Bernard Odendaal. Weer slaap die geliefde

Die Valentynsmaand is al verby, maar ek vertel eers nog van ’n ander gedig in die leerplan vir die module oor “Die liefdesgedig as tydsdokument” wat ek in die negentien-negentigerjare vir eerstejaars aangebied het.

Tussen hakies: Een van die Februarie-uitgawes van Sarie daardie tyd, toe dié vrouetydskrif nog onder die redakteurskap van wyle I.L. de Villiers gestaan het, het ’n fokus gedra op Valentynsdag. De Villiers vertel toe wat die herkoms is van die gebruik om 14 Februarie as “liefdesdag” te vier. Miskien ken julle die uitleg reeds, maar ek haal dit tog hier aan:

Waarskynlik uit Antieke Rome, waar die jong manne teen die middel van Februarie die name van jong meisies uit ’n sogenaamde “liefdeskruik” getrek en dan vir hulle klein liefdesgeskenkies gestuur het. Die ou Christelike kerkvaders wou dit as ’n liefdesfees kersten en het dit na die martelaar Sint Valentyn genoem. Hy is op dié dag onthoof, en volgens ’n legende het twee duifies hartroerend by die toneel gekoer en by mekaar vertroosting gesoek.

Die stuur van Valentynskaartjies was glo ook die voorloper van al die groetekaartjies wat vandag by bykans elke geleentheid uitgestuur word.

Die gedig waaroor ek dit hier wil hê, is Stephan Bouwer se “jy slaap nou”, uit sy bundel Portrette, private dele & kanttekeninge (1980). Saam met “Genoeg om te leven” van Hans Andreus, waaroor ek die vorige keer geskryf het, en Breyten Breytenbach se “nagmaal” (uit: die ysterkoei moet sweet, 1964) was dit een van ’n drietal “bed-waak”-liefdesverse wat afwisselend in verskillende jare ter sprake gebring is.

 

1        jy slaap nou

2        eenkant en privaat

3        jou mooi kop ’n kluis vol geheime

 

4        my vinger volg die loodlyn van jou rug

5        die roete tussen blad en boud

6        jou vel tril soos ’n kat s’n

 

7        jy strek jou en onthul ’n oomblik lank

8        die bolwerk van skouers en borskruis

9        jy spin onderlangs

 

10      jy slaap

11      eenkant en privaat

12      jou mooi kop ’n kluis vol geheime

 

13      ek wag op ’n neutrale oomblik

14      om jou só in my hart te bêre

15      maar angs beklem my

 

16      ek plaas my kop versigtig op die kussing neer

17      om – voor die aantog van die deurnagblues –

18      my asemhaling met joue te sinchroniseer[.]

 

Soos Breyten se “nagmaal”, waarin lewensdrif en doodsangs op gespanne voet staan in die liefdesbewonderingmoment –  

slaap nou vooroorgebuig intens asof luisterend na die riemslae

van jou bloed, jy is ’n vlinder van trillende lig

en in jou knabbel jou karkas reeds

– bevat “jy slaap nou” iets ambivalents, hoewel met ander pole. Die verhouding tussen die “ek” en die “jy” blyk deurtrek te wees van onsekerheid – altans, soos beleef deur die “ek”, die een wie se bewussyn weergegee word in die gedig.

Die spanninge hier?

Enersyds is die wakende spreker bewonderend jeens die slapende geliefde (“jou mooi kop”), en verliefd koesterend (“om jou só in my hart te bêre”). Andersyds beangs (reël 15).

Die bewondering en koestering is maklik te begryp, maar waar sou die angs by die wakende vandaan kom? Waarskynlik uit die gevoel dat die geliefde hom op ’n manier uitsluit; dat hy dalk die geliefde gaan verloor. Met die intrapslag slaap die beminde byvoorbeeld “eenkant en privaat”; sy/haar kop (ja, die studente het gou begin vra na die moontlike geslag van die “ek” en die “jy”1) is “’n kluis vol geheime” – wat alles iets van ontoeganklikheid suggereer.

Dié aanvoeling word versterk as die openingstrofe later byna woordeliks herhaal word.

Ook die “loodlyn van jou rug” (suggestief van sekure skoonheid, dus ook van selfgenoegsaamheid, sou die studente raai) en “die bolwerk van skouers en borskruis” (= verweer, ondeurdringbaarheid; of weer: selfgenoegsaamheid) pas in die kraam van die ontoeganklikheidsuggesties.

Opvallend is die vergelyking van die slapende geliefde met ’n kat. Is ’n kat dan nie ’n alte troetelige gedierte om met die indrukke van ontoeganklikheid te strook nie?

Kenmerke van katte wat die studente met die slapende se gedrag kon rym (strofes 2 en 3), was sinlikheid én kille afsydigheid. Die geliefde reageer op die toenadering en aanraking van die spreker, geniet klaarblyklik die streling … maar bly voortslaap. ’n Toonbeeld van selfgesentreerde genot. Pure kat, sou dié wat weet getuig.2

Om te slaap is in wese reeds ’n daad van uitsluiting; te meer so in dié gedig waar die “ek” op sy eentjie waak. Dat hy die uitsluiting as iets (potensieel) permanents aanvoel, word gesuggereer deur die weglating van die tydsbepalende “nou” in die eerste reël van die openingstrofeherhaling.

So sou party (oortuigend) verder redeneer.

Maar sommige het op hierdie punt begin wonder: Word die houding van die betragter nie dalk getint deur ’n doodsvrees om – selfs deur ’n doodswens vir – die beminde nie? Wat is permanenter as die dood?

Nietemin, sou die meerderheidsinterpretasie voortgaan, die “eenkant”- en “privaat”-heid van die slapende word benadruk deur dié twee woorde tipografies te isoleer in ’n eie, kort versreël (asof illustratief van die afsydigheid wat ter sprake is).

In reël 3 (dus ook in reël 11) dien die ­k-alliterasie om die verband tussen “kop” en “kluis” te onderstreep. Dieselfde effek word bereik deur die b-alliterasie in reël 5, waar daar sprake is van ’n roete wat “blad” en “boud” verbind.

Baie knap is die klankgebruik in reël 8, sou ons verder agterkom. Daar is die klinkende o– en medeklinkende  b-, r-, en ­sk-herhalings in “bolwerk van skouers en borskruis”. ’n Sterk vlegsel klankbindings word bewerkstellig om as ’t ware die “bolwerk” waarvan daar sprake is, te demonstreer.

Wat is dan die “neutrale oomblik” (reël 13) waarop die spreker wag voordat hy die slapende in sy geheue vaslê? Dit word gekonstrasteer met die “angs” van reël 15, en slaan dus waarskynlik op ’n moment waartydens die wakende vry is van negatiewe gevoelens as gevolg van die waargenome afsydigheid by die geliefde. Die oomblik waartydens die spreker dus die geliefde in herinnering wil vaslê – hoe hy haar/hom wil onthou – moet spreek van vertedering en liefdevolle verinniging (“om jou só in my hart te bêre”). Op daardie oomblik moet daar nie sprake van verwydering wees nie.

Daarom, in ’n gebaar van vereenselwiging, probeer die “ek” om soos die “jy” te slaap; om “my asemhaling met joue te sinchroniseer”. Heel funksioneel is dit dat die enigste geval van eindrym in die gedig híér (reëls 16 en 18) voorkom. Ook klankmatig word ‘gesinchroniseer’.

“[D]eurnagblues” staan in verband met die twyfel of angs wat die wakende aangaande die verhouding koester. Dat hy ’n “aantog” van dié gevoelens antisipeer, is ’n aanduiding dat hy dit voorheen ook al deurgemaak het.

Teen hierdie tyd kon die wat voorheen gewonder het oor ’n moontlike doodsgedagte by die wakende, nie langer hul vermoedens vir hulleself hou nie. Die herhalende verwysing na die geliefde se geslaap – so noodlottig “eenkant en privaat” en met die “kop ’n kluis vol geheime” – dis tog nie alles so onskuldig nie, of hoe?

Is “om jou só in my hart te bêre” nie maar wrange liefdestaal vir “in ’n graf plaas” nie?

Vandaar dat “angs” die wakende dan skielik “beklem”?

En is die “neutrale oomblik” dan nie eerder een waarin hy vry voel van gewoonlik positief geagte, maar in hierdie geval belemmerende gevoelens soos liefdesvertedering nie?

Dan verteenwoordig die slaaphandelingsnabootsing deur die spreker in die slotstrofe eintlik ’n voorstelling van ’n begeerde onverbreeklike vereniging in die dood – iets soos ’n Romeo en Juliet vanouds in hul graftombe.

Dís tog uiteindelik ál wyse waarop die “deurnagblues” van twyfel en angs om verlies besweer kan word?

In dier voege het die interpretasie uit hierdie hoek verloop.

Strook “asemhaling […]  sinchroniseer” met ’n doodswens, vra die eerste interpretasiegroep dan. Sou “asemhaling suspendeer” (of iets dergliks) in so ’n geval nie meer gepas gewees het nie?

 

***

 

“[J]y slaap nou” illustreer hoe ontoereikend die gewilde bestempeling “vrye vers” meestal is.

Ja, dis ’n rymlose vers, met redelik sterk wisselende versreëllengtes. Maar sekere patroonmatighede kom ook duidelik voor. Die strofes is dwarsdeur driereëlig, en die klankstruktuur redelik heg (soos aangetoon). Die jambe oorheers as metriese patroon, hoewel talle afwykings voorkom: in uitheffende funksie (“mooi kop”, “kluis vol”, “vel tril”, ensovoorts) maar ook in betekenis-medeskeppende funksie (die amfibragties neigende, vlegtende “bólwĕrk văn skóúĕrs ĕn bórskrŭĭs”). Nie net die herhaling van strofe 1 in strofe 4 nie, maar ook die ‘hervattende’ parallelistiese sinstrukture (“jy slaap…”, “jy strek…”, “jy spin…”, “ek wag…”, “ek plaas…”) versterk die hegtheid van die gedigkomposisie. Trouens, die bykanse toneelmatigheid, die dramatiese aard van die uitbeelding in die gedig, word deur laasgenoemde verskynsels gerugsteun.

Enersyds: vormlike vryhede; andersyds: hegte bindinge. Sodoende word oorkoepelende strukturele spanninge bewerkstellig – wat juis die weifelinge in die uitgebeelde liefdesproblematiek ondervang.

Nie jou standaard-Valentynskaartjie met sy kitsgevoelens nie!

‘Organiese versvorm’ is ’n beter woord om gedigte te beskryf waarin woordbetekenisse en styl- en vormverskynsels só ineengroei dat ’n mens met oortuiging van taalvergestalting (ikoniese betekening) durf praat.

 

  1. In Neil Cochrane se artikel “Stephan Bouwer (1948-1999): ’n Herwaardering met spesifieke verwysing na sy poësie-oeuvre”, te vind op LitNet Akademies en gedateer Augustus 2008, kan meer gelees word oor, onder meer, die homoërotiese karakter van Bouwer se digkuns.
  2. “Goegeloer” ’n mens gou op die internet (om Joan Hambidge se Afrikaanse vinding vir “google” te benut), sien jy dat simboliese betekenisassosiasies soos “heelheid”, “onafhanklikheid”, “libidineuse temperament” en “wellus” inderdaad met katte verbind word.

 

Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans

Universiteit van die Vrystaat

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Bernard Odendaal. Weer slaap die geliefde”

  1. tree vir tree. Ransom, Tate, Winters, Brooks, Blackmur, Wimsatt, Odendaal.
    🙂

  2. Ivan Mocke :

    En amen daarop. Maar ook so Gilbert se digkuns. Sy bundel “oogensiklopedie” is nog steeds vir my – met apologie aan al die ander digters op dié webblad – dié bundel van die afgelope jare.

  3. weskuslady :

    dankie vir die verklaring/disseksie van Gilbert Gibson se smaailie kommentaar. maar helaas, ek is hoegenaamd nie oortuig nie. ek sou dus graag van die digter self wil verneem wat die bedoeling is. dis vreemde name & ek weet mos nou nie hoe gedug of bekend of berug hierdie mense is nie. sulke ompaaie deur die rante verstaan ek ok nie. hier loop ons reguit strand toe en reguit winkel toe en reguit op mense af. die oogensiklopedie het ek nog nie onder oog gehad nie, want die vis is duur, meneer & ek kan nie elke boek bekostig nie, maar Boomplaats het ek wel gelees – en dit was skitterend. dus staan sy naam nou ook in my Afrikaanse galery van gedugte digters.

  4. Louis :

    Argerich; Rostropowitch; Gould; Gibson
    of
    ee; bb; mm; tt; gg 🙂