan met of     hoër staan as die poësie van die lande met groot mensemassas en groter militêre mag. Sedert 1880     het een digtersgeslag na die ander nuwe skoonheid en nuwe nuanses van menslikheid geopenbaar en aan iets gebou wat ons ‘n ‘ewige Nederland’ wil noem, en wat veilig sal bly deur alle geweld           en verdrukking heen solank as een mens op aarde nog die taal kan lees en begryp. Nog selde in die     geskiedenis van die literatuur het een digtergenerasie die ander so opgevolg sonder daling, sonder    versperring, maar met telkens nuwe skakerings van die skoonheid  […]. Die werk van hierdie             digters het ‘n ewige Nederland geskep wat naas die groot name Athene, Florence en andere kan     staan as een van die hoogtepunte van die mens […]. Daarom bestaan die begeerte by ons om, as dit      moontlik is, tydelik die Nederlandse literatuur in ballingskap te bewaar. 

Greshoff se brief met dieselfde strekking was in Nederlands.

            As eerste moontlike “emigrant” is op Hendrik Marsman besluit, die skitterendste ster op daardie tydstip aan die Nederlandse poëtiese firmament. Hy het hom met die uitbreek van die oorlog in Frankryk bevind, en was dus potensieel in ‘n gunstiger posisie om aan die Duitsers te ontkom as vasgekeerde kandidate in Nederland. Met die inval in Frankryk het allerlei kommunikasieprobleme egter opgeduik, en het Marsman probeer om op eie inisiatief ‘n boot na Suid-Afrika te haal. Die skip is egter in die Engelse Kanaal  gekelder. Mev. Marsman en een ander passasier was die enigste oorlewendes. In sy “Inleiding” tot die boek oor Marsman wat na die oorlog verskyn het, Poëzie en prosa: H. Marsman, skryf Louw (1943:xli) soos volg oor sy laaste bundel, Tempel en Kruis: “Dit is nie die soort poësie wat byna ‘n opwelling van die onbewuste is nie ‘woorden uit een blinden onderlaag’ […] Dit is deur en deur intellektueel. Daar is selfs iets krampagtigs in: verset teen en vlug van ‘n tyd wat ook krampagtig is. Maar hoe kragtig is dit nie, en bowenal intelligent. Marsman waag dit om ‘n moderne didaktiese gedig, iets soos Wordsworth se Prelude oor die groei van ‘n moderne digter se gees te skryf. En hoe meesterlik vat hy modern-psigologiese (Freudiaanse) en modern-filosofiese motiewe met sy vroeër vitalisme van krag en steilheid saam tot ‘n werk van dig-gevlegte tekstuur. Dikwels kry hy dit reg om die ‘gedagtes’ tot magtige brokke poësie om te vorm.”

            Louw was van oordeel dat Tempel en Kruis nooit in sy geheel en om sy geheel populêr sou wees nie. Sy probleme staan te ver van die gewone hartstogtelike lewe af. Die swakker gedeeltes daarin – byvoorbeeld die beginstrofes van De wanhoop – sal miskien die meeste byval vind. “Maar sy grootheid kry die gedig juis daardeur dat Marsman die intellektuele probleem van die moderne mens (en dus ‘n probleem van die mensheid as geheel) met sy volle digterlike krag aangegryp het en gedeeltelik tot poësie kon omvorm.” (N.P. van Wyk Louw, 1943:xli)

            Die welgemeende skema kon dus eers ná die oorlog in werking gestel word.  Adriaan Roland Holst, J.C. Bloem en Antonie Donkersloot  kon vir korter of langer tye in Suid-Afrika tot hulleself kom. In ‘n radio-onderhoud het Donkersloot Louw ‘n kunstenaar van universele betekenis genoem en wat in Nederland die waardering verdien.  Daarby is die tydskrif Standpunte, waarvan die redakteurs Van Wyk Louw, W.E.G. Louw en H.A. Mulder was, “een van die merkwaardigste tydskrifte wat daar in die Dietse wêreld bestaan” (Steyn, 1998:473-4). Donkersloot was later die dryfkrag agter die aanstelling van Louw aan die Universiteit van Amsterdam, ‘n betrekking wat hy agt jaar beklee het.

            Vir Louw was die mees illustere voorbeeld van Nederlandstalige digterskappe Holst. In sy verwelkomingsartikel aan dié digter in Standpunte (Jaargang 1:4) het hy onder meer die volgende gesê:

            Onder digters van ‘n geslag wat tal van merkwaardige persoonlikhede opgelewer het, sou ‘n mens nie skools die grade van “belangrikheid” wil probeer bepaal nie. Dit staan egter vas dat min Nederlandse digters met meer reg die Nederlandse poësie vandag sou kon verteenwoordig as Roland Holst. Sy digterlike ontwikkeling het iets wat volkome eie aan homself, volkome persoonlik is: dié van ‘n digter sonder vernuwings, en tog geheel en al groei, ‘n ontwikkeling nie soos dié van Goethe wat van gestalte tot gestalte voortgeskry het nie, maar ‘n vreemde proses van “verheviging”, van áfboor deur ál dieper lae. Sy beeldspraak, motiewe, “gedagtes” bly merkwaardig konstant dwarsdeur ‘n digterlike loopbaan van veertig jaar; of anders sou ‘n mens hier eerder van verarming kon praat as van verryking: hy laat motiewe val en kry min nuwes by.

            En tog, met ‘n taalgebruik wat so eenders, byna eentonig, aandoen, watter gestadigde en kragtige groei. […] Sonder ‘n nuwe riglyn, sonder ‘n vernuwing – behalwe tegnies dan – […] slegs met daardie verhewigde verkondiging van een mite, een stel begrippe, ál strakker, ál sinryker, ontstaan die magtige verse van Een Winter aan Zee en enkele ander gedigte – daardie “brandskatting van die taal”, soos hy dit self noem, ‘n hoogtepunt van die liriese kuns van Wes-Europa. En vreemder nog: sonder om mee te doen aan die tydgebeure het hy in sy absolute standpunt teenoor die tyd ‘n groot tyddigter geword. Meer as tyddigter, is hy: ‘n vors van die Europese gees. (N.P. van Wyk Louw, 1946)

 

4.         Nuwe inisiatiewe

 

Die hele avontuur het egter ook op ‘n ander, en  in werklikheid veel meer omvangryke en duursame manier, positiewe gevolge gehad. Onder leiding van Greshoff en Mulder het die Nederlands-Afrikaanse uitgewery Van Schaik ‘n publikasiereeks, Nederlandse Boekerij, wat agtien dele sou behels, van stapel gestuur. Hiermee is ‘n keur van Nederlandse tekste in Suid-Afrika beskikbaar gestel vir Afrikaanse genieting en studie. Dit het ‘n kragtige inspuiting vir die studie van die Nederlandse letterkunde in Suid-Afrika beteken, veral op tersiêre gebied.

            Dit alles in hul gesamentlikheid het ‘n sterk belangstelling in die studie van die Nederlandse letterkunde in Suid-Afrika tot gevolg gehad.

            ‘n Hele aantal jare later het Louw op ‘n nog meer bewuste wyse belangstelling in die Nederlandse letterkunde gestimuleer, en wel met sy Vernuwing in die prosa (1961). Hierin het hy onder meer ‘n bekroonde roman van ‘n jong Nederlandse skrywer, Willem G. van Maanen, naamlik De onrustzaaier, aan Afrikaanse prosaskrywers bekendgestel, en dit voorgehou as voorbeeld van een van die rigtings waarin vernuwing vir die Afrikaanse prosa gesoek sou kon word. Dat hy daarin geslaag het, word bewys deur die feit dat die boek deur die jare aan talle tersiêre inrigtings voorgeskryf is. Dieselfde geld sy wek van belangstelling vir die werk van Louis Paul Boon, ook in Vernuwing in die prosa.

            Die einde van die oorlog het ook die totstandkoming van ‘n nuwe verbindingskanaal tussen Suid-Afrika en die Nederlande as resultaat gehad. Met die afskaffing van papierrantsoenering wat gedurende die oorlog gegeld het, kon ‘n lankgekoesterde ideaal, veral van Louw, verwesenlik word: die oprigting van ‘n tydskrif vir kulturele wisselwerking oor grense heen, nie net tussen Afrikaners en Nederlanders nie, maar ook tussen verskillende Suid-Afrikaanse kultuurgemeenskappe. In Desember 1945 het Standpunte, waarna reeds verwys is, verskyn, onder redaksie van die twee Louw-broers en H.A. Mulder, met Louw as redaksiesekretaris. Greshoff het nie aanvanklik in die redaksie gedien nie; sy taak was om bydraers uit die hele spektrum van die Nederlandse geesteslewe te werf. Hierin het hy uitstekend geslaag. In die openingsnommmer was daar, afgesien van twee bydraes elk deur Mulder en homself, ook bydraes van Marnix Gijsen en Gerrit Kamphuis. In die loop van die jare het ‘n groot getal Hollandse en Vlaamse  skrywers en kritici, van die belangrikste uit die twee lande, soos Holst, Bloem, Donker, Jonckheere, Roelandts, Brulez, Slauerhoff, Werumeus Buning, Vestdijk, Achterberg, Dubois, Stuiveling en vele meer, en verteenwoordigers uit ‘n wye verskeidenheid terreine van die Nederlandse kultuur en geesteslewe bydraes vir die blad gelewer.

 

5.         ‘n Besondere inisiatief

 

Die besoeke van die skrywers wat kragtens die Tussen die engtes-projek uitgebring is, het tot wyer bekendheid van Afrikaanse skrywers en hul werk in die Nederlande gelei. Die toekenning van ‘n ere-doktorsgraad deur die Utrechtse Universiteit in 1948 aan Louw  kan gesien word as ‘n direkte uitvloeisel daarvan. Aan dié Universiteit het prof. W.A.P. Smit in sy letterkundekursus van 1947/8 intensiewe aandag aan Louw se werk bestee.   Hy het van die geleentheid van die gradetoekenning gebruik gemaak om sy insigte oor Louw se werk met hom te bespreek, waarop Louw uitgebreid en behulpsaam gereageer het. Uit hierdie belangstelling het een van die verdienstelikste studies van Louw se groot gedig “Die swart luiperd” gespruit. Dit was Smit se bydrae tot die huldigingsbundel ter ere van Louw met sy sestigste verjaarsdag, Smal swaard en blink. Van dié gedig het Smit (1966:156) gesê: “Ik beschouw [… ] ‘Die swart luiperd’ als een van de hoogste toppen, niet alleen in de poëzie van Zuid-Afrika, maar ook in dié van de gehele Dietse taalgemeenschap.”

            In die tyd toe Louw in Europa was vir die Utrechtse gradeplegtigheid, het hy gebruik gemaak van die geleentheid om ou vriendskappe met Nederlandse skrywers en literatore te hernu en nuwes te sluit. Veral die tyd in Vlaandere, met Karel Jonckheere as gasheer en gids, het hy besonder geniet. Dit het tot ‘n lewenslange vriendskap tussen hulle gelei. Die reis het iets weggehad van ‘n verkenningstog, onder meer om die na-oorlogse Europese en Nederlandse geestesklimaat te toets en te evalueer. 

            Hy het sy taak in eerste instansie gesien as kulturele tussenganger tussen die Nederlande en Suid-Afrika. Vir sy Nederlandse studente sou hy bring wat Afrikaans vir hulle kon bied, die volle spektrum daarvan, dus sowel die tekste as die kontekste daarvan. Vir sy Suid-Afrikaanse studente sou hy gereeld, waar dit sinvol of enigsins moontlik was, Nederlandse tekste en kontekste in die behandeling van ‘n tema betrek. In hulle geval was die sekondêre doel dié van perspektivering van die Afrikaanse situasie in die verband van ‘n wyer wêreld.

            Dié intermediêr- of tussengangerskap het egter nie by die lesinglokaal geëindig nie. Hy het onder meer dankbare gebruik gemaak van die radio; naas die plaaslike Nederlandse omroepe ook, maar veral, die Afrikaanse Diens van die Nederlandse Wereldomroep in Hilversum, ‘n diens wat gefokus was op Suid-Afrika. Hy het sy bydraes gehanteer soos ‘n soort universiteit van die eter, en ‘n groot verskeidenheid fasette van die Nederlandse kultuur en lewe langs dié weg aan Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika bekend gestel. Vir dieselfde doel het hy ook ruimskoots van die perswese gebruik gemaak. Vir ongeveer twee en ‘n halwe jaar het hy ‘n rubriek in Die Huisgenoot behartig met dieselfde algemene doelwit as sy radiopraatjies. ‘n Keur uit hierdie praatjies en tydskrifreekse is later gepubliseer in drie bundels: ‘n Wêreld deur glas, Swaarte- en ligpunte en Liberale nasionalisme, aldrie in 1958.

            In hierdie bestendigde vorm was dit vir sy gedagtes moontlik om ‘n veel sterker invloed as byvoorbeeld net die uitsendings self uit te oefen. Sommige van die stukke was  aambeeld-afspatsels van sy lesings. So byvoorbeeld die reeks getitel “Eindelose bespreking?” wat die essensie bevat van sy beoordeling van ‘n doktorale projek van sy kollega in Nederlandse Taalkunde, prof. W.G. Hellinga, en sy studente, naamlik die  ontwikkeling van ‘n nuwe benadering van literatuurondersoek op taalkundige grondslag. Louw het baie belang gestel in dié benadering, maar was ook skepties oor sekere uitgangspunte en hul konsekwensies. Dat hy ‘n uitwerking gehad het op die eindresultaat van die projek, blyk duidelik uit die veranderinge wat aangebring is tussen die eerste uitstalproduk, H. van der Merwe Scholtz se proefskrif Sistematiese verslag van ‘n stilistiese analise van 1950, en die eindproduk van die projek, Kreatiewe analise van taalgebruik. Prinsipes van stilistiek op taalkundige grondslag van 1955. Dit was ‘n belangrike stuk gereedskap vir literatuur- en taalgebruikstudie in Nederland sowel as in Suid-Afrika vir heelwat jare.

            Ook buite die akademie het hy die rol van tussenganger vervul. Nie vanuit verkiesing of as ‘n aangevoelde taak nie – daarvoor was daar immers ‘n diplomatieke korps. Waaraan hy naamlik die meeste behoefte gehad het, was om die Nederlande in alle rustigheid mee te maak en dit op hom te laat inwerk, as mens en as kunstenaar. In die vriendskappe wat hy met skrywers en ander geesgenote aangeknoop het, was daar egter ruim geleentheid om sy land aan hulle te verduidelik; ook in klein, informele gespreksgroepe; soms – gekonfronteer met onbillike of oningeligte kritiek –  gebruikmakende van ontwapenende parallelle met die Nederlande self. Sy openheid, deeglike vertroudheid met die onderwerp en intelligensie het mense na hom laat luister. 

            Die Van Riebeeckfeeste van 1952 het Louw die geleentheid gebied om aan ‘n baie belangrike tyd in verband met die verhouding Suid-Afrika-die Nederlande te herinner. Afrikaans het nie net maar van Nederlands afgestam en daarmee was die saak afgeloop nie. Sy siening was dat Afrikaners en Nederlanders ‘n gemeenskaplike verlede déél. Wat voor 1652 in die Nederlande gebeur het en tot stand gebring is, behoort ook aan die Afrikaners. “Die Nederlandse Middeleeue is ook óns Middeleeue,” het hy byna obsessief beklemtoon. Afrikaners moet daarvan bewus gemaak word en bewus bly.

            Net twee voorbeelde van hierdie selfopgelegde missie uit baie. In ‘n artikel oor Middeleeuse Kersliedere in Nederland (N.P. van Wyk Louw, 1986b:28 en verder) kontrasteer hy die rykdom van aangrypende Kersliedere in Middelnederlands met die armoede van Kersliedere in Afrikaans. Hy toon aan hoe baie van hulle so maklik verstaanbaar is vir wie Afrikaans ken dat hulle met min inspanning deel van ons Afrikaanse Kersliedereskat sou kon word. Hy sluit die stuk af deur op die wyer perspektief van dié eenvoudige saak te wys: “Die opgevoede Afrikaner behoort meer van daardie groot tydperk in ons geskiedenis (die Middeleeue) te weet. Ons geskiedenis? Ja, ons Diets-Afrikaanse kultuur strek baie verder terug as 1652, as die Goue Eeu van Holland; die groot kuns en kultuur van ons Dietse Middeleeue is ook ons wortel. As ons kultuurtradisie pas in 1652 moet begin, sal dit iets baie skraler en armer wees as wat ons werklik kan besit.” (N.P. van Wyk Louw, 1986b:32)

            Die tweede voorbeeld kom uit ‘n beskouing oor “ons tradisie” onder die titel “Die web”. Wat bedoel ons as Afrikaners as ons praat van “ons tradisie”? Dit gaan volgens hom nie om iets so enkelvoudig en reglynig soos “die Pad van Suid-Afrika” nie, maar om iets veel ingewikkelders, te wete ‘n web met baie drade. En die binnedraad van daardie web is Nederlands. Die Afrikaner se “geestelike boloop het hy in die Hebreeus- Antiek- Middeleeuse wêreld […] Maar hy ken dit nie in Hebreeus of Grieks of Latyn nie – alleen in Afrikaans. Daardie hele stroom moes vir hom eers deur die tregter van een nasionale kultuur loop: die Hollandse. Sy Christendom is nie algemeen nie, maar Hollands-Calvinisties; sy Romeinse reg het deur Huig de Groot se sif geloop; ‘n groot stuk van sy rustige verdraagsaamheid kry hy van die kostelike ou ‘reklikes’ wat in ‘n eeu van sekerhede die geloof aan menslike feilbaarheid bewaar het; die lugpyp wat hom aan Europa bind is sy Hollands-Afrikaanse taal.” (N.P. van Wyk Louw, 1986a:447/8)

 

6.         Afloop

 

Die bande wat Van Wyk Louw tydens sy agtjarige professoraat in Amsterdam met die Nederlande en met Nederlandse skrywers en ander kultuurvriende gesluit het, is nie met sy terugkeer beëindig nie. Trouens, na vyf jaar dat hy weer aan ‘n Suid-Afrikaanse universiteit (Wits) verbonde was, het hy een van die belangrikste dinge in verband met dié bande gedoen. Dit was ‘n artikel in Standpunte, onder die titel “Werktuig of naelstring?” (N.P. van Wyk Louw, 1986b:554-560) Hierin het hy hom uitgespreek oor die toenemende neiging in Afrikaanse skole en universiteite om die studie van Nederlands en Nederlandse literêre werke af te skaal en selfs uit te skakel. Hy het gewys op die verlies wat dit op die duur vir Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde en kultuur kan inhou, en ‘n kragtige pleidooi gelewer om dié naelstring nie te deursny nie.

            Dit was ‘n pleidooi wat in ‘n aantal opsigte suksesvol was, sodat daar aan sommige universiteite selfs volledige outonome departemente van Nederlands tot stand gekom het. Maar as ‘n geheel kon die proses nie werklik gestuit word nie. Die gesamentlike effek van ‘n reaksie op die Nederlandse strafmaatreëls tydens die latere apartheidsjare en die natuurlike groei van die Afrikaanse letterkunde het as ‘t ware ‘n getygolf geword waarteen die heersende situasie nie bestand was nie.

 

FIJ van Rensburg 

Emeritus-professor, Universiteit van Johannesburg

 

VERWYSINGS

 

ANTONISSEN, ROB.

            1946. Schets van den ontwikkelingsgang der Zuidafrikaansche letterkunde. Diest: Pro-Arte. 

 

GRESHOFF, J.

            1966. Prof. dr. N.P. van Wyk Louw se vertrek na Nederland. In: Nienaber, P.J.        Beeld van ‘n digter N.P. van Wyk Louw. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Bpk.

   

HOLST, A. ROLAND.

            1958. Een winter aan zee. Bussum: C.A.J. van Dishoeck / ‘s-Gravenhage: A.A.M.   Stols.

   

LOUW, N.P. VAN WYK.

            1943.  Die Digter Marsman. In:  Poëzie en proza van H. Marsman.  Pretoria:           J.L.Van Schaik Bpk.     

           

 

           1946. A. Roland Holst. Standpunte. Jaargang 1, nommer 4. Kaapstad: Nasionale     Pers Bpk.

            

            1949. Greshoff se intellektuele houding. Standpunte. Jaargang 4, nommer 1.          Kaapstad: Nasionale Pers Bpk.

            

            1954. Nuwe Verse. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers Bpk.   

 

            1961. Vernuwing in die prosa. Pretoria en Kaapstad: Academica.

 

            1986a. Versamelde Prosa 1. Kaapstad: Tafelberg.

     

            1986b. Versamelde  Prosa 2. Kaapstad: Tafelberg.

    

LOUW, W.E.G. et al.

            1940. Tussen die engtes: ‘n Versameling ten behoewe van Nederlandse skrywers. Kaapstad: HAUM.

    

LOUW, W.E.G.

            1972. Naggesprek. Naggesprek en ander gedigte. Kaapstad en Johannesburg:       Tafelberg.

    

MULDER, H.A.

            1942. Twee wêrelde. Pretoria: J.L. Van Schaik.

    

            1961. Van Wyk Louw as digter-figuur. Laaste opstelle. Kaapstad: Human &            Rousseau.

 

NIENABER, P.J.

            1966. Beeld van ‘n digter N.P. van Wyk Louw. Kaapstad: Nasionale Boekhandel          

            Bpk.

   

SCHOLTZ, H.v.d.M.

            1950. Sistematiese verslag van ‘n stilistiese analise. Amsterdam / Kaapstad /        Pretoria: HAUM / J.H. De Bussy.

    

SCHOLTZ, H.v.d.M. / W.G. HELLINGA.

            1955. Kreatiewe analise van taalgebruik. Amsterdam: N.V. Noord-Hollandsche       Uitgevers Mij / Pretoria: J.L. van Schaik, Bpk. Uitgewers.

    

SMIT, W.A.P.

            1966. Ontmoeting met “Die swart luiperd”. Smal swaard en blink. Pretoria /            Kaapstad: H&R Academica.

    

STEYN, J.C.

            1998. Van Wyk Louw: ‘n Lewensverhaal. Deel 1. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers      Bpk.       

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Van Wyk Louw en die Nederlande”

  1. Daniel Hugo :

    Ter aanvulling van prof. Van Rensburg se interessante artikel plaas ek die onderstaande rubriek wat op 5 Februarie 2010 in “Die Burger” verskyn het.

    Boekenbrug: Adriaan van Dis en N.P. van Wyk Louw

    Dit is bekend dat talle Afrikaanse skrywers deur die Nederlandse letterkunde geïnspireer en beïnvloed is. Dat die teenoorgestelde ook gebeur, is minder bekend. In ’n pragpublikasie van die stigting Ons Erfdeel oor die tale in Europa skryf Adriaan van Dis oor sy moedertaal Nederlands. Maar eintlik is dit ’n erkenning aan die groot invloed wat Afrikaans op sy “bevryding” as skrywer gehad het.
    Van Dis se pa was ’n Nederlander wat in Indonesië gebore is en eers in sy een-en-dertigste jaar, ná die Tweede Wêreldoorlog, in Nederland voet aan wal gesit het – waar Adriaan in 1946 gebore is. Saam met sy bruin halfsussies het hy in die kusdorp Bergen, Noord-Holland, grootgeword. In die huis is daar die kreoolse taal Petjoh, die sogenaamde Indo-Nederlands, en sy pa se argaïese, koloniale Nederlands vol verkeerde klemtone gepraat. In die omgewing van Bergen het hy daagliks die Wes-Friese dialek gehoor waarin die sk-klank, soos in Afrikaans, konsekwent vir die sch- gebruik word – dit wil sê “verskriklik” vir “verschrikkelijk”. Op skool moes hy Standaardnederlands leer. Hy moes dus leer om “school” te sê in plaas van “skool”. Daarby het hy aan disleksie gely.
    Hy wou van jongsaf ’n skrywer word, maar met die Babelse verwarring waarin hy grootgeword het, was hy taalbevange. Totdat hy as nagraadse student in Amsterdam die taal Afrikaans ontdek het. Veral N.P. van Wyk Louw se “Klipwerk” – ’n reeks gediggies geskryf in die taal en gees van sy Sutherlandse jeug – het by Van Dis aanklank gevind. Hy noem die Karoo-taal van “Klipwerk” kreoolse Afrikaans wat hom aan die eerste klanke uit sy jeug, die kreoolse Petjoh, laat dink het, maar ook aan die Wes-Fries waarin so baie lettergrepe met ’n sk-klank afskop.
    Sy ontdekking van Afrikaans – “een onder de zuiderzon gebakken Nederlands” – het hom die vrymoedigheid gegee om te begin skryf. Van Dis getuig: “Wat een bevrijding! Eindelijk een taal die je schreef zoals je hem sprak. Verskriklik stond zelfs in het Afrikaanse woordenboek.” Hy sê verder dat die taal nog so jonk is dat sy gebruikers, sprekers en skrywers, die nuwe woorde sommer so groen uit die bome pluk! Hy debuteer uiteindelik in 1983 met ’n novelle, Nathan Sid, waarin die jeugdige hoofkarakter self rympies maak in die trant van “Klipwerk”.
    In 1973 het Van Dis vir ’n paar maande op Stellenbosch gestudeer onder die leiding van N.P. van Wyk Louw se broer W.E.G. Louw. Volgens Van Dis was W.E.G. Louw “de enige Afrikaner die bekakt Hollands sprak”. Met “bekakt” bedoel hy hiperkorrek en aanstellerig. Politieke verskille het hulle kort voor lank as kwaaivriende uit mekaar laat gaan.
    In 1990 verskyn Adriaan van Dis se opspraakwekkende boek oor Suid-Afrika: Het beloofde land – een tocht door het Karoo. Daarin haal hy (aanvanklik sonder erkenning) vrylik aan uit die Afrikaanse letterkunde en ander bronne oor Suid-Afrika. Ook hier duik “Klipwerk” byna ongemerk op. Hy beskryf ’n vrou wat hy op ’n Karoodorp ontmoet soos volg: “Wit, en heupen als een schapekont van alle koek en taart.” Dit is Van Dis se vernederlandsing van die volgende Van Wyk Louw-reëls: “die vrouens is te hamelstert / dis van al die koek en tert”. Die feit dat Van Dis nie Van Wyk Louw in sy “Verantwoording” agterin die boek as ’n bron noem nie, bewys in watter mate “Klipwerk” deel geword het van sy taalbewussyn.
    Beide N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw was gedrenk in die Nederlandse literatuur. En deur hulle het Afrikaans weer ’n onvervreembare deel geword van hulle “student” Adriaan van Dis se skryfstyl. Tussen dogter Afrikaans en moeder Nederlands bestaan daar lank reeds (en nog steeds) ’n gulle verstandhouding van neem en gee.

    Bronne:
    Overeind in Babel. Talen in Europa, Ons Erfdeel, Murissonstraat 260, B-8930 Rekkem, België, 2007. ISBN 978-90-75862-92-8.
    Adriaan van Dis: Het beloofde land. Een tocht door de Karoo, Meulenhof, Amsterdam, 18de druk, 1999.

    Daniel Hugo

  2. Louis :

    Baie dankie, Daniel. So sal die los toue bymekaar gevat en geknoop word, of hoe?
    A luta continua. 🙂
    Louis