Iets oor Woordfees
Dit is snikwarm op Stellenbosch, en die Woordfees is aan die woel in die strate en lokale rondom die gebou waar ek my daaglikse brood verdien.
Dit is eintlik die eerste keer dat ek die fees volwaardig bywoon. Gedurende die eerste klompie jare van die fees se bestaan het ek in die Oos-Kaap gewoon, en later het ek gewoonlik hierdie tyd van die jaar by my geliefde gaan kuier in Grahamstad. Intussen het sy haar tent kom opslaan hier by my in die Boland, so daar is geen verskoning nie: ek moet my gewoon oorgee aan die literatuuraanslag! Dit was veral lekker om twee medebloggers in die strate raak te loop: Andries Bezuidenhout en Bernard Odendaal. (En ook Melt Myburgh, maar hom, synde ook ‘n Stellenbosser, loop ek in elk geval altyd in die strate raak.)
Ongelukkig kan ek nie net rondloop en digters groet nie. Ek moet werk ook! Vrydag doen ek twee onderhoude, en Saterdag nog een. Eerste aan die woord (Vrydag 13h00) is Riana Scheepers. Ek gesels in die Erfurthuis met haar oor haar ryk en verleidelike bundel kortverhale, Katvoet. Net daarna (Vrydag 14h00, ook in die Erfurthuis) gesels ek met drie ander kortverhaalskrywers oor hulle nuwe bundels: Willemien Brummer (Die dag toe ek my hare losgemaak het), Helena Gunter (Op ‘n plaas in Afrika) en Welma Odendaal (Landskap met diere). Dit was vier heerlike boeke om te lees, en die twee debutante (Brummer en Gunter) laat ‘n mens opgewonde voel oor die toekoms van die Afrikaanse kortverhaal.
Die kortverhaal is natuurlik vir baie lank al ‘n besondere sterk genre in die Afrikaanse letterkunde (Aucamp, De Vries, Prinsloo en ander): gedurende die 1980s was dit dalk selfs die toonaangewende genre, die ruimte waar die Angolese oorlog, die politiek, seksualiteit en ander temas by uitstek deurgetrap is. En tog bly die kortverhaal, hier sowel as internasionaal, so ‘n bietjie van ‘n letterkundige stiefkind. Wanneer dit kom by toekennings vir prosa, is dit die roman wat nege uit tien keer bekroon word. Het ‘n kortverhaalbundel al die Hertzogprys gewen? Aucamp het die Hertzog vir sy hele oeuvre gekry (in 1980 of 1981 dink ek), nie vir ‘n individuele bundel nie. De Vries het, sover ek kan onthou, nog nie die Hertzogprys of enige van die ander belangrike letterkundige pryse verower nie. (Of maak ek ‘n fout? Indien nie is dit ‘n skande: sy kortverhale tel onder die beste goed wat nog in die Afrikaanse letterkunde gemaak is.)
Ten slotte, Saterdagmiddag om 14h00 praat ek in Protea Boekwinkel met Bettina Wyngaard oor haar debuutroman, Troos vir die Gebrokenes. Dit is ‘n treffende roman wat kwessies soos armoede, alkoholmisbruik en gesinsgeweld tromp-op loop en met deernis beskryf. As jy in omtes is, kom luister en koop Bettina se mooi boek!




