Bernard Odendaal. Genoeg om van en voor te lewe

In die module “Die liefdesgedig as tydsdokument” waaroor ek in my vorige blog-bydrae geskryf het, was een van die mees asembenemende gedigte wat bespreek is die Nederlander Hans Andreus (1926-1977) se “Genoeg om te leven”.

Asembenemend vanweë die skoonheid daarvan, maar ook vanweë die naakte lyflikheid van die liefdesbelydenis.

 

Genoeg om te leven

 

1        Misschien is er iets meer goddelijk

2        dan de stiltes van een geliefd lichaam,

3        de deuken en kuilen in het geliefde vlees –

 

4        en de tapse kuit glijdend naar de aan een

5        ontsnapte volbloed ontvreemde enkel

 

6        en de heuvel van wirwar en de zo

7        zachte borst dat men wel liggend

8        knielen wil en slapen, toch

9        met ogen-toe nog toekijkende ogen –

 

10      en de onder landlopende vingers

11      zich spannende achterkant van de hals

12      die zich omhoog buigt naar

13      het meerdere haar en vandaar omlaag

14      naar de ogen die niet meer zijn te begrijpen,

15      en de mond bijna bars van geluk, –

 

16      misschien is er iets meer goddelijk

17      dan deze stiltes van de lieveling je lichaam,

 

18      maar nu nog nu nog nee,

19      wil ik niets anders dan daaraan te leven,

20      jouw lichaam en je hoofd onder de huif,

21      de huiverende boog van mijn hand.

 

tapse = wat geleidelik na een kant toe versmal en verdun

huif = kappie

 

Ná die lees van die gedig, met die nodige woordverklarings, en die uitpluis van die adjektiefopstapelings en verwikkelde sinsdele in veral strofe 2, was daar dan gewoonlik ’n ietwat ongemaklike swye onder die studente.

Wat word verken in hierdie gedig? vra ek dan. Maklik: ’n Minnares. ’n Vroulike geliefde. Watter eienskappe van haar word verken? Haar mooi geaardheid? Nee, haar lyf, haar kaal liggaam, haar liggaamsdele in hulle naaktheid.

Hoe sal julle die gemoedstoestand van die “ik”, die spreker in die gedig beskryf?

Ja, “orig” en “versadig” was van die antwoorde wat verskaf is.

Maar uiteindelik is tog meestal oor iets soos “ekstatiese verwondering” – tot verafgoding toe –  eenstemmigheid bereik.

Waarna woorde en frases wat die verwondering oor en aanbidding van die geliefde se liggaam uitdruk, uit die gedig aangehaal moes word:

·         die vroeg vermelde “goddelijk” (in die bevoorgrondende eindposisie van die eerste reël);

·         die vermelding van gemetaforiseerde besonderhede soos “de stiltes”, “de deuken en kuilen” van “het geliefde vlees”; en van die “tapse kuit” en die amper onbegryplik gemaakte “ontsnapte volbloed ontvreemde enkel” – soos ook van, al maar na bowe, “de heuvel van wirwar en de zo / zachte borst” dat die “ik”, lêend langs die geliefde se liggaam, voel dat hy “knielen wil” (’n aanbiddingsposisie).

·         Selfs met sy oë toe, byvoorbeeld in sy slaap, kan hy hom laasgenoemdes steeds voor die geestesoog roep;

·         En verder gaan die verkenning met die oog en die strelende vingers, agter teen die rug en nek op, oor die hoof tot by die gesig, die onbegryplik mooie oë, en “de mond bijna bars van geluk”.

Wat bedoel Andreus met “Genoeg om te leven” in die titel? En, daarmee saam, met die uitdrukking “daaraan te leven”  (reël 19)?

Gewoonlik is die dubbelsinnighede hier gou raakgesien: Die geliefde liggaam is nie net ’n bron van (lewens-)lus, iets om van of byna misties verenigd mee te lewe nie; vir die spreker is dit ook iets om voor te lewe. Dit vorm tans, in sy hier-en-nou, die sin van sy lewe.

Die uitdagendste deel van die bespreking was oor die wyse waarop die ekstatiese vervoerdheid van die spreker, ingehou deur ’n talmend verkennende aandagtigheid, vormlik verdiskonteer is. Opvallend is veral die sintaktiese opbou van die gedig. Dit behels een meervoudig saamgestelde sin, in hoofsaak verbind deur twee stelle herhalings (“misschien is er iets meer goddelijk” – reëls 1 & 16; en die anaforiese “en de” in reëls 4, 6, 10 en 15). So ontstaan ’n patroon van vooruitwysing en teruggryping. Die byna woordelikse hervatting van reëls 1 & 2 in reëls 16 & 17 – opmerkliker gemaak deur laasgenoemde twee reëls in ’n eie strofe te isoleer – het dan die effek dat die sintaktiese én emosionele spanning, veroorsaak deur die sintaktiese ‘afwagting’ via die uitweidende beskrywings in die twee maal in parentese geplaaste reëls 3-15 (vergelyk die aandagstrepe), soos in ’n golfslag ontlaai teen die einde.

Ironieserwys word op betekenisvlak nie voltrek wat sintakties gebeur nie. Geen bevredigende ‘antwoord’ word gegee oor wat dan moontlik “meer goddelijk” kan wees as die “geliefd lichaam” nie. Trouens, met behulp van repetisie en alliterasie (“nu nog nu nog nee”) word ten slotte nadruklik ontken dat so ’n moontlikheid tans vir hom bestaan. Die ongekende wat die huidige salige belewenis sou kon oortref, word onbepaald na die toekoms geban.

’n Volgende besprekingsvraag was hoe die “huif”, die “huiverende boog” van die spreker se hand oor die geliefde se hoof in die slotreël geïnterpreteer kan word. Ook hier is meer as een antwoord gegee: dat dit aan ’n soort stralekrans herinner, waardeur die verheerliking van die “geliefd lichaam” bevestig word; of dat dit as ’n beskermende of seënende gebaar gesien kan word wat die diepe vertedering van die “ik” openbaar.

Laastens is die volgende kenmerke (oorgeneem uit Momente in die Nederlandse letterkunde, soos geredigeer deur J. van der Elst; Academica, 1988) van die Nederlandstalige sogenaamde Eksperimentele digters (of “Vijftigers”, soos hulle ook vernoem is na die negentien-vyftigerdekade waarin hulle as skrywers op die voorgrond getree het) aan die studente verskaf. Teen hierdie tyd was dit redelik maklik vir hulle om aan te toon dat “Genoeg om te leven” heelparty van dié trekke vertoon, ten spyte van die feit dat Andreus nie die maatskaplike betrokkenheid van party van die ander Vyftigers geopenbaar het nie (Hugo Brems en Ad Zuiderent in Hedendaagse Nederlandstalige dichters, Stichting Ons Erfdeel, 1992).

 

a)   Die Vyftigers eksperimenteer met die struktuur van die gedig; hulle gebruik byvoorbeeld weinig of geen hoofletters en leestekens nie en maak gebruik van die vrye vers.

b)   Hulle skryf sintakties verwikkelde poësie. Dit skep groter interpretasiemoontlikhede, maar verg ’n baie groot inset van die leser.

c)   Die klem val op die ervaring of belewing gedurende die skep van die poësie, want “eksperimenteel” is nie afgelei van “eksperiment” soos ’n mens aanneem nie, maar van “experience”. Hulle vind die skeppingsdaad, die produseer van die gedig belangriker as die produk.

d)   Hulle poësie is suggestieryk. Dit gaan om die assosiasies wat in die gedig opgeroep word.

e)   Die materiaal, dus die taal, waarmee die digter werk, is vir die Vyftigers belangrik. Ook hierin ondersoek hulle die onbekende, want vir hulle is taal nie bloot ‘n kommunikasiemiddel nie; dit gaan om wat hulle kan ervaar deur die taal, die taal-as-poëtiese-ervaring. Talige verwysings kom talle kere in hulle poësie voor.

f)    Die Vyftigers skryf (polities-maatskaplik) betrokke poësie.

g)   Hulle beskou die gedig as outonoom, as iets wat volgens eie innerlike wette ontstaan.

h)   Daar is iets van die surrealisme in die Eksperimenteles se werk, want dit gaan – soos in die surrealisme – om die ervaring wat in die kunswerk vergestalt word. Soos die surrealiste plaas die Vyftigers ook soms dinge naas mekaar wat normaalweg nie met mekaar verband hou nie.

i)     Liggaamlikheid speel ‘n groot rol in die Vyftigers se poësie, dit wil sê daar is talle woorde wat ’n (sowel skone as lelike) liggaamlike realiteit aandui.

j)    Een van die doelstellings van die Vyftigers is om die mens se bestaan en die geheel van dinge in hulle gedigte in verband met mekaar te bring, sodat ‘n verlore kontak met “die Andere/andere” herstel kan word (’n mistieke strewe).

 

Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Bernard Odendaal. Genoeg om van en voor te lewe”

  1. Johann :

    Mens dink hier onmiddellik aan T T Cloete se voortreflike ‘Silhoeët van Beatrice’ waar die gedig op byna ikoniese wyse die silhoeët van Beatrice nátrek, as’t ware ook lyntekening word, soos Heilna du Plooy dan ook uitvoerig uitwys in haar uitstekende artikel “Op loop met ‘n lyn: T.T. Cloete se “toepassings van dante” ikonies en intertekstueel gelees”.

    In Andreus se gedig trek die spreker eweneens die silhoeët van die geliefde na, vanaf die enkel óp, oor die ‘wirwar’ en borste heen. voor dit ‘n kappie maak bokant die kop & dan weer áf met die agterkant van die nek.

    Die gesprek wat Cloete meermale in sy gedigte met verse van Andreus aanknoop, is boeiend & verrykend na beide kante toe.

  2. Bernard Odendaal :

    Johann, jy het reg: Mens dink by die lees van dié gedig onwilekeurig aan die genoemde Cloete-gedig. Dit lyk na ‘n interessante artikel om die raakpunte tussen Andreus en Cloete ‘na te trek’ (om by jou en Heilna se beeldspraak aan te sluit).