Oor Fanie Olivier se nuwe bundel

‘n Kort onderhoud wat ek per e-pos met Fanie Olivier gevoer het oor sy jongste bundel, Apostroof, is gister in Rapport Boeke gepubliseer. Ek kan dit egter nie op die elektroniese weergawe van die boekeblad opspoor nie, so ek plaas dit hier ook.

Requiem vol vuur en lig

Met sy jongste bundel, Apostroof, verbreek Fanie Olivier ’n swye van 21 jaar. Die boekbemarkers sal natuurlik wil kapitaliseer op hierdie feit, en inderdaad, dit is ’n noemenswaardige gebeurtenis. Fanie Olivier is immers al vir goed drie dekades ’n gerespekteerde digter en ’n bekende literêre persoonlikheid. En Apostroof, sy sesde bundel, is in alle waarskynlikheid die hoogtepunt in sy oeuvre tot op hede.

Dit is ’n onderbeklemtoonde, intieme en dikwels oorrompelende bundel verse oor sy vrou Rike, wat drie jaar gelede ná ’n lang stryd teen primêre progressiewe afasie oorlede is. Dit is ’n requiem vol lig en vuur, ’n werk wat getuig van die krag maar ook onmag van woorde in die aangesig van liefde en verlies. Dit is, in kort, ’n bundel wat verdien om met eerbied en vreugde, en baie wyd, gelees te word.

Olivier het self egter nie veel erg aan die bemarkingswaarde van hierdie sogenaamde verbreking van 21 jaar se swye nie. “ ‘Swye’ klink so deftig!”, skryf hy per e-pos. “Ek het oor die jare nooit ophou skryf nie: Skryf is vir my baie belangrik en baie lekker, en ek deel graag gedigte met mense rondom wie gedigte ontstaan het. En ek het wel gepubliseer in geleentheidsbundels en tydskrifte.”

Maar skryf met die oog op publikasie het, om verskeie redes, oor die jare minder belangrik geword vir hom. “Of miskien was ek net nie lus vir die regpak van die volgepropte laai nie … Daar was belangriker dinge waarmee ek my besig moes hou, nog altyd die dapperdwaas ridder wat sonder ’n prinses of blink horlosie in gedagte, die nare ou draak van korrupsie en leuens en sluwe mag gaan aanvat. Maak mens nogal moeg.” Dat Olivier meedoënloos kan baklei vir geregtigheid blyk uit sy uitgerekte stryd in die laat 1990s teen die rektor en bestuur van die destydse Universiteit van Venda, ‘n saak wat wye mediadekking gekry het, meermale in die hof gaan draai het, en Olivier uiteindelik sy werk gekos het.

Dan is daar ook, heel tereg, ’n bietjie misnoeë te bespeur oor hoe die Afrikaanse literatuurgeskiedenis en literêre kritiek hom by tye behandel het. “In Perspektief en Profiel bestaan ek gewoon nie as ’n digter nie, word glad nie genoem nie: Publikasie is dus nie van enige betekenis nie …” En tog is daar hierdie nuwe bundel; en dalk selfs meer wat op ons wag: “Miskien is dit nou tyd om weer bestek te neem: Ek het darem twee titels waarmee ek sou kon werk.” ’n Mens kan inderdaad maar net hoop dat hy van hierdie woorde werk sal maak.

Apostroof was egter glad nie met die oog op publikasie geskryf en saamgestel nie. Dit was aanvanklik bedoel as ’n soort persoonlike gedenkskrif, ’n intieme dokument wat met vriende en familie gedeel moes word. “Die manuskrip is in die paar maande na Rike se dood gemaak om vir oulaas saam met ons vriende en families haar te gedenk – soos in ‘blommetjie gedenk aan my’. Ons het op ’n paar plekke in die land wonderlik partytjie gehou en ek het gevoel dat die manuskrip (ongelyk soos dit is) gedeelde besit is en vir elkeen iets persoonliks beteken het. Een of twee van hulle het gemeen dat dit wyer gelees moet word.”

Olivier het gehoor gegee en die bundel gepubliseer, maar hy is self klaarblyklik nog nie heeltemal oortuig dat dit die beste besluit was nie. “Ek voel werklik ambivalent oor die publikasie. Die openbare hart op die mou, en ook omdat dit weer dinge byroep wat ek probeer besweer het. Eintlik was dit vir my verby skryf, soos die gedig ‘geding’ agter op die bundel (dus: daar buite) dit uitspel.”

Miskien is dit juis omdat die verse nie oorspronklik vir onbekende oë bedoel is nie wat die lees van die bundel so ’n intieme, roerende ervaring maak. In hierdie opsig, verduidelik Olivier, moet ’n mens die verskillende betekenisse van die titel in gedagte hou. ’n Apostroof is eerstens ’n leesteken wat daarop dui dat “iets ontbreek, en dié afwesigheid kry gestalte, word verteenwoordig, in daardie klein boonste komma/aanhalingsteken wat ons in Afrikaans ook ’n ‘afkappingsteken’ noem. Die bundel as ’n apostroof moet dus in die plek van Rike staan – dis presies wat die manuskrip tussen ons as vriende en familie moes wees.”

Maar in die Griekse retoriese tradisie verwys “apostroof” ook na die aanspreek van ’n afwesige persoon. Dit was volgens Olivier “ ’n bitter belangrike beginsel by die maak van die manuskrip en ’’n hele paar gedigte. Die afwesige persoon, die aangesprokene tot wie die retorikus hom wend (en hom so van ander mense afsluit), is uiteraard Rike, maar terselfdertyd word die leser (deur die feit van die bundel) die afwesige aangesprokene.”

Olivier ontgin hierdie nuanses verder: “ ’n Mens sou hierdie kwasi-geleerde gesprek ook verder kan voer: Oor die gesprek tussen lewe en dood (die afwesige, maar altyd aanwesige dood) of liefde en dood (die afwesige, maar altyd aanwesige liefde) en die afkappingsteken wat orals huiwer. En is elke woord nie ook maar ’n soort apostroof nie, iets wat ons herinner aan alles wat agter daardie woord in die lug hang nie …? Maar nou begin die bundel na ’n groot intellektuele en vermoeiende en moeisame ding klink, terwyl dit eintlik maar sentimentele gedigte is.”

Dat die digter hom verset teen die oor-teoretisering van sy “sentimentele gedigte” is duidelik wanneer hy in ’n laaste e-pos aan my só op sy eie antwoorde reflekteer: “Noudat ek klaar daarmee is: Hemel, kan ’n mens so presieus wees? Antwoorde is heeltemal te lank. Hoop eintlik maar net dat ’n gedig hier en daar iemand aan die hart sal kom gryp.”

Met reëls soos híérdie, hoe kan dit anders:

 

…en hoe
pikant lek die liefde nie uit die hart

en kom sit op die mou nie: toe,

toe jy kan dit nie ontken nie: verward

het veel minder betekenis as eers, rol

soos wyn van die tong af. klaar

met die dinge van ’n kind, word jy vol

van die soelte van soveel te wees, soveel

te weet, soveel, helaas, ook te verlang.

 

Bookmark and Share

Los kommentaar