Lewies Botha. Intertekstualiteit; Onthou ons darem nog vir Klara Majola?
Terug by die huis na die Woordfees en natuurlik die bekendstelling van NS4, en dit was flippen lekker! Al die NS4 digters is regtig vriendelike mense. Dit is jammer dat sommige dit nie kon maak nie veral omdat ek nog nie almal ontmoet het nie.
Die vorige aand het ek en vroulief Oopmond, ‘n “poetry slam” bygewoon. Ons het ons gate uit geniet. Hier ontpop die digter as rock ster en verhoogkunstenaar, voorwaar hierdie impromptu bekgevegte waar gedigte gepen en musikaal getoonset word en na ‘n skrale 20 minute gespeel/gesing word is pure plesier! Dalk word my droom van rock ster word nog waar. Hou my dop Annie Klopper!
Ek en my vrou het in Breyten se Wellington in ‘n gastehuis gebly,’n pelgrimstog vir my. Wat ‘n verassing om in die gasteboek te lees dat Koos Kombuis ook al daar ingeboek het. Ek lees toe hierdie Sondag in Rapport, Koos Kombuis se rubriek; Voorwoord. My hart gee sommer so ‘n bokspring, ‘n tweede toeval.
Die strekking van Koos se rubriek gaan oor die onthou van die agt jarige dogtertjie Klara Majola in Opperman se gedig en onthou van vroeëre geslagte se jong mense. Nou laas Desember is ek op die plaas vir my twee weke van sielerus en kans om net met oorgawe te skryf sonder werksdinge wat pla. ‘n Goeie vriendin van my het van haar studente notas vir my geleen en in die pakkie is; Woordkuns- Inleiding tot die literatuurstudie van CIM Nienaber et al J.L. Van Schaik is die uitgewers. Daar vind ek toe die gedig en verhaal van Klara Majola.
Ek haal aan; ”In 1953 het Opperman die studente van die Departement Afrikaans Nederlands aan die Universiteit van Natal, Pietermaritzburg, toegespreek. By die geleentheid het hy o.a. vertel hoe die gedig”Klara Majola” ontstaan het, na die lees van ‘n berig in die Burger, 31 Julie 1950. ”
“Die papiertjies waarop die gedig vorm aangeneem het, is goedgunstelik deur Opperman aan ons (die Universiteit) geskenk.” (die deurhalings en vervangings van die oorspronklike kon nie weergegee word nie)
Die koerantberig van 1950 asook van Opperman se probeerslae en finale weergawes van die gedig word verder bespreek en as opdrag aan studente gegee om te ontleed. Dit tref my ironies dat vele studente waarskynlik die gedig moes deurwerk en dalk self aan die hand van die koerantberig ‘n gedig sou probeer het. Kon dit dalk half tragies wees dat ons almal die wonderlike moontlikhede van ‘n gedig raaksien en dalk vir Klara vergeet. Na Koos se skrywe is ek bly Klara die kind word darem onthou en nie net Klara die gedig nie.
Intertekstualiteit; ‘n polisieverklaring, ‘n koerantberig, ‘n gedig, ‘n boek, ‘n studente poging, ‘n toonsetting, ‘n musikale uitvoering, ‘n vertelling, ‘n standbeeld, ‘n koerant rubriek, ‘n blog, ‘n gedig. Ek waag toe my hand aan ‘n gedig na aanleiding van die 1950 koerantberig en probeer om nie Opperman te herhaal nie. Hier is my beskeie poging;
Klara Majola van agter Witzenberg
(nav DJ Opperman)
Klara Majola,
jou blinde dadda se bruinoog kind
lei jou dadda al om Witzenberg se voetenent
deur die wingerde wat so oumenskrom
in lang rye, voetjie vir voetjie aankruie,
neurie jou babbel liedjie
terwyl jou dadda in die koue lug
wasem wolke blaas.
Klara Majola,
neem jou dadda met die melkoog
waar die droë stok-armpies
vollop soos opdrifsels lê
neurie jou brabbel liedjie
terwyl jou dadda in die koue rëen
dooiehout in bondels bind.
Klara Majola,
“die nag was besonders koud en die kapok
het dik gelê”
O, Klara Majola ,Klara Majola
die kouebokkeveld het jou opgeeis.
Klara Majola,
ek sit hier met probeerslae van ‘n gedig;
koue krampe geknoop
wit geweld en duim in die mond
O, Klara Majola, Klara Majola
dit is jy nou;
-wonderlike interteks materiaal.
-‘n bespreking van die gepastheid,al dan nie,
van die beeldspraak.
Klara Majola,
ons verkluim jou weer en weer;
ons mislei jou tot jy verdwaal, ons breek jou vlerkies af
ons steel jou kinderlaggie en grawe jou hartjie uit
ons plant wingerdstokkies in jou skouertjies
ons buig jou krom en styf
ons krul jou op in ‘n nat draggie hout
ons toonset jou naam
op die klippe in ‘n stroom
verlaat ons jou;
vers vir vers.






Dankie, Lewies. ‘n Wonderlike gedig. Miskien moet Versindaba ‘n inisiatief begin waar julle klomp digters ‘n “antwoord” skryf op ‘n klassieke gedig? Sal tog interessant wees, sal dit nie?
Ons sal vir Louis moet vra, dit kan dalk nogal pret wees. Ek is maar sku vir die “Na aanleiding van gedigte” ek is maar ‘n jong bulletjie en werdig my nie sommer aan om die groot Bulle of Koeie aan te vat nie. Ek dink ook arme ou NP van Wyk Louw moet ook nou maar vir eers ‘n ruskansie gegun word.
HI Lewies, ek hou nogal van jou gedig. Interessante onderwerp. Lees hieronder van die beeldjie wat Stef Bos se kunstenaarsvrou vir Klara Majola gemaak het: http://www.dieburger.com/Content/Vermaak/Nuus/1712/9463fb43efef49f0adfd23bbd3b18b92/21-02-2010-08-55/%E2%80%99n_Monument_vir_Klara_Majola
Of kuns in watter vorm ookal noodwendig die mens of gebeurtenis huldig en of dit net gaan om die stof wat die kunstenaar gebruik (misbruik?), laat my dink aan die woorde uit The Road (Cormac McCarthy):”All things of grace and beauty such that one holds them to one’s heart have a common provenance in pain. Their birth in grief and ashes.”
Dankie Sophia vir die skakel. Ek hou baie van wat Paschke se;”Daar is soveel persoonlikhede in ons land wat vereer is deur ’n beeld, bloot omdat hulle een of ander magsposisie beklee het en te min beelde van mense wat oor hul menslikheid vereer word.” Ek stel myself ‘n beelde groep voor van straatkinders hulle is so verontreg deur die staat en ons as burgers/ouers/mense se pligsversuim. Hier is die skakel na Koos se rubriek; http://www.rapport.co.za/Content/Rubrieke/KoosKombuis/2381/d32e8700f9464e96b2bbe92985bb74c2/06-03-2010-03-27/Die_kind_is_nie_dood_nie