Onderhoud. Marié Stander

Blomme vir Jamestown

Marié Stander in gesprek met Louis Esterhuizen

 

 

Marié Stander

Marié Stander

Marié Stander woon reeds die afgelope 10 jaar in die dorpie Jamestown buite Stellenbosch. As ʼn portret en figuratiewe kunstenares beeld sy mense van die dorpie uit wat haar pas kruis. Haar uitbeeldings is uiters simpatiek en empaties aangesien sy probeer om die siel en menswees van haar modelle in haar skilderye vas te vang.

Sy werk meestal in houtskool op papier, aangesien die onmiddellike en taktiele kwaliteit van dié medium haar inspireer en tot die emotiewe kwaliteit van haar werk bydrae. Besoek haar webblad by www.mariestander.co.za  vir ʼn volledige biografiese skets.

 

 

 

 

Marié, jy is ʼn beeldende kunstenaar wat reeds die afgelope 10 jaar in Jamestown buite Stellenbosch woon en werk. Pas het jy dan ook die lieflike bundel, Onse mense, wat uit 22 afbeeldings van jou skilderye en meegaande gedigte bestaan, gepubliseer. Hoe het hierdie projek tot stand gekom?

 

Ek het twee jaar gelede aan ʼn uitstalling “Wordart” by Rust-en-Vrede Galery in Durbanville deelgeneem, waar kuns gekombineer was met digkuns. Die uitstalling het so ʼn indruk op my gemaak. Dit saam met my werk wat sedert laas jaar in drukvorm beskikbaar is het die gedagte laat onstaan om die kombinasie in boekvorm te laat vergestalt. Ek het natuurlik lankal ook die behoefte gehad om iets konkreets aan die pragtige dorpie Jamestown terug te gee en ʼn boek was vir my die antwoord.

 

Jy werk meestal in houtskool op papier, en die skilderye wat in Onse mense afgebeeld is, is almal realistiese portretstudies en lewensgroot. Is daar iets spesifieks wat jy met hierdie “warts and all“-benadering aan die kyker wou oordra?

 

In die afgelope tien jaar wat ons in Jamestown bly, het sy mense so in my hart gekruip. Die karakters en stories van die dorp fassineer en inspireer my ongelooflik. Daarom beeld ek hulle uit net soos hulle is, lewensgroot, onbloot.

 

Die gedigte by elke afbeelding is natuurlik iets baie besonders aangesien die betrokke gedig “spesiaal en onafhanklik”( soos jy dit in jou nawoord stel) vir elke kunswerk geskryf is. Hoe het jy met dié proses te werk gegaan? Kon die digters byvoorbeeld kies oor watter skildery hulle ʼn gedig sou wou skryf en was daar bepaalde riglyne?

 

Die kurator van Rust-en-Vrede, Monica Ross, en ek het probeer om keuses te maak oor watter kunswerk by ʼn spesifieke digter sou pas en inspireer en daar was Monica se kennis vir my goud werd. Die riglyne was beperkend in soverre dat die aantal reëls in die gedig nie 23 reëls mag oorskry nie, omrede dit moet werk met die grootte van die bladsy teenoor die kunswerk. Die digter kon ook besluit of sy die bestaande titel vir die kunswerk sou hou en of sy dit sou wou verander na haar eie unieke titel.

 

ʼn Hele aantal gedigte spreek die persoon in die portretstudie direk aan, soos byvoorbeeld Carina Stander se pragtige vers “Seënwens vir Sherryne Williams” , en ook Adél Steyn (“Heimlike kaping”), Helena Conradie (“Die oranje jersey”) en Deborah Steinmair (“Myrtle en my”) se gedigte.  Wat was hierdie dogtertjies se reaksie op dié direk-persoonlike gedigte gewees, of was hulle nie teenwoordig by die voorlees daarvan nie?

 

Snaaks genoeg Carina, Adél en Helena was die min wat kontak met my as kunstenaar gemaak het om meer oor hul spesifieke kunswerke te wete te kom en ek dink hulle gedigte het ʼn duidelike persoonlike interpretasie en direkte boodskap. Die model dogtertjies het nie die voorlesing bygewoon nie, maar as ʼn reël neem ek graag my modelle na die uitstallings en wys hulle waar hulle lewensgroot in die galery staan. Die reaksie is altyd ʼn belewenis.

 

Marié, daar is soveel resonansie in jou skilderye dat ʼn mens nie anders kan as om die wonder oor die individue wat daarin afgebeeld is nie … Meestal met ʼn “kwalifiserende” item soos ʼn tarentaalveer, protea of selfs rugbybal, daarby. Wil jy nie dalk so ietsie en ander oor van dié figure vertel nie?

 

Ek gebruik partymaal spesifieke objekte om as simbole te dien, baie maal in jukstaposisie teenoor my modelle. Dit raak ʼn verdere ekstensie van hulle en vertel meestal ook ʼn storie, soos byvoorbeeld “Borsspeld” deur Thérèse Bartman. My titel is “Flower Air, A Tribute to Mmbatho Nkupane”. As simbool het ek SA veldblomme gebruik wat die dogter, Mmbatho, inasem. Die storie wat dit agterlê, is nogal roerend. Mmbatho was ʼn 6 A-simbool leerling in haar graad 12 jaar met ʼn beurs om verder te gaan studeer. Een Sondagaand het sy ʼn ernstige asma-aanval gehad. Nadat haar ouers uiteindelik ʼn motor in die hande gekry het om haar na die hospitaal te haas, het die motor op pad sonder petrol gaan staan en Mmbatho het gesterf. Die storie het my diep geruk en al hoe ek my pyn en hartseer kon verwerk was om haar uit te beeld waar sy deel van die natuur word soos sy die vars veldblomme inasem.

 

Hierdie is seker ʼn onbillike vraag, maar het jy enige spesifieke gunstelinge onder hierdie versameling skilderye? En van die meegaande gedigte?

 

Dit is onbillik en seker onmoontlik om ʼn gunsteling kunswerk te kies. Elkeen was maar ʼn unieke en fassinerende ondervinding in die skeppingsproses. Dieselfde geld vir die gedigte. Soos elke gedig aan my gepos is deur Monica, was dit telkemale asof ek ʼn volgende geskenk oopmaak. Elke gedig was vir my só ʼn voorreg om te kon lees en te beleef en ek kan nog steeds nie ophou lees daaraan nie. Ek voel ontsettend bevoorreg dat hierdie groep talentvolle stemme, ouer en nuwer, bereid was om deel te neem aan hierdie projek en dat elke digter op so ʼn unieke en empatiese manier groter gestalte aan my kunswerke kon gee.

 

Marié, jy is iemand wat ook betrokke is by verskeie gemeenskapsprojekte in Jamestown. Vertel ons so ietsie meer daarvan?

 

As jy in Jamestown bly kan jy nie help om betrokke te raak nie. Ek het ʼn kunsskool met 70 volwasse studente. So agt jaar gelede het ek met my skool ʼn jaarlikse kunsveiling by Muratie Wynlandgoed begin. Die studente en ek skep elkeen ʼn kunswerk en dan word dit opgeveil. Die aand gaan gepaard met lekker kos, wyn en musiek. Hierdie jaar het ons R140 000 gemaak. Die geld gaan dan alles na minderbevoorregte kinders in en om die Stellenbosch omgewing. Die skenkings in meestal opvoedkundig van aard en met die hulp van kinderwelsyn koop ons skoolklere en skoolbehoeftes, restoureer skoolgeboue, befonds skooltoere, help talentvolle kinders om hul kuns, musiek of sport loopbane te bevorder ens. ens. Dit is ongelooflik wat ʼn druppel in ʼn emmer kan maak.

 

Baie dankie vir die gesprek, Marié. En nogmaals geluk met ʼn prag-publikasie. Met jou vergunning plaas ons ‘n skilderye met hul meegaande gedigte hieronder.

 

Thomas Daniel Granfield

Ronelda S Kamfer

 

my oupa is dood toe ek in matriek was

die oggend toe die telefoon lui het my ma nie kom sê nie

sy en my pa het opgestaan en is weg hospitaal toe

ek wou saam gaan ek wou net my oupa belowe dat ek okay sou wees

en dat ek die liefste vir hom was

my ma het ‘n paar uur later gebel om te sê dat ek vir

my en my suster en niggie moet kos maak

sy het niks gesê van my oupa nie

haar woorde het soos vlermuise om my gevlieg

ek het gewag vir iets, gewag vir pappa is dood of dis verby

maar sy’t aanhou praat oor kos, toe ek haar uiteindelik stop en vra

het die vlermuise net aanhou vlieg “ja, vroeg vi oggend”

die swaarste vir my was nie dat my oupa dood was nie

maar dat die aarde aanhou draai het, dat ek aanhou leef het

dat alles wat verkeerd was nog steeds verkeerd is

maar al wat ek wou doen was om te huil

ek wou vir dae aaneen huil, ek wou sy leeftyd uit huil

ek wou huil vir wie my oupa was en vir wie hy kon wees

ek wou huil oor die onregverdigheid

en ek wou huil omdat hy regtig lief was vir

my en dat ek geweet het dat hy lief was vir my

 

 

Seënwens vir Sherryne Willemse

Carina Stander

 

Vir jou met die fynbosvingers

wat woon aan die dorp se voetenent –

sesjaarkind met die oë wat skrefiefrons

teen die branding van die son.

Vir jou van die opslaanhuis

teken ek vandag ‘n blou tuinhek met krulle

wat oopmaak op ‘n plek wat ruik na pannekoek,

speelmaats, fluite, vetkryt en ‘n eie prenteboek.

Steur jou nie aan die ou ghwar wat naweek dikstem maak

of die pesterige seuns wat tog so rou kan raak.

Vergeet die vinnige vuiste en die briekaandraai,

die stoepstories oor mense wat mekaar befoenkfaai.

Want somskere, soms kom ‘n seën

half uit die bloute nes die reën.

Dan word die aarde oornag sag,

die berge bont, die stingels sterk,

die rankers ‘n groen hekelwerk.

Op súlke dae: droom flink, droom heel,

bind verse aan jou polse vas.

Oes solank proteasaad

in die strate waar jy speel.

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.