Johann Lodewyk Marais. Timboektoe se antieke manuskripte

Afrika het met verloop van tyd belangrike manuskripversamelings opgebou. Hierdie dekade was daar tewens ‘n inisiatief waarby Suid-Afrika ten nouste betrokke is wat my net so opgewonde maak soos die herlewing van die Bibliotheca Alexandrina. Ek praat van die ooreenkoms tussen die regerings van Suid-Afrika en Mali wat in 2002 onderteken is om die antieke manuskripte in die Ahmed Baba-instituut vir Hoёr Onderwys en Islamitiese Navorsing in Timboektoe aan die Nigerrivier in daardie Wes-Afrikaanse land te help bewaar.

Timboektoe was lank bekend as ‘n sentrum vir navorsing op die gebied van die wiskunde, sterrekunde, chemie, medisyne, weerkunde en godsdiens. Sowat 18 000 Arabiese tekste op delikate papier wat uit die dertiende eeu dateer, het behoue gebly, baie in privaat versamelings in geboue en wonings van modder en hout. In die tyd toe Mali ‘n belangrike trans-Sahara-handelsroete (onder meer danksy die goud-, sout- en slawehandel) was, het talle kunstenaars, digters, akademici, politici en godgeleerdes daarheen gegaan. Die nagedagtenis aan Timboektoe se ekonomiese, intellektuele en geestelike glorie het voortbestaan lank nadat die handelsroete oor land veral as gevolg van Europese skeepsvaart langs die Weskus van Afrika hoofsaaklik net maar nog nomade met soutblokke op hulle kamele bedien het (kyk Shamil Jeppie & Souleymane Bachir Diagne, The meanings of Timbuktu, 2008).

‘n Insamelingsdinee vir die trustfonds wat deur die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika bestuur word, is op 1 Oktober 2005 vir Suid-Afrikaanse besighede en privaat skenkers gehou. Die fonds beoog om die manuskripte in die Ahmed Baba-instituut te bewaar, ‘n nuwe gebou vir die versameling op te rig en die bestudering van die versameling te bevorder. In sy toespraak by die dinee het oudpresident Thabo Mbeki onder meer die volgende oor die versameling gesê: “These manuscripts debunk the myth that the tradition in Africa was always and only an oral tradition. The manuscripts point to the significance of the written tradition – a tradition that long predates the arrival of European colonisers on the soil of Africa.”

Die Timboektoe-manuskripte, wat reeds toerisme na Mali ‘n hupstoot gegee het, het in Suid-Afrika ‘n hoё status aangesien dit die eerste amptelike kultuurprojek is van die Nuwe Vennootskap vir Afrika-ontwikkeling (of NEPAD), die sosio-ekonomiese herlewingsplan van die Afrika-unie. Die manuskripte is ook ‘n Suid-Afrikaanse Presidensiёle projek, wat deur die Presidensie en die Departement van Kuns en Kultuur, deur die Nasionale Argief in Pretoria, gekoördineer word. ‘n Beraamde R36 miljoen is nodig vir hierdie projek wat oor vyf jaar strek.

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Johann Lodewyk Marais. Timboektoe se antieke manuskripte”

  1. Buiteblaf Breytenbach :

    Johann: ek is werklik bly jy bring hierdie geskiedenis en aangeleentheid (die manuskripte in Timboektoe – die grootste gros het blykbaar tog behoue gebly ondanks die barbaarse vernielsug van die onlangse besetting van Noord-Mali, oftewel Azawad, deur Islamitiese fanatici) onder soeklig. Die bewaring van hierdie kennisopgawes het allerlei implikasies. Interessant, ook, om in gedagte te hou dat van die boeke nog steeds in besit is van ou families in ‘n hele aantal woestyndorpe versprei oor die Sahel.

    Dit gaan hier om veel meer (ek dink jy sal saamstem) as Thabo Mbeki se byna patetiese poging om sy geskende waardigheid as swartman te salf, of as ‘n bedoeling om toerisme (die meer listige en op die duur gevaarliker manifestering van terrorisme) na Mali te bevorder.

  2. Johann Lodewyk Marais :

    Timboektoe

    Die stad anderkant die Nigerrivier
    is die eindpunt van die karavane
    van Taghaza en Taoudenite
    se soutwerke diep in die Sahara.
    Drie honderd drie en dertig heiliges
    se verwaaide grafte bewaar die stad
    waar nuwe slawe in die medina
    aan ’n wildedadel vasgemaak is.
    Nou lees ’n man met leersandale aan
    in ’n stokou manuskrip van tye
    toe koopliede en bedevaartgangers
    maande lank deur die duine getrek het
    met die gang van die sterre en die wind
    soos ’n kameel se leisels losgeknoop.

  3. Buiteblaf Breytenbach :

    Lieflike vers, Johann! Hierdie teks vat raak en bestryk baie.

    In ‘n ou bundel essays – “The Memory of Birds in Times of Revolution” (by Faber & Faber in Engeland gepubliseer, o.a., wel plaaslik versprei en nooit gelees nie, ek kla nie, en nou lankal uit druk) probeer raak ek aan die einde van ‘n opstel wat geskryf is na ‘n besoek aan Timboektoe in ‘n gedig aan dieselfde onderwerp en nogal baie op soortgelyke trant, maar nie so treffend soos jou vers nie. Ek kan nie onthou dat die Afrikaanse weergawe ooit verskyn het nie. Sand bedek uiteindelik alles.

    Liesl Louw het ‘n baie interessante ontginningsboek oor haar ervaring van Wes-Afrika geskryf waarin Timboektoe ook sterk figureer. Maar natuurlik, daar is mitiese verslae en profesië en verlangsange oor die sandstad geskryf, in ‘n babel van tale en nou versluier deur verbygaan.

  4. Johann Lodewyk Marais :

    Breyten, baie dankie vir die vriendelike woorde oor “Timboektoe”. Jy stimuleer my verdere belangstelling in dié belangrike stad en sy geskiedenis.
    “Our search for authenticity should advocate reconceptualizing our epistemological values to incorporate the questions raised to societies throughout the world. From this point of view, a more authentic study of Africa will include critical methods of analysis that incorporate and adapt concepts from Africa and other societies as they are able to uncover core questions of the human experience as they manifest themselves in Africa” (Esperanza Brizuela-García, “The history of Africanization and the Africanization of history”, History in Africa 33, 2006, p 98).

  5. Buiteblaf Breytenbach :

    Johann: ek het hier bo verwys na ‘n gedig wat na ‘n besoek aan Timboektoe geskryf is. ‘n Goeie fee het die boek waarin dit verskyn het opgespoor en ek tik die teks hier in vir jou:

    the heart of the country

    we pray each day to give thanks for the sand
    where we walk and sleep and which we scoop
    to wash the bodies for worship –
    when a prince of the capital comes to the wasteland
    we prepare over the coals in the firepit a camel
    crammed with a goat stuffed with pheasant
    farced with a desert dove stopped with two eggs
    and present the steaming fragrant caravel carcass
    as if crouched for praying on the festive table –
    high against the fingertips of the towers of convocation
    two ostrich eggs are built into heaven
    to catch and hold the full moon’s light,
    nothing ever decays in this burning away of time –
    then we show to our guests in the holy writings
    how these arabesques of the revelation of faults
    like so many consonant insects of God
    are silently mounted by the shifting dunes
    of a timeless dream of oblivion,
    and our words become sand

    New York, 1990

  6. Die beeld in die gedig “the heart of the country” van die fees op die spit (kameel,bok, fisant, duif en nog twee eiers) het vanoggend tydens ‘n wandeling in die woonbuurt onverwags by my opgekom toe ek by ‘n woonhuis in aanbou met 6 motorhuise, waarvan twee eintlik 4 is,verbystap en ek dink hoeveel oorlewingshutte saam die oppervlakte sou hê. Skrale troos in lewe dat “sand bedek eindelik alles”.
    Beyten en Johann dalk sal dit ‘n paar sandkorrels se waarde hê om herkonsepsualisering aan te help deur enkele nispublikasies binne die Afrika konteks al eindig dit net in biblioteke op.