Herfs, alweer
Wat kan ek sê? Dis weer herfs. Daardie tyd van elke jaar wanneer ek wens dat ek gedigte kon skryf soos etse, sodat iemand sal verstaan van die grasse. Dat ek foto’s kon neem in wit en swart maar ook in al die goue-brons-geel-Naples yellow-oker kleure van die reënboog. Wat kan ek skryf wat so liniêr is?
//// gras gras gras grasse gras ///// en ander kant toe deur die wind \\\\\
Tevergeefs. ’n Haikoe sou dalk werk, of ’n refrein, ’n vioolgestreep oor en oor, op en af. Iemand se blonde hare. Dis onmoontlik om te beskryf en dalk onnodig. Rumi sê:
The moon has no desire to be described.
No one needs this poetry.
The loose hair-strands of a beautiful woman
don’t have to be combed.
A, dan los ons maar
die herfs se blonde hare
los en ongekam






Ilse, bly om te hoor dat die herfs darem iewers in aantog is. Hier in die Kaap het die somer ons nou eers ordentlik getref. Lyk my ons is maar altyd agter die tyd, nè? En in die Oos-Vrystaat staan die kosmosblomme seker al veldevol langs die hoofpaaie …