‘n Kwasi-digterlike doodle
Wat is die Afrikaanse woord vir ‘doodle’? Ek doodle dikwels tydens vergaderings, seminare en voorlesings, soms deur strepe, kolle en kwasi-diagramme te teken (regte sketse kan ek ongelukkig nie maak nie) en soms deur woorde, frases, beelde, gedagtes en kwasi-strofes neer te skryf. Sommer enigiets wat by my opkom. Die meeste van die tyd word die produkte hiervan saam met die agendas en kongresprogramme waarop hulle geskryf staan in die drom gegooi, maar elke nou en dan, wanneer ek my kantoor of hardeskyf skoonmaak, kom ek op een af. Soos gister weer:
nóg ‘n kleindorpse lament
ek wou verder gaan
ek het geweet jy wag agter die plantasie
en jou fyn ondergoed het by my gespook
en hoe jy jou bene sprei, o jirre, met die grasie
van ‘n gaap… en na die tyd het ons gerook
en gelê en kyk na die maan
maar nee, ek wou verder gaan
ek moes weet wat wag verby die stasie
ek het gebrand om uit hierdie dorp te loop
maar ek droom, jy weet mos, vraatsig soos
‘n vlam… en na die tyd het ons gerook
en gelê en kyk na die maan





Jy moet meer doodle, Desmond. Net een beeld pla: “met die grasie van ‘n gaap”. Ek sou nie ‘n gaap grasieus noem nie, tensy jy opsetlik dit as potsierlik bedoel het.
Hallo Johann, dit was deels potsierlik bedoel, maar ek stem saam dat dit nie juis werk nie. Om dit ‘n ‘doodle’ te noem is natuurlik bloot ‘n verskoning om nie die harde werk te doen wat van ‘n klompie aantekeninge ‘n gedig sou maak nie. Ek doodle dikwels, maar kom omtrent nooit so ver om te gaan sit en WERK nie. Maar nou ja: blogruimtes is geduldidig, en gee selfs die luies geleentheid om hulle goeters te wys!
Jy kan maar wys, ons kyk enige tyd na joune
Die Nederlandse woord vir ‘doodle’ is ‘droedel’. Dalk kan jy dit as innovasie in die soepel ontvankelike Afrikaans inbreng, Desmond.
Ek hou van ‘die grasie van ‘n gaap’. Kyk hoe ‘n vrou die arme en haar liggaam kan strek by ‘n gaap , die verleiding die in die trage loomte lig.
Chris, dankie en dankie! Droedel is ‘n lieflike woord; ek gebruik dit voortaan waanneer ek ook al kan.
Wonderlik! Vir die etimoloog in 2056: ‘die woord droedel het as leenwoord die Afrikaans binnengesniek op maandag 15 maart 2010 op die webblad Versindaba.’