Rensia Robinson. ‘n Onvoltooide Naam digterlik verbeel – verkennings aangaande ‘n enigmatiese Goddelike Wese in TT Cloete se oeuvre

(Hierdie artikel het oorspronklik in Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 49 No. 4: Desember 2009 as deel van die Spesiale huldigingsuitgawe vir T T Cloete verskyn en word geplaas met die vriendelike vergunning van die redaksie.)

 

‘n Onvoltooide Naam digterlik verbeel – verkennings aangaande ‘n enigmatiese Goddelike Wese in TT Cloete se oeuvre

An incomplete Name poetically represented – explorations of an enigmatic Divine Being in

T T Cloete’s poetry

Rentia Robinson

Rensia Robinson

RENSIA ROBINSON

Onafhanklike Navorser, Durbanville

 

 

 

 

 

 

RENSIA ROBINSON promoveer in 1992 met die proefskrif “Poësieteks en Bybelse interteks” aan die Potchefstroomse Unversiteit vir CHO (tans Noordwes-Universiteit) onder promotorskap van prof. TT Cloete. Sy publiseer vakwetenskaplike artikels in literêre sowel as teologiese tydskrifte en lewer referate by internasionale kongresse in 1995 (Christendom en literatuur) en in 1999 (Poetics and Linguistics Association) asook ‘n referaat by die kongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging in 2006. Sy lewer ‘n bydrae tot die bundel “Over grenzen” (2009) wat vergelykende studies van Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse gedigte bevat. Sy is tans betrokke by poësieleesgroepe, asook ‘n Dante-studiegroep. Sy neem aktief deel aan boekbesprekings vir Leeskringe.  RENSIA ROBINSON obtained a doctorate on a dissertation entitled “Poetic text and Biblical intertext” at the University of Potchefstroom for CHE (presently Northwest University) in 1992 under supervision of prof. TT Cloete. She has published several academic articles in literary as well as theological journals and delivered papers at international congresses in 1995 (Christianity and Literature) and in 1999 (Poetics and Linguistic Association) as well as a paper at a congress of the Afrikaans Literary Association in 2006. She recently contributed to a volume of comparative studies of Dutch, Flemish and Afrikaans poetry entitled “Over grenzen” (2009). She is at present involved in poetry reading groups as well as a Dante study group. She is an active participant in book discussions for reading groups.

 

ABSTRACT

An incomplete Name poetically represented – explorations of an enigmatic Divine Being in

TT Cloete’s poetry

Existential questions concerning origins and destinies are some of the continuous recognizable themes in T T Cloete’s poetry. An important aspect of the origin of such questions is an awareness of design which suggests a possibility of super human origin. Cirlot, for instance, refers to the “psychic fact ‘God’ as a collective archetype, a psychic existent” and that “the universality of an archetype affirms rather than denies the reality of the principle”. Through eight volumes of poetry Cloete’s fascination with the recognition of such an archetype and the possibility of Divine origin becomes apparent. The titles of these volumes signify “a humble love of earthly and divine things”, as the motto at the beginning of one of these volumes suggests. To the poet the impossibility to find an adequate concept signifying Divinity invites not only a tracing of plausible signs, but also a stimulation of poetic creativity. In Cloete’s extensive body of poems such mysterium tremendum creates “a poetic toy”. Poetic design implies precision as well as multiplexity, the outcome of which is a potential for exploration through play with imaginative knowledge. Cloete’s urge for poetic discovery is aptly registered in the title of another of his volumes of poetry, by means of the phrase “holy curiosity”, a quote from Einstein which is also included in a poem in the same volume. What is significant of the latter poem is its title, namely “senile thinker” (“geront-denker”).  It may suggest that such curiosity is a lifelong quest. In Cloete’s body of poetry such creativity signifies to be on a journey continually. Such explorative voyages, which are simultaneously real and imaginative, implement the penetrative eye of the artist, as can be deduced, for example, from a volume of poetry entitled: “From my viewpoint” (“Uit die hoek van my oog”). The poet’s urge to get some grip on a so-called “knotted universe” through poetic discovery induces him to focus intently on the appearance of insignia of such variety and complexity that it confronts the explorer with the reality of an enigmatic Divine Being. Cloete’s perceptions of “insignia” can be compared to Derrida’s philosophical concept of “traces”. The poet is not only fascinated bythe wonders and wisdom of what he discerns but likewise exhilarates in the many appearances of caricatures. Although he finds himself in inescapable juxtaposition to a Being who can not be confi ned to an intelligible Name, this complex relation similarly leads to discoveries which can only be played out in poetry. Incompatibilities in the complex relation between human being and a seemingly aloof Maker become particularly apparent when the meaning of suffering and catastrophe is questioned. The immensity of an intertwined surrounding universe continually undermines certainties and deconstructs seriousness into parody. Intertextuality plays a significant role in the diffuse observations and questionings of the poet. It includes texts of a wide variety, namely religious, scientific, artistic and even high-tech examples. Stereotyped conceptualizations of God are deconstructed and examples from the religio-christian canon are presented satirically. However, the inescapability of incorporating such a Book about God is suggested by the urge of eating as a metaphor for internalizing the Word of God. God images from different eras and contexts are juxtaposed. Evolution and a Big Bang theory as alternative scientific answers are undermined on an equal basis. Efforts to characterize Cloete’s signifying of the Numinous must be content with dialectic approaches. Ricoeur likewise warned, from a philosophical viewpoint, that “the dialectic of the naming of God cannot be transformed into a form of knowledge…The being that humanity cannot really name, is held at the mercy of our language.” This is one of the most remarkable opportunities for poetic speech, recognized by the poet who becomes aware of “perfect sight”. Cloete’s diverse and meticulous as well as cosmic perceptions of the human condition, pose a continuous challenge to the researcher. This article, therefore, presents but a limited reading report on the issues mentioned above, conscious of leaving open many spaces or the possibility of alternative viewpoints.

 

KEY CONCEPTS: holy curiosity, T T Cloete exploring Divinity, traces, juxtaposition,

Parody

 

KERNBEGRIPPE: heilige nuuskierigheid, T T Cloete en Goddelikheid, insinjes, Jukstaponering,

Parodie

 

OPSOMMING

 

Eksistensiële vrae na oorspronge en bestemmings is een van die deurlopend herkenbare temas in TT Cloete se digterlike oeuvre. ‘n Belangrike aspek van hierdie vrae is die naspeur van essensies aangaande ‘n enigmatiese Goddelike Wese. Vir die digter is die onomlynbaarheid van dié konsep “‘n digterlike speelding”. Vormgewing deur middel van die gedig impliseer enersyds presisie maar andersins meerduidigheid. Dit word benut as potensiaal vir ‘n spel met verbeeldingryke kennis. In die Cloete-oeuvre beteken dit om voortdurend op reis te wees. Die onoorsigtelikheid van ‘n sogenaamde “gekoekte heelal” ondermyn sekerhede en erns word gedekonstrueer tot parodie. Intertekstualiteit speel ‘n belangrike rol in die wydlopende waarnemings en bevraagtekenings. Geykte konseptualiserings van God word gedekonstrueer en gegewens uit die religieus-Christelike kanon word in ‘n satiriese lig gestel. Onversoenbaarhede in die komplekse verhouding tussen mens en ‘n oënskynlik afsydige Maker word op die spits gedryf na aanleiding van die vraag na die sin van lyding en rampe. Godsbeelde uit verskillende tye en kontekste word gejukstaponeer. Evolusie en ‘n “Big Bang”-teorie as deel van die menslike drang om te verstaan, word as alternatiewe wetenskaplike uitkomste op gelyke voet ondermyn. Enkele raakpunte tussen Cloete se kreatiewe digterlike spel en die groter religieuse diskoers word aangedui. Die artikel is ‘n beperkte leesverslag met vele oopgelate moontlikhede.

 

‘N SPEURTOG NA ‘N OMLYNBARE SPOOR

 

Die leser op soek na ‘n raamwerk waarbinne TT Cloete se be-tekening van ‘n Godsbegrip in sy poësie gekarteer kan word, besef spoedig dat dit nie ‘n taak is wat binne die bestek van ‘n artikel afgehandel kan word nie. Dié vervlugtende maar verwikkelde begrip is in sy oeuvre vervleg met ‘n byna onstuitbare verkenningsdrif. In die titel van sy digbundel wat in 2007 verskyn het, word laasgenoemde onder andere getipeer as “heilige nuuskierigheid“, ‘n frase wat afkomstig is van Einstein en wat eweneens verband hou met ‘n “kosmiese” religieuse bewussyn. Einstein (In Calaprice 2000:202) kommentarieer hieroor soos volg:

In every searcher of Nature there is a kind of religious reverence, for he finds it impossible to imagine that he is the first to have thought out the exceedingly delicate threads that connect his perceptions.

Die gedig (2007:70) waarin die genoemde bundeltitel van Cloete voorkom, dra as motto ook ‘n aanhaling van Einstein (In Calaprice 2000:280): Raffiniert ist der Herr Gott…. Veelseggend het Einstein (In Calaprice 2000:241) ook daarop gewys: “True art is characterized by an irresistible urge in the creative artist”.

Die eerste vraag wat in die onderhawige “verkenning” ter sprake kom is, teoreties gesproke: waarna om op soek te gaan? Is daar ‘n omlynbare spoor? Talle voorbeelde uit gedigte het egter laat blyk dat “spoor” eintlik nog te definitief omlyn. Die begrip “insinjes” in ‘n gedig met die gelyknamige titel in die bundel Met die aarde praat (1992:32), gee meer weer van die sweempiekarakter van genoemde spoor wat ter sprake is. In dié betrokke gedig word melding gemaak van “die nuuskieriges na God”. Dit blyk egter uit dié gedig dat elke “spoor” wat moet lei na ‘n bevatlike “teken” vervaag, vermenigvuldig of selfs kontrasteer. In die betrokke gedig lui dit byvoorbeeld: “Hy is polivorm, Hy verdoesel met perspektiewe wat in perspektiewe / wegraak.” Die konsep “God” word nêrens in die gedig herhaal nie. Die “insinjes” lei tot geen enkelvoudige begripsomlyning nie. Daar is wel verwysings in die gedig by wyse van ‘n menslike voornaam – Hy/Hom. So ‘n gesuggereerde vergelyking word egter onmiddellik gekanselleer deur die versreëls: “Met sy eie maaksels onvergelykbaar / moet ons Hom na elke onvermoeide begin weer laat vaar”. Die naaste omskrywing in die gedig van die inhoud van dié “insinjes”, is die frase: “In my insien / is van Hom iets van ‘n vermoede in…,” waarop volg vervlugtende “insinjes” op “insinjes”. Opvallend gaan dit boonop slegs om “uit die hoek van ‘n bepaalde oog”, vergelykbaar met die titel van Cloete se bundel Uit die hoek van my oog (1998).

Cloete se bewussyn van die Numineuse herinner aan die volgende omskrywing van Goddelike misterie deur Derrida (In Caputo 1997:332):

I do not know what I love when I love my God. The secret does not enervate or paralyze us, but sets in motion; the secret impassions. I begin by the impossible, impassioned by the secret, by a passion for the impossible, in a forward repetition…producing what we repeat, keeping hope alive. To be in the secret does not mean you know anything. But not to know anything, sans voir, sans avoir, sans savoir, does not mean to drift despondently from day to day, in a cloud of unknowing and uncaring, but to dream – “hoping sighing dreaming” – of something unforseeable, unpossessable, undreamt of, unknowable, of which eye has not seen nor ear heard.

Die digterlike konsep “insinjes” is ook vergelykbaar met Derrida se begrip “traces”. Laasgenoemde word soos volg omskryf (In Caputo 1997:57):

(The) trace is the element of undecidability, the formlessness in which determinate forms are inscribed, a desert place within which determinate decisions – theological or atheological – are made, each checked and confused by the other, each movement disturbed by a countermovement, so that we do not know what is taking place; in the desert one never knows whether what is coming is an oasis or a mirage. Prayers, laws, constitutions, works of art, all of our theologies and atheologies, are so many markings, configurations inscribed in the flux, so many figures carved in the shifting sands of the desert, so many ways of making our way through an aporia.

Veelseggend in die lig hiervan is Cloete se deurlopende digterlike ontginnings van woestyne – sand- sowel as yswoestyne. Die gedig “Kaal” (1992:20) toon so ‘n verwantskap:

Die landskappe van weligheid en groen

gee afdoende. Die verbeelding

hou van self doen.

Die dele wat kaal is en oop

laat die op soek gaan loop.

Die woestyn is ‘n digterlike speelding

“‘n Onvoltooide Naam” is eweneens vir dié digter by uitnemendheid “‘n digterlike speelding”. Van so ‘n “Insinje” skryf Cloete in die gedig “woestyne” (1986:95):

Syne

is die wysheid van woestyne

Die gedig eindig met die reëls:

dit is wysheid

sonder oumansbaard en stywe grysheid

Langs dié omweg is probeer om die problematiek van die betrokke analitiese verkenning te omlyn. Elke “insinje” in die Cloete-oeuvre vorm ‘n netwerk “insinjes” wat nie simplisties isoleerbaar, en dus defi nieerbaar is nie, vanweë ‘n oratoriese vervlegtheid van partiture. Robert Pinsky (In Rosenberg 1987:151), digter en literêre teoretikus, tipeer na aanleiding van sy leesverslag van die Jesaja-geskrif, toepaslik poësie as “a stretching of the imagination to enable it for the dimensions of actual knowledge”.

Die vraag is: waarom dié hardnekkige “ín-loer” – die genoemde gedig (“Insinjes”) verwys byvoorbeeld na “ons loergier”? Simbolies gesproke (Chetwynd 1982:138) impliseer dit: “Beyond the appearances lay the quintessences”. Deel van dié ondersoek is ‘n poging om vas te stel: watter wesentlikhede of essensies in Cloete se digterlike speurtog na “die aanwesigheid van die afwesigheid” (1986:81), soos dié Goddelike sweem onder andere getipeer word, vind gestalte in sy poësie en deur watter middele of strategieë word dit bewerkstellig? Vergelykenderwys stel Richard Kearney (2001: 101) in sy publikasie, “The God who may be”, die vraag: “How do we describe the infinite May-be? What metaphors or figures, what images or intimations from our religious or philosophical heritages might we deploy to speak of this unspeakable enigma?”

Cloete se verkennings oorskry grense. In die gedig “beduimelaars” (1989:145) waarin nogeens die menslike verstaansdrang getipeer word met die versreël: “ons probeer / om die skepping te klassifiseer” met verwysings na verskillende tekensisteme en vakgebiede, eindig die gedig met die slotsom: “in die leemtes ontsnap / Iets Groots alle taal en wetenskap”. Die hoofletters suggereer ‘n rangorde van Onnoembaarheid teenoor alle ander moontlike vorms van kodering en klassifiering.

Vir Cloete is die uitkoms hiervan die verbeelding, waarvan Einstein (In Calaprice 2000:10) beweer het: “Imagination is more important than knowledge. For knowledge is limited, whereas imagination embraces the entire world, stimulating progress, giving birth to evolution”. Valéry (1958:73) verwoord die digterlike strategie van hierdie soort wisselwerking soos volg: “Between Voice and Thought, between Thought and Voice, between Presence and Absence, oscillates the poetic pendulum”. In “geront-denker” (2007:71) lui Cloete se weergawe soortgelyk:

daar is nog tyd om naasaan

rustiger as in die voorportaal van verstaan

digterlik in die agterkamer

van die verbeelding knus te suf

 

GEYKTE KONSEPTUALISERINGS VAN ‘N GODSBEGRIP OMGEKEER

 

Cloete bevraagteken op verskillende maniere geykte godsdienstigheid, dikwels deur gebruikmaking van parodie. Hutcheon (1985:2) se tipering van die funksie van parodie as “one of the major forms of self-reflexivity; … a form of inter-art discourse”, is in dié verband toepaslik.

In die gedig “verlore seun” (1989: 95 – vergelyk ook “Fragment” in 1985:32) na aanleiding van die gelykenis in Lukas (15:11-32), word die slotstrofes van dié Skrifgedeelte gedramatiseer en eietyds gekontekstualiseer:

die masker van die streng oumansgesig

met die wattebaard van die valsismes

het ek jeugdig wys en eiewys opgelig

en die blosende rosige Vaderkrismis

deurgekyk en tóé het ek pleks

van my behoorlik te bekeer

my oorgegee aan alruin en seks

en dáárlangs aangeland by die Here

Tradisionele voorstellings van ‘n gestrenge Vadergod met drakoniese reëls vir sy kinders word gekarikaturiseer. Daarnaas word dié bekende Bybelse verhaal ironies gedekonstrueer deur ‘n aweregse interpretasie van die “bekering” van die gewaande “verlore seun”. Nie wettisisme nie maar libertinisme het die seun se terugkeer na die “Here” verseker, volgens die gedig. Desgelyks word onbehaaglike Sondagvierings ontmasker wat voorgee om ter ere van ‘n Goddelike wet nagekom te word in die gedig “Sunday blues” (1989:177). Die gedig lui soos volg:

Die gedwonge rus van die Sondag is wreed

vir die ná-denkendes. Die brood in hulle mond

wat hulle verdien in die weeklikse sweet

van hulle aangesig dié hou hulle gesond –

en baie ander wat tog van U weet

hulle vir wie U van die almanak afhang

rusdink hulle morbied en melancholies

aan U op die sabbat en hulle verlang

terug na die kantoor en fabriek en verkies

die potlood, die passer en tang.

‘n Ondeurdagte en onbetrokke navolg van godsdienstige gebruike word gestel teenoor ‘n alternatiewe dink oor die “Voortstuwende” wat “in sy rus”, ironies, onagterhaalbaar bly. Daarmee word die oënskynlik “beter keuse” opnuut gerelativeer. Dit bring onvermydelik ‘n sekere on-rus mee:

Laat ons suksessief dink aan U,

soos asemhaling, aaneen, onafskeibaar,

U wat selfs in u rus bly voortstu

sewe maal sewe dae, U wat onbedaar

bly pols, soos ‘n hart se klop kontinu.

Die eietydse alomgenieter met sy “shifting identity” (1998:44,45) wat moeiteloos met ‘n sekulêre (en by implikasie hanteerbare) God kan assosieer, word opnuut geparodieer: “Genot, genot. Genot” (volgens eie definisie) “is ‘n gawe van God”. Simplisties is dus ook die handhawing van voordelige verhoudings met “Hom”. Genoemde gedig vervolg hierop: “Wie kan eet en geniet sonder Hom?Daarom / het ek Sondae in sy goeie boekies gekom”. Hiermee word die genoemde “libertinisme” as deurgang na God weer gedekonstrueer. Ook die gedig “t.s.v.” (1998:37) dramatiseer die realisering van agterhaalde Godspersepsies in die volgende versreëls: “…om ons self te kan lees / en bewus te wees van ons bewus wees. // toe het ons die Maker se maaksels begin inhaal / deur uit te haal:…”. Dit lei tot gelykmakende hanteerbaarheid van ‘n Godsbegrip wat eertyds kon perke opdring aan ‘n inkompetente mens. Dit word soos volg weergegee in dieselfde gedig:

adam 111 met sy hoeveelste eva pluk

mandjiesvol appels in eden, ruk

handuit en gaan op loop

en word wysneus, sy elektronmikroskoop

maak God se kleinste geheimpies oorgroot oop

tot Hy Homself ontdek

in ons oë oopgevlek

ons veerligte weet

kan met sy gewiglose skaaltjie

die massa van die skepping meet

tot die kommakommaste desimaaltjie.

Telkens lei die gelykmakings tot ‘n relativering van geykte lees- of verstaansprosesse. Dat dit hier gaan om ‘n parodiëring van die publieke trivialisering van ‘n Bomenslike konsep, blyk uit die kontrastering in ‘n enkele strofe van dié gedig waarin “hulle wat min is” en “proe-proe stadig (leef)”, gestel word teenoor dié “wat baie is” en “hunker na alles en nog wat”. Betekenisvol in dié verband is Hutcheon (1985:6) se verwysing na “parodie” as “repetition with critical distance, which marks difference rather than similarity”. Daarnaas wys sy (1985:28) daarop: “All parody is overtly hybrid and double-voiced”. In dié geval sou afgelei kon word dat dit nie slegs sosiale godsdienstige waninterpretasies aan die kaak stel nie. Dit dekonstrueer terselfdertyd ‘n bepaalde gangbare Godsbegrip. Cloete (1989:44) se tipering van die funksie van die poësie is in dié verband insiggewend:

die kosbaarste poësie

– dit is ‘n ander haglike

soort oorloop – is vir die parodie

vatbaar en grens aan die belaglike

 

ROL VAN ‘N TEODISEE

 

As daar ‘n aspek is van aardse bestaan wat gelowiges en ongelowiges desgelyks konfronteer, is dit die vraag na die bestaan en sin van lyding en rampe. Cloete se oeuvre lewer uiteenlopende voorbeelde op van hierdie soeke na ‘n geloofwaardige teodisee – dit wil sê rekenskap van die problematiek aangaande die versoenbaarheid van die bestaan van die kwaad met ‘n God van liefde.

Volgens die gedig “brein 1” (1985:43) skiet die menslike intellek te kort wanneer dit gekonfronteer

word met die omvang van menslike paradokse:

die brein

is vir wat die groot soma

in ‘n gedyende lydingstyd moet verdra

jammerlik te power klein

om dit gedurende om dit agterna

dis vir hom te erg

die brein verdwerg

en ontweet

om die verskrompelde bindweefsel op te berg

Betekenisvol in die gedig is die deurgaanse gebruik van klein letters wat ‘n gelykmakingsproses suggereer. In die oorkoepelende “soma” (liggaam) word gelowiges en ongelowiges, ryk, arm, genie en idioot gelykmatig intellektueel impotent voor dié enigma. Volkome ingekeer op die self is die uitdrukking van lyding in die eerste strofe van die gedig “outo-immunisering” (1985:108):

die lyding skei ‘n straling af

afoties diep in die liggaam ‘n teengif

wat die agonie in die donker bestraf

Die erkenning van ‘n Opperheer bring geen gemoedsrus by die “uitlê van die lyk” (1985:89) met ‘n leeftyd se verwondings aan nie. Dié betrokke gedig eindig, soos alle vrae in dié verband, as ‘n oopgelate vraag:

…waarom is u so bedroewend onvermoeid

onvergenoeg

met die vorme wat u so eenmalig en slim saamvoeg

In Cloete se oeuvre is daar voortdurende konfrontasie met gerusstellende godsdienstige aannames. Word ‘n Kunstenaar in die Skepper erken, is hy niks minder nie as “die afranselende kunstenaar” wat mens en natuur na sy willekeur vorm terwyl “Hy self onsigbaar (bly)” (1985:38). Die lydende mens is ironies, “idiomatiek” “sy eetstuk”. In die betrokke gedig word dit, oënskynlik gevoelloos, tot uiterste gevoer in die volgende strofe (1985:31):

hy eet my meer en meer

hy eet my seer

op sy brood

smeer hy my hy smeer

my hy eet my dood

Die deureen loop van sinskonstruksie en versreëls suggereer die onsigbare oorgange tussen pyn en genade. Dit word verder beklemtoon deur die ironiese rym van “brood” en “dood”. Die kunstenaar Michelangelo met sy voorstelling van Adam se ontwaking in die Sixtynse kapel, weet hoe om “Hom voor te stel” in sy oënskynlik paradoksale verskynings. Waar “Sy vinger Adam met die skrikoë aanraak,” word dit “saam met die bondelende wind” en “baie vorme van die pyn” in gebind “in die wolk van sy kleed”, volgens die gedig “Michelangelo: Geboorte van Adam” (1998:34). Die problematiese versoenbaarheid van ‘n God van liefde met die pynlikste lewenservarings word ook in verskillende gedigte geproblematiseer deur middel van die Bybelse

job-metafoor (vgl. die gedig “job die tweede” (1985:47):

u laat my speel

met u en deel

u wonders mee

maar u liefde het twee

kante kan afknou

of in liefde vashou

en moet my op my plek

sit as ek

my laat begaan

te na aan u u slaan

my as ek hardekwas

teenoor u was

hok my gaan u rateltaai

nog om u pinkie pynlik draai

Ook in dié gedig is die gelykmakende proses van kleinlettertipe opvallend. Dit mag hier tekenend wees van ‘n mensperspektief – die afskaling van ‘n Gans Andere tot menslike begripsvermoë, wat in die twee slotreëls tragies gefnuik word. Selfs die Goddelike metaforiese “pinkie” is ‘n vernietigende pynskroef.

Die Christelike kanon draai geen doekies om voobeelde van dié God “wat in sy liefde so swyg / dat ons dit kan hoor” (1985:103) nie. Identifisering met die selfs spreekwoordelike Job is geen finale weerstand wanneer die aanwesigheid van ‘n oorweldigende “liggaamlose gees” geregistreer word, “maar met ‘n duim kragtig soos God” nie. In laasgenoemde gedig (1982:32) bied hierdie obsederende personifikasie eerder onrus as insig. Dit eindig met die volgende versreëls:

Sonder dat ek na hom kon kyk

hy had geen hare geen beendere geen vlees

weet ek soos ‘n mot

druk hy jou beduimelend dood weet ek hoe lyk

hy presies hoe hy jou dop

hou Ek moet ophou luister na Job

se gefluister Job hou op hou op

Ondanks die ongelyke konfrontasies met ‘n gerealiseerde Bomenslike Skepper-Onderhouer, bly die spreker in talle gedigte ‘n strydvaardige wat verwond bly uitdaag – selfs met die onafwendbaarheid (maar sinneloosheid) van die finale dood voor oë. Die gedig “somnambule” (1985:57)

begin met die volgende strofe:

ek die bedrieglike klein oor

kan van ent tot ent

van kontinent tot kontinent

die groot fluister afhoor

daar is ‘n onvermoeide ghong

wat onuitputlik

die tyd aanhits en aftik

Die antwoord van die bedreigde menskant is: “hulle wil met bevreesde lewenslus // die dood besweer wil met soet bedrog / soet koïties stuiptrekkend / ‘n verweer wees teen die skrikwekkend / gedempte gedrog.” Dit is asof die opvallende stuwende erotiek in Cloete se oeuvre deurgaans opponeer én sinkroniseer met ‘n ambivalente kosmiese stuwingsdrang waarin hy meegevoer word.

Die bostaande gedig eindig met die volgende ateïstiese kakofonie:

ek sê wreed wat ek weet

die parendes boor

mekaar doof in die oor

en gil vervaard vergeet vergeet

maar ek is die onverskrokke uitprater

wat snags deur die strate loop

en al die beskermende bloed

van die deurposte af kalfater

die dag wil dit oordawer uitdender

die nag maak dit infrasonies stil

maar ek die groot gil

het ‘n kontinue megasender

my tong sit hulle agterna

ek sal hulle uit hul inslaap

tot ‘n finale suurstofgaap

uitmunch uitgoya

Die veronderstelde vertroostende profesie van die versoenende bloed van ‘n Lam van God wat tot redding kon dien vir Israel (let wel, die spreekwoordelike “volk van God” – vgl. Eks. 12:13) met die slag van hulle paaslam en die smeer van die bloed aan hulle deurposte ten einde die doodsengel weg te wys, word reeds óór-skrééu in ‘n futiele niet in die demonstratiewe uitbeeldings van kunstenaars soos Munch en Goya.

 

EGGO’S VAN GODSVOORSTELLINGS

 

In die gedig “Met kleur en geur” (1982:83) waarin die andersheid en uiteindelike eendersheid (“hulle nekrobiotiese geur”) van die menslike ras gejukstaponeer word, word onder andere verwys na die mens se “jaloers” “waak … oor hulle eie gode”. Cirlot (1982:XV) omskryf ‘n universele “digterlike simbool” soos wat deur Cloete in sy poësie verreken word, soos volg:

…the ‘psychic fact “God” is a collective archetype, a psychic existent, which must not in

itself be confused with the concept of a metaphysical God. The existence of the archetype

(that is of the symbol) neither postulates a God, nor does it deny that he exists; yet although

this is, strictly speaking, unquestionable, it must surely be agreed – if only in theory – that

the universality of an archetype affirms rather than denies the reality of the principle.

In die lig hiervan is die titel van Cloete se reeks gedigte “Eggo’s” (Literator 29(2):202-206), wat die Egiptiese Akhenaton se “Hymn to Aton” jukstaponeer met ‘n reeks omdigtings van Psalms uit die Joodse kanon, insiggewend. Cloete herken “eggos” van hierdie onuitsêbare Wete of Vermoede as gevolg waarvan die mens in verskillende tye en op verskillende plekke op uiteenlopende én gelykluidende wyses daaraan uitdrukking probeer gee het. Teoreties beteken dit die verkenning van analogieë of funksionele ooreenkomste (Van Gorp 1986:203) in ‘n universele verskynsel.

In die gedigte wat Cloete jukstaponeer uit die Egiptiese en die Joodse tradisies onderskeidelik, verwoord hy hierdie soortgelyke verwonderings soos volg in die gedig “[Vagebond2]” (Literator 29(2):205):

…elke oggend staan ek op en elke keer

is dit ‘n avontuur

derduisend jaar

skei my van daardie jood en voor hom dié egiptenaar…

tog is dit dieselfde bruidegom

wat soggens uit die ooste se slaapkamer kom

Die gedig eindig soos volg:

dieselfde horlosie van die maan en son se lig

laat mense gesamentlik vir die Omvattende Gesig

lofliedere sing

tienduisend kilometer en derduisend jaar

skei my van daardie jood en dié egiptenaar

desondanks is dit dieselfde son

waaronder ek sit knus

in God se bakhand doodgerus

met jonger Dawid en veel ouer Achnaton

Die gedateerdheid van talle menslike pogings tot voorstellings van die Numineuse word eweneens verdig. In “Grieke vandag” (1982:35) dien die Grieke as eksemplaar van ‘n indrukwekkende kultuur wat desondanks hulle godsvoorstellings ontgroei het. Dié gedig wat gebruik maak van ironie lui soos volg:

Hulle konings van goddelike geboorte

en oorvloed gode self het hulle eeue gelede

reeds in die steek gelaat. Gouer as sekere soorte

lewensmoeë plante of diere het van hulle selfs hele stede

uitgesterf. Hulle hemele is tot museums geruïneer

Van die olmec-god uit die Olmec kultuur rondom die Golf van Mexico uit die tydperk 1200-400 v.C. is reuse steenkoppe van 3 meter hoog opgerig. Die gedig met die titel “olmec-god” (1998:31) eindig met die versreëls:

asof boorwurms dit vol gaatjies gevreet het. alewig

is die babatiergod aan menslike pokpiep onderhewig.

Weer eens is dit die ironiese wending in dié twee laaste versreëls wat kommentariërend funksioneer. Die “Ewige” word ironies vermenslik deur middel van ‘n verweerbare en ontsierende infantiele metafoor. Die “borobodoer” (1998:31), eweneens die titel van ‘n gedig, is ‘n antieke bergtempel wat in Java gebou is gedurende die tweede helfte van die 8ste eeu v.C. Dié gedig eindig, kontrasterend, met die volgende versreëls van verrukking:

die menigvoud bouers het elkeen

sorgvuldig en perfek sy steen

gekap en gelê in een dig

gepakte stuk

enkele insig

en geluk.

In dié geval funksioneer die boukunswerk metafories op verskillende vlakke en nie enkelvoudig eksemplaries nie. Die menslike vergryp aan godsdiens word gedramatiseer en geïroniseer in die gedig “geelperdridder” (1998:26). Dit geld by uitnemendheid politieke en militêre operasies. Die vernietigende pad van die Mongoolse vegters onder die legendariese Ghengis Kahn is ironies gerugsteun deur vroulike gebede om liefde en vrede. Dit word soos volg verwoord in die genoemde gedig:

vroue en vroue-kore

bid vir liefde en vrede

by kerse sonore

gebede.

Later egter volg dit:

laag teen die hemel se skerm

op die dun balk van die horison

ry ‘n geel vlammende man ferm

met ‘n groot baard, fallus en vuis

hy trap op kerke en museums, argiewe, intieme huise

en al sy voorgangers se wit houtkruise.

 

VRAAGSTELLING NA AANLEIDING VAN “DIE NIKS” AGTER EVOLUSIE EN DIE BIG BANG

 

Cloete se prominente digterlike procédé van vraagstelling in talle gedigte waarin vrae na oorsprong, voorkoms en bestemming ter sprake kom, kan verantwoord word teen die agtergrond van ‘n religieuse bewussyn wat nietemin onomvatbaar verwikkeld is. In die speelse gedig “seeperdjie” (2007:25) word onder andere verwys na “‘n gekoekte heelal / wat gebore is uit één enkele klein knal”. So ‘n waarneming gee aanleiding tot universele sleutelvrae wat dikwels in ‘n gedig met humor verdig word. Einstein (In Calaprice 2000:211) het beweer: “What is the meaning of human life, or for that matter, of the life of any creature? To know an answer to this question means to be religious.”

Die gedig “eier” (2007:10) wat soos volg begin, gee ‘n aanduiding van Cloete se kosmiese ingesteldheid:

daar was net een eier en dié was vol kuit

my ongevormde klomp was ingesluit

saam met Dawid saam met Hawking en Pandora

my duimdruk was aan my duime ingebroei

daar was sonder ‘n vantevore net ‘n agterna

wat uitdy en groei

Dié gedig betrek die teorie van die “kosmiese eier” wat soos volg beskryf word (Ilson 1984:1802): “The prevailing scientific belief is that all the matter in the Universe came into existence when a ‘primeval atom’ (or ‘cosmic egg’) exploded at a definite moment more than 15,000 million years ago”. Cloete verken deur dié gedig ‘n wetenskaplike verantwoording van skepping, wat nietemin mities ingeklee word. Dit is met misterie gevul want spoedig lui dit in die gedig:

dié spul

dié eier is uit die leë lug

gelê met steierende geheime chaos gevul

deur partenogenese sonder hom tot barstens bevrug

In die bogenoemde tweede strofe word verwys na Dawid, Hawking en Pandora as soortgenote in die kosmiese bevalling. Dit kan gelees word as verteenwoordigend van religieuse, wetenskaplike en mitologiese verwante naas die digterlike gene van die spreker. Uit dié ontledende kyk na ‘n verbysterende heelal waarvan laasgenoemde deel is, volg die verantwoording van die omvang van die digterlike verkenning oor die volle spektrum, saamgevat in die slotstrofes van die gedig:

…..my eie dood was reeds ingebroei

my uilekyk 360 grade alkant toe en oor my rug

nag-in my tru-loer my tas-tas agteruit

van duskant af na die oorsprong van die eier terug

my kriewelgier na wetensnap vorentoe vooruit

was in die sagopoeding ingesluit

en met ‘n mespunt Mefisto

wat roosmaryn en nastergal glo

ek steier uit dié eier

uit dié eier vol saamgetroste eiers steier

ek vol geboortevreugde ‘n nat kale kuiken onvas

met my oopgesperde donsvlerke kieriedunbeen

barre toon op ‘n brandende aarde tas-tas

met my dun gesig teen ‘n ver gloeiende lig

deur jellies en jellies kuit na ‘n glibberige daarheen

wat bestaan het voor dit waar was

Wat uit dié versreëls duidelik word, is eerstens die onkeerbare stimulus van ‘n “geboortevreugde”. Dit word egter getemper deur die beeld van komiese weerloosheid – “‘n nat kale kuiken onvas / met my oopgesperde donsvlerke kieriedunbeen” wat “met dun gesig teen ‘n ver gloeiende lig” probeer inkyk. Teen hierdie agtergrond is Cloete se gebruikmaking van anafora ‘n verantwoorde strategie wat uitdrukking gee aan die besef van ‘n oop heelal waarin die ontoereikendheid van elke vraagstelling herhaaldelik opduik. Vergelyk in dié verband die slotreëls van die gedig “jammer” (1998:23):

op my linkersy

my knieë opgetrek

teen my ken lê ek

so, van my vooroorgevalle kruin af deur my nek

en geboë skouers en rug tot by die hak geteken

soos ‘n fetus het ‘n vraagteken

met my afgereken.

Die digter se volwasse “heilige nuuskierigheid” is in die konteks van ‘n uitdyende heelal dié van ‘n nuuskierige kind met sy tref en mis vrae.

 

HERHALENDE PATRONE IN UITEENLOPENDE KONTEKSTE

 

Vir dié digter is die drang na verstaan, weergegee deur die saamgestelde begrip “wetensnap”, vervleg met ‘n verkenning van wetenskap en ‘n religieuse bewussyn. In die reeks gedigte met die opskrif “nasa en agterplaas” (2007:123), word NASA se ruimtelike verkenning gejukstaponeer met ‘n aardse en plaaslike genieting en herkenning van soortgelyke wonders. In die gedig “mikroskoop” van dié reeks lui dit:

‘n knypie grond ‘n druppel water loop

van lewe oor onder my mikroskoop

In die gedig “verkyker” (2007:124) in dieselfde reeks, is die tollende planete binne bereik van die aardse oog in die waarneming van aardse verskynsels.

dan sien ek die jagluiperd rol die kolle

op haar heupe as sy jag

tot sirkels wat wiel met die prag

van planete wat rasend om die son tol

Die verskynsel van “insinjes” of herhalende patrone in uiteenlopende kontekste word deurgaans in dié oeuvre onder oë gebring en digterlik gevier. Dit raak van die miniskule tot die kosmiese. Cloete verdig dit tot herhalende vraagstelling wat vanuit menslike gesigshoek, agter elke verskynsel skuil. Teoreties kan dit herlei word na die taalverskynsel “anafora” (van Grieks anaphora: “a carrying up or back” – Preminger 1993:73). Volgens Van Gorp (1986:22) is dit ‘n stylmiddel om enersyds “de symmetrie van de zinsbou te bevorderen of om meer nadruk te leggen”. Daarnaas dien anaforiese gebruik, volgens Van Gorp, as bindmiddel wat essensieel is vir die samehang van ‘n teks. Dié stylmiddel kan dus inderdaad as metafoor funksioneer van die onoorsigtelikheid van die “onvoltooide Naam”. Deur middel van die gedig word dit tot samehang omgedig. ‘n Gedig wat uitnemend ‘n voorbeeld is van die wyse waarop Cloete hierdie strategie gebruik in verband met

die Godsbegrip, is die gedig “Tristetrahedronis” (1989:160) wat in ‘n vroeër artikel (Robinson, Scriptura 63, 1997: 491-507) ontgin is.

Anaphora (Preminger 1993:73) word gebruik as stylmiddel in gedigte van verskillende kulture, waar die herhaalde begrippe of frases enersyds die reël op die voorgrond plaas maar andersyds ook die geheel van numeriese opvolging markeer. Dit word veral gebruik in religieuse of gewyde poësie waar dit ‘n uitdrukking is van ‘n ekstatiese toestand. Dit is ‘n bekende stylmiddel in die Ou-Testamentiese kanon. Dit plaas metriese en sintaktiese raamwerke in verhouding tot mekaar. Berlin (1985:140) wys in dié verband toepaslik daarop:

Parallel elements (words, sounds, grammatical constructions etc.) are linguistically equivalent in some way. However, in addition to the equivalence that underlies all forms of parallelism there is often a contrast. For after all, equivalent elements are not identical, and their look of identity – i.e. their difference – shows up all the more clearly when they are placed in contiguity.

Die voorkoms van die soortgelyke procédé in Cloete se oeuvre vra om noukeuriger analise as wat binne die bestek van ‘n oorsigtelike artikel gedoen kan word. ‘n Gedig wat in dié verband as illustrasie kan dien, is “Wie, Moses?”, veelseggend in die bundel Uit die hoek van my oog (1998:87). Dit is betekenisvol dat die repeterende vrae in dié gedig gerig word aan Moses wat, volgens die Ou-Testamentiese Kanon, die Wette in klip van die “God sonder Naam” aan die mense moes oordra. Die Skrifgedeelte wat as motto by die gedig gebruik word, is Deut.34:7 wat in die 1953-vertaling lui: “sy oog was nie verswak nie”. Dit impliseer heldersiendheid. Die gedig lui soos volg:

Die monargskoenlappers reël hulle lugverkeer

sonder die amerikaanse toringbeheer.

Wie het hulle dit geleer?

Wie het die visse se honger so oulik opgelos?

hulle swem in hulle kos.

Wie het die reuse-nautilusse, vra,

bo na die Himalaja gedra?

Wie is aangestel

om die stuifmeeldrade van elke lelie perfek

te plaas en die regte getal reg uit te tel

en die ses kolletjies op die ladybird op die regte plek?

Wie het die stomme olifant

geleer sedert die tyd van die mammoet

en mastodont om te groet

met die ivoor van sy tand,

sy sterthare en dik sool van sy voet?

Wie het die duiwelse duwweltjie so slim ontwerp:

hoe hy ook al lê, hy is skerp.

Wie het die eierdop geleer

om te ventileer?

en die talle besonderhede in so ‘n teveel

dat my oog breek en in stafies verdeel

360 grade skeel.

Hierdie gedig sluit aan by die genoemde gedig “eier” in die bundel Heilige nuuskierigheid (2007:10) waarin ‘n “uilekyk 360 grade alkant toe” ‘n omvattende ontdekkingsreis deur tyd, voortyd en tydloosheid impliseer.

 

DIE “ONTSTAANSROMMEL OP DIE SMIDSWINKELWERF” EN EVOLUSIE

 

In Cloete se oeuvre word godsdienste, naas die wetenskap, die kuns, argeologie, paleontologie, tegnologie, selfs eietydse kultusfigure en -programme, aan vergelykbare digterlike dekodering en omdigting onderwerp. Terwyl dit enersyds lei tot analitiese ontginning, lei dit andersyds tot verskillende vorme van repliek, dikwels óf as parodie óf by wyse van onthullende jukstaponering. Wanneer dit in die gedig “ubiquiteit” (1986:133) byvoorbeeld lui: “ons móét ook luister / hoe Hy déúr die ghoerasing // van die mondaine moerige Madonna fluister”, is dit duidelik dat “insinjes” ‘n alomtoepasbare betekenisveld dek. Die godsdienstige ondersoeker sou ‘n wenkbrou kon lig oor die feit dat “die mondaine moerige Madonna” (ook) ‘n “verpligte” ontdekkingsterrein is op soek na die indrukwekkende Ou-Testamentiese Wese met die ontwykende naam.

Evolusie hanteer vergelykbare vraagstelling na oorsprong en bestemmings as die vele “taailogieë”(‘n nuutskepping in bogenoemde gedig 1986:134), wat verwys na “kennis” met verskillende aansprake. Ook agter evolusie verduister vrae ‘n finale deurbrekende Lig, soos dit verwoord word in die gedig “vleis” (2007:15):

ons sien die Dat en die Wat Hóé

wolk van ‘n anderkant af ons toe

met donkernewel waarin geheime uitbroei…

‘n Voorbeeld hiervan is die gedig “paleontologie” (1998:27) wat ironiese kommentaar lewer op onbewaarde karakter (abstrakte) eienskappe van die ver “gevorderde” mensspesie wat teenstrydig die rekonstruksie van die oervorme stuur. Dié gedig lui soos volg:

ons het slegs ‘n toontjie van sy voet

en konstrueer die res reusagtig en wreed

sekuur volgens wat ons vermoed

of presies van onsself weet

Veelseggend neem die konsep “vermoed”, wat in die gedig onvoltooidheid suggereer, ‘n tussenposisie tussen “rekonstrueer…sekuur” en “presies… weet” in, wat voltooidheid en sekerheid impliseer. Aan die hand van die kortstondige menslike lewensiklus word, eweneens ironies, gewys op ‘n teenstrydige “devolusie” in dié superspesie, in die gedig met dié titel (1998:22) wat soos volg lui:

die premie wat ek betaal

omdat kop en skouers boontoe gerig

ek vertikaal

mag asemhaal

is ‘n nat gesig,

swak fokus, bak bene, krom rug

die aap groei in my terug

Die betekenisvolle gebruik van kleinletters wat hierargieë relativeer, is opvallend in dié gedigte. Die gedig met die veelseggende titel “retoriese vraag” (2007:74) verwoord die futiliteit van menslike konstrukte met sy vele hiate. Dit eindig soos volg:

die mensdom in sy groot totaal

is sommer net ‘n stoffie in dié skaal

hul teleskope saam is te gering

om Iets ‘n ietsie naderby te bring

daar’s geen verbeelding of gelykenis

vir wat so groots so handig is

geen smit se goudsmeegod

geen mens se weet en droom wat vrot

Opvallend is die enkele hoofletter in die hele gedig in die woord “Iets” – steeds egter “enige onbepaalde of ongenoemde saak” (volgens WAT IV 1972:487) maar desondanks ‘n moontlikheid met hiërargie. In aansluiting hierby lewer die gedig: “toegedig aan Alfred R. Wallace” (1998:55) kommentaar op hierdie gehaplograveerde “Iets” in die evolusie teorie. In verband met Wallace word soos volg gewys op sy standpunt in verband met evolusie (In Brittanica 23 1963:303):

British naturalist famous for his joint communication with Darwin on the origin of species

by natural selection….Wallace differed from Darwin on certain points. Two essays contend

that man has not, like the other animals, been produced by the unaided operation of natural

selection, but that other forces have also been in operation. Here may be seen Wallace’s

conviction on the subject of spiritualism.

Verder toepaslik as agtergrond vir die Cloete-gedig is die volgende:

Wallace also alluded to the resemblance of animals, and more especially of insects, to their

surroundings, and pointed out that “those races having colours best adapted to concealment

from their enemies would inevitably survive the longest”.

Die genoemde gedig (1998:55) lui soos volg:

ek het die verliefde paradysvoëlmannetjie afgeloer.

my hart het gewoerwoer en getamboer.

ek het flou hom sien wals

met ‘n reënboogkrawat om sy hals.

bloed het deur my are gepols.

ek het ‘n vlammende vlam

gesien in sy verekam.

met sy akrobatieke dans

het hy my iets van die Here

iets vol kleur laat sien van die trans

van die God van die choreografie van vere.

Die wonder van kleurskakerings, waarna veelseggend verwys word in die gedig “Insinjes” (1992:32) – vergelyk ook die afdeling “Uur van Purkinje” (1992:83) – wat in die evolusieverhaal onverrekenbaar bly, is vir die digterlike oog “daagliks ‘n heilige onderneming”. Dit word ‘n persoonlike religieuse ervaring van ‘n eiesoortige genadeteken naas die tradisionele water, brood en wyn. Neem die digter ‘n landskap waar “(daar waar gletsers geloop het) maar waar (daar ruwe berge opstoot), be-teken dit “‘n onvoltooide begin…// in afwagting”. Dié gedig (1998:77) eindig met die versreëls:

asof niks hier nog klaar gekreuk

klaar geplooi en gefrommel

en klaar afgerond

is nie lê die onstaansrommel

op die smidswinkelwerf rond

Nie slegs die ooplatings van ‘n konsekwente waarvandaan van die evolusie word ontgin nie. Volgens dié gedig is ook die “waarheen” onafgerond. Selfs die asemrowende vermoëns van die eietydse tegnologie raak nog nie die hiate, waarvan die uitkoms van die evolusie een aspek is, baas nie. Die ontoereikendheid van die evolusie as fi nale “oplossing” vir ‘n volledige skeppingsverhaal word in die gedig “Opgrawing by Kurion” (1989:82) soos volg verwerk:

Voor die wil van die aarde

as die aarde hom reg wil skommel

is bloed en staal van nul en gener waarde…

Ons krap in die rommel

ons weet dit is hopeloos om te vra

aan die puin en beentjies,

die artefakte en kakebene ly aan amnesia.

Daar lê tussen die skelette dobbelsteentjies

vir een of ander spel.

Ons wil weet, sit bymekaar,

ons wil graag dat hulle vertel,

ons rekonstrueer met ‘n rekenaar.

Die mure hang skeef

die kruike is gebreek.

So het hulle, lyk dit, geleef.

Ons sien ‘n haarspeld deur ‘n skedel steek.

Ons vroetel tussen puin en skelet

soos ‘n span wat 16 eeue hopeloos te laat

opdaag om vrou en man en kind en hond te red…

net Apollo het sy tempel betyds verlaat

voor dit ineenstort…

wat het intussen van Apollo geword?

Die gedig impliseer dat die rekonstruksies van die paleontologie en argeologie die mitologie verplaas het as poging tot die daarstel van ‘n Kosmologie. Apollo was die mees vereerde en mees gevreesde god uit die oudheid. As god – wat die betekenis van die woord ookal mag impliseer – het hy meer tot stand gebring onder die Grieke as menige veldheer, staatsman of geleerde. Die sinds die 18de eeu so bewonderde Griekse beskawing sou sonder hom nie bestaan het nie. Hy word gewoonlik afgebeeld as “kouros”, ‘n baardlose en kragtige jong man (Ijsseling 1994:12). Die opskrif van die gedig sluit aan hierby, aangesien “Kurion” kan verwys na ‘n koninklike magssentrum (Liddell & Scott 1949:400).

Vraagstellings na herkoms en bestemming van mens en aarde word in dié oeuvre vanuit uiteenlopende gesigspunte benader. Die gedig “geslagsregister” (1998:86) eindig byvoorbeeld soos volg:

terloops is ek streng

gesproke gebore uit die biekbeng

en tersluiks word ek op stuk

van sake ‘n kreng

soos beskrywe in die fyndruk

deur ‘n gravitasiekolk ingesluk

Sélf “gebore uit die Big Bang”, wetenskaplik geverifieer, hang die vraag egter na “Die Niks agter

die Big Bang” (1992:30) volgens die gedig met dié titel:

Ons sit, sonder die kok self, by die maaltyd aan.

Die argitek is onsigbaar agter die gebou. Alleen

die lyf met die arm en been

van die atleet is sigbaar op die renbaan,

sonder hart en long.

En waar is die haarveer van Hongkong?

Gewoon logies beredeneer, gaap daar ‘n hiaat en dit is die hart van die saak! ‘n Verwikkelde argument word met alledaagse woorde en beelde omskep tot ‘n oënskynlik enkelvoudige gedig, wat eweneens ‘n “kreatiewe intelligensie” daaragter impliseer. Die gedig “die Begin” (1992:28) se eerste versreëls lui veelseggend: “die omwenteling na die Begin / toe is die begin van die verwondering”. Een van die gedigte wat hierby aansluit, met die titel “big bang” (1992:33), begin volgens die eerste strofe met die ander logiese konsekwensie – die doelwit?

metdat die heelal sentrifugaal uitdy

3 miljoen kilometer per uur

waarop gaan dit uitloop?

waarheen is dit op loop?

en Einstein op ‘n geboë ligstraal ry

waar sit die Bestier?

is die kosmos geslote of oop?

Hiernaas eindig die gedig “Entelegie” (1992:54) met die volgende menslike motivering agter die vraagstelling:

….Dit boei

my supramenslik hoe die allerwysste wysheid ingebroei

is in die toendragans wat sy lugverkeer

oor ‘n enorme kontinent fyn uitwerk sonder toringbeheer.

Wat ons daarop voor het, is dat ons kan vra

na die camera obscura agter ons kamera,

wat afgekyk is, dat ons met ons refraktor

probeer loer om ‘n hoek

om van die uitsluitende Faktor

– óns wat wil weet van óns weet – uitsluitsel te soek.

Veelseggend in dié verband is die aanhaling van B. Forbes as motto voor aan die 7de afdeling van Met die aarde praat (1992:75): “How you start is important, but it is how you finish that really counts”. Hierna volg die reeks gedigte onder die opskrif “Telpunt” (1992:75-80) waarin kunstige en sportiewe liggaamsbewegings dit fisies demonstreer. In pas met evolusie durf die digter dus die gedig “stamboom 3” (2007:64) eindig met die “gebed”

in die versreëls:

God Alchemis

wat goud uit gas maak en ‘n parkiet

kan omtoor uit ‘n akkedis

en uit ‘n aap ‘n heilige leviet

en priesters en ‘n pous God speen

van hierdie aap in my die vis

“Vis” roep in dié verband die Griekse gebruik van dié woord as akroniem vir Christus op sowel as die geheime simboliese gebruik daarvan deur volgelinge van Christus (Herder 1986:77). Die proses van vrymaking van die aarde en die gereedmaking van ‘n lewe vir ‘n Hiernamaals kan eweneens as ‘n evolusie getipeer word. Die ironie daarvan om die Christelike verlossingsleer by implikasie te “versoen” met die evolusieleer is ‘n digterlike strategie met veel groter trefkrag as die vurigste godsdienstige debat.

 

INTERNALISERING VAN ‘N BYBELSE KANON

 

In Cloete se oeuvre is die Christelike kanon onmiskenbaar ‘n vrugbare interteks, selfs ‘n grondteks, waarmee digterlik gespeel word. Uit die gedig “Vertelde tyd verteltyd” (1980:80) kan afgelei word dat Cloete dit lees as literêre tekstipe. Naas die titel word dit geïllustreer deur die begin en eindreëls van dié gedig:

Met een verhaal is die onbegonne werk

van sloerige millenniums laat vertel

in een voltooide week…

…Van die dood

van die dodo en dinosourus, van die neutron

en proton is eers later

vertel, van ander nog later, laasteloos later…

Die slot van die gedig impliseer die oopgelate “kanon”. Die motto voor die derde afdeling van Met die aarde praat (1992:25), gee iets weer van ‘n bestaansfunksionaliteit van bogenoemde teks. Dit is ‘n aanhaling uit Eseg. 2:8; 3:1-2 wat lui: “…maak oop jou mond en eet wat Ek jou gee…eet wat voor jou is, eet hierdie boekrol…eet die boekrol wat Ek jou gee, eet jou vol…”. Rubem Alves (1990:75), Brasiliaanse filosoof en psigoanalis, skryf soos volg na aanleiding van die verband tussen die Goddelike Woord en eet:

Mouth is the place of eating long before it is the place of speaking. Our original Word is a

twin sister of food. When Ludwig Feuerbach, a professional of words, said that ‘we are what

we eat (man ist was man isst)’ he pointed to the place where Word and flesh make love. ‘I

eat, therefore I am.’ Eating comes before speaking. And speaking, throughout our whole lives,

is a form of eating.

Alves (1990:85) vervolg:

We see the profound insight of those languages which refer to love-making as ‘eating’. Indeed,

they are the same thing: to take the other inside, to feel his or her taste, to show, in one’s eyes,

that the other is pleasurable…

“‘Eet” sowel as “erotiek” is twee van die deurlopende motiewe in Cloete se oeuvre wat inderdaad verband hou met die digterlike woord. In die gedig “Eros” (2007:23) lui die eerste twee versreëls byvoorbeeld: “in ons vroeë griekse selfken in eros / is ons menslikheid begryp”. Erotiek is gelyksoortig ‘n weg na bestaanskennis. Alves (1990:10) wys daarop: ” …words which are to be eaten…(is) The way of poetry”.

Belangrik in verband met die eet-metafoor is dat eet woordgebruik voorafgaan volgens Alves (1990:75): “The new born baby, even though it is an ‘infans’ – which in Latin means a dumb body, still before the birth of speech – already knows what the philosopher meant. The child knows the wisdom of eating”. Cloete (2007:136) verwoord in die gedig “tussengangers” die wysheid van “eet”. Dit kom ook in verskillende ander gedigte ter sprake. Dit is egter ook ‘n religieuse daad waaraan, volgens die Christelike kanon, in die Paasmaaltyd en die Nagmaal uitdrukking gegee word. Die eerste versreël van die genoemde gedig lui:

van baie mense het ek geleer

Later in die gedig volg ook:

maar ek het van baie diere geleer

Die gedig eindig met die reëls:

ek het geleer dat hulle weet

om as tussengangers hulle herkoms

en bestemming te eet

Die perspektief waaraan die gedig metafories gestalte gee, is dat “eet” mitologiese, religieuse, wetenskaplike en kunstenaars vrae na herkoms en bestemming simboliseer. Die reeds genoemde aanhaling uit Esegiël vind ook neerslag in ‘n gedig met die titel “Esegiël” (1992:12). In hierdie gedig blyk dit dat die “eet van die Woord” egter twee kante het volgens die slotreëls van dié gedig wat soos volg lui:

ek, aangebore teoloog

ek loop op sagte sampioene,

maar as ek gaan sit

sit ek op uitgelese skerpioene.

Die simboolwaardes van die “loop” en “sampioene” teenoor “sit” en “skerpioene is insiggewend vir die funksionering van ‘n Bybelse grondteks in Cloete se oeuvre. “Loop” impliseer beweging teenoor “sit” wat vergenoegdheid kan impliseer. In aansluiting hierby word die sampioen simbolies bestempel (Tresidder 2004) “linked with phallic potency”, as “the most powerful apocalyptic symbol of the nuclear age”. Hierteenoor word die simboliese waarde van die skerpioen soos volg beskryf (Tresidder 2004:428): “The scorpion is a demonic creature in the Bible, and appears in medieval art as an emblem of deadly treachery and sometimes of envy or hatred”. Die twee pole is beskrywend van die funksionering van die Bybelse kanon as interteks in Cloete se oeuvre.

Die Bybelse profete as metafoor vir verligte draers van die Goddelike Woord, blyk uit verskillende gedigte teenstrydiglik enersyds rampspoedig en andersyds eufories te wees. Die gedig wat in dié verband van toepassing is op die digterskap, is “penkop hoor meer as een stem” (1998:68). Die volgende reëls verwoord dié ambivalensie:

“Waaroor mag ek skryf en hoe,

wat is toegelaat en wat is taboe?”

“Vra hulle wat weet wat God alleen weet.” Tjoepstil

is Hy oor wat Hy met my wil.

Soek antwoorde

uit die ongehoorde…

“Penkop” hou nie slegs verband met die een met die “pendoring” (vergelyk “Paser 1” en “Paser 2” 1998:70-72) nie.1 Dit hou ook verband met ‘n leerling of oningewyde – ‘n jongeling met ‘n gebrek aan lewenservaring, volgens WAT XII (2005:162). 1 Die betrokke gedigte is vantevore verken in ‘n artikel (Robinson, Scriptura (2004:1): 54-72). Cloete se transponering en eietydse transformering van die oer Bybelse mensverhaal, erken dié teks as tydgenootlik relevant onder andere in die insiggewende gedig, “alles om hulle is mooi” (1980:15). Slegs die begin strofes word ter illustrasie aangehaal.

Byna elke dier het nou reeds sy naam

gekry, die voor-adamiese gefossileerde selfs, die mikrobes

en virusse en amebes. Die versteekte verbode skaam

vrugte is in die middel van die tuin

almal reeds straffeloos beproef, getel

is reeds die naby-voorlaaste ster en reeds roep

hulle van die maan af triomfantelik trug. Ouers vertel

hulle nageslag en hulle nageslag ná hulle hulle in hulle geslagte

vertel hulle kinders al minder en minder van Eden

Satirisering van Bybelse gegewens in die sin van spottend polemies kyk daarna (Van Gorp 1986:368) is ‘n eerdere aanduiding daarvan dat Cloete variërend en deurgaans kreatief responderend omgaan met Bybelse intertekstualiteit. ‘n Voorbeeld gedig in dié verband is “jakob” (1989:96) wat soos volg lui:

U het toegelaat

dat hy sy broer bedrieg

vir sy pa lieg

laban verneuk

na al die kwaad en verraad

– mag hy hom skaam –

het U hom met ‘n heupbreuk

genees en hom met ‘n nuwe naam

vereer en aartsvaderlik gesier

U handel met prostitute tollenaars bandiete

– U wil geskied –

en hanteer op ‘n vreemde manier

u rare meriete

Die Goddelike uitverkorenes, by uitstek die aartsvaderlike tipes, bied geen verhelderende, voorbeeldige eksemplare nie. Dit plaas die Bybelse kanon as vanselfsprekende Goddelike handboek by implikasie onder vraagteken. In die gedig “prospekteer” (1989:151) kontrasteer Cloete “ons wat so vlot van God praat / deur ons geskiedenis verspreek tot ons klein maat,” met, volgens die laaste strofe van dié gedig, die Here soos volg:

…Hy die Here

is gekamoefleer, gediversifieer,

oneindig eindeloos meer

mega- as enkelvoudig geformuleer.

Sekerlik die bytendste dekonstruksie van ‘n voorskriftelike gedeelte uit die Ou-Testamentiese kanon is die gedig “hitler lees die leviete voor” (1998:48). In dié gedig word die Levitiese voorskrifte gejukstaponeer met die destruktiewe Hitler ideologie van ‘n superras. Dit blyk uit die volgende versreëls uit hierdie gedig:

niks mag aan die volmaakte skort

nie, geen telank en te kort

word verdra nie

niemand het daarin behae nie

Die gedig eindig met die verdoemende reëls wat eweneens aansluit by die Levitiese onreinheidswraak:

as hy pleit, moet julle hom opsysit,

of hy nou smeek of bid.

Die dilemmas bly onder vraagtekens verhul.

Hieruit behoort dit duidelik te wees hoe ontoereikend enige simplistiese beoordeling van Cloete se komplekse omgaan met die Christelike kanon in sy oeuvre verloop. In dié verband is die slotreëls van “laataandnuus tv” (1985:67) ewe toepaslik:

hoe ek die alternatiewe alterneer

die waarheid bly onagterhaalbaar

 

DIE VERHOUDING MENS – BOMENSLIKE MAKER

 

Die misteries en ambivalensies van ‘n menslike “geslagsregister” word met humor, of alternatiewelik ironie, in verskillende gedigte uitgespeel. In die gedig “lokale realisme” (1985:105) word die bestaan en herkoms van ‘n indiwidu soos volg verwoord:

dis hier ‘n einde en ‘n begin

om my ek is tussenin

in die magistrale intussen opgeneem

is ek ‘n minuskule seem

in die groot sisteem

hier trap ek stewig vas

Die soeke na ‘n bewustelike verbintenis tussen mens met ‘n eie wêreld van bestaansbehoeftes en die onagterhaalbare Maker, word soos volg verwoord in die gedig “uitvraroep” (1985:34):

u wat planete kaats

en melkweë versit

wat is melaats

vir u wat ‘n seer pinkielid

voor u almagtige mag

u wat ligjare meet

en ‘n ewigheid onthou

u moet tog ook weet

van my en met my rekening hou

u’s tog ook op my bedag

Die opposisies tussen almag en klein persoonlike nood, word deur die omarmde rym beklemtoon (byvoorbeeld “planete kaats” en “melaats”, “ewigheid onthou” en “met my rekening hou”). Selfs die sorg vir die aarde (vergelyk Gen. 1:15) volgens Bybelse opdrag, demonstreer die problematiese verhouding tussen Skepper en skepsel volgens die gedig “Hortologie” (1986: 127):

U het die boom vergeet.

Ek het hom geplant

Die een wat net ek nog van weet.

Hy hou met U tóg deur my verband.

Hy staan daar geelbleek.

Ek snoei hom en hou hom nat.

U weer die laat hom in die steek.

Hy’s toevallig in u wind se pad.

Wat ‘n goddelike bestier

na my manier.

Uit menslike perspektief spreek dit onmiskenbaar van ironie oor die Goddelike albestier. Enersyds spreek pogings tot intieme kommunikasie met God as Skepper-Onderhouer van afstand en misverstand. Selfs mistieke eenwording loop nie uit op ‘n onproblematiese utopie nie. In die 2de en derde deel van die gedig “kwiëtis” (1985:36) lui dit byvoorbeeld:

u is my ridder

ek dra u onsigbare

oorweldigende gewig

selfs in my swik

en in my struikel en lê beskik

u nogtans u voortvarende ondraaglike wil

ek is hoe anders kwiëtis

en dis selfs aanmatigend

om dit te sê ondergeskik

aan u en in u stil

ek is so gekrullip

dat u iets van u wil daarmee vertrokke verklik

Andersyds is die gedig “Van Hom en my” (1982:109)2 getuienis van nie slegs ‘n onverbreekbare jukstaponering met die Onaanraakbare nie. Hy is die inisieerder van dié interaksie volgens die versreëls:

Hy wat die hemel uitstrek

het hemel en aarde denkende

aan my geboog

gemaak wat kleurig

voeg in my omvattende verreikende oog

Die onmiskenbaarheid van meer as aardsheid in die menslike skepsel en ‘n verwondering daaroor, soos gedroom in mitologie en kuns, word “gevier” in die gedig “Die wonderbaarlike liggaam” (1989:161). Die gedig begin soos volg:

Ons liggame word wonderlik ingeweef in die tyd

uit semen en ovum en ons begin sekuur ons lewe

volgens ‘n goddelike ingewete eiewysheid

Die gedig eindig soos volg:

….- met loop en dans

en sweef simuleer ons ‘n heilige trant

this quintessence of dust in sy stralekrans

Dit is in hierdie trant wat die bundel Driepas gekonstrueer is met die volgende motto as uitgangspunt:”a humble love of earthly and divine things”. Dit vorm die basis van Cloete se religieuse verkenning.

 

DIE AARDE AS INFORMANT

 

Die onmiskenbare handtekening van die Skepper staan vir Cloete digterlik ingeskryf in die aarde met sy onoorsigtelike en verwikkelde wonders en wyshede. Die titel van die bundel “Met die aarde praat, resoneer deur sy hele oeuvre. Of dit nou die aarde self is met byvoorbeeld sy “wysheid wat gedroog is in klip en kaktus” (1992:18), die talle vermaaklike kreature wat dit bewoon (vgl. “Spinnekop” 1992:55), of die omringende kosmos, dié digter kyk gefassineerd na die skoonheid en die intriges daarvan. Die gedig “likkewaan” (1992:51) begin met die volgende versreëls:

die van nature

onnavolgbare verfynde fakture

dra die tekens van die Oorsprong

2 Vroeër verken: Robinson In Literator 16(3): 61-79.

Ironies sluit die gedig “klein epos van die vanselfsprekende” (2007:36), na ‘n kartering van

natuurwonders, af met die versreëls:

verste terug het die eerste sel

haar vanselfsprekend spontaan geleer

hoe om haarself te kopieer…

en al dié selfstandige selwes vertel

van die Self wat haar Spontane Self met ‘n groot S spel

 

GEVOLGTREKKING

 

Die “navorser” wat meen om uit Cloete se oeuvre ‘n hanteerbare “etikettering” van sy Godsbenadering te omlyn, eindig met ‘n oopgelate teks. Veel eerder is daar sprake van “‘n dialektiek van Goddelike verkennings”. Die filosoof, literêre teoretikus en hermeneut Paul Ricoeur (1995:228), skryf oor dié begrip soos volg:

…that God is designated at the same time as the one who communicates through multiple

modalities of discourse…and who also holds back is why the dialectic of the naming of God

cannot be transformed into a form of knowledge….the name confided to Moses (Ex. 3:13-15)

is certainly that of the being whom humanity cannot really name, that is, hold at the mercy

of our language.

Cloete se ontdekkings van insinjes as sweempies van Goddelikheid en die gedig as uitdrukking daarvan, word geïllustreer deur sy gebruik van die metafoor dons in die gelyknamige gedig (2007:116):

my gedig

jy is nastergal

‘n dowwe vermoedelike insig

naby effe inloer

onthuts raak en ontroer

‘n uitroep in dons ‘n fraktaal

sonder gewig

‘n geruislose sagte uilveer

nouliks iets meer

van duskant ‘n geringe

skeel waarneming

van die verstommende verstaan

en herken en erkenning

van die onverkenbare bestaan

Dié konsep hou die meedoen van alle sintuie in, die spel van verbeelding en intellek, ‘n ingeskapenheid met die aarde en ‘n kosmiese sweef bevry van aardsheid – ‘n antonimiese “uitroep in dons”. Die gedig (nastergal) is die toorspreuk wat die Onvoltooide fantaseer.

 

BIBLIOGRAFIE

 

Alves, Rubem A. 1990. The Poet The Warrior The prophet. London: SCM Press.

Berlin, Adele. 1985. The dynamics of Biblical parallelism. Bloomington: Indiana University press.

Die Bybel. Ou en Nuwe Testament. 1953. Kaapstad: Britse en Buitelandse Bybelgenootskap.

Calaprice, Alice (ed.) 2000. The expanded quotable Einstein. Princeton: Princeton University Press.

Caputo, John D. 1997. The prayers and Tears of Jacques Derrida. Bloomington & Indianapolis: Indiana

University press.

Chetwynd, Tom. 1993 (1982) Dictionary of symbols. London: Aquarian press.

Cirlot, J.E. 1982 (1962) A dictionary of symbols. London: Routledge & Kegan Paul.

Cloete, T.T. 1980. Angelliera. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T.T. 1982. Jukstaposisie. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T.T. 1985. Allotroop. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T.T. 1986. Idiolek. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T.T. 1989. Driepas. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T.T. 1992. Met die aarde praat. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T.T. 1998. Uit die hoek van my oog. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T.T. 2007. Heilige nuuskierigheid. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T.T. 2008. Eggo’s. Literator 29(2): 202-206.

Encyclopaedia Brittanica 23. 1963. London: William Benton.

Herder 1993 (1986) The Herder Dictionary of Symbols. Wilmette: Chiron publications.

Hutcheon, Linda. 1985. A Theory of Parody. New York: Methuen.

Ilson, Robert et al. 1984. Reader’s Digest Great Illustrated Dictionary. London: Reader’s Digest.

Ijsseling, Samuel. 1994. Apollo, Dionysos Aphrodite en de anderen. Amsterdam: Boom.

Kearney, Richard. 2001. The God who may be. Bloomington: Indiana University press.

Liddell & Scott’s Greek-English Lexicon. 1949. Oxford: University press.

Pinsky, Robert. 1987. Isaiah. In Rosenberg, David (ed.) Congregation: New York: Harcourt Brace Jovanovich,

pp. 144-160.

Preminger, Alex et al. 1993. The New Princeton Encyclopedia of Poetry and Poetics. Princeton: Princeton

University press.

Ricoeur, Paul. 1995. Figuring the sacred. Minneapolis: Fortress press.

Robinson, (A.S.) Rensia. 1995. Jukstaponering van Hom en my – die digter as hermeneut. Literator 16(3):

61-79.

Robinson, (A.S.) Rensia. 1997. On God and Boundaries: T.T. Cloete’s Tristetrahedronis as a model of

expanding boundaries. Scriptura 63:491-507.

Robinson, (A.S.) Rensia. 2004. Die laserfunksie van taal: openbaring of verhulling? ‘n Teoretiese oriëntering.

Scriptura 85: 54-72.

Tresidder, Jack (ed.) 2004 (1995). The complete dictionary of symbols. London: Duncan Baird.

Valéry, Paul. 1958. The art of poetry. Vert. Denise Folliot. New York: Pantheon.

Van Gorp H. e. a.1986. Lexicon van literaire termen. Groningen: Wolters-Noordhoff.

Woordeboek van die Afrikaanse Taal Deel IV 1972; Deel XII 2005. Stellenbosch: Buro van die WAT.

Bookmark and Share

Comments are closed.