Onderhoud. Koos Oosthuysen

Om spinnerakke weg te vee …

Louis Esterhuizen in gesprek met Koos Oosthuysen

 

Koos Oosthuysen

Koos Oosthuysen

Ds JC (Koos) Oosthuysen is in die Transkei gebore waar sy ouers baanbreker sendelinge van die NG Kerk was.  Hy het vir 42 jaar gedien as leraar in Xhosasprekende gemeentes van die Kaaplandse NG Kerk in Afrika wat opgeneem is in die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika.  Hy was vir 21 jaar aktuarius van eersgenoemde kerk en was die moderator van die eerste sinode van die Kaapse Streek van laasgenoemde kerk.  Hy was die koördineerder van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika se vertaalprojek wat die funksioneel ekwivalente 1996 vertaling van die Bybel in Xhosa geproduseer het.  Hy is tans afgetree en hou hom besig met vertaalwerk in Xhosa en lewer as vrywilliger van die tussenkerklike Hope Gevangenisbediening diens aan Xhosa-sprekende aangehoudenes in die Pollsmoor-gevangenis as berader in basiese teologie en herstellende geregtigheid.

 

 

 

 

 

 

Koos, ten eerste – veels geluk met ’n uitmuntende versameling vertaalde verse. Maar, ter wille van die lesers wat nog nie die boek in die hande kon kry nie: vertel ons ietsie omtrent die agtergrond hiervan?

 

Dankie vir die gelukwense.  Eintlik moet Antjie Krog en my uitgewer-dogter Erika daarin deel.  Toe Antjie gewerk het aan haar vertalings van inheemse gedigte vir ‘Met woorde soos met kerse’ het Erika haar aangeraai om my te vra om te help met die verstaan van Xhosa-gedigte.  So het ons dan om ’n tafel gesit en gedigte van Mqhayi, Jolobe, Ngcwabe en ander saam geniet.  Toe die tyd ons inhaal, het ek later ’n paar gedigte op skrif uitgelê en so het tekste, soos my uitleg van Zantsi se prysgedig oor die volksdigters en die vertaling van Shasha se lofuitinge vir die gestorwe en terugkerende helde, ontstaan.

 

Xhosa is ’n betreklik moeilike taal om vlot te lees.  Nie net die klanke nie, maar ook die intonasie moet reg wees om sin te maak.  Daar moet dus frase per frase gelees word en nie woord vir woord nie.  Waar ek reeds vanaf my kindertuindae Xhosa lees en lewenslank met Xhosa-tekste te doene gehad het, lees ek dit gemaklik.  Antjie het my toe gevra om saam met haar Xhosa-gedigte en hul vertaling voor te dra by die Woordfees op Stellenbosch.  Later het sy my gevra om vertalings te doen van gedigte van Anna Enquist en Tom Lanoye wat Suid-Afrika besoek het, en vir die lekker ook sommer van Pablo Neruda se tragiese aandgedig en ander soos haar gedig vir haar ma.  Vir haar optrede by die Poësiefees by Spier het sy my gevra om vertalings te doen van Shumba, Mngomeni en Dowling se werk.

 

Toe Erika met Antjie se aanmoediging hierdie tekste bymekaargesit het, het ek enkele van die baie vertalings bygevoeg wat ek van gesange gemaak het, onder andere ’n paar uit Xhosa na Afrikaans vir ’n veeltalige riglyn vir kerklike samesang.  Om af te sluit, en iets te probeer weerspieël van die trefkrag van Zamuxolo Nkuhlu se vertaling van die pryspsalms, het ek ’n redelik letterlike vertaling van sy Psalm 113 gemaak.  Natuurlik kom dit nie naby Nkuhlu se prysdigterlike gawes in trefkrag nie.

 

Uit jou vertalings blyk dit duidelik dat jy nie net Xhosa tot in sy murg magtig is nie, maar dat jy ook ’n besonderse liefde daarvoor koester. Jy verwys byvoorbeeld in jou voorwoord na Xhosa as ’n “aangrypende taal”. Watter eienskappe van dié Afrika-taal is dit wat jou in die besonder daarheen gelok het?

 

Ek is nie eintlik na Xhosa gelok nie, maar het daarin grootgeword.  My ouers het ’n sendingstasie by Isilimela diep in Pondoland begin en behalwe vir die Afrikaans wat ons tuis gepraat het, het ek my in ’n Xhosa-sprekende wêreld bevind.  Saam met my speelmaats het ek kleiosse gemaak en leer veg met ’n kierie.  En saam met hulle in die sendingskool het ek leer lees vanaf ‘sa se si so su’ tot moeilike woorde soos ‘ingcongconi’.  Later sou ek op laerskool in Mthatha deur medium Afrikaans skoolgaan en op die enigste beskikbare hoërskool in Engels.

 

Om ’n liefde vir Xhosa te behou, was nie moeilik nie.  Dit is ’n ryk taal, vol klanknabootsings en ideofone, wat ’n toneel of gebeurtenis so kan beskryf dat dit lewendig voor jou geestesoog afspeel.  ’n Huis stort by voorbeeld nie bloot ineen nie, maar ‘indlu yawa, yadilika didli’ – ‘die huis het geval en ineengestort didli.’  In ’n Afrikaanse vertaling van iets soos ’n psalm verstaan ek wat die digter gesê het, maar ek moet die Xhosa lees om ook my hart aangespreek te kry.  As leraar van ’n Xhosa-sprekende gemeente en koördineerder van die Bybelgenootskap se vertaalprojek wat die 1996 Xhosa-Bybel daargestel het, was ek voortdurend in aanraking met Xhosa en kon ek by kollegas soos Edwin Dike, Zamuxolo Nkuhlu en Fezile Mbenenge afluister hoe mooi Xhosa klink.

 

Uiteraard is die pryslied besonder sterk verteenwoordig in dié bundel vertaalde tekste. Gee ons ‘n bietjie ’n kykie op die prominensie van die pryslied in die Xhosa-gemeenskap se gebruike en rituele?

 

Tradisioneel word prysdigte by belangrike funksies deur ’n lofdigter (‘imbongi’) opgedra aan stamhoofde, hoofmanne, raadslede en helde.  ‘Imbongi itshayelela inkosi’ – ‘die prysdigter vee die pad skoon voor die hoofman,’ so word daar gesê.  Indien enigsins moontlik sal die prysdigter by so ’n geleentheid ’n karos of kombers omhang en ’n assegaai, of dan ten minste ’n kierie, ter hand hê.  Normaalweg besing die digter die lof van die leier, verwys na die name van sy voorsate en lê sy geskiedenis en voortreflike dade uit.  Anders as wat die geval is vir gewone sterflinge mag daar ook by geleentheid kritiek uitgespreek word.  So kan Mqhayi in sy lofprysinge van die Prins van Wallis verwys na die Britte met die Bybel in een hand en die bottel in die ander.  Wanneer hy egter koningin Victoria ’n buffelkoei noem, is dit nie kritiek nie, maar lofprysing.  Vir hom is ’n buffel nie die sinnebeeld van onbeskoftheid nie, maar ’n magtige dier.  Ook ’n geliefde bees, perd of jaghond kan digterlik geprys word.

 

Prysdigters word gebore en nie gemaak nie.  Hul skryf nie hul lofdigte neer nie, maar prys spontaan uit geheue en na die ingewing van die oomblik.  Die prysgedig word so hard en vinnig moontlik voorgedra en bevat dikwels herhalende intonasiepatrone en herhalende klanke.

 

Ter illustrasie:

 

Prysdigters, leen my twee tierboskat-mantels.

Een sal ek omhang en met die ander die pad skoonvee.

Kêrels, leen my twee knopkieries.

Een sal ek vergaderings toe neem en met die ander die onkruid weg moker.

Pas geïnisieerde mans, leen my twee kromsteel messe.

Met een sal ek slag vir die voorvaders en met die ander repe vleis sny vir die grysaards.

Manne, leen my twee wilde-olyfboom-kieries.

Met die een sal ek diere inbreek en met die ander die donderweer wegdryf.

Jongmanne, leen my twee danskieries.

Een sal ek gee aan die ringkoppe en met die ander hard op my skild slaan.

Vrouens, leen my ’n lang ry woorde.

Ek sal herstel uitroep vanuit die oorvloed daarvan en die Opperwese loof met die res.

(Uit: Die Prysdigters van die Huis van Ntu, deur: Bulelani Zantsi)

 

Twee vername imbongi wie se verse jy vertaal het, is hoeka Bulelani Zantsi en W Shasha; twee digters, so vermoed ek, wat nie juis bekend sal wees aan die meeste liefhebbers van die Afrikaanse digkuns nie. Kan jy dalk so ietsie meer omtrent hulle vertel?

 

Bulelani Zantsi is ’n boorling van Cala in die Transkei.  As student by die Universiteit van die Wes-Kaap het hy hom as prysdigter onderskei wat by gradeplegtighede opgetree het.

 

Welile Zantsi is beter bekend as medikus dan as digter.  Hy het in die omgewing van Cofimvaba in die Transkei grootgeword.  Hy het voorgraads by Fort Hare studeer en sy mediese kwalifikasies in 1971 by die Universiteit van Natal behaal.  Hy het as dokter by verskeie hospitale diens gedoen en was by baie gemeenskapsprojekte betrokke.  Later was hy streeksverteenwoordiger van die Wêreld-Gesondheids-Organisasie en hoogleraar in gemeenskaps­gesondheid by die Universiteit van die Transkei.  Van tyd tot tyd het hy prysdigte voorgedra en veral opgetree by geleenthede waar terugkerendes van oorsee verwelkom is na 1990.

 

Nog ’n besonderse pryslied is Antjie Krog se “Pryslied vir die huweliksherdenking van Desmond en Leah Tutu”. Is dit vir jou makliker om van Afrikaans na Xhosa te vertaal? En hoe getrou probeer jy aan die oorspronklike teks bly?

 

Antjie Krog het ’n pryslied ter ere van die Tutu’s geskryf en my gevra om dit in Xhosa te vertaal.  Wat die taal betref, skryf ek ewe maklik in Afrikaans en Xhosa, want dan gebruik ek die segswyses wat ek beheers.  Ek vertrou egter my vermoë om ander se Afrikaans reg te verstaan (en dus reg te vertaal) effens meer as wat die geval met Xhosa is.  Gewoonlik weet ek wanneer ek uit my diepte raak en die hulp van die woordeboek of van my vriende moet inroep om seker te maak.  Dit is andersyds slegs in Xhosa wat ek volle vertroue het om ’n manuskrip persklaar te maak.  Hier en daar sukkel ek maar met die vermoë om Afrikaanse, en veral Engelse woorde, reg te spel.

 

As vertaler moet ek ten volle getrou bly aan die oorspronklike teks, maar dan nie aan die woorde daarvan as sulks nie, maar aan die betekenis wat die oorspronklike woorde in hul samehang aan die leser of hoorder in die brontaal oordra.  Dit is die boodskap van die paragraaf en nie die woorde afsonderlik nie wat oorgedra moet word.

 

Dan is hierdie pryslied vir Desmond en Leah Tutu weer vanuit die Xhosa terugvertaal na Afrikaans, met beduidende verskille tussen die bronteks en die terugvertaalde teks. Hoekom dié werkswyse?

 

Antjie het haar prysdig geskryf vanuit haar digterlike gees en gedagtig aan haar blootstelling aan prysgedigte toe sy Afrikaanse vertalings daarvan gemaak het.  Sy is egter nie ten volle op hoogte met die gebruike en idioom van Xhosa nie en gevolglik moes ek hier en daar op die oppervlakte aanpassings in die Xhosa maak om reg te laat geskied aan wat ek oortuig was haar bedoeling is.  Antjie dink byvoorbeeld aan die bog van ’n rivier as ’n beskutte plek.  Vir ’n Xhosa-kryger klink dit egter na ’n gevaarlike plek waar ‘n mens vasgekeer kan raak.  ’n Woordelikse vertaling in Xhosa sou Antjie se bedoeling van ’n beeld van beskutting mis.  ’n Xhosa dink aan ’n woud as ’n beskutte plek vir ’n kryger en daarom probeer ek getrou bly aan haar bedoeling deur na die beskutting van ’n woud te verwys in my vertaling.  In my terugvertaling probeer ek wys hoe ’n Afrikaanse teks sou lyk wat die naaste, ook in vorm, aan die Xhosa is.

 

Ter illustrasie, Antjie Krog se oorspronklike weergawe:

 

Ek prys vandag twee mense wat soos twee hande in mekaar vou.

Die een pas op die ander.

Die een hou die ander vas.

Die een was die ander.

Ja, die een hand weet nie wat die ander een doen nie.

Die een dra die ander op die hande.

Ja, hulle verskil meestal nie ’n handbreedte nie.

Hulle gee mekaar hand al het hulle albei hulle hande vol.

Sonder mekaar is hulle hande afgekap.

(Uit: Pryslied vir die Huweliksherdenking van Desmond en Leah Tutu, deur: Antjie Krog)

 

En dan, die terugvertaalde weergawe van dieselfde strofe via Xhosa:

 

Ek prys vandag twee mense wat soos twee hande in mekaar vou.

Die een pas by die ander soos bloubokke van dieselfde woud.

Die een hou die ander vas.

Die een was die ander.

Tog weet die een hand nie wat die ander een doen nie,

maar die een dra die ander op die hande.

Ja, hierdie hande is steeds ’n hegte eenheid,

want die een ondersteun die ander.

Waarlik, op hul eie is hierdie twee se hande gebind.

 

Twee van die mees aangrypende gedigte in dié versameling is Teba Shumba se “Amadangatya” (“Vlamme”) en “Ntwazana yaselokishini” (“Township-meisie”). Is ek korrek in my aanname dat hierdie meer resente gedigte is? (Vertel ons sommer ietsie meer oor die digter, asseblief.)

 

Teba Shumba is ’n jong sanger wat in Kaapstad in Gugulethu gebore is.  Hy noem homself ‘The Original Social Worker’.  Hy lyk soos ’n Rastafariër.  Hy dig self die woorde van sy liedere en sing wat ek in my oningewydheid Reggae-liedere met ’n stedelike Xhosa-aksent gewortel in die prysdig-tradisie wil noem.  Hy het reeds in verskeie lande oorsee opgetree en so ook by die Poësiefees by Spier in 2006.

 

Koos, ’n groot verrassing in dié bundel vertaalde tekste van jou, is die gedigte van digters soos Finuala Dowling, Anna Enquist, Tom Lanoye, Pablo Neruda, Antjie Krog en Ingrid Jonker wat jy uit hul onderskeie brontale na Xhosa vertaal het. (Met die uitsondering van Neruda, waarskynlik?) Nietemin, hoekom juis dié digters en wat was die ontvangs daarvan by ’n Xhosa-gehoor?

 

Soos reeds gemeld, het ek hierdie vertalings op Antjie Krog se versoek gedoen, dikwels omdat die digters op besoek in Suid-Afrika was.  En ja, Neruda is tweedehands uit ’n Engelse weergawe vertaal.

 

My indruk is dat die Xhosa-toehoorders nie altyd so mooi begryp wat die Europeërs se bedoeling met hul gedigte is nie.  Die jongeres het egter hoorbaar van Finuala Dowling se gedig gehou, veral dat so ’n bleekgesig grysaard met deurskynende ore genoeg byderwetse Xhosa kan ken om te vertaal ‘ndithe swii nguwe’ – letterlik ‘ek is swii gemaak deur jou’ – overgeset synde ‘ek is dol verlief op jou.’

 

Tot my verleentheid moet ek – soos seker die meeste mense wat dié onderhoud lees – erken dat ek hoegenaamd nie op hoogte is met die stand van die Xhosa-digkuns soos dit tans daaruit sien nie … Kan jy dalk ietsie hieromtrent vertel? Verskyn daar byvoorbeeld gedigte in druk of is die poësie-produksie steeds geanker in die orale tradisie?

 

Xhosas dig geredeliker as Afrikaners en heelparty digbundels sien die lig.  Sedert die Onderwysdepartement se Xhosa-Taalkomitee, waarop ek namens die Bybelgenootskap waarnemer was, ontbind is, is ek nie meer op hoogte van wat in die Xhosa-letterkunde aangaan nie.  Iemand soos prof. Satyo van die Universiteit van Kaapstad sou vermoedelik bereid wees om inligting te verskaf.  Net wanneer die met Engels vermengde Xhosa wat ek oor die radio hoor, my moedeloos het, word ek weer opgebeur deur ’n gedig in onberispelike Xhosa op LitNet.

 

Baie dankie vir jou bereidwilligheid tot hierdie gesprek, Koos. Met jou vriendelike vergunning plaas ons die twee gedigte van Teba Shumba hieronder in die oorspronklike Xhosa, asook jou Afrikaanse vertalings daarvan.

 

Ntwazana yaselokishini

Teba Shumba

 

Ubuhle bakho bufana nobenyibiba,

ntw’ echwayithisayo, izihlalele kwisofa.

Intliziyo yam ibetha ngendlela engaqhelekanga:

ntwazana etsho ngomzimba onjengentlakohlaza,

zidlele ezingqukuvana njengentam-ntam.

Ndokuthanda ude wamkele imali yenkam-nkam.

Ubumnandi bakho bugqitha nesonka esinejem neyam-yam.

Yiloo nto wazokufuna ukulobola lo mfana wakwaTyatyam.

Ndakukuncamisa ndiva amanzi egquba emgxobhozweni.

Uncumo lwakho lukhazimla njengelanga lasehlotyeni.

Imilenze ingathi yeyomdlali wentenetya ebaleka ekuseni.

Uligorhakazi elizange loyike emyezweni.

Kwakhal’ inqindi neempama izigantsontso zisilwa ngawe.

Abafana namantombazana bafuna ukuzibona bekunye nawe.

Utsho ngobubele obenza unyoko azidle ngawe.

Nkosazana, izinyanya zakowenu zikunye nawe.

Xa undivulela kungcancazela umzimba, kuthozame umphefumlo;

kubila amakhwapha, kome umlomo;

kukhululeka inqondo, kuxolelwe izono;

kuphela ulwimi, kuphume iinkomo.

Ubalulekile, unomkhitha, kwaye uyinzwakazi.

Ukhuthele, unobulumko, kwaye uyimazi.

Uqiqile, unobuntu, kwaye unolwazi.

Uyadingeka, unothando, kwaye ubanzi.

 

Township-meisie

Teba Shumba

 

Jy is so mooi soos ‘n lelie,

jy wat geluk uitstraal as jy rustig op ‘n rusbank sit.

My hart klop op ‘n buitengewone wyse:

meisiekind, jy met jou lyf soos die lente,

met jou geronde wange soos ‘n sagte lekker!

Ek sal jou bemin totdat jy ouderdomspensioen trek.

Jy is lekkerder as brood met grondboontjiebotter en konfyt.

Dit is die dat die jonkman van Tyamtyam jou wil kom lobola het.

As ek jou soen, hoor ek water wat suis in ‘n modderpoel.

Jou glimlag blink soos die son in die somer.

Jou bene is soos die van ‘n tennisspeler wat in die oggendlig hardloop.

Jy is ‘n heldin, vreesloos in die boord.

Vuiste het geklap en klappe is uitgedeel soos die vryers oor jou baklei het.

Die jong mans en meisies wil graag in jou geselskap gesien word.

Jy is so gulhartig dat jou ma trots is op jou.

Prinses-meisie, jou voorvaders is met jou!

As jy vir my oopmaak, bewe my liggaam en voel my siel salig-tevrede;

my oksels sweet en my mond word droog;

my verstand word bevry en my sondes vergewe,

praat raak op en die lobola-beeste word gestuur.

Jy is belangrik en beminlik en jy is ‘n skoonheidskoningin.

Jy is fluks en verstandig en jy is tog O so vroulik.

Jy het insig en medemenslikheid en jy het kennis.

Jy is begeerlik en vol liefde in jou uitgestrektheid.

 

 

 

 

Amadangatya

Tema Shumba

 

OoDlamini, ooNdlovu, ooCira, nooMadiba bayakhala.

AbaTswana, amaVenda, nooNoqgakancu bathi kuyabanda.

Imizuzu neminyaka idlulile, kodwa kusemnyama

kwabaNtsundu, abantu abanobuntu balo mhlaba.

Kuyazalwa, kuyangcwatywa; epalamente kuyabaswa:

izibeleko amasende neenqondo zabaThwa.

Kuyaxokwa, kuyaprofethwa, kuyathakathwa.

Kula malanga amathamsanqa aphumelela njengamashwa.

Sityiswa ukutya okunencindi yenyama yangaphantsi

yokumkanikazi waseBritani ongumncgatshi.

OoBush bankawuza ipasile yonke, bakugqiba bankawuzise uThabo iratyi.

Nasigxoth’ ezilalini, nasifak’ elokishini, nasifak’ ehlathini, naqgiba nasinik’ ibhatyi.

Still ithayima yakho ibizw’ iboy, ilady libizw’ igirl; abazali bethu benzw’ ilayiti.

Ezisepalamente ziyasitshisa, zibopha ngathi istop zisenz’ iblatyi.

Varsity asiyiafford, span asikho; ghetto youth iphelela kwivantyi.

Uba awukayi emangcwabeni kwenzwa sure uzophel’ uyidronkie

 

Vlamme

Tema Shumba

 

Die Dlamini, die Ndlovu, die Cira en die Madiba-sibbes kla.

Die Tswanas, die Vendas en die Koisan sê dit is koud.

Minute en jare het verbygegaan, maar dit is nog duister

vir die Swartmense, die mense met die menslikheid van hierdie aarde.

Daar word geboorte gegee en begrafnis gehou; in die parlement word daar vuur gemaak:

die baarmoeders, testikels en harsings van die inheemse San.

Daar word gedebatteer, geprofeteer, getoor.

Deesdae is die uitkoms van sukses soos mislukking.

Ons word voedsel te ete gegee wat die smaak het van die onderste vleis

van die koningin van Brittanje wat ’n verraaier is.

Bush-hulle rook die daggazol klaar en dan gee hulle Thabo die stompie.

Julle het ons verdryf uit die krale en ons in lokasies laat woon, julle het ons die bos ingedryf en ons ten slotte ’n baadjie gegee.

Steeds word die oukêrel ‘boy’ genoem en oulydie ‘girl’: van ons ouers word ‘laities’ gemaak.

Dit wat in die parlement gebeur, brand ons: dit lyk asof ons die papiertjie is rondom die rookgoed.

Universiteit kan ons nie bekostig nie, werk kry ons nie: ons eindig soos ghetto-jeug in ’n vangwa.

As jy nog nie die begraafplaas ingedra is nie, sal jy sekerlik as ’n dronkie eindig.

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.