Daniel Hugo. Die onvertaalbare poësie

 

Mense sê dikwels Afrikaans is ‘n mooiklinkende taal waarin jy dinge op ‘n unieke manier kan uitdruk. Maar goed beskou is dit ‘n stelling wat waar is van alle tale. En dit is veral waar van die digkuns waarin welluidendheid en betekenisverdigting baie keer van deurslaggewende belang is. Dit is dan ook dié soort gedigte wat in ‘n groot mate onvertaalbaar is. (Daar is natuurlik meer ontspanne of anekdotiese verse wat vertalers minder moeite gee.)

Eugène Marais se beskrywing van Mabalêl wat met die “klingelinge van haar enkelringe” in die voetpaadjie na die rivier aftrippel, is ‘n bewys van hoe mooi Afrikaans kan klink. En Langenhoven se “kluitklap op die kis” is ‘n bewys van hoe onheilspellend Afrikaans kan klink. En D.J. Opperman se weergalose beskrywing van die hamerkop is sekerlik onnabootsbaar in enige ander taal:

 

                                    Hy pluk met gesnitter en gesnater

                                    paddas en vissies

                                    witterig los uit die water.  

 

Maar ‘n mens moet in gedagte hou dat elke taal klanknabootsende woorde besit wat ewe mooi kan wees. Dink maar aan die Engelse digter Tennyson se “The moan of doves in immemorial elms, / And murmuring of innumerable bees.” Van die Vlaamse digter Guido Gezelle is daar die beroemde reël “O, ‘t ruischen van het ranke riet” wat hy laat weergalm in sy “droevig lied”.

Toevallig is hierdie Vlaamse reël goed vertaalbaar in Afrikaans, sonder enige verlies van klank of betekenis: “O, die geruis van die ranke riet.” Maar hoe vertaal ‘n mens daardie ander Vlaming, Paul van Ostaijen, se “Berceuse nr. 2”?

 

                                    Slaap als een reus

                                    slaap als een roos

                                    slaap als een reus van een roos

                                                reuzeke

                                                rozeke

                                                zoetekoeksdozeke

                                    doe de deur dicht van de doos

                                    Ik slaap.

 

In Afrikaans kán sekere dinge op ‘n unieke, onvertaalbare manier gesê word. Dink maar aan woorde en uitdrukkings soos “appelblouskimmel” (perd), “spookasem” (candyfloss), en “op Moedverloor se vlakte wees”. En van “vlakte” gepraat, wat van al daardie geografiese woorde soos “koppie”, “vlei” en “veld” wat die Suid-Afrikaanse landskap só goed beskryf dat dit al lankal ook ingeburgerde Engelse woorde is. Vroeër jare het elke selfrespekterende Engelse woordeboek met die woord “aardvark” ge-open.

Maar dit is nie iets wat net eie is aan Afrikaans nie; elke taal het onvertaalbare woorde en uitdrukkings. Die onvertaalbaarste deel van ‘n taal is sekerlik sy gedigte en liedere. Neem byvoorbeeld die volgende reëls van Ingrid Jonker:

 

                                    Bitterbessie dagbreek

                                    bitterbessie son

                                    ‘n spieël het gebreek

                                    tussen my en hom.

 

Presies hóé onvertaalbaar daardie eerste twee reëls is, blyk uit Gerrit Komrij se andersins voortreflike vertaling in Ik herhaal je (Uitgeverij Podium, Amsterdam, 2000). Die Nederlands is hoogdrawender as die speels-wrange Afrikaanse woorde.

 

Bittervrucht van dageraad

bittervrucht van zon.

 

Komrij se formulering roep onwillekeurig Paul Celan se “donker melk van daeraad” op. Dit is ‘n ongelukkige assosiasie, omdat geen persoonlike leed vergelykbaar kan wees met die massa-lyding van die holocaust waaroor Celan se gedig “Todesfuge” gaan nie. (As verweer sou Komrij kon aanvoer dat dié spesifieke weergawe deur George Weideman van Celan se “Schwarze Milch der Frühe” slegs in Afrikaans bestaan.)

Ingrid Jonker se Engelse vertalers trap ernstiger klei met die volgende welluidende strofe uit dieselfde gedig:

 

                                    Papegaai-bont eggo

                                    kierang kierang my

                                    totdat ek bedroë

                                    weer die koggel kry.

 

André P. Brink en Antjie Krog se Engelse vertaling in Black butterflies (Human & Rousseau, 2007) klink só:

 

                                    Parrot-coloured echo

                                    tricks me tricks me on

                                    until I turn beguiled

                                    to retrieve the mocking song.

 

Behalwe dat die woorde “beguiled” en “retrieve” uit ‘n formele register kom wat glad nie klop met die volkse aard van Jonker se gedig nie, gaan die ritme én die klank van die oorspronklike totaal verlore. Komrij se vertaling is veel nader aan die gees en ritme van die Jonker-vers:

 

                                    Papegaai-bonte echo

                                    lach me, lach me uit

                                    totdat ik bedrogen

                                    op het spotwoord stuit.

 

Maar die unieke Afrikaanse woorde “kierang” en “koggel” skep ‘n allitererende eggo wat klaarblyklik in geen ander taal herskep kan word nie. En is daar ‘n kragtiger argument vir die voortbestaan van ‘n taal – enige taal – as die onvervangbaarheid van sy poësie?

 

Daniel Hugo is ‘n vertaler en digter

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Daniel Hugo. Die onvertaalbare poësie”

  1. Pan Cogito :

    Daniel, jy sluit jou insiggewende stuk met ‘n sterk stelling af. Self het ek nog altyd gewonder hoe hulle ooit Loftus Marais se wonderlike gedigte na Engels vertaal sal kry, want hy gebruik Engelse woorde volgens my deurgaans terwille van die ironie of spot; iets wat verlore sal gaan in Engelse vertaling. Of is ek verkeerd?

  2. Daniel Hugo :

    Ek stem saam: Loftus se gedigte sal heelwat trefkrag verloor in ‘n Engelse vertaling. In ‘n nog groter mate is dit die geval met die Nederlandse vertaling van Peter Snyders se gedigte: “Verzachtende omstandigheden”, Point 36, 1995-96, vertaal deur Jan Deloof. Een voorbeeld: “Maarie tyd vannie riots / wassie blok daem benoud, / want amil is net colour-crazy” word: “Maar in de tijd van de rellen / was je actieradius echt maar klein, / want iedereen was kleuren-gek”. Hoogdrawend en futloos.

  3. Ivan Mocke :

    Om natuurlik nie eens van Marlene van Niekerk se nuutste verse te praat nie … Dit is waarskynlik so na aan onvertaalbaar as wat ‘n mens kan kry, skitterend soos hulle wel is.

  4. Ivan Mocke :

    Johann, met alle respek, maar ek stem hoegenaamd nie met jou saam nie. Toegegee, die “skitterend” is ‘n subjektiewe oodeel – soos wat enige oordeel ten beste waarskynlik is. Dit is egter te betwyfel of enige digter tans in staat is om Marlene van Niekerk hierdie verse – as voorbeeld van hip-hop/rap in ‘n outentieke “Afrikaaps”-idioom sal kan nadoen. Daarom is dit m.i. uniek én belangrik omrede dit ‘n totaal ander (en afgeskeepte) register van Afrikaans betrek. Vir my (persoonlik) ‘n absolute kragtoer, dus, en daarom “skitterend”.
    En natuurlik is “onvertaalbaarheid” geen aanduiding van gehalte nie. Nie ek in my kommentaar óf Daniel Hugo in sy essay het dit geïmpliseer nie. Dit gaan oor segswyses wat so eie is aan ‘n taal dat dit bykans nie oordraagbaar is na ‘n volgende taal nie en daarom (dikwels) onvertaald bly.
    Dan dink ek ook dat jy Danie Marais se essay verkeerd lees. Soos sy antwoord op my vraag dui, lewer hy nie ‘n beroep op groter “betrokkenheid” nie, maar op “eerlikheid” ten opsigte van temas wat dalk as ongemaklik weens politiese nie-korrekteid gesien mag word. Hy lewer dus myns insiens ‘n pleidooi vir eerlike verse oor wat jou juis na aan die hart lê en is as sulks beslis nié “opportunisties” nie.
    Met waarderende groete,
    Ivan

  5. Gerda M :

    Ek stem saam met Ivan. Marlene se verse is absoluut skitterend. Sy slaan spykers op hulle koppe. Dit kan nie maklik wees om jouself so te verplaas in daardie wereld van Afrikaaps nie. Ek het die verse enorm geniet. Hulle is eerlik en tersaaklik.

  6. Ivan Mocke :

    Johann, soos jy dit hier stel, kan ek nie anders as om met jou saam te stem nie. Dit wil my egter voorkom asof Danie Marais meer kante en invalshoeke het as wat ons waarskynlik in ons kommentare laat bly. In ‘n vorige antwoord op ‘n kommentaar van my het hy verduidelik dat hy van mening is dat digters vrymoedigheid moet neem om vanuit hul onsekerhede en vertwyfelings te dig. “Daar word gepraat of uit ‘n aktivistiese of empatiese hoek vanuit ‘n plek van relatiewe sekerheid. ‘n Digter soos Hoagland fokus egter in sy werk juis op daardie dele van die kleurtema waar die intense gemengde gevoelens lê deur middel van ‘n sprekende ek wat so in die problematiek verwikkel is dat hy of sy nie met gesag objektief kommentaar kan lewer nie. En van hierdie soort priemende verse is daar bitter min,” het hy gesê. In wese is dit ietwat anders as wat ons daarin lees, is dit nie? In die onderhoud wat gisteraand geplaas is, brei Danie ook verder uit hierop.
    Ten opsigte van jou kommentaar oor die “hart & niere” van Marlene van Niekerk: Aangesien ek haar glad nie ken nie, en bykans geen kennis dra van haar “lewens- & wêreldhouding” nie, kan ek ongelukkig nie die geldigheid van jou opmerking beoordeel nie. Die beginsel is egter myns insiens korrek, maar of dit op Marlene van Niekerk van toepassing gemaak kan word, weet ek nie. Die feit bly staan: Haar nuwe verse vind ek erg opwindend vanweë die kreatiwiteit en varsheid daarvan.
    Dat sy inderdaad ‘n besonder begaafde woordkunstenaar is, staan bo enige verdenking. Maar, soos jy sê: Point taken.
    Vriendelik,
    Ivan