Floris Brown. Liefde, miskien
Blogfokus
Vir Herman de Coninck / Voor Herman de Coninck - De gedichten
© Floris Ab. Brown - florisbrown@mweb.co.za
Wat is liefde sonder passie? Wat is gedigte sonder passie liefde? ‘n Harts-passie? Hoe kan jy oor liefde dig as jy jouself nog nooit in liefde gebad het nie? Jy moes tog een of ander tyd ekstase van liefde self ervaar het of die bittergal geproe het, toe jou liefdeskasteel in die see stort en jy sterf. Opgewondenheid van die liefde maak dat jou dag helderder skyn. Julle oë verder dieper kyk soos in “Avatar” verby die gebreke waarteen jou ouers jou gewaarsku het soos in:
Ek soek jou
Uit: Drieluik
ek soek jou
in die glans van ‘n dubbel reënboog na reën
ek soek jou
in geskarrel van die rysmier voor die storm
ek soek jou
in die warreldraai van herfsblare in die wind
ek soek jou
tussen feetjies wat slegs in kleuterverse dans
ek soek jou
in klokkies wat hoog hang aan ‘n silwermaan
ek soek jou
in groen - neon - skyn op middernagbranders
as ek my plaashek, mismoedig agter my trek
kom jou brief aangevlieg, in ‘n swartkraai se bek
Hoe groot die ontnugtering wanneer slaap jou verlaat. Jou oë moeg oopbly met die breek van elk nuwe dag. ‘n Liefdesverstand aan die doodbloei. Soos in:
Op die droesem van die put
Uit: Altyd die liefde
nou dat die nag
ook leeggeloop lê
bo die stilte
ek vuurhoutjie-alleen
in my voorkamer
in donkerte sit
weet ek nie
herwaarts of derwaarts
want jy is weg…
ek kan nie besluit
of ek moet bed toe gaan
want wat daar wag
is maar net die aanskoue
in die breek van nog
‘n nuwe dag en dan kom
die maan die son
en nog ‘n maan ‘n son
‘n maan maan maan…
op die droesem van die put
sit ek en wag
en jy, kom nie meer…
Na alles bo gelees, speel digters se liefdesverse voor jou af soos in ‘n “Power Point Presentation.” Elke digter die liefde self. Hulle rafel jou uit. Laat jou hyg en opgewonde saamvlieg met elk poëtiese liefdeswoord. Poëtiese liefdesverse maak dat verafgoding van ‘n daad slaafs nagevolg word - hoe baie het nie alreeds die see ingestap nie? Dan stap die onbeantwoorde onwillekeurige vraag gedurig by my aan wal. Wie skryf die mooiste mooiste liefdesverse wêreldwyd onder alle nasies -die man of die vrou?
Die man natuurlik! Herman de Coninck. Vir my die koning van Liefdes Poësie as hy homself as volg uitdruk soos vertaal deur Dr Daniel Hugo:
Poësie
Uit: Liefde, Miskien deur Herman de Coninck vertaal deur Dr Daniel Hugo
As jy nukkerig inkruip onder die komberse,
wil jy eintlik sê: kom lê by my.
As jy die deur agter jou toeslaan en wegstorm,
wil jy eintlik sê: kom agter my aan.
En as jy sê: “ek het jou lief”
bedoel jy: “het jy my lief?”
Sien jy nou dat gedigte nodig is,
want as ek “ja” sou sê,
sou dit niks beteken nie.
‘n Digbundel geskenk wat ek uit die hand van Dr Daniel Hugo ontvang het op16 September 1999 “Huis der Nederlanden” met die inskripsie: “Vir Floris - die man met die Vlaamse naam.”
Met die lees en herlees en weer herlees het Herman de Coninck se liefdesverse in my hart kom stol. Ja ook liefdesverse soos in Hooglied in die Bybel roer jou.
Seerkry liefdesgedigte laat jou stukkend. Dit is wat digters doen. Hulle laat jou huil. Skuur jou emosies oor growwe sement en wat oorbly is siele wat of aanbeweeg na ‘n nuwe liefde. Siele wat selfmoord pleeg. Siele wat nooit weer liefkry nie. Siele wat vries soos ‘n swaar oorlaaide komperbrein. Alles die skuld van liefdes-verse-digters.
Ouens. Julle digters wat sulke mooi liefdesverse skryf, glimlag maar. Julle weet wie julle is. Ek ken julle. Ek spoor julle na en lees julle. Julle gee nie ‘n snars om hoe julle harte laat tuimel met Valenstynsdag nie. So het Valentyn ook by my kom spook soos in:
Dolfyn Valentyn
(Vir: Dienkie & Francois Byleveld)
Uit: Drieluik
my Dienkie het vannag
deur-uit gesluip
die diepsee ingevaar
in haar skuit
met verkyker op ‘n rots
het ek haar in die verte
sien diepsee duik
met dolfyne opgekom
baljaar getol
om en om en om en om
met haar in boot
het hulle haar met
‘n asemrowende vaart
aan wal gestoot
en met speelse geluide
onder ‘n vol oop maan
“lief jou” toegewuif
onwetend dat ek haar
geheim vir jare ken
het sy weer eens vannag
met ‘n nat dolfynneus
my rug ore geliefkoos
en met dolfyngeluidjies
my tot in my slaap
met haar dolfyne laat swem
DANKIE GOD vir Dienkie
met ‘n hart glimlag en oë
soos dié van ‘n dolfyn
wat vandag is en altyd
my hart sal wen
my Dienkie
my dolfyn Valentyn
Dis 19 Junie 2008 en iemand klop aan my deur. Wat ‘n groot verassing! Dis Tiny Kraan en Eviry Eijkman van Asceleiden Nederland wat my ‘n geskenk bring. Een van dié grootste digbundel geskenk wat ek al ooit ontvang het - “Herman de Coninck - De gedichten.”
“In deze uitgave zijn alle gedichten van Herman de Coninck (1944-1997) opgenomen die tijdens zijn leven gepubliceerd of door hem voor publicatie waren bestemd, aangevuld met een beperkte selectie uit het nagelaten werk…Met deze uitgave, besorgd door Hugo Brems, worden de gedichten van Herman de Coninck, een van de geliefdste en belangrijkste Nederlandstalige dichters van zijn tyd, van een passende vorm voorzien.”
Ek verlustig my in elke gedig en is nog nie klaargelees -wie kom ooit klaargelees aan liefdesverse? Daardie spesiale verse waarna jy keer op keer terugkeer?! Herman het my hart aan die brand as ek afsluit met een van sy verse uit “De gedichten” :
*
Zoals het strand en de zee:
jij gaat nooit weg. En ik
kom altijd terug. Het, is bijna zo goed
als blijven. Voor een jawoord
is, het te laat.
Maar je zegt niet nee.
(Floris A. Brown)






