Onderhoud. Fanie Olivier

Die ontbrekende teenwoordigheid

Fanie Olivier in gesprek met Marius Crous oor sy nuwe bundel apostroof

 

Fanie Olivier

Fanie Olivier

Fanie Olivier is gebore in Pretoria, word groot in die Kaap, leer skryf in Durban, studeer Regte en Afrikaans op Stellenbosch en debuteer in daai tyd met gom uit die sipres. Verdere nagraadse studie in Utrecht, Nederland en promoveer op Potch. Doseer by die ou Universiteit van Natal en [eweneens] Durban-Westville, gee daarna onderwys op Graaff-Reinet en maak ‘n draai by die ou Skiereilandse Technikon. Kunsredakteur by Rapport vir drie jaar, en dan weer dosent by die [nou nog bestaande] Universiteit van Venda. Praktiseer ook om den brode daar as advokaat. Vir amper twee jaar by Adam Mickiewicz-universiteit in Poznan, Pole en dan, die dood ter wille, weer advokaat in Durban. Sedert einde 2007 terug by die nou nuwe Universiteit van KwaZulu-Natal, maar loop in Maart weer die Poolse paadjie terug. Publiseer naas die debuut vier ander bundels: om alleen te reis, paradysrigting van die wind, skimmellig en verklarings 1967-1987.Stel ‘n geleentheidsbundel of twee saam, en hou kers vas met Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Vertaal hier en daar goeters, en verlede jaar JM Coetzee se Disgrace.

 

Verduidelik die titel van die bundel. Die Engels is “apostrophe” wat immers dui op `n besittingsaanduiding of selfs waneer letters weggelaat word uit `n woord.

 

[Die besitsaanduiding is eintlik juis ook letters wat weggelaat is: The dog its tail  word The dog’s tail.] Apostroof is inderdaad ‘n teken wat ons gebruik om aan te dui dat daar iets weg is: die teken staan dus letterlik in die plek van wat ontbreek. Binne hierdie konteks staan die gedigte afsonderlik, en die bundel as geheel, dus in die plek van Rike, my vrou wat in 2007 oorlede is.

apostroof

apostroof

Maar “Apostroof” het ook ‘n ander betekenis wat ek wil byroep: dit is ‘n ou klassieke retoriese greep waarin ‘n spreker hom sou afwend van die gehoor wat hy toespreek en dan ‘n afwesige sou byroep of betrek. Soos ‘n dooie of die gode of iemand wat op ‘n ander plek sou wees.  Met wie en oor wie word daar in die bundel gepraat?

‘n Omskrywing van die retoriese apostroof verskyn in die Griekse teks op die voorblad. [Ek het nog nie die bundel gesien nie en weet dus nie hoe dié teks uit die verf gekom het nie.]

 

Een van die opvallende eienskappe van die bundel is die gebruik van hakies […] in die meeste verse. Hoekom gebruik jy juis dit? Wat is die funksie daarvan?

 

Ek was nie daarvan bewus nie: gebruik ek hakies meer as ander mense?  Maar kom ons sê dat dinge wat tussen hakies staan, bygedagtes is, die omgekeerde van die gewone betekenis van apostroof.  Miskien is dit dalk die retoriese apostroof: dat die spreker sy gewone gedagtegang onderbreek om iets anders by te roep. Maar dis net praatjies om kloutjies by die bundeltiteloor te bring. Niks so bedag nie!

 

Die elegiese staan sterk voorop in die bundel. Verduidelik vir diegene wat nog nie die bundel onder oog gehad het nie, wat die rede daarvoor is.

 

Die “manuskrip”  was eintlik nie bedink as ‘n bundel nie, maar as ‘n klompie verse oor my en Rike se verhouding van bykans 20 jaar wat ek met ons vriende en haar familie wou deel. Dit is gewoon as ‘n e-posaanhangsel aan hulle gestuur omdat hulle vir Rike lief was.  Die bundel is daarom ongelyk in gehalte, meen ek. Maar goed, die dominante ondertoon is dié rondom haar vreemde aftakelende siekte en haar dood: weemoedig [maar ook uitgesproke], dus.

 

Jy maak van heelwat bekende Afrikaanse uitdrukkings, spreekwoorde en frases gebruik. Is dit `n doelbewuste poging om die ou geykte taal te laat herleef in die nuwe konteks van jou gedigte?

 

Ek vermoed dat hierdie integrasie van “ou” dinge [uit die taal en taalherinneringe, en ook uit die Afrikaanse letterkunde] nog altyd deel van my wapenrusting was. Ek hoop nie dit ‘n kwessie van “herleef” nie, maar eerder een van “aan die lewe hou.” Daar is soveel wonderlike dinge in Afrikaans [dit ontdek jy wanneer jy Afrikaans as beginnersvak of “vreemde taal” doseer]; en, jammer genoeg, die Afrikaanse letterkunde het so groot geword dat baie studente glad nie meer kennis maak met dinge uit die tradisie nie.

 

Deurgaans is mens bewus van jou besinning oor die digterskap en die skryf van gedigte, maar daar is bv ook `n verwysing na elke Rapper wat deesdae poësie maak. Wat is jou mening oor die eietydse (Suid-)Afrikaanse poësie?

 

Soveel hoofde, soveel sinne.  Maar die Afrikaanse poësie bly ‘n verstommende verskynsel rondom kwaliteit, aanslag en, veral, lesers wat betekenis daarvan en daaruit maak. ‘n Besondere verskeidenheid wat reg laat geskied aan die uiteenlopendheid van ons maatskappy.

 

By etlike gedigte word verwys na plekke en daar word in gedigte ook verwys na Poznan, Leuven, ens. Is jy ‘n bietjie van `n nomadiese digter/swerwer?

‘n Swerwer is ek nie, maar ek reis graag en onder allerhande soort omstandighede. Nomade is ‘n interessante gedagte. Ek weet bv. nie waar ek “tuis” is nie: ek slaan maklik tent op en trek penne uit as dit moet. Maar ongedurig is ek egter ook nie.  Ek dink skielik aan “besoekersboek” uit my debuut: “ek was hier, en hier het ek geslaap.”  So baie gedigte is ingegee deur plekke, elkeen anders gelaai met betekenis.  “Home is where the heart is…”

 

Het jy enige inspraak gehad in die keuse van die voorbladontwerp? Indien wel, hoekom is juis dit gekies?

 

Ja, absoluut, soos in al die vorige bundels ook. Rike was ‘n middeleeuer by uitstek, en die hoofse wêreld sou goed aanpas. Ek het gaan soek na die sens van die Dood [omgekeerd sou dit die vorm van die apostroof kon vasvang], na ridders en die brose bestaan van die liefde. Ek het ‘n klomp voorbeelde gemaak met montage, knip en plak en tientalle boeke oor die Middeleeuse na laat-Middeleeuse kuns deurgewerk. En toe dié wonderlike skild in die Britse-museum raakgeloop. “Liefde of die dood…”  Die ridder, die dood, die vrou. Die vaandel wat die vorm van die apostroof suggereer. Maar ook die voorblad is ‘n gesprek met Rike, die ander soort apostroof, dus.

 

Jy is bekend daarvoor dat jy in die verlede dikwels sterk politieke verse geskryf het en dit kom wel voor in `n gedig soos “inheems” (11). Is jy gevul met desillusie oor die politiek? Of is daar belangriker temas soos die liefde, die afsterf van die geliefde ens?

 

Geen tema is belangriker as ‘n ander nie. Op ‘n persoonlike vlak het my gevoel rondom en my reaksie op die politiek en politici niks verander nie. Om te dink dat ons hulle salarisse betaal en dat ons daarom ook aan alles aandadig bly! Natuurlik is ek die moer in oor wat in ons land aan die gebeur is en hoe elkeen van ons se persoonlike vryheid voortdurend geminag [en daardeur: minder] word. Daar is baie politieke gedigte wat rondlê in my lewe.

 

Jou laaste bundel het in 1988 verskyn. Hoekom die lang stilte tot nou toe? Ek lei af uit die

gedigte dat jy steeds geskryf het, maar dit in die laai gebêre het.

 

So rojaal soos in die laai bêre, waarskynlik nie! Ja, ek het altyd geskryf, maar om verskillende redes nie gepubliseer nie, of nie manuskripte bymekaar gesit nie, behalwe lank gelede ‘n manuskrip toe dit dalk ‘n navorsingspublikasie sou kon wees. Maar daar was altyd belangriker windmeulens om te bestorm: lang en uitmergelende gevegte rondom korrupsie en leuens en magsmisbruik op plekke waar ek gewerk het. Skryf was altyd belangrik, publikasie nie. Soos ek vroeër gesê het: ook hierdie versameling gedigte was nie met die oog op publikasie nie. Dis een of twee vriende vanuit die uitgewerswêreld wat gevra het of ek dit nie sou oorweeg om te publiseer nie. Maar miskien sal ek nou tog kyk wat ek kan saamflans uit die honderde gedigte wat orals rondlê. Dalk sal die skuif Pole toe my help om met ander oë na al daardie ou dinge te kyk. Saamgevat: skryf was daar sonder ophou, maar ‘n “stilte” ten opsigte van publikasie wel.

 

Dankie, Fanie. Met jou vergunning plaas ons by wyse van afsluiting twee verse uit Apostroof onderaan …

 

 

god, maak vir haar woorde

                         soos met wense

 

ek dink aan al die afgelope oujaarsdae

aan die nuwejaar se uitgediende verse

ek dink aan reise, spyse, soek en vra

bedink, bedag. [woorde, woorde] saam na

die noorde, die ooste, die weste te wa.

 

so is ons [ons en julle] weer uitgespaar.

 

maar dié keer is dit spreekwoordelik vinkel

en koljander, die een dag is nes die ander

en elke week is skeepsreg en elke maand

is sonder sy einde en sonder ‘n begin.

 

vroeër [toe], nog onlangs, laasjaar hang ons mure

vol almanakke –

                          van kastele: ‘n vaste burg

berge: ek slaan my oë om iets te gewaar

valleie: en ek vrees die p.p.a. –

een in elke kamer: so was ons gesteld op die ure

se verloop, die tik soos die aarde, groot en swaar,

roekeloos om homself draai. die tyd altyd te min

vir dit vir dat vir dié vir daai.         

                                                vanaand vou

ek die kalenders toe; die gordyne lankal

dig [sy slaap, woordeloos, vol woede (woedevol?)]

sonder woorde maak mens maar weinig sin.

en dis nie sommer sonder woorde nie, maar geheel en al

daarsonder, ‘n heelal uitsigloos en sonder knal

[en die niks het vlees geword en onnaspeurlik woord:

sonder sin, sinloos, volsin, sindelik, sinvol]

 

dis amper twaalf. klopdisselboom. alles oorboord.

ek maak bestek op: het ons genoeg gedoen my skat vir jou

[my here, ek kan jou nog hoor sê: “skattebol”]

om iewers waar ek nie kan nie, te herkou?

of is dit alles reeds witter as sneeu, soos dou

op die gras, soos pêrels voor die swyne

by wyse van spreke, as spreke inderdaad

‘n wyse was.

                        die dag van more, die hele

fokken nuwe jaar vou ek toe, soos ‘n ou

kalender waarvan net die prente nog kan praat.

 

daar was spieëls en raaisels, toe en nou, ten dele

en tussen die einders sit daar daagliks ‘n begin.

net dit. net ‘n begin. en vir die dors

na kennis ‘n kelkie pille. en die gemis.

 

so het die oujaar ons in ‘n hoekie gedruk

ten minste darem saam: jy en ek in myne

en die vuurperdewa het nog nie naam nie,

en so sal hy moet bly.

                                    intussen: is dit te veel gevra

so ‘n snars genade [daarvan het Hy seker iets

te spaar] net genoeg sodat jy ten minste nog kan sluk.

 

                                                                                    oujaarsaand 2006

 

 

***

 

wat die kop van stom is

 

 

watter gesukkel om mens uit hierdie kontrei se kil

greep los te wikkel [die boot trek vyf dae laat,

vreemd waar alles op sy vlaamse stip moet let]: die sluis loop

stadiger as dit moet wanneer ons Antwerpen uit; dan straat-op

in die westerschelde laveer ons eers geloods

tot vlissening, vandaar ‘n tweede byderhand oop

see toe, by zeebrugge, waar hy die skip van sy voete vee.

die regte stuurman staan aan boord. uiteindelik, ‘n eie aldarin!

 

maar afskud is min; soos ‘n verbete boerebosluis

klou poznan vas: die hele skip is pools, met vis

op vrydag, suurkool, beetsop en karringmelkse kefir dus

tot in kaapstad, neëntien dae ver, ver anderkant

die naaste ster.

                        voorlopig groet ons dan die land, maar nie

sy mense nie. leer opnuut tog nederigheid. die breë koers

is wel bepaal, maar soos voorsienigheid maar altyd is

is daar dit wat inwerk, dat wat meeval – toevallig

dus; wat kleiner onderdele sal verskuif. soos “woers”

gebeur wanneer jy die “t” verloor, soos “daardie”

moet beduie wat alles daarmee saam agterstallig

word. “ek wil” as gesegde genoegsaam is. en “nee!”

 

maar ek wyk af [“I’m all at sea”, moet u begryp]. ek wou

oor toeval praat: byvoorbeeld: ‘n skip wat op die skerm

uit die niet verskyn sodat die kapitein ons een graad

verder wes, dan weer twee oos moet stuur. ingrypender sou

ek dit noem as lissabon verdwyn omdat dokwerkers kerm,

boere staak [steeds gedroomde, nooit gehaalde lissabon];

in vigo wag ‘n vrag van twintig grootmaathouers leeg.

 

dis lank nie meer ‘n kompas met bondels blinde lig

nie. alles gesofistikeerd, tegnologies in die haak. as die een

stel beeldmateriaal te lig bevind word, sal ‘n ander weeg.

so kan iedere jan rap uiteindelik van bootsmaat tot brugbaas

promoveer. elke rapper skryf mos in elke geval ook ‘n gedig.

nie min nie, nie suiwer nie, maar ‘n vers wel, toegegee.

 

[as jy ‘n sin maak, skreeu ek dit van die dakke af; wanneer jy

sin maak, word die golwe stil, hou die winde op met raas.]

 

(c) Fanie Olivier (uit: Apostroof, 2010: Human & Rousseau)

 

 

 

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Onderhoud. Fanie Olivier”

  1. Joan Hambidge :

    Apostroof is stylverskynsel waar ‘n afwesige of gestorwe persoon aangespreek word. Volgens Preminger se Ensiklopedie vind ‘n mens dit dikwels in Die Bybel en by Shakespeare.
    Die bekende vorm is die O of A.

    Die persoon se afwesigheid word opgehef deur die gesprek / gedig.

  2. Desmond :

    Ek het ‘n onderhoud met Olivier gedoen vir Rapport Boeke, wat komende Sondag verskyn. Daarin reflekteer Olivier so ‘n bietjie oor die betekenis van ‘apostroof’ binne die Griekse retoriese tradisie. Soos Joan Hambidge hier bo aandui, dit gaan oor die aanspreek van ‘n afwesige of gestorwe persoon. Dit is ‘n belangrike sleutel by die lees van hierdie verskriklik pragtige bundel.