Bernard Odendaal. Liefde as aas

“Drooggemaak” is ‘n gangbare woord om te beskryf wat ek aangevang het toe ek die eerste keer ‘n inleidende poësiemodule aan universiteitstudente moes aanbied.

Nie net probeer om binne ‘n paar weke ‘n oorsig te gee van die ontwikkelingsgang van sowel die Afrikaanse as die Nederlandse digkunste nie. Ook sommer die basiese fasette van verstegniek en poëtiese taalgebruik wou tuisbring.

Die enigste een wat daardie jaar veel geleer het, was ek.

Bek-af sit ek kort daarna in ‘n kongressessie. Al wat ongeveer vassteek van wat die een referent te sê het, is dat studente nie vanselfsprekend geïnteresseerd is in poësie nie (vertel mý!); wel in hul eie lewens. In die dinge wat in hulle leeftyd en in die betrokke lewensfase waarin hulle verkeer, voorop staan.

Soos vry en fuif, dink ek nog gebelgd.

– Presies! besef ek eers ‘n paar dae later goed.

Het daardie Engelsonderwyser in Dead Poets Society nie juis beweer dat die digkuns uitgevind is om meisies te verlei nie?

‘n Module getiteld “Die liefdesvers as tydsdokument” was die volgende jaar gereed.

Moet bely: Ek het nogal manipulerend te werk gegaan. Met die retoriese deur in die huis geval deur te vra: Was jy al werklik verlief?

Soos verwag: Verleë, geamuseerde onderlangse gemompel.

Weet jy of enigiemand al werklik verlief was op jóú? Op júlle, dames?

En hoe het jy dit geweet, of weet jy dit nou?

Van die verwagte clichés (sjokolade, blomme, parfume, juwele) was daar wel. Maar ook: “Hy sê dit vir my.”

Een van die mans (hoe anders?): “Sy maak elke aand nege-uur vir my ‘n snackwich in die gezellie van haar koshuis.”

Vergeefs het ek egter gewag op: “Hy/sy skryf vir my gedigte.”

Toe slaan ek toe met aanhalings soos die volgende (sommer uit die 1986 Die groot Afrikaanse aanhalingsboek):

Hy het rondgekyk en net homself bespeur. Eers het hy gesê: Ek is. Maar vrees het hom gepak. Waarlik, dit was g’n plesier nie en van toe af ken hy wat hom so alleen bevind, g’n plesier nie. Hy het ‘n tweede begeer. Hy was so groot soos ‘n man en ‘n vrou wat mekaar styf omhels. Hy het hom in twee verdeel, en so het man en vrou ontstaan. Derhalwe is die mens soos ‘n afgebrokkelde halfstuk.

BRIHADARINJAKA UPANISHADE, aangehaal deur Marthinus Versveld, Tyd en dae.

 

Vrywillige afhanklikheid is die skoonste toestand en hoe sou dit moontlik wees sonder die liefde?

JOHANN WOLFGANG VON GOETHE, Dichtung und Wahrheit

En – die skaamteloosheid! – met Bybeltekste:

Die liefde is sterker as die dood, die hartstog magtiger as die doderyk; dit brand en vlam soos vuur.

Hooglied 8: 6.

 

Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, ensovoorts – daar uit die bekende I Korintiërs 13

Toe vertel ek dat dit dus nie verniet is dat die oudste bekende stukkie Dietse teks waarskynlik ‘n liefdesgedig (of ‘n fragment van een) is nie – al sê party dat dit maar ‘n Middeleeuse Vlaamse monnik se verlange na sy tuisklooster uitdruk, daar waar hy in Oxford in Engeland geskrifte aan die kopieer was. Of dat dit op verbloemde wyse homofilie in die monnikegeledere verklap. Of dat dit maar net ‘n vertaling van ‘n onbekende Latynse teks verteenwoordig, wat die monnik agterop die manuskripblad uitgevoer het om sy nuutgesnyde gansveerpenpunt te toets:

Hebban olla vogala nestas bigunnan

hinase hic enda thu,wat unbidan we nu

 

Het al wat voël is, nes begin te bou –

behalwe ek en jy. Wat wag ons nog!

En dis ook hoe dié 12de-eeuse versfragment geïnterpreteer is waar dit in die Afrikaanse letterkunde weerklink: as liefdesgedig, as vers van gemis. Byvoorbeeld in D.J. Opperman se “Ná ‘n besoek aan die dieretuin”, waaroor kritici soos A.P. Grové (in Woord en wonder), Ernst van Heerden (in Rekenskap) en Danie Jordaan (in Klasgids van Mei 1990) onderhoudend geskryf het.

Ná ‘n besoek aan die dieretuin

Hebban olla vogala…

 

Twee kraaie het hul nes gemaak

van stukkies draad;

 

en in staalkoue

ver van riete en riviere afgesluit

broei rooivinke en wildepoue

nog hul eiers uit;

 

in ysterhokke

ver van rantjies en langgras

werp ape en die waterbokke

nog hul kleintjies af;

 

net in ‘n enkelkamer ek en jy

van hulle vreugde afgesny.

In lesuur na lesuur het ek pragverse soos stukke aas uitgegooi (die Afrikaanses hoofsaaklik uit Fanie Olivier se 1986-samestelling van Die mooiste Afrikaanse liefdesverse – saam met Kannemeyer se Die Afrikaanse literatuur 1652-1987 ‘n voorgeskrewe boek vir die module):

Gij staat zoo heel, heel stil

met uwe handen, ik wil

u zeggen een zoo lief wat,

maar ‘k weet niet wat.

– Herman Gorter

 

Wys my die plek waar ons saam geloop het,

            Eens, toe jy myne was –

Vroeër, toe ons harte so veel gehoop het,

Vroeër, toe jy myne was.

Kyk, dis dieselfde! Net jy nie. Vra,

Wie van ons twee moet die meeste dra?

Jy wat vergeet het – of ek wat boet

Vir my liefde wat uithou en alles vergoed?

– C . Louis Leopoldt

 

slaap nou, ek druk my neus in die ruiker van jou nek

hoe ryp, hoe bedwelmend die geur, die reuk van lewe

jy leef

jy is ‘n delikate blom van polsende ivoor

jy is diep soos ‘n katjiepiering   stil soos ‘n varkoor

– Breyten Breytenbach

 

[..] de tapse kuit glijdend naar de aan een

ontsnapte volbloed ontvreemde enkel

en de heuvel van wirwar en de zo

zachte borst dat men wel liggend

knielen wil en slapen, toch

met ogen-toe nog toekijkende ogen

– Hans Andreus

 

jy maak my amsterdam

amstelredam

amstelodamum

luister hoe sanctus

die klokke in die torings

van de oude en de nieuwe

van de zuider- en noorderkerke

jantjiesomer my klong

my krokus

– Marlene van Niekerk

 

In die jare daarna is gedigte soos dié ook nog aangevul of afgewissel met ander, soms met bedoelde onthutsende effek: Stephan Bouwer se “jy slaap nou”, Antjie Krog se “sonnet” of “naweekpas”, die Middelnederlandse “Egidiuslied”, Daniel Hugo se “eerste liefde”, Charles Fryer se “Verkragting”, T.T. Cloete se “Lyfspraak ongetroude swanger meisie”, Theunis Engelbrecht se “heimat-vers vir my lovely” – om maar ‘n paar te noem. 

Toonsettings is voorgespeel, waar beskikbaar.

In die proses kon ek darem wys op die kenmerke van die belydeniskuns van die Dertigers in aansluiting by onder meer die Nederlandse Tagtigers en Generasie van 10; op die modernistiese gestalteverse van iemand soos Opperman; op “avantgardistiese” werk soos dié van die Sestigers of die Nederlandse sensitiwiste of Vyftigers; op die kenmerke van en eksperimente met versvorme soos die sonnet en die Middeleeuse wêreldlike lied …

In volgende blogbydraes sal ek ‘n voorbeeld of twee gee van die besprekings wat gevoer is.

Literêr-teoreties of -histories beskou, selfs didakties gesproke, was die kurrikulumsamestelling eintlik haglik. Wis ek en weet ek steeds.

Maar die studente het gekom. Begin saamgesels. Soms het ek gemerk dat daar ook studente in die klas kom sit het wat nie vir die bepaalde module ingeskryf was nie. Wat sommer uit nuuskierigheid kom luister het.

En voor die einde van daardie eerste aanbieding van die module het enkeles skoorvoetend kom vra of ek nie na hul eie pogings wou kyk nie. ‘n Voorbeeld (waarin plek-plek iets van die vroeë Krog weerklink):

 

Wanneer het jy? 

 

Wanneer het jy jou

pampoenstingellyf

teen my kom nestel

jou koel-klam neus

in my nek laat snuif

jou bos kanferfoeliehare

my neus laat kielie

en jou oë …

(o, jou oë wat die

fynste viooltjies aandra)

my laat streel

wanneer het jy hier kom lê

en my liefgemaak vir jou?

– Rentia Conradie

 

Lomphede in ‘n plek-plek darem ook bekoorlike vers soos dié het die gedagte aan ‘n na-uurse poësiewerkwinkel vir gekeurdes laat ontstaan. Iets waarmee ek die jaar daarop begin het. Een van die opdragte daardie jaar het ‘n tema betref: “Ons het te min daarvan” (bedoelende: van die liefde). Twee produkte daarvan lui:

nou wys ek julle wat nog die allerbeste is:

al ken ek al die geheimenisse

en besit ek al die kennis

en al het ek al die geld

om ‘n huis in waterkloof-rif te koop,

en ‘n sizable donation aan die anc te maak,

maar ek het geen bullshit nie,

dan is ek niks.

bullshit is geduldig

bullshit is vriendelik

bullshit is nie afgunstig nie,

is nie grootpraterig nie,

is nie verwaand nie

bullshit bedek alles

glo alles

hoop alles

verdra alles

bullshit maak niemand seer nie

bullshit kos niks

bullshit vergaan nooit nie

bullshit gee jou nie ‘n hangover nie

bullshit kan jou nie aids gee nie

bullshit kan nie deur ‘n polisiehond geruik word nie

bullshit is ozone friendly

bullshit gee jou nie harde, lelike tandsteen nie

bullshit is nie rassisties nie

bullshit is die ultimate high

           

bullshit makes the world go round

 

en nou:

geld, seks en bullshit bly,

hierdie drie.

en die meeste hiervan is

bullshit.

– Cobus du Plessis

 

 

Of daardie jong versmakers vandag nog dig? En of hulle meer liefde as bullshit ervaar het – in die werklikheid, nie net in die woorde daaroor nie?    

Na ‘n paar jaar het meer “rasionaliteit” in kurrikulering die einde van daardie liefdespoësie-module beteken. En die eise van “rasionalisasie” die staking van die nie-subsidie-verdienende poësiewerkswinkel …

Bookmark and Share

Comments are closed.