wat die water onthou

wat die water onthou. Louis Esterhuizen. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-353-9.

wat die water onthou

wat die water onthou

 

Louis Esterhuizen kry dit reg om, ongeveer al om die drie jaar, met bundel na bundel ’n oeuvre op te bou wat ’n steeds sterker indruk maak. So ook dié keer.

[W]at die water onthou is sy agtste. Dit vind op meer as een wyse aansluiting by sy voorafgaande werk. In Die onderwaterweg (1996) – waarvan die titel uit ’n gedig in sy debuut, Stilstuipe (1986), oorgehewel is – was die watermotief al ’n sentrale een. “Posisies op ’n bord”, ’n gedigreeks in ses dele, herinner aan die skaakspelgegewe in sy 1999-werk Patzers, terwyl die gedig “skarniere” weer iets laat herleef van die huis- en deuremotiewe in Sloper van drie jaar gelede.

En die liefdesbelydenis wat sedert Opslagsomer (2001) so opvallend in Esterhuizen se oeuvre is, word hier (op bladsye 47-58) met soortgelyke  stilistiese versobering as in Sloper uitgedruk – hoewel die gevaar van sentimentaliteit ook dié keer nie totaal uitgeskakel word nie. Die feitlik deurgaanse benutting van ’n tweedepersoonsperspektief in wat die water onthou werk sterker objektivering in die hand, sodat ook op dié wyse tot die versoberingsindruk bygedra word.

Wat hierdie jongste Esterhuizen-werk besonders maak, is die oorspronklike en boeiende wyses waarop die sentrale tematiese spanning tussen vervlieting en bestendiging (laasgenoemde veral via die geheue, die kuns en die liefde) vergestalt word op stilistiese en vormlike vlakke.

Maar eers iets meer oor die bundeltematiek.

Die ironie-gelade betekenismeerkantigheid van die bundeltitel word onder meer in die gedig op bladsy 12 belig:

 

dat herakleitos reeds aan die begin

daarop gewys het dat dit nie moontlik is

om dieselfde stroom twee keer

 

te betree nie, dat water nooit terug-

draai nie, maar te alle tye alles opneem

 

en onthou, aangesien elke klip,

elke gleuf en worsteling

saamgesleep moet word

 

na die geheue se uiteindelike

verdwarreling

 

met die groter water

sonder vaart[.]

 

Aan die vervlietingpool-kant word enersyds die verganklikheid van alles beklemtoon – byvoorbeeld alreeds deur die tweede bundelmotto, ’n aanhaling uit die Vlaming Paul van Ostaijen se bekende “Melopee”:

Zo zijn zij gezellen naar zee de kano de maan en de man

Waarom schuiven de maan en die (sic) man getweeën gedwee naar de zee[.]

Andersyds die vervloeiing van alles: die ‘herinneringe’ aan die (persoonlike, familiale, ewolusionêre, selfs metafisiese) oorspronge en verlede in die lewenshede, verbeeld met die watergegewe as (oer-, maar steeds vrugbare) lewenselement. Vergelyk die eerste bundelmotto in hierdie verband:

 

All in all. River again river.

No self. Water again water. Drip. Drop.

(Juan Kaplinsky, The wandering border)

 

Nie slegs hede en verlede is sodoende “verdwarrel” nie, maar ook die toekoms:

            […] want bron

is die water van lank voor

die mens

tot anderkant uit[.]

(Bladsy 16)

 

Selfs die verskynsels raak haas uitruilbaar verstrengel, verkeer in korrespondensie met mekaar (om ’n simbolistiese konsep te benut). Byvoorbeeld in die geheue. Of in die verbeeldingspel soos van ’n kind (uitgebeeld in ’n gedig wat aan sekere verse van T.T. Cloete herinner):

 

’n boom is ’n voël, ’n blaar,

’n ding wat vlieg, ’n vlerk,

’n vaandel vir die wind

 

die wind ’n boom, ’n voël,

die blaar ’n vangnet

in die stroom van wind en son

 

die son ’n greep, ’n hand

op die lig, iets wat alles

oogvas hou, ’n mallemeul

 

van kleur, van boom

en voël, blaar en vlerk,

vaandel en stroom

 

die vetkryttekening

van ’n kind[.]

 

Dis egter ’n (ver)vloeiing “waaraan jy deel mag hê / maar nooit mag besit” nie (bladsy 25). Pogings om deur die geheue of deur (die ver-beeldingswerk van) die kuns iets daarvan te bestendig – om soos in die liefde “hier aan wal [te probeer] gaan” (bladsy 48) – is gedoem tot mislukking. Sand, stof en woestyne, as eenduidiger verganklikheidsimbole, word meermale in die bundel ten tonele gevoer as teenhangers van die vrugbaarder, “geduldiger” water-motief.       

Ek gebruik laasgenoemde adjektief in verband met die water-motief om aansluiting te soek by die belangrike kunsbesinningsgedigte-reeks “die geduld van water” (bladsye 38-46). Daaruit gedig 5 ter illustrasie:

 

            lyne

 

            na ’n balans tussen hard en sag

            neig die akwarel glo altyd –

harde lyne hou die oog gevange

 

terwyl die voortvloeiende kwas

weer te min houvas bied

op kontoere van jul verlies –

 

gestilde drif, die eb en vloei

waarmee die akwarel

beweging vind en stol, beweeg

 

en stil – ingeklad by die ritme

waarmee die oog

verskuiwende lyne vind

en verloor[.]

 

Die prekêre posisie van die mens te midde van die verwikkelde spanninge tussen die “beweeg”- en “stil“-pole in hierdie lewe (om woorde uit die laaste aanhaling te benut) word treffend opgevang in gedigte waarin na vaarte per vlot of kano verwys word (met kennelike toespeling op die vermelde gedig van Van Ostaijen). Ek haal grepe uit die twee “roeier”-gedigte aan, waarvan die een vroeg in die bundel en die ander aan die einde daarvan voorkom:

 

            dat ’n landskap van oewer en rivier

            bestaan, ’n oomblik met bome

enkeldiep oor die breedte van ’n foto

 

en mis wat lê in elke kolking

deur die spaan gevorm

toe die roeier sy dun kano ritmies

 

wou stuur die spieëlbeeld in

na waar geen

versnelling moontlik is

 

in die bevrore posisie

van die lens nie[.]

 

***

 

[…]

die enkele roeier wat verby

kreukel, vir ’n oomblik

die watervlak steur: afdraand,

 

alles, alles, om gedwee spane

neer te lê en buite sig te verdwyn

met die water

as enigste verloop –[.]

 

Soos gesê, vind die spanningsvolle saambestaan van die pole ook neerslag in die opvallende benutting van sekere vormlike en stylgrepe.

Aan die een kant is die meeste gedigte ongetiteld. Aan die ander kant is daar ook bundeldele waarin dit anders gesteld is. Getiteld is die reekse “die heiligheid van water” en “die geduld van water” (in laasgenoemde dra ook die indiwiduele gedigte titels), asook die drie reekse en die enkelgedig wat as slotafdeling met ’n wit bladsy van die res van die bundel geskei is.

Aan die een kant begin ’n groot getal gedigte met die half-parallelistiese voorwerpsin-konstruksie “dat daar…” / “dat jy…” / “dat die water…” / ensovoorts – met die implikasie dat “die water onthou” of “jy onthou” telkens as voorafgaande werkwoordstukke veronderstel moet word. Aan die ander kant is daar ook ’n hele aantal verse waarvan die insette uniek is, en nié by die voorwerpsin-konstruksie aansluit nie.

Enersyds is daar ’n neiging tot reëlmaat in die strofe- en gedigtebou. Drie- en vierreëlige strofes is die opvallendste in hierdie verband. Selfs enkele verse wat duidelike kenmerke van die Engelse sonnetvorm vertoon, kom voor. Die meeste gedigte, insluitende die wat in reeksverband staan, is nie veel langer as sowat ’n halwe bladsy nie.

Andersyds kom ook vryer versvorme voor, ontbreek eindryme en reëlmaat in versreëllengtes, is die meeste gedigte sonder hoofletters en leestekens. 

’n Mens ontdek dus op alle vlakke ’n hoogs funksionele gestaltegewing van die spanninge tussen bestendiging en vervlieting (relativering) in wat die water onthou.

Dis nie maar net ’n versameling van dikwels treffende indiwiduele gedigte nie; die bundel vorm ’n boeiende eenheid.

Jammer is dit derhalwe dat ’n klompie woordkeuses en beelde (meermale geïnspireer deur die strewe om aansluiting by die water-motief te vind)  gesog, troebel of vals aandoen, en enkele sinskonstruksies ietwat lomp voorkom:

·         “die maalkolk / van jul droogste jare” (bladsy 13);

·         “die uiteindelik verbryseling / van klip met dinamiet en gesin” (bladsy 14);

·         “die bevrore posisie / van die lens” (bladsy 18);

·         “selfs die kleinste saad // hoog te wortel” (bladsy 19);

·         “soms klingel water rooi / in jou glas” (bladsy 26);

·         “’n eerste gedagte aan / lewe as aangeklamde wasem // in alle dinge” (bladsy 32);

·         “onkundig oor die doel // van hierdie verbryseling / so sonder rigting / of die gewig daarvan” (bladsy 33);

·         “waar julle aan mekaar bly klou / asof julle nooit weer uitgedroog / of droog wil wees nie” (bladsy 56);

·         “deur die verloop / te bloei na ’n verbeelde kant op ’n ander oewer” en “word die landskap / onder sirene byeengebring” (bladsy 60);

·         “Skielik flits ’n voël by jou verby / en lê sy dors / lynreg voor jou neer” (bladsy 67);

·         “toe ’n uitgedroogde hand / iewers agter in ’n grot die eerste mond vol / skep om te drink” en “’n vloed van droogte” (bladsy 68).

Gelukkig is daar talle en talle méér voorbeelde uit die bundel waar die gedigte in hulle geheel knap afgewerk is, en waarvan die beelding ’n mens bybly – soos al uit van die sitate hierbo behoort te blyk. Miskien nog een vers om laasgenoemde te onderstreep, naamlik uit die reeds vermelde mooi reeks liefdesverse:

 

            dat jy jare gelede by breë water

gesit en hengel het, dag lank die ure

gerol het om die spoel

 

van jou katrol, die ligte stuwing

in die water gevolg het deur jou aas

daarheen te kaats, hopende

 

dat die vis die ligte gefladder

van die kunsvlieg op die oppervlak

sou smoor, maar telkens

 

rol die ure glad om jou spoel

terug – tot dit sy is wat langs jou

kom sit, hier, op die oewer

 

langs lustelose water –

om dan lag-lag haar moeë vis

uit sy donker bui te lig[.]

 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.