Lewies Botha. “Kuns is boos!”
Ek loop al ‘n paar jaar met ‘n gedig wat my net nie wil los nie. Die gedig; “Akkerboom” was een wat ek in die kompetisie fase van NS4 voorgelê het, maar wat gesneuwel het. Tog bly ek nog karring aan hom. Nou die aand na Sewende laan sê ek vir my vrou; “Ko’ sit en luister en sê want hierdie is jou gedig, anners gaan ek hom nou wegsmyt.”
My vrou is in die kosbedryf en daar werk dit so; as die kos nie gereed is nie as die gaste is moet jy net bid daar is baie drank by die paartie. In die kombuis is die lonte dan kort en bevele word blitsig en bitsig eksplisiet, soos Gordon Ramsay ”skêl” soos my vrou sê. Dit kom toe so dat ek op ‘n keer met die rondry help en sy hier langs my in die motor inspring en sê; “Ry! ek moet Hallaal-vleis kry by die Oriental plaza.”
Die slaghuis was aan die onderkant van die Oriental plaza, in North End. Ek was half vies oor die vleis kopery hier in die vervalle en vuil deel van die stad. Rommel het verstrooid rondgelê, mense het om taxi’s gemaal en straatkinders het by die motorvenster kom bedel. Naderhand toe sy uit die slaghuis kom was ek al hoogs geïrriteerd maar voordat ek iets kon sê oor haar twyfelagtige keuse van slaghuis sê sy:
”Ons huis was hier gewees.”
Sy het na ‘n oop stuk veld beduie waar mans besig was om taxi’s te was.
”This big Oak tree was next to our house.”
Haar sommerso, onverwagse mededeling het my heeltemal onkant gevang. Ek was vir ‘n oomblik verslae en wind-uit-die-seile, eensklaps midde in die werklikheid van die verlede in geruk. Alhoewel sy voorheen al terloops van die verskuiwings vertel het, het dit nooit by my ingesink nie. Was dit dieselfde; ons-wil-nie-weet-nie-afstand wat ons wittes ook destyds gehad het ?
North End in Oos London. Die liefdeloosheid en onreg wat Apartheid was het ook die mense van North End destyds geraak. My vrou was ‘n klein dogtertjie toe hulle verskuif is. Soos ‘n mens pyn voel as jou geliefde seer kry het ek ‘n seer pyn binne in my gevoel. Ek moes uit die motor klim om die trane wat huiwer te droog en het na die Eikeboom gekyk wat daar staan; manjifiek, reusagtig, allom-teenwoordig, oorwinnaar, sekerlik baie dekades oud.
Soos Opperman sê; “Kuns is boos!”, nadat die episode lank in my gedagtes gemaal het, het ek begin skryf. Die slaggate waarin ek gaan trap met die poging was van die staanspoor af duidelik. Wat het ‘n 40-jarige wit man in elk geval te sê oor gedwonge verskuiwings. Hier is die mees onlangs herskryfde weergawe;
Akkerboom
In Northend staan nog steeds die akkerboom
waar jou huis eens was.
Waar jy met konsert feetjie-vlerkies verlep
bang
in jou hand ‘n akkerpit gevou het;
(met jou mense wat verslae skree en skel
en die government-trokke
wat laai, alles sonder enige erg
en die skrapers next
wat vee, plat voor julle durf waag weer terug te trek)
Ek weet, want ons het eenkeer daar stilgehou
en jy het my probeer vertel hoe vrolik die buurt was
maar ek het net die windverwaaide rommel
en slaghuisbrommers
en gomsnuiwende
straatkinders raakgesien.
“Ek wonder hoekom het hulle die akkerboom
gehou, my vrou?”
Jy was geirriteerd met my ongepaste vraag
(Ek weet, want ek ken al lank jou lyf se taal
,was dit weer my wit ongevoeligheid ?)
en jy het probeer om weg van my oë
‘n akkerpit in tissue te vou.
In Northend staan nog steeds die akkerboom
en in sy skaduwee is ‘n taxirank
en vrouens verkoop lemoene;
piramiede hopies gestapel
en enkel sigarette
20 sent-lekkers
en akker-pitte
lê vollop rond.







‘n Mooie vers Lewies - ek hou daarvan! Gevoelvol, onsentimenteel, skreiend ook. Maar ek het mos nou hierdie nuk om ander mense se verse te eindig waar ek dink dit moet…dus vergewe my, maar ek sou die vers ge-eindig het by ”n akkerpit in tissue te vou.’ Dalk ‘toe te vou’? Laaste strofe sou ek dus weglaat - bietjie oorskrywing hier. Maar ag wat, jy moenie jou steur aan wat die meisies van die Weskus dink nie, veral as die hitte hulle breinselle een vir een tot uitgedroogde bokkems laat smelt nie!
Maar ek sal mos nooit as te nimmer my nie aan die Weskus meisies steur nie, dit sal mos nou ‘n hengse flater wees. My vroulief beskuldig my mos dat ek ‘n “roving eye” het, ‘n dwalende oog. Ek verkies nogal die ladies wat weet wanneer om nie ‘n lady te wees nie. Ek verwys nou nie na jou nuk om my strofes sommer so te wil kort knip as sou dit un lady like te wees nie. Nee eintlik is jy heeltemal reg. Ek probeer om te veel vlakke in een gedig te laat werk, wat eerder ander gedigte behoort te wees. Ek het mos die nuk (soos jy ook ‘n nuk het) om verby die einde te dig.
Dit is nogal een van die mees bevrydende aksies om met die snoeiskêr in te klim.Jy voel sommer verlos van iets wat gepla het.
Dis jammer dat ek die gedig met die storietjie toegelig het want dit doen dalk afbreuk aan die gedig en die leser se leeservaring. Ek het net gedink dis so lekker blog onderwerp dat ek maar die gediggie sal opoffer.
Groete hier vanaf die Ooskus (grens) en hoop dis darem nog net die breinselle daar onder julle wat uitgedroog het. Sien almal by die Woordfees. Ek en vroulief spring in die kar die 3de en gaan lekker kuier tot die 6de en GROOT paartie hou op die 5de saam met al die stemme mense. (18:00 Erfurt huis)