Vrede op twee wiele
My puriteinse siel is in beginsel gekant teen iets wat baie geraas maak, baie geld kos, gevaarlik is en ook dikwels onprakties. Sien my dus nie as ’n groot aanhanger van motorfietse nie. Tog word ek geleidelik gewen vir ’n rit af en toe, solank dit iewers heen is en nie net om draaie te gooi nie. Toe die wolke Saterdagoggend dus ’n bietjie ooptrek, toe vat ons die tweewielpad Vrystaat toe. Dis die middel van Paasnaweek en die paaie is stil. Ek kan maar terugsit en vir die wolke kyk. Parys hier kom ons.
Daar’s ’n liedjie, weet nie wie dit sing nie, The ballad of Lucy Jordan:
… At the age of thirty seven
she realised she’d never ride
in a sports car through Paris
with the warm wind in her hair …
Wel, daar ry ek toe, op die ouderdom van sewe en dertig, deur die strate van Parys.
Ons eintlike bestemming was Vredefort – die meteoriet, die koepel, die klippe. Wat kan ek sê? Ons was in Vredefort. Ons het gedink ons sien die middelpunt van die koepel en die berge daaromheen. Want Vredefort het skynbaar vrede met toeriste. Daar was ’n klein bruin bordjie met ’n i vir informasie…
Om terug te kom na die motorfietse. Dis nou nie iets wat my digterlike wiele laat draai nie, maar twee Afrikaanse digters kry dit goed reg. Hier is Sheila Cussons (uit Die swart kombuis (1978)):
Die motorfiets
Verlepte geel laphoede van pampoene
loer nuuskierig paprand
tussen bebaarde dissels deur
waar honde-pie en kakiebos meteens
orenter staan van voorgevoel:
’n afbeensprinkaan hink die dorpspad
agterna, wat rinkhalsnekgerek
doer in die verte iets bespeur –
en als is stilte, hitte, langoor-husse bang gespits…
en dan, o heerlikheid, dan spat
die lug in bloubordskerwe uitmekaar
en honde-pie, pampoene, dissels gryp
vervaard laphoede, pluime en bosgasies vas
want links, regs, knal – o oordeelsdag –
’n flou-van-word verruklikheid –
dan poep-poep-poep die Ding
al dowwer weg en daal die rus
maar weer half valerig neer soos as.
En meer onlangs, Gilbert Gibson (uit oogensiklopedie (2009)):
hoe ’n motorfiets snags verby
ek luister in die donker hoe ’n
motorfiets op die N1 verby, die nag
om die geluid gehul soos olie om ’n rat.
en ’n pols oor die versneller gebuig, die hand
gesper, die wiele deur hul eie skaduwee gejaag, ’n
veraf lyn uit die horison teen aankomende verkeer geëts,
die roete van hier tot in die uiterste ewigheid en die wind kom
om die lyf soos ’n regverdige regter, in die koue van die ooppad
geknus. die motorfiets raak dan stil. en jaag verder uit die voortslaap
weg, die stippelstreep in die middel van die pad gedwaal tot niks. die rooi
van die remlig swem in donker lugspieëlings, in vals fokus van die onsiende
oog. ek luister in die donker. ek luister die donker. ek luister weer deur donker.





