Lize Viljoen. Kort gedigte is sleutels vir groter gesprekke.
Lang gedigte wat soos die kronkelende stofpad voor mens uitstrek, of hoog bo jou kop troon soos populierbome wat sug in die wind, is vir my mooi. Lang gedigte laat my dink aan die lang pad see toe waar elke kronkel op die pad ‘n verrassing inhou. Daarteenoor is die kort gedig vir my soos ‘n sleutel waarmee ek ‘n boek kan oopsluit wat woordfotos in het.
Ek deel graag hier ‘n paar van my kortere verse wat ook op die webblad vir Afrikaanse Skrywers, Woes, verskyn.
Sterre
Tyd loop met hoehakskoene
op die membraan van die ewigheid,
perforeer dit met gate
en laat die sterlig uit.
Na die reen
Die son breek
Eiergeel oor die dorp.
Leeubekke knars die vars bries.
‘n Laventelhaan staan verveeld.






