Onderhoud. Lina Spies

Die skyn van tuiskoms

‘n Onderhoud met Lina Spies deur Johann de Lange  

 

Lina Spies. Foto: Lucia Brand

Lina Spies. Foto: Lucia Brand

Lina Spies is op 6 Maart 1939 op Harrismith in die Noordoos-Vrystaat gebore waar sy die middelbare skoolloopbaan deurloop. In 1958 begin sy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch waar sy in 1963 haar meestersgraad behaal met ‘n skripsie oor Elisabeth Eybers. Vanaf 1968 tot 1970 studeer sy aan die Vrije Universiteit (Amsterdam) in die Nederlandse Taal en Letterkunde.  Sy verwerf aan die einde van hierdie studies die titel van “doctorandus” deur die finale mondelinge eksamen te slaag en met ‘n skripsie oor die beroemde Nederlandse digter Martinus Nijhoff se sonnettesiklus Voor dag en dauw waarvoor sy groot waardering van verskeie Neerlandici ontvang. Sy publiseer ook naas artikels oor die Afrikaanse letterkunde gereeld artikels oor die Nederlandse poësie .In Maart 1982 promoveer sy aan die Universiteit van Pretoria op ‘n proefskrif oor D.J. Opperman.

Lina Spies het gedoseer aan die Universiteit van Port Elizabeth, die Universiteit van Stellenbosch en die Universiteit van Pretoria.  Vanaf 1987 tot 1999 was sy professor aan die Universiteit van Stellenbosch in die Afrikaanse en Nederlandse Letterkunde.

Uit haar pen het agt digbundels verskyn: Digby Vergenoeg (1971); Winterhawe (1973); Dagreis (1976); Oorstaanson (1982); Van sjofar tot sjalom (1987); Hiermaals (1992); Die skaduwee van die son (1998) en Duskant die einders (2004).  Vir Digby Vergenoeg het sy die Eugène Marais-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Ingrid Jonker prys gekry.

*

Die skyn van tuiskoms – ‘n Keur het vanjaar by Human & Rousseau verskyn. 

 

Hoe het jou liefde vir poësie begin. Wat het dit afgevuur?

 

My liefde vir die poësie is by my gewek deur my vader. Dit is ‘n liefde wat hy ook aan my twee susters oorgedra het. Hy het gereeld vir ons gedigte voorgelees uit die destydse bloemlesing van E. C. Pienaar, Digters uit Suid-Afrika. Pienaar het natuurlik by die vroeë Afrikaanse poësie vasgesteek en dus was my eerste kennismaking met die Afrikaanse poësie die werk van die sogenaamde “Driemanskap”, Totius, Celliers en Leipoldt. Veral die oorlogsliriek van Leipoldt en sy natuurpoësie het ‘n onuitwisbare indruk op my gemaak. Wat baie belangrik was vir my eie ontwaking as poësieliefhebber en sekerlik ook van my digterskap was dat my pa baie van sy geliefkoosde verse uit sy hoof geken het. As ons op reis was, het hy dit van agter die stuurwiel opgesê. Hierdie voordragte het my hiperbewus gemaak van versritme. My pa se liefde vir die poësie het ook Engelse gedigte ingesluit. Hy het die verhaal van ‘n Engelse gedig vertel of die inhoud opgesom en dit dan voorgedra en terwyl ek die meeste woorde nie kon begryp nie, het die ritme en die klank my meegevoer. Ek het ook ‘n hartstog vir die musiek en ek moet erken byna uitsluitend vir klassieke musiek. Dit is dan seker ook die rede waarom ‘n gedig by my eintlik altyd by ‘n versreël begin en alhoewel ek hoofsaaklik die vrye vers beoefen, is die ritmiese struktuur vir my van die allergrootste belang. Wanneer daar iets met die ritme haper, hinder dit my en sal ek alles in my vermoë doen om dit reg te stel.

 

Jy is een van die min digters wat nog nie oor jou vriendskap met Opperman & die rol van sy diglaboratorium uitgewei het nie. Ek voel dis belangrik dat so iets opgeteken word & nie verlore gaan nie. Hoe het jy hom ervaar as mens, as mentor?

 

Ek sal nog ‘n keer uitgebreid vertel van die rol van D.J. Opperman as mens en mentor in my lewe. As my pa vir my die vlam van die poësie aangesteek het, dan het Opperman dit laat brand. Dit bly vir my ‘n ope vraag of ek werklik in alle erns my aan die digterskap sou gewy het as Opperman nie in my derde studiejaar professor aan die Universiteit van Stellenbosch geword het nie. As professor in die Afrikaanse letterkunde het hy met sy eerste kreatiewe skryfkursus in die derde jaar begin. Dit het al my moed geverg om vir hom twee van my gedigte te gee om in sy eerste “bloemlesing” uit die werk van derdejaars op te neem; natuurlik anoniem. Dié verse van sy eerste “Letterkundige Laboratorium” is daardie jaar, 1960, nog in die groot klas bespreek. Van die volgende jaar af is die derdejaars in twee groepe verdeel; diegene wat in taalkunde en diegene wat in letterkunde wou spesialiseer. Opperman het egter alle aspirant-digters tot sy Letterkunde Spesiaal-kursus toegelaat saam met die toppresteerders in die letterkunde. Wat ek ten eerste wil noem, is dat Opperman deur sy leiding gesorg het dat die gedigte altyd simpatiek bespreek is. Hy het nooit afbrekende kritiek of persoonlike opmerkings toegelaat nie. Dit is natuurlik ook verhoed deurdat hy vooraf die gedigte gekeur het, wat dan getik en ingebind is in die vorm van ‘n “bundel”. Sy benadering was om eerstens die lewende kern in ‘n gedig te soek en dan kon daar kritiese kommentaar gelewer word. Op dié manier het studente ook geleer wat ‘n goeie en wat ‘n swak vers is. Opperman het nooit die gesprekke oorheers nie, maar heeltyd dialoog gestimuleer. Die belangrikste wat ek op menslike vlak oor die poësie van hom geleer het, is om nie  te bly steek in die persoonlike nie en om veral te besef dat die liefde en die godsdiens die twee moeilikste onderwerpe is om oor te dig. Hy het veral nadruk gelê op die belangrikheid van ‘n digter se sintuiglikheid; dat die digter moet leer om sintuiglik te lewe en hom met iemand anders te vereenselwig; in sy woorde: “om in iemand anders se vel te kruip”. Ek het langsamerhand begrip gekry van wat hy oor die poësie geglo het en die eerste keer wat ek my met iemand anders vereenselwig het, was met Anne Frank. My gedig “Vir Anne Frank van Het Achterhuis” was dan ook die eerste gedig van my wat Opperman in sy geheel goed gevind het. Ek glo dan ook vas dat my digterskap in alle erns by daardie vers begin het. Wat ek veral van Opperman as mens onthou, is sy kompromislose eerlikheid en sy integriteit. Hy was ‘n “man for all seasons” en deurentyd was sy balangstelling in my digterskap vir my ‘n steun en ‘n inspirasie. Die herinnering daaraan vervul nog steeds vir my hierdie funksie.

 

Jy het op ‘n keer vir my vertel van die omstandighede rondom die skryf van “Op die dood van Riëtte” & jou huiwering daaromtrent & die raad wat Opperman jou gegee het wat gehelp het om die gedig te skryf.

 

Ek was in 1966 in ‘n ernstige  motorongeluk waarin ek as passasier ernstig beseer en my vriendin se driejarige dogtertjie op slag dood is. Die geestelike letsels van so ‘n gebeurtenis dra jy lewenslank. Tot vandag praat ek nie graag daaroor nie. Maar in my gedig “Op die dood van Riëtte” het ek in die eerste weergawe weggeskram van die skokkende aard van die dogtertjie se verminking. Opperman het dié leemte aangevoel en vir my uit Totius se “O, die pyn-gedagte” aangehaal:

Sy was so teer soos ‘n vlindertjie,

sy’t lugtig omheen geswerf;

‘n asempie wind kon haar vlerkies breek

en – kyk watter dood moes sy sterf!

In my gedig was die uitbeelding van die kinderlike kwesbaarheid daar, het Opperman gesê, maar wat hy mis, is die uitroep “en – kyk watter dood moes sy sterf!”. Ek het dit in my gedig terug gaan skryf en so is dit in Digby Vergenoeg opgeneem. My vrees dat die ouers dit te kru sou vind, was misplaas; hulle het die finale weergawe om die egtheid daarvan meer waardeer as die eerste “mooier” teks.

 

Ek sou jou nie ‘n religieuse digter noem nie, maar dit is nietemin ‘n belangrike faset van jou oeuvre. Hoe verstaan jy die relasie tussen godsdiens & kuns, & hoe het jou godsdiensopvatting oor die jare verander?

 

Ek is baie bly dat jy my nie ‘n “religieuse digter” noem nie; allermins wil ek ‘n “Christelike digter” genoem word. Die redes lê voor die hand. Ons het in Afrikaans te veel skryfsters (vroueskrywers) wat met ‘n vooropgestelde Christelike doelstelling skryf. My gedigte het meermale ‘n religieuse ervaring as tema of impuls, maar dit word nooit met ‘n evangeliese oogmerk soos om die “blye boodskap” te verkondig of om “van Jesus te getuig”  geskryf nie. Daar is ‘n dun membraam tussen die poëtiese en die religieuse. Om eenvoudig te verduidelik wat ek daarmee bedoel: Ons kan slegs in metafore oor God praat, want God is transendent. Omdat die poësie, tensy dit in alledaagsheid verval, altyd iets van die transendente verwesenlik omdat dit die onsêbare probeer sê, kan ek nooit ‘n ateïs wees nie. My godsdiens-ervaring het deur die jare radikaal verander. Ek het baie werke van vooraanstaande teoloë wat geen tradisionaliste is nie, gelees. John Shelby Spong, ‘n Episkopaalse Amerikaanse biskop het naas Karen Armstrong – om my maar by twee te hou – my denke verander. Spong sê dat die Christelike kerk uiteenval in “literalists” en “dropouts” Diegene wat nie meer die Bybel letterlik kan lees nie – waaronder ek my bevind – word meesal “dropouts” m.a.w. ateïste, maar dit is nie die enigste alternatief nie. ‘n Mens kan die Bybel ook anders lees en anders glo. Ek is ‘n Bybelsgevormde mens en digter. Ek kan die Bybel nooit prysgee nie. Ek wil dit daarby laat. Hoe anders ek begin glo het, sal wel uit van my jongste verse blyk wat hopelik in ‘n volgende bundel sal verskyn.

 

Reis is nog iets wat jou baie na aan die hart lê, verál Nederland. Ek meen reis maak emosionele inhoude los & skep kreatiewe afstand & spanning. Die spanning tussen Nederland & Boland, of Vrystaat & Boland het al gesorg vir pragtige gedigte.

 

Naas die vreugde wat ek haal uit die  musiek en die poësie is om te reis vir my heerlik. Ek het ‘n reisiger geword toe ek in 1968 in Amsterdam in die Nederlandse Taal- en Letterkunde gaan studeer het. My eerste Europese lente was agt dae in Parys wat ek nog altyd beskou as die een volmaakte week in my lewe. Ek is nie Frans magtig nie, maar die vriend wat die Franse hoofstad vir my oopgemaak het, kon die taal vlot praat. By die ontdekking van die wonder van Parys en dit in stralende weer – ‘n uitbarsting van nuwe lewe na die lang, koue, donker winter – was ek dus in hoë mate taalloos en daarom was die aankoms op Roozendaal, die eerste stasie na die Belgiese grens, vir my ‘n ware tuiskoms. Dit is dus inderdaad so dat reis vir my terselfdertyd vernuwing en vervreemding beteken wat my kreatiewe drif stimuleer. Vir my eerste Europese somer is ek Griekeland toe wat my na nege maande in Nederland ten opsigte van die landskap en eetgewoontes baie sterk aan Suid-Afrika herinner het. Reis is dus vir my ook ‘n tuiskoms op verskillende mooi aardse plekke. Teenstellings en paradokse behoort tot die wese van die poësie wat seker ook die rede is waarom die spanning tussen verskillende tuistes ‘n sterk kreatiewe stimulus vir my is. My liefde vir die Vrystaat is streekgebonde. Ek was gelukkig genoeg om op my geboortedorp Harrismith my hele skoolloopbaan te deurloop. My kindertyd en vroeë jeug was dus nie soos wat Sheila Cussons ‘n keer aan my gesê het oor haar grootwordjare ‘n “nagmerrie van verhuising” nie. Ek gebruik die woorde direk in “Bereide plekke” (Oorstaanson) wat die sterkste uitdrukking is van my gelukkige jeug. Harrismith aan die voet van Platberg in die Oos-Vrystaat met sy tafelberge en Leeukop, my grootouers aan moederskant se plaas, geleë in die heuwellandskap van die Noord-Vrystaat, was my kinderparadys. Dit bly ‘n landskap wat my aangryp, maar ek woon, wat my betref, op die mooiste dorp in die land, Stellenbosch, en ek is verknog aan die Boland. Ek het ‘n Kaapenaar geword.

 

Hoekom Nederland? Wat is dit wat jou so trek?

 

Nederland is soos wat nou reeds moet blyk my “venster op Europa” om ‘n frase te gebruik waarvoor Van Wyk Louw so lief was. My eerste ware ontdekking van die visuele kunste het kort na my aankoms in Nederland plaasgevind en wel in die Mauritshuis in Den Haag. Daar het ek Vermeer se “Het meisje met de parel” en sy “Gezicht op Delft” die eerste keer gesien. Onvergeetlik. In Amsterdam in die Rijksmuseum is dit natuurlik veral die Nederlandse Goue Eeu wat voor my verwonderde oë tot openbaring gekom het: Al die Nederlandse ou meesters is daar verteenwoordig, in die besonder natuurlik Rembrandt. My belangstelling in die visuele kunste sluit natuurlik vandag baie Europese museums buite Nederland en ander kunstenaars as die Nederlandse meesters in, maar dit het in Nederland begin. Amsterdam is ‘n bruisende stad en ek is daar altyd onmiddellik tuis. Ek dink ek kan met goeie reg sê dat ek in Amsterdam opnuut gebore is. Dat dit juis Amsterdam en nie een van die ander beroemde stede van Europa is nie, het baie met die taal te make. Ek praat vlot Nederlands en ‘n stad maak jy nie jou eie voordat jy nie die taal van sy mense leer praat en hulle aard leer ken het nie. Amsterdam is die stad van my hart en Nederland is nie my “tweede land” nie – ek dink nie so hiërargies nie – maar my “ander land”.

 

Jy skryf nogal dikwels oor familiefigure, iets wat nie álle digters doen, of dan bedréwe doen nie, & dan is verse oor & vir kinders ook van jou debuut af deel van jou digkuns. Wei uit.

 

Die skryf oor familiefigure het seker maar sy oorsprong in twee teenoorgestelde waarhede: enersyds is jou bloedverwante die mense wat die naaste aan jou is, veral binne gesinsverband, andersyds “trek die lewe jou skeef en uitmekaar” (om myself aan te haal uit my gedig “Wond” in Dagreis). Namate jy ouer word en jyself en jou familielede ander verbintenisse aangaan, kom daar dikwels vervreemding tussen mense wat deur bloed en gene intiem aan mekaar verbind behoort te wees. In my jongste ongepubliseerde verse het familiefigure verdwyn, omdat ek die waarheid van die Bybelse woord ervaar, nl. dat “‘n vriend wat naby is, beter is as ‘n broer wat ver is”. Clarissa Pinkola Estes vertel die sprokie van die lelike eendjie oor in haar besondere boek Women who run with the wolves. Sy sê dat iemand soms verkeerd afgelewer word en dat sy dan op soek moet gaan na haar eintlike familie; so kom die eendjie uiteindelik na baie verwerping uit by die swane wat haar as een van hulle herken en kom sy tuis by wie sy hoort.

 

Soos die bundels op mekaar volg het jou werk ‘n toenemende elegiese kwaliteit begin kry, ‘n spanning tussen die hiermaalse & die hiernamaalse, & ‘n gevoel van ontuis wees waar ookal.

 

Die toenemende elegiese toon in my opeenvolgende bundels is al gedeeltelik beantwoord deur my antwoord oor die familiefigure in my werk. Met die vermeerdering van jou lewensjare vermeerder ook jou verliese. Jy verloor jou ouers en jou mentors en op ‘n dag ontdek jy dat jou ondersteuningsnetwerk weggeraak het en die valmat wat hulle vir jou uitgehou het onder jou uitgeruk is. Dit is dan dat lojale vriende al hoe belangriker word; hulle wat saam met jou ‘n hele end pad geloop het, maar ook jonger vriende. En op ‘n dag is die valmat en die vreugde terug en ontdek jy dat jy nog gedra word; altyd natuurlik ook deur jou blywende passies. Maar dit is goed dat ‘n mens die moed het om te treur, ook in jou verse, want dit waarborg genesing. Hoe dan ook, is my huis met my medehuisbewoners, my katte, en my dorp met sy berge nog my tuiste in die hiermaals. Oor die hiernamaals voel ek soos M.E.R.: dit is nie my saak nie. Vir my (soos vir jou) was dit ‘n vonds toe die titel vir die keur na ‘n lang gepieker oor ‘n moontlike titel my te binne geskiet het: Die skyn van tuiskoms. Jy kom nooit werklik tuis nie – dit is ‘n skyn – en tog kom jy oënskynlik by tye tuis en so ‘n tuiskoms “skyn” (straal ‘n welkomsgroet uit).

 

Hoe het jy die wording van die keusebundel ervaar? Hoe voel dit om terug te kyk oor byna 40 jaar se digwerk?

 

Ek kan niks anders sê as dat ek innig dankbaar is oor die verskyning van die keur uit my werk nie. Dit is eerstens ‘n keuse wat ek nie self sou kon gemaak het nie en ek kan nie genoeg beklemtoon dat jy dit uitstekend gedoen en my daarmee aangenaam verras het nie. So ver as wat ek gelees het, het ek gedig vir gedig jou keuse hartlik beaam. Ook met jou teks op die agterblad waarin jy my werk karakteriseer, kan ek nie anders as my volle instemming betuig nie. Tweedens en nie minder belangrik nie, is ek diep dankbaar oor hierdie erkenning deur H&R. Ek is ook besondere dank aan Alida Potgieter verskuldig met wie ek en jy nou saamgewerk het. Wat kan ‘n mens sê oor ‘n digterskap van veertig jaar, behalwe dat jy dankbaar is dat jy oor so ‘n lang periode kon aanhou skryf? Om jou uit te leef oor soveel jare heen in die kunsvorm wat jy beoefen, is ‘n buitengewone voorreg.

 

Ek weet jy neem Opperman se raad oor praat oor die broodjie in die oond baie ter harte, maar wil jy nie tóg die een & ander rondom jou nuwe manuskrip sê nie? En wat is jou standpunt wanneer dit kom by hersiening van gepubliseerde verse?

 

Ek het inderdaad trou gesweer aan Opperman se digterlike beginsel dat ‘n mens nie praat oor koek in die oond nie. Hy was ‘n puristiese Afrikaansspreker maar hy het inderdaad gesê “koek” en nie “brood” nie. Maar Opperman het darem stralend erken as daar ‘n broodjie in die oond was. Ek sal dus erken dat die manuskrip van ‘n nuwe bundel so-te-sê voltooi is. Ek is nie ‘n prolifieke digter nie in dié sin dat daar altyd ‘n tydsverloop van enkele jare tussen my bundels is. Dit is hoogs onwaarskynlik dat ek twee agtereenvolgende jare ‘n bundel sal publiseer. Die kreatiewe proses werk net nie so by my nie. Die waarheid dat skeppende werk 1% inspirasie en 99% persperasie vereis, is in hoofsaak waar, maar ek het daardie één persent inspirasie nodig om te kan dig. Ek kan nooit ‘n wilsbesluit neem om ‘n gedig te skryf nie. Natuurlik kan jy die moontlikheid om geïnspireer te word vergroot deur oop te staan teenoor die lewe. En dit doen ek nog altyd. Ook laat ek nuwe gedigte eers lê en neem hulle dan later weer op om te sien of ek tevrede is met wat daar staan. Meesal is dit nie absoluut die geval nie en werk ek aan ‘n gedig. Ek ontdek dat ‘n reël ritmies lomp is of ek sien ‘n cliché raak wat deurgeglip het en ek verbeter die teks sover moontlik. Jy sal weet dat ek my weerhou het om radikaal in te gryp op gedigte uit vroeëre werk wat jy gekies het vir die keur. Om jeugverse oor te skryf, sou ‘n vervalsing wees as jy die jeugdige sentiment as ouer digter meteens verleentheidswekkend vind. Op twintig het jy nie die lewenswysheid van jou latere lewe nie. Ek het my egter wel veroorloof om sekere wysiginge aan te bring in twee gedigte in my debuut Digby Vergenoeg: In die vers oor Frans Liszt het ek enkele woorde met sterker ekwivalente vervang en in my gedig oor Anne Frank (wat baie na aan my hart is) het ek ‘n enkele reël bygevoeg om nie misverstand te wek oor die persoon na wie Anne haar in haar eensaamheid gewend het nie: Binne die konteks was dit duidelik Peter van Daan, maar in die eerste weergawe kon in die  oorgang van strofe 3 na strofe 4 die “hom” op Dussel in strofe 3 geslaan het, al sou die kenner van Anne se dagboek nie die fout maak nie, aangesien Anne Dussel nie kon uitstaan nie! Ek was baie bly dat die keur my die geleentheid gegee het om sulke verbeteringe aan te bring. Wat die leser van my volgende bundel kan verwag? Ek self wag gespanne op die reaksie! Sela.

*

Ter afsluiting, twee onlangse verse wat nie in “Die skyn van toekoms” opgeneem is nie …

 

Naderende winter 

Die herfs kon ek nooit rym

met treurigheid en dood nie:

daarvoor het die kleuregloed in die bome

en die oorstelpende blou van die lug

my nog altyd te veel verruk.

En die strakheid van die winterbome

laat my sien wat deur digte loof onsigbaar is:

die sierlike skadu’s van hul takke

op gewels wat wit glinster in die son.

 

Waarom sal ek dan krampagtig vasklou

aan my somerblare

en nie die wisseling vertrou

van die seisoene in ‘n menselewe,

my oorgee aan die eb en vloed

wat stu in elke gety

waarvoor net een ding nodig is: die liefde?

 

Die rivier

Dit is nie die water wat die rivier maak nie;

dis sy vloei wat bome voed

dat hulle hul takke lowend strek

of soos obeliske reik na bo:  

die groen katedraal vir mens en dier.

 

Die rivier weet die veld verlang

dat hy diep in haar in sal dring

om hul verbintenis te komsumeer

dat sy versadig haar groen kleed

oor heuwels en valleie sprei.

 

En dit is die see waarna die rivier verlang

as hy kronkel oor vlaktes

en dawerend oor rotse tuimel

om in sy val nog ‘n reënboog op te vang

wat bly skitter wanneer hy verder stroom

totdat hy aankom by die bestemde plek

waar ‘n rivier hom druisend in die golwe stort

en lispel oor spoelklippe en skoon sand,

maar waar hy stik in wat hy met hom saam moes sleur

aan wat in hom gemors is op sy lang tog

deur die  besoedelende hande van die mens

waarteen hy nou in moet beur

om met die magtige waters een te word.

 

 © Lina Spies

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Onderhoud. Lina Spies”

  1. Joan Hambidge :

    ‘n Puik onderhoud! Fantasties dat Opperman se werkswyse hier verduidelik word. Opperman het jong digters geleer om sintuiglik te dig en hy was nie soos wat sekere mense glo anti-filosofie nie. Jy moes jou sintuie opskerp eerder as om met vae abstraksies te dig.
    Joan Hambidge