Johann Lodewyk Marais. Die Bibliotheca Alexandrina

Biblioteca Alexandrina

Biblioteca Alexandrina

‘n Filosofiedosent aan die Universiteit van Pretoria het ‘n keer in ons eerstejaarklas ‘n verhaal oor die ondergang van die antieke biblioteek van Alexandrië in Egipte vertel. Dit bly my steeds by. Dié biblioteek, ‘n deel van die groter Μουσείον, het in die derde eeu voor Christus in Egipte in die regeertyd van Ptolemeus II ontstaan. Die Μουσείον het ‘n tuiste gebied aan musiek en poësie, maar het ook oor ‘n groot versameling kuns, en literêre en wetenskaplike geskrifte beskik, en aan ons die woord “museum” besorg.

Presies hoeveel geskrifte in die biblioteek was, is vandag onbekend. Onlangse opgrawings bewys wel die biblioteek was ‘n belangrike sentrum vir navorsing en geleerdheid, wat in verskeie geboue naby die Μουσείον gehuisves was. Volgens oorlewering het Ptolemeus III sover gegaan om te bepaal dat besoekers aan dié hawestad alle boeke, perkamentrolle en ander geskrifte in hulle besit moes oorhandig om deur die amptelike skribente oorgeskryf te word. Soms was die teks so waardevol dat die biblioteek besluit het om die oorspronklike werk te hou en net ‘n kopie aan die vorige eienaar terug te gee. Met hierdie aanwinste uit “skeepsbiblioteke” en deur bykomende materiaal in die gebiede om die Middellandse See aan te koop, het die biblioteek vinnig uitgebrei. Marcus Anthonius sou ook aan Cleopatra die Grote meer as 200 000 perkamentrolle vir die biblioteek skenk, sodat die biblioteek met sy 700 000 perkamentrolle in haar regeertyd sy gelyke selfs nie in Europa geken het nie (Laura Foreman: Cleopatra’s palace: In search of a legend, 1999, pp. 46 en 49).

My dramatiese filosofiedosent het vertel dat die biblioteek van Alexandriё vernietig is toe ‘n leër onder leiding van Amr ibn al ‘Aas die stad in 642 na Christus aangeval het. Volgens verskillende weergawes deur geskiedkundiges het die bevelvoerder aan die kalief Umar gevra wat om met die geskrifte in die biblioteek te maak, waarop hy (aangehaal in Wikipedia, 2009:7) die volgende antwoord gekry het: “They will either contradict the Koran, in which case they are heresy, or they will agree with it, in which case they are superfluous.”

Vervolgens is die geskrifte verbrand om, soos die oorlewering dit wil hê, badwater vir die soldate warm te maak.

Oor hoe waar hierdie verhaal is, is daar vandag meningsverskil. Geskiedkundiges wat die geskiedenis van die biblioteek nagegaan het, noem ook drie vroeëre geleenthede toe die biblioteek ten minste gedeeltelik deur brand vernietig is. Hoe ook al, teen die agtste eeu het die biblioteek van Alexandriё sy invloed verloor. Daar is byvoorbeeld geen aanduidings dat die biblioteek ‘n rol in die Islamitiese wêreld gespeel het of selfs net gedeeltelik in die biblioteek van die Al-Azhar-moskee en later in die steeds bestaande versameling van die Universiteit van Kaïro opgeneem is nie (Anonymous, The Bibliotheca Alexandrina, 2009).

My filosofiedosent se verhaal oor die vernietiging van die biblioteek van Alexandrië het weliswaar my verbeelding aangegryp en met ‘n gevoel van groot verlies van kosbare intellektuele skatte gelaat. Toe dit enkele jare gelede bekend geword het dat ‘n inisiatief van die Universiteit van Alexandrië, met die steun van die Egiptiese president Hosni Mubarak en UNESCO, daartoe gaan lei dat ‘n nuwe Bibliotheca Alexandrina by Alexandriё aan die kus van die Middellandse See opgerig gaan word, was ek dadelik nuuskierig. Dit het sewe jaar geduur voordat die indrukwekkende gebou ten bedrae van US$212 miljoen en met heelwat steun van Arabiese lande op 16 Oktober 2002 geopen is. Die ontwerp is deur die Norweegse argiteksfirma Snøhetta gedoen. Die vernaamste kenmerk van die gebou waarin die biblioteek gehuisves word, is “its circular, tilting form; rising from the ground to reveal massive stone walls carved with alphabetic inscriptions. Covered by a light roof allowing the building to open toward the Mediterranean sea” (Anonymous, Alexandria Library, 2009). Vir my is die totstandkoming van die Bibliotheca Alexandrina met onder meer rakruimte vir agt miljoen boeke en wat gou unieke skenkings ontvang het ‘n opwindende gebeurtenis.

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Johann Lodewyk Marais. Die Bibliotheca Alexandrina”

  1. Evette Weyers :

    Johann, baie dankie vir jou stuk oor die Bibliotheca Alexanderina. Toe ek as jongeling gelees het dat dit afgebrand het, was dit soos ‘n swaar asteroied wat my in my maag tref. Onmiddellik ‘n diep persoonlike verlies en ‘n verlies vir die hele mensdom. Om nou van die nuwe bib in Alexandrië te hoor, verheug my.
    Melanie se pragtige “Digter wordende” vertel ook oor die verbrand van boeke en verlies aan gedeelde kennis. En Antjie Krog se treffende lesing in Holland herinner ons dat ons almal ‘n innerlike verbondenheid het met mekaar.
    Digters sê dit die beste dat ons nie eilande is nie:
    “Do not ask for whom the bell tolls, it tolls for thee.”

    Dis ook heerlik om saam met jou te reis en deur jou digters-oë te kyk.
    jou gedigte “Fossieljagter” en “Koerie” het ek ook baie geniet.
    Mooi loop
    Evette Weyers